Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy naby God en sy oneindige genade leef hoef jy nie iets te sê nie; dit wys op jou gesig.
WÊRELDOORLOG III (7)
DIE TEKENS VAN DIE NADERENDE SLAG VAN ARMAGEDDON
John White
Lees reeks by WÊRELDOORLOG III
DIE BIOLOGIESE TEKENS
Toe die dissipels Jesus uitvra oor die tekens van sy wederkoms en die einde van die tyd, het Hy met verwysing na die mens se gebruik van voedsel en drank gesê: "...daar sal hongersnode wees.. . op verskillende plekke" (Mattheus 24:7). In Openbaring 6:5,6 ('n teks wat in 'n hoofartikel deur die Toronto Star gebruik is om op die toename van hongersnood dwarsoor die wêreld te wys) lees ons: "En toe Hy die derde seël oopgemaak het, hoor ek die derde lewende wese sê: Kom kyk! En ek het gesien en kyk, daar was 'n swart perd; en hy wat daarop sit het 'n skaal in sy hand. En ek het 'n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: 'n Rantsoen koring vir 'n penning en drie rantsoene gars vir 'n penning; en moenie die olie en die wyn beskadig nie".
Die swart perd is simbolies van hongersnood.
In ander gedeeltes van die Bybel, Jeremia 4:28 en Klaagliedere 4:8,9, word swart altyd geassosieer met hongersnood wat deur die land trek. In Openbaring 6:8 lees ons dat 'n noodlottige hongersnood oor "'n kwart van die aarde" sal trek. Ons kan dus verwag dat hongersnood in verskeie dele van die wêreld sal toeneem in die toekoms. Op die swart perd is 'n ruiter wat 'n skaal in sy hand dra — waarskynlik simbolies van versigtige rantsoenering. Dit sal beslis versigtige rantsoenering verg om 'n rantsoen koring vir 'n dag se werk te verdeel. Die broodwinner in elke huis sal onteenseglik sy hande volhê om net een mens van kos te voorsien. Dus sal armoede in sekere dele van die wêreld grens aan hongersnood en op baie plekke sal dit lei tot die hongerdood van duisende.
Tekens van die swart perd van Openbaring 6 en Jesus se waarskuwing dat daar groot hongersnood sal kom, is vandag oral te vind. Geen mens wat glo in die wederkoms van Christus en die tallose sterwende hongeriges van die wêreld sien, kan help om uit te roep nie: "Ja, kom, Here Jesus, kom gou!" (Openbaring
22:20).
Paul Erlich van die Universiteit van Stanford, William en Paul Paddock en wyle Sir Julian Huxley, almal bioloë, glo dat groot gedeeltes van die wêreldbevolking feitlik geen hoop het om 'n vernietigende hongersnood te ontkom nie. Erlich het verwys na die onmiddellike toekoms toe hy sê: "Daar is geen hoop dat die mens 'n tydperk van verskriklike hongersnood gaan ontkom nie", want "Dit is maar te duidelik dat alle pogings om die mens te voed tot mislukking gedoem is". Die Paddocks beweer op hulle beurt: "Hongersnode erger as enige wat tot dusver in die geskiedenis van die mens voorgekom het, gaan die onderontwikkelde nasies van die wêreld tref!" In 'n nuusberig op CBS is bekend gemaak dat daar in 1975 30 miljoen mense dwarsoor die wêreld van die honger omgekom het. Dit is drie keer soveel as die syfer vir 1970. As die syfer elke vyf jaar verdriedubbel kan uself uitreken waar dit vandag staan. Die afgevaardigdes na die Wêreld se Voedselkonferensie in Rome het reeds in 1976 bereken dat die sterftesyfer weens hongersnood sowat 57 miljoen kan wees, d.w.s. 156 000 per dag. Die syfer kom daarop neer dat al die inwoners van 'n groot voorstad per dag van die honger omkom, of al die inwoners s van 'n groot stad soos Seattle in Amerika in 'n week, of al die mense van 'n stad soos Philadelphia in 'n maand, of al die inwoners van die Britse Eilande in 'n jaar.... uitgewis deur -'n onkeerbare hongersnood.
