Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
En nou bly geloof, hoop, liefde – hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.
WÊRELDOORLOG III (1)
TEKENS VAN DIE NADERENDE SLAG VAN ARMAGEDDON
John White
DIE APOKALIPTIESE TEKENS
Lees reeks by WÊRELDOORLOG III
Ons hoor die afgelope tyd in die nuus van die stryd tussen Rusland en Oekraïne, ook dat 'n Boeing in die Oekraïne afgeskiet is waarin 298 mense gesterf het waarvan die gevolge wêreldwyd onberekenbaar kan wees. Daar is ook roeringe in Amerika en Japan wat ondubbelsinnig in die rigting van nog 'n wêreldoorlog afstuur. Dit is dus 'n goeie tyd om weer te besin oor die naderende tekens van Wêