Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Om sonder God te probeer leef is baie soos 'n afpunt-potlood: daar is geen punt nie! Dit is nutteloos om te lewe en sonder Hom te probeer oorleef.
WÊRELDOORLOG III (3)
TEKENS VAN DIE NADERENDE SLAG VAN ARMAGEDDON
John White
Lees reeks by WÊRELDOORLOG III
DIE TEGNOLOGIESE TEKENS
Jakobus het geprofeteer dat daar "in die laaste dae" materiële hebsug, miskien te midde van tegnologiese wonders, sal wees, maar dat die oordeel van God beslis daaroor sal gaan voordat Christus terugkeer na die aarde om sy Koninkryk hier te verstig. "Kom nou, julle rykes, ween en huil oor die ellendes wat oor julle kom. Julle rykdom is bedorwe, en julle klere is deur die motte verniel. Julle goud en silwer is verroes en hulle roes sal tot 'n getuienis teen julle wees en sal soos 'n vuur julle vlees verteer. Julle het skatte vergader in die laaste dae" (Jakobus 5:1 —3).
Veral die Weste en die Midde-Ooste is vandag ryk weens die geweldige tegnologiese vooruitgang. Die Wall Street Journal, 'n gerespekteerde Amerikaanse finansiële tydskrif, het jare gelede reeds verwys na die Amerikaanse droom "dat tegnologie 'alle' probleme kan oplos". Kolonel Frank Borman het beweer: "Ek glo nou dat die mens tegnies enigiets kan doen wat hy wil." Hierdie houding het daartoe gelei dat Prins Philip jare gelede in 'n toespraak verwys het na die "hoëpriesters van die wetenskap" en gesê het die mens moet weer sy geloof op God rig want Hy het ons van al hierdie wonderlike dinge voorsien. Doen ons dit nie, sal hierdie dinge omdraai en ons vernietig.
Die vraag of die mens van die een en twintigste eeu se wetenskaplike prestasies retrogressief of progressief is, is een van die mens se grootste probleme.
Die ding waaroor die wêreldling in die vorige eeu die meeste gewonder het, is of die tegnologie die mens na Utopia of tot algehele uitwissing gaan lei. Na sy byeenkoms in 1975 in Nairobi het die Wêreldraad van Kerke gewaarsku dat die wonder van die wetenskap vir talle 'n groot seën is, maar tog aan die ander kant ook een van die mens se grootste probleme geskep het. In dié waarskuwing word na tegnologiese 'reusisme' en `verbruikerisme' " verwys as dat dit "besig is om die natuur uit te put en die mens te onderdruk".
Teen die laat sewentigerjare debatteer en spekuleer kerklikes en wetenskaplikes toe aanmekaar by byeenkomste van die Wêreldraad van Kerke en by konferensies van Habitat, 'n liggaam wat met die steun van die VVO in Vancouver vergader het, oor die pynlike kwessie. Die tegnologie kan vir die mens "ongekende vooruitgang" of "onberekenbare skade" meebring, het hulle gemeen. Die grootste twis van toe af het gegaan oor die kwessie of die mens in die lig van die dreigende energiekrisis hom moet wend tot die neweproduk plutonium, daardie geweldige, reproduseerbare bron van kernkrag. Hierdie stof kan vermenigvuldig terwyl dit gebruik word en kon grootliks bydra tot die skep van 'n meer welvarende gemeenskap en ekonomiese vooruitgang.
"Dit kan uitloop op 'n 'Faustiaanse' ooreenkoms", het prof. Margaret Maxey van die Universiteit van Detroit ernstig gewaarsku. Sy het verwys na die verhaal van Faust wat sy siel aan die duiwel gegee het in ruil vir tydelike plesier. Hierdie transaksie het uiteindelik tot sy ondergang gelei. Aan die ander kant meen sy dat dit kon lei tot 'n "nuwe vlak van kulturele evolusie" wat kan ontwikkel tot aanvaarding van "die oplê van 'n wêreldwye verpligting om 'n meer permanente, stabiele, meer regverdige sosiale orde" te skep.
'n Tegnologiese paradys van perfek gerangskikte en universeel erkende kontroles sou nodig wees om te voorkom dat sodanige ontwikkeling die aarde sou vergiftig, meen die destydse wenner van die Nobelprys vir Fisika, prof. Hannes Alfren van die Universiteit van Kalifornië. Die Harvardse biochemikus, John T. Edsall, het bygevoeg: "Ek kan nie glo dat so 'n hoë graad van stabiliteit moontlik is nie, want in die geskiedenis van die mens het dit nog nooit bestaan nie". Wat verbasend is van hierdie bewerings, is dat dit presies is wat gaan gebeur wanneer Christus terugkeer om die Derde Wêreldoorlog te beëindig en sy Koninkryk op aarde te skep. Sy persoonlike beheer sal dit verseker. Intussen is dit prysenswaardig dat daar sulke kongresse gehou is soos byvoorbeeld die "Bepaal die Toekoms"-kongres wat in Oktober 1976 in Ontario gehou is. By hierdie kongres het wetenskaplike en tegnologiese gesaghebbendes sowel as teoloë byeen gekom om hulle "wetenskaplike en Christelike kommer"uit te spreek oor die rigting waarin die tegnologie besig is om te ontwikkel. Maar uiteindelik is Christus se terugkeer na die aarde die enigste oplossing.
Laat ons 'n vraag oor die tegnologie wat beslis in my gedagtes opgekom het, 'n bietjie verduidelik. Die vraag is: sal daar nie iewers in die toekoms so 'n verskriklike apokaliptiese slagting en vernietiging plaasvind dat tegnologiese navorsing en wetenskaplike ontwikkeling daardeur beëindig word nie? Nee, want oorlog het nog altyd sulke druk; sulke lewensbelangrike mededinging veroorsaak dat die wetenskap eerder met rasse skrede vooruitgegaan het en dat dinge ontwikkel is wat andersins nog lank nie 'n werklikheid sou geword het nie Ek vermoed dat daar in die ses jaar wat die Tweede Wêreldoorlog geduur het, net soveel wetenskaplike vooruitgang gemaak is as in die eerste veertig jaar van daardie eeu, nl die ontwikkeling van straalvliegtuie, die atoombom, radar, die suiwering van penisillien en die begin van die eeu van antibiotika. Die "verleier", die Antichris sal wondere kan verrig. Baie van sy wondere sal miskien skielikontdekte of uitgevinde tegnologie wees wat gebruik sal word om die massas te beïndruk met sy sogenaamde, sowel as sy werklike, bonatuurlike kragte.
Intussen het Jakobus gewaarsku dat materialisme "soos vuur julle vlees (sal) verteer in die laaste dae". Een van die tegnologiese wonders wat dreig om hierdie planeet te verander in die boonste verdieping van die verdoemenis, as dit nie die onderste verdieping van die paradys word nie, is kernenergie. Dit sou wonderlik gewees het as die mens in staat was om al sy energie vir opbouing eerder as vernietiging te gebruik. Groot bedrae staatsgeld word jaarliks bestee aan die navorsing van maniere waarop kernkrag vir vreedsame doeleindes aangewend kan word. Die Geneefse Konferensie alleen het al drie en dertig boekdele oor die moontlik vreedsame gebruik van kernkrag die lig laat sien, terwyl die Amerikaanse Chemiese Vereniging reeds in die sewentiger jare 40 000 bladsye gepubliseer het en die Electronic Engineer 32 000. Trine beweer selfs dat kernenergie beskou moet word as "een van die moontlikhede waarmee Amerika se energiebehoeftes in die laaste twee dekades van hierdie eeu bevredig sal kan word".
'n Meningsopname in die sewentigs het aan die lig gebring dat sestig persent van die Amerikaners ten gunste is daarvan dat verdere navorsing gedoen moes word oor die vreedsame gebruik van kernenergie.
Maar dit is juis die probleem. Pierre Trudeau beweer dat, as die mens hoegenaamd wil leef, hy "gevaarlik" moet leef en dit sluit die berekende risiko in om kernenergie te tem. By 'n byeenkoms het die omstrede Klub van Rome heelwat te sê gehad oor die moontlike vernietiging van die mens deur die tegnologie. Aan die ander kant wys hierdie groep daarop dat dit moontlik is om "te aanvaar dat al die krisisse van die huidige tydvak streng gesproke tegnies" is en dat "Tegnologie" met 'n hoofletter T "moontlik" soos 'n fee met 'n towerstokkie 'n nuwe wonder kan laat geskied. "Op die gebied van energie. . . is dit moontlik... dat kernenergie binne vyftig jaar. . . in al ons behoeftes sal voorsien." Dan wend die Klub hom weer meer pessimisties tot die uiteindelike verdoemenis van die mens omdat hy self moreel nie hervorm is nie.
Die Kanadese aartsbiskop E.W. Scott, destydse moderator van die Wêreldraad van Kerke, wys in 'n toespraak oor die gevare van kernenergie daarop dat die fantastiese uitbreiding van ons kennis in die afgelope twee dekades meer vrae as antwoorde meegebring het. Die mens se grootste probleem vandag is ironies genoeg, sy kennis. In die Tuin van Eden, toe daar aan Adam en Eva gesê is dat die eet van die vrugte van die boom van kennis van goed en kwaad tot hulle dood sal lei, kon hulle dit nie verstaan nie. Die mens kon van daardie tyd of tot nou nog nie verstaan nie. Maar ons verstaan vandag. Deel van die nostalgie van die sewentigerjare is die verlange na die veilige jare toe die mens nie beskik het oor die "kennis" van kernapparaat nie. 'n Latere meningsopname onder die Amerikaners het getoon dat juis daarom die meeste van hulle voel die beste jare van die lewe in Amerika is verby.
Die Bybel leer ons dat daar aan die einde van die tyd 'n vermeerdering van kennis sal wees (Daniël 12:4). Die Toronto Globe and Mail het in 1976 in 'n hoofartikel beweer dat die mensdom se kennis tans elke tien jaar verdubbel. Daar is toe reeds 35 000 wetenskaplike tydskrifte gepubliseer en versprei. Dr. Malcolm Todd, president van die Amerikaanse mechese raad, het in 1975 beweer dat "sowat die helfte van alle mediese kennis elke tien jaar verouderd raak". As dit waar is, het 'n dokter wat teen ongeveer 1950 gekwalifiseer het en nog geen verdere nagraadse kursusse gevolg het nie, omtrent net soveel kennis as sy vakgenoot van die Donker Eeue. Sowat 75 persent van die medisyne wat in die sewentigs gebruik is, is sedert die Tweede Wêreldoorlog ontwikkel.
Die dramatiese vooruitgang op die gebied van die wetenskap word in 'n groot mate toegeskryf aan die feit dat opvoeding as uiters noodsaaklik beskou word, veral in die huidige geslag. Walter Pitman stel dit so: "Die hele lewenswyse van ons samelewing moet daarop ingestel wees om opvoeding as 'n normale lewensfunksie te beskou". Ná die "hippie"-verset van die sestigerjare waarin die opvoeding geminag is, is al die studente later weer terug in die klaskamers, besig om hard te studeer. Miskien moet 'n mens na Kanada en byvoorbeeld Indië kyk om te sien wat in die laaste derde van die twintigste eeu aan die gang was. In Kanada voltooi sewe keer soveel studente toe hulle kursusse as wat die geval in 1950 was. In Indië het die getal universiteitstudente van 1950 tot 1976 toegeneem van 330 000 tot 3,3 miljoen — tien maal meer. Gesien vanuit die opvoedkundige oogpunt skiet die getal boeke wat toe jaarliks gepubliseer is, die hoogte in: 90 000 in Rusland, 85 000 in Amerika, 45 000 in Wes-Duitsland, 35 000 in onderskeidelik Engeland en Japan.
Een van die dinge wat hierdie fenomenale vermeerdering in kennis bevorder, is die elektroniese apparate wat nie vir ons voorvaders beskikbaar was nie. Daar is byvoorbeeld die rekenaar wat in staat is om wondere te verrig. Die Amerikaanse vloot het reeds in die sewentigs 'n nuwe rekenaar ontwikkel wat in staat was om sewentig miljoen brokkies inligting op elke sowat vier vierkante sentimeter band op te gaar. 'n Gesofistikeerde rekenaar kon toe net sestig biljoen transaksies in 'n sekonde afhandel. Toe Apollo 8 in die ruimte verlore geraak het, sou dit 'n wetenskaplike 'n miljoen jaar geneem het om met potlood en papier 'n metode uit te werk om dit terug te bring. Rekenaars het dit in minder as anderhalf uur gedoen. Rekenaars is in staat om 'n Boeing 747 of 'n Concorde in die lug te beheer met feitlik geen bystand van 'n mens nie. Rekenaars kan ook die toekoms voorspel met 'n akkuraatheid wat 'n mens laat ril. Daar was in die sewentigs reeds in België 'n rekenaar wat "die Dier" genoem word. Dit was drie verdiepings hoog en in staat om elkeen van die vier biljoen bewoners van die planeet te nommer en om fyn besonderhede ten opsigte van elke individu se karakter, verdienstelikheid en oortuigings op te gaar – toe reeds was Big Brother aan die werk.
Dan is daar televisie. Wanneer 'n kind sy hoërskoolloopbaan voltooi het, het hy waarskynlik sowat 17 000 uur voor die televisie deurgebring, terwyl hy maar sowat 11 000 uur in die klas was. Toegegee, 'n groot deel van die televisieprogramme beeld geweld en immoraliteit uit en bied weinig geleentheid vir intellektuele ontwikkeling, maar 'n mens moet ook erken dit gee aan die jong mens 'n geheelbeeld van sy wêreld en 'n begrip van sy universum wat mense vroeër ontbeer het.
Is daar aanduidings in die Bybel dat die gebruik van die televisie die tweede koms van Christus sal voorafgaan? In 1976 was daar sowat 400 miljoen TV-stelle in gebruik. Die verspreiding daarvan onder die toe sowat vier biljoen bewoners van die aarde het al hoe meer eweredig versprei. Dit beteken dat elke tien mense toe gemiddeld 'n beeldradiostel gehad het – vandag het amper almal toegang daartoe.
Negentien eeue lank kon kenners van die Bybel eenvoudig nie Openbaring 11:9,10 verstaan waar ons lees van die twee getuies wat in Jerusalem gedood moet word, in die stad waar ook hulle Heer gekruisig is, "en mense uit die volke en stamme en tale en nasies sal hulle lyke drie-en-'n-halwe dag lank sien en nie toelaat dat hulle lyke in die graf gelê word nie. Die bewoners van die aarde sal bly en verheug wees oor hulle en sal vir mekaar geskenke stuur". Maar televisie maak dit vir 'n mens moontlik om profesieë soos hierdie te glo. Selfs meer dramaties sal die laaste openbaring van Christus wees, met die tyd van Armageddon wanneer die mense sal sê: "Kyk, Hy kom op die wolke en elke oog sal Hom sien".
Dit bring ons by die vraagstuk van die wederkoms van Christus en die vraagstuk van oordeel (of oordele). In 2 Timotheus 4:1 lees ons: "Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk". Die Almagtige God is natuurlik nie afhanklik van kameras en televisietoerusting vir sy oordeel nie, maar as 'n mens in staat is om in jou eie woonkamer te sit en na senaatsdebatte te kyk en elke trekkie op elke deelnemer se gesig te sien, elke mompeling te hoor, dan kan 'n mens jouself indink hoe die groot oordeel van God sal verloop.
Die apostel Paulus het oor Christus se wederkoms gesê: "Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit, goed is, of kwaad" (2 Korinthiers 5:10). Paulus het verder gegaan en geskryf: "...in die dag wanneer God die verborge dinge van die mense deur Jesus Christus sal oordeel" (Romeine 2:16). Jesus self het gesê. "Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word" (Matthews 12:37). Ons weet almal dat dit moontlik is om 'n mens se woorde op te neem en dit later terug te speel. Wetenskaplikes het later ook bevind dat ons woorde se vibrasies wat in byvoorbeeld die rotse rondom ons opgevang word, weer teruggespeel kan word. Sal dit nie verbasend wees as Moses se woorde by die brandende bos eendag uit die rotse wat horm omring het, gehaal kan word nie? Die Bybel sê dit is moontlik vir die klippe om te kan uitroep!
Dan is daar nog die feit dat God "in die mens se hart kyk". Die Bybel sê: "... want die mens sien wat voor oë is, maar die Here sien die hart aan" (I Samuel 16:7). Die mens is in staat om deur 'n teleskoop wat byna vier kilometer lank is, na die ruimte te kyk. Hierdie apparaat staan in Nederland. Met 'n ander teleskoop wat in Porto Rico opgerig is en 'n voorste lens van bykans 300 meter in deursnee het, kan 'n mens 'n posseël op die maan raaksien. As dit waar is, wat sal Christus met sy wederkoms nie alles in die mens se hart kan sien nie, want daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het" (Hebreërs 4:13).
Die Chinese het in die sewentigs 'n reeks gesofistikeerde spioenasiesatelliete gelanseer vanaf die Shuangchengtzemissielkompleks in die Gobi-woestyn in Binne-Mongolie. Met hierdie apparaat was hulle toe reeds daartoe in staat om fyn besonderhede van die lewe in veral Rusland en Amerika waar te neem en om op die bedrywighede van die res van die wêreld 'n taamlik algemene beeld te kry. Rusland en Amerika het ook sulke "spioene-in-die-lug" gehad waarmee hulle na bewering die aartappelplantjies in 'n mens se tuin kon tel of selfs jou koerant oor jou skouer kon lees as jy in jou tuin sit. As die mens dit en baie meer vandag met sy nuwer tegnologie kan doen, wat kan God nie alles doen nie?
Reisigers is vandag in staat om met die Concorde in sowat twee ure die Atlantiese Oseaan tussen Europa en Amerika oor te steek. Dit is meer as tien keer so vinnig as wat Charles Lindbergh dit 'n halfeeu gelede gedoen het. Word lugreise deur die Bybel voorspel? Miskien. Ons lees in Jesaja 31:5 "...soos voëls wat fladder, so sal die Here van die leërskare Jerusalem beskut, beskut en red, verskoon en bevry".
By die lees van 'n boek soos hierdie waarin daar gehandel word met die dreigende tekens van oorlog en smart wat die wêreldtoneel in die laaste dae sal kenmerk, kan 'n mens maklik die indruk kry dat die toekoms van hierdie wêreld net sal bestaan uit somberheid en verdoemenis. Niks kan verder van die waarheid wees as dit nie. Dit is so dat die donkerste jare in die geskiedenis dié sal wees wat die Derde Wêreldoorlog sal voorafgaan. Maar dit sal gevolg word deur die glorieryke duisend jaar van die Vredesryk wat Christus met sy wederkoms op aarde sal vestig. Onder sy universele heerskappy sal die mens verhef word tot 'n toestand van wonderlike geluk wat nog nooit voorheen bestaan het nie en waaroor daar nog nooit op hierdie planeet gedroom is nie. Ek glo vas die wetenskap en tegnologie waarmee daar vandag sulke wonderlike vooruitgang gemaak word, sal tydens die liefdadige heerskappy van Christus, wanneer dit nie gekortwiek sal word deur misdaad, oorlog en haat nie, gebruik word om die mens tot vryheid en vervulling hier op aarde te voer — 'n duisend jaar lank.
Stephan Rosen se Future Facts, 'n boek waarin die skrywer ernstig kyk in die toekoms van ons planeet vanuit die veronderstelling dat die mens vry sal wees van die gevare van sy eie verdorwenheid, stel dit voor dat die tegnologie 'n rewolusie waaroor daar nog nie eens gedroom is nie, in die mens se bestaan sal teweegbring. Dr. Rosen, wat deur die New York Times geprys is as een van die slimste en mees verantwoordelike futuriste van ons tyd, het opleiding in die astrofisika van kosmiese bestraling ontvang en het as navorser gewerk by IBM en die Institute d'Astrophysique in Parys.
Dr. Rosen het aangetoon dat 'n dagpassasier binne een en twintig minute van New York na Los Angeles sou kan reis en in die aand in dieselfde tyd huis toe sal kan gaan. Dis nou heen en weer hardloop! Die mens sou ook 'n "kennispil" kan sluk wat aan hom bv Spaans — of enige ander onderwerp — sal leer. Dit is beslis 'n voorbeeld van hoe "kennis sal toeneem". Die mens sal ook voedsel eet en drankies drink wat hulself binne enkele sekondes verwarm of afgekoel het. Die mens sal in staat wees om sy eie gewig deur middel van elektroniese breinstimulasie te beheer. Jy sal onbepaalde jeug geniet weens die werking van ensieme. Sal die mens, inderdaad 'n duisend jaar leef soos Metusalem byna gedoen het? Daar is aanduidings in Jesaja, Esegiël, Sagaria en Openbaring dat die mens in staat sal wees om dit in die toekoms op hierdie aarde te doen.
Dr. Rosen vertel ook van ander fantastiese dinge wat die mens "in daardie dae" sal kan doen. Jy sal 'n ontbyt eet wat met sonlig gaargemaak is, stasie toe gly in jou plastiekmotor, die vlieënde trein na die stad haal, die tyd op jou kernhorlosie lees en sien dat jy genoeg tyd het om by jou onderwatervakansiehuis aan te doen om daar'n mini-ski-trekker te kry sodat jy nie sal nodig hê om tydens jou etensuur tou te staan by 'n kabel- spoorstasie nie. Al hierdie dinge mag jou dalk 'n hoofpyn besorg, maar dit sal jy in die kiem kan smoor deur 'n elektriese pil te sluk.
Rosen verwys na ons huidige ontwikkelde tegnologie wat nie net bogenoemde dinge potensieel moontlik maak nie, maar ook tot die volgende kan lei: 'n liggewigvliegwiel wat drie sekondes lank 100 000 perdekrag kan lewer, 'n kernaangedrewe kunshart, 'n mensaangedrewe vliegtuig, entstowwe vir kanker en breinvliesontsteking, en 'n besliste metode om 'n gewone verkoue te genees. Goed soos video-tikmasjiene, superbome, papier sterker as staal, onsigbare vliegtuie en inspuitings wat geheue en kennis sal kan oordra, sal in die uitgestrekte hand van die mens verskyn.
Miskien gee dr. Rosen, die moderne Jood wat aantoon hoe die gebiede van die wetenskap, medisyne, krag en energie, gedrag en vermaak, omgewing, opvoeding kommunikasie en inligting in 'n paradys verander kan word, 'n kykie na wat kan gebeur as Christus, volgens die profesieë van die ou Joodse profete, sy Koninkryk op aarde gaan vestig. Is dit nog verbasend dat Jesus sy afwagtende volgelinge geleer het om te bid: "Laat U koninkryk kom, laat U wil geskied, in die hemel net so ook op die garde!"
DIE ASTROFISIESE TEKENS - Vervolg...