In die program "Uur van Beslissing" wat wêreldwyd uitgesaai was, het Leighton Ford beweer: " Twee dekades gelede het ons waarskuwings gehoor dat groot dele van die wêreld teen die sewentigerjare deur hongersnood oorval sal word. Toe kon 'n mens dit amper nie glo nie. Vandag is die hongersnood hier. Bykans'n halfbiljoen mense ly op die een of ander manier honger.
Die hoof van Time se kantoor in Nairobi het agtien maande aan 'n "verskriklik neerdrukkende" ondersoek bestee: hy het meer as 30 000 km gereis om na die ontsettende gevolge van hongersnood te gaan kyk. Hy het gesê: "Dit is erger om mense stadig van die honger te sien sterf as om hulle in groot getalle in 'n oorlog te sien omkom. Die uitdrukking van algehele verslaenheid op hul gesigte is iets wat ek nie gou sal vergeet nie... Dit is veral die kinders en die babas wat 'n mens se hart roes. . . en ook die moeders wat onsiende na jou staar terwyl hulle probeer om klein babatjies aan droë borste te voed".
Bob Hope, die bekende akteur en komediant, het destyds van een van sy safari's teruggekeer en gesê: "Die afval wat ons in die asblik gooI, sal vir hulle 'n koningsmaal wees". Time het in 'n artikel oor hongersnood in Indië bereken dat net die helfte van Indië se 600 miljoen mense meer as een maaltyd per dag eet.
'n Verslag van die WO gaan selfs so ver om te beweer dat dit "twyfelagtig is of daar in die lang geskiedenis van die mens al ooit so uitgebreid so 'n groot voedselkrisis geheers het". Indië se minister van gesondheid en gesinsbeplanning beweer: "Ons worstel met die ernstigste probleem waarmee enige volk nog ooit te kampe gehad het" — 'n dreigende massahongerdood.
Kanada se reserwes het binne 'n jaar met 50 persent gedaal. 'n Amptenaar in Washington het beweer dat, in teenstelling met die oorvloed van die jare sestig, toe 'n mens haas nie kon glo dat daar ooit tekorte sou wees nie, daar tien jaar later bewyse was dat die wêreld se reserwevoorraad voedsel feitlik besig is om te verdwyn. Daar moet onthou word dat die verantwoordelikheid om voedsel te produseer, vandag by 'n skrale handjievol Amerikaners berus. Toe die Onafhanklikheidsverklaring 250 jaar gelede onderteken is, het 95 persent van die Amerikaanse bevolking voedsel geproduseer. Vandag produseer net vyf persent van die bevolking voedsel.
Daar bestaan verskeie moontlike oplossings waarna 'n mens kan kyk. Kurt Waldheim, gewese sekretaris-generaal van die VVO, het gemeen "die mens se grootste probleem is die ongekende groei in die bevolking". Sowat 'n kwart van alle mense wat ooit geleef het, leef vandag. Toe Jesus op aarde was, was die wêreldbevolkingsyfer sowat 'n halfbiljoen. 'n Eeu gelede was die syfer 'n biljoen; in 1920 twee biljoen en in die sewentigerjare vier biljoen. Teen dié groeikoers sou die syfer binne 'n enkele geslag toeneem tot agt biljoen. Die McWhirter-broers, skrywers van die Guinness Book of World Records, het bereken dat teen die geometriese tempo van bevolkingsaanwas, daar teen die jaar 2500 een mens vir elke vierkante meter van die aarde se oppervlakte sal wees. Teen die jaar 3700 sal die totale gewig van die mensdom meer wees as die van die aarde self.
Die Amerikaners is gesamentlik omtrent 'n halfbiljoen kilogram oormassa en die Kanadese sowat vyftig miljoen kilogram; in albei hierdie lande probeer duisende mense minder eet terwyl miljoene dwarsoor die wêreld sukkel om iets te ete te kry.
Die meeste van die sowat 2,5 biljoen inwoners van die onderontwikkelde lande woon in die ekwatoriale gordel. Time beweer dat hulle feitlik almal ondervoed is, dat ten minste 60 persent van hulle aan wanvoeding ly en dat sowat 20 persent besig is om 'n hongerdood te sterf.
Hongersnood heers vandag in Bangladesh, Ethiopië, Tsjad, Mali, Mauritania, Niger, Senegal, Bo-Volta, Gambië en sekere gebiede van Tanzanië en Kenia. Bolivië, Sirië, Jernen en die noordelike dele van Nigerië staar hongersnood in die gesig. 'n Enkele misoes kan hongersnood veroorsaak in Indië, Soedan, Guyanam, Guinee, asook Zaire. Natuurlik is Angola op die randjie van verhongering. In talle ander lande sukkel die bevolking feitlik voortdurend met voedseltekorte, byvoorbeeld in Indonesië, die Filippynse Eilande en Haïti.
In die Sowjet-Unie heers daar in hierdie stadium nog nie massahongersnood nie, vanaf die vorige vyf en twintig jaar van die twintigste eeu is die voedseltekort daar veel meer kritiek as in die laaste vyf en twintig jaar. Na skatting sou die aanvraag na koring in 1975 sowat 215,7 miljoen ton beloop het. Die uiteindelike oes was maar 137 miljoen ton koring — 'n tekort van 78,7 miljoen ton. In die lente van 1976 is aangekondig dat die Russiese boer se vooruitsigte op 'n goeie oes weer 'n terugslag ondervind het omdat die winteroes feitlik heeltemal vernietig is deur 'n droogte in die vroegwinter en ryp in die laat winter op lande wat nie die gewone sneeubedekking gehad het nie. Die oes vir 1976 is uiteindelik geskat op 30 miljoen ton minder as wat nodig was om in die land se behoeftes te voorsien. In U.S. News and World Report is destyds berig dat die gewone Rus vir die eerste keer in jare "praat van 'n moontlike voedseltekort". Daar is gesê: "Die rampspoedige graanoes sal die broodvoorrade verminder" en "daar is gepraat van rantsoenering”.
As 'n mens nou terugkeer van hipotese tot die werklikheid, is daar die sewentigs se VVO-verslag waarin geraam is dat 85 persent van die toename in die wêreldbevolking in die onderontwikkelde lande sou plaasvind. Hier sou die bevolkings, as hulle bly aanwas teen die koers van drie persent, binne die volgende dertig jaar verdubbel – wat toe eindelik oortref is. Wat veral kommer wek, is die feit dat hierdie onderontwikkelde lande met hulle onbeheerde bevolkingsgroei pylreguit afstuur op 'n rampspoedige hongersnood.
Geboortebeperking — dit is die antwoord, sê baie Westerlinge. Onwaar, se Pous Paulus en die amptelike Rooms-Katolieke kerk. Kunsmatige geboortebeperking het "ernstige gevolge" waarsku die Pous in sy jongste uitspraak oor die saak en hy herbevestig weer dat die amptelike standpunt van die Roomse kerk nie sal verander nie. Afgevaardigdes van 130 lande het die VVO se Bevolkingskonferensie in die sewentigerjare in Boekarest, Roemenië, bygewoon. Daar is hulle deur Amerikaanse afgevaardigdes daarop gewys dat indien die wêreld in gebreke bly om kunsmatige geboortebeperking grootskaals toe te pas, die wêreld reeds teen 1980 in ernstige gevaar sal verkeer. Rusland en China het egter as teenargument aangevoer dat geboortebeperking deel is van 'n imperialistiese strategie om die ontwikkelende lande in 'n onderhorige posisie te hou. Die onderontwikkelde lande het aangedring dat geboortebeperking nie die antwoord is nie, maar dat "nywerheidslande hulle groot rykdom met onderontwikkelde lande moet deel in 'n nuwe ekonomiese opset'. Dit was 'n reguit antwoord op die teorieë van Time se senior redakteur, Marshall Loeb, wat in 'n hoofartikel beweer het dat 'n kykie na die statistiek oor hongersnood toon "dat die krisis erger sal word totdat ons in die Weste daarop aandring dat die onderontwikkelde lande hulle bevolkingsgroei moet beperk".
Maar sal hierdie eise enige effek hê? Nadat hy jare lank probeer het om die beginsel van geboortebeperking aan die inwoners van onderontwikkelde lande tuis te bring, moes dr. Justin Blackwelder van die Omgewingsfonds in Washington verklaar: "Geboortebeperking werk eenvoudig by hierdie mense nie. Egpare in die meeste arm lande wil baie kinders hê omdat hulle weet sommige sal sterf. Kinders is natuurlik die ouers se enigste sekuriteit op hul oudag". Dus styg die bevolkingsyfers in onderontwikkelde lande eenvoudig steeds.
Watter invloed het die stygende voedselpryse in die jare sewentig gehad op die voedselproduksiepotensiaal van die onderontwikkelde lande? In die South China Morning Post was daar 'n artikel onder die opskrif "Kos, Brandstof en Kunsmis". Hierin beweer die skrywer dat die verdriedubbeling van die koringprys nie naastenby vir die onderontwikkelde lande so 'n ernstige probleem skep as die viervoudige verhoging van die prys van die olie waarmee die landboumasjinerie aangedryf word nie. Die ernstigste probleem, so beweer hy, is egter die drievoudige verhoging in die prys van kunsmis. Die verhoging is genoodsaak omdat 93 persent van die wêreld se kunsmisstowwe neweprodukte van die petro-chemiese bedryf is. Die Times Journal van Manilla het daarop gewys dat 'n land soos Indië deesdae sowat vier vyfdes van sy uitvoerverdienstes op die invoer van olie moet bestee. Dit hou ernstige nadele vir die kunsmisbegroting in met die gevolg dat daar 'n tragiese agteruitgang in die voedseltoestand verwag kan word.
En asof dit nie genoeg is nie, wil dit lyk asof die hele wêreld, minstens wat voedselproduksie- betref, afstuur op 'n rampspoedige verslegting in die weerstoestande.
Teen die helfte van 1976 het die CIA die meeste van ons verstom met 'n waarskuwing dat indien die noordelike hemisfeer'n temperatuursdaling van net een graad - een graad - ondervind, Indië elke vier jaar 'n ernstige droogte sou hê, China elke vyf jaar 'n ernstige hongersnood sou ondervind en Kanada se voedselproduksie met vyftig persent verminder sou word.
Fortune het in die sewentigerjare 'n goed nagevorsde artikel gepubliseer met die titel "Onheilspellende Veranderinge in die Aarde se Weer". Hierin word beweer die aarde het in die eerste helfte van hierdie eeu beter weersomstandighede ervaar as in die voorafgaande duisend jaar. In hierdie tyd het die wêreld se bevolking verdubbel. Weerkundiges meen dat die klimaat egter 'n ongunstige wending neem. Indien hierdie tendens voortduur, waarsku dr Reid Bryson, Universiteit van Wisconsin, sal dit die hele menslike bevolking van die aarde raak - byvoorbeeld dat 'n biljoen mense van die honger kan omkom. Die veranderings het nie net te doen met die feit dat die aarde teen die jare veertig begin het om verder af te koel nie, maar word ook beïnvloed deur 'n verandering in die planeet se atmosferiese sirkulasie, veroorsaak deur die afkoeling. Die tydskrif wys verder daarop dat oorstromings, droogtes, aardbewings, en ander oënskynlike fratsverskynsels die onvermydelike en steeds toenemende gevolg is.
Time het in verskeie artikels daarop gewys dat die Saharawoestyn sedert 1968 in sommige plekke tot soveel as 200 km suidwaarts uitgebrei het en dat die poolsirkel ook aansienlik groter geword het. Op sommige plekke is die uitbreiding sowat 240 km en op die meeste plekke 80 km.
Dr. Hurd C. Willard en sy span wetenskaplikes van Massachusetts se Instituut vir Tegnologie het in 1976 aangekondig dat hulle navorsing aangetoon het die planeet Aarde stuur geleidelik af op nog 'n onvermydelike ystydperk wat in die volgende 125 jaar stadigaan sal ontwikkel.
In 1975 het dr. Reid Bryson van die Universiteit van Wisconsin 'n taamlike donker prentjie geskilder. Hy het navorsing gedoen na metodes waarvolgens die negentig miljoen mense waarmee die wêreld se bevolking jaarliks groei, gevoed kan word. Hy het verwys na die feit dat die poolsirkels steeds groter word en voorspel dat "die Arktiese afkoeling 'n vernietigende uitwerking op die tropiese en subtropiese dele van die wêreld sal hê. Dit is waar die meeste mense bly". Pool-ys, so beweer Bryson, sal 'n oorsaak wees dat hongersnood gaan toeneem.
'n Groep Amerikaanse, Mexikaanse en Kanadese weerkundiges wat dieselfde onderwerp bestudeer het, het in Toronto as gaste van die Kanadese Wetenskaplike Raad vergader. Hulle het die regerings van die wêreld beskuldig van "bysiendheid dat hulle niks doen aan die felt dat daar groter wisseling - uiterstes van hitte en koue - in die volgende paar dekades gaan voorkom nie en mense wat verantwoordelik is vir maatskaplike en ekonomiese beplanning sal hierdie feite moet begin in ag neem".
Watter verband is daar nou tussen hierdie ontmoedigende biologiese vooruitsigte van toenemende hongersnood en die Derde Wêreldoorlog en die tweede koms van Christus? Dean Rusk het vroeg in die jare sewentig in 'n toespraak voor sowat 4 000 opvoedkundiges daarop gewys dat indien die wêreld se steeds groeiende hongersnoodprobleem nie teen 1980 opgelos is nie, dit maklik tot gevolg kon hê dat mense uit desperaatheid teen mekaar begin oorlog maak. "'n Mens kan verwag dat daar oorloë sal uitbreek tussen volke wat veg vir 'n groter grondgebied om hulle groeiende bevolkings te huisves", waarsku die Philadelphia Inquirer. Volgens Time vrees leiers in sleutelposisies dat "arm, radikale volke" die ryker lande sal dwing "om hulle rykdom prys te gee deur met 'n kernoorlog te dreig". Gewese Pres. Julius Nyerere het in 'n toespraak namens 'n konsortium van ontwikkelende lande die "Groep van 77, binne die VVO, aan lede van die Britse Statebondvereniging gesê: "Dit is nie reg dat die grootste gedeelte van die wêreld se bevolking gedwing word om sonder enige waardigheid te bedel nie. Ons eis 'n verandering en die enigste vraag wat nog beantwoord moet word, is of dit bereik gaan word deur dialoog of konfrontasie". Is dit nog een van die mylpale op die pad na die Derde Wêreldoorlog?
Ten slotte kan ek sê dat daar wel Een is wat besorg is oor die voeding en huisvesting van die mense van hierdie wereld. Dit is Jesus! Time vra of daar werklik iemand iewers is wat daarvoor omgee dat 'n derde van die wêreld se bewoners op die rand van moedeloosheid leef. Jy kry hulle in elke uithoek van die wêreld. Daar is 'n tragiese eendersheid aan die krotte waarin hulle leef en sterf, die wankelrige pondokkies gemaak van karton of verroeste sinkplaat, die verhongerde kinders se leë mae, die opdringende stank van menslike liggame wat saamgedrom word sonder geredelike beskikbaarheid van water of toilette.
Intussen moet elke Christen aan die voorpunt van maatskaplike medelye staan. Lees maar weer Jesus se Bergpredikasie. Lees maar weer wat Hy gesê het oor die laaste oordeel soos opgeteken in Mattheus 25. Lees maar weer hoe Christus die vyfduisend gevoed het en ook die vierduisend. Mag ons, sy volgelinge, voortgaan om daardie verhaal te vertel. En laat ons nie vergeet nie dat al vier die Evangelieskrywers vertel het van die voeding van die vyfduisend. Dit is die enigste wonderwerk waarvan in al vier die Evangelies vertel word. Dit is deel van die geloof in Jesus Christus. Die uiteindelike evangelieboodskap is egter dat Jesus na die aarde sal terugkeer om sy koninkryk van vrede en voorspoed hier te vestig.
Vervolg: DIE EKONOMIESE TEKENS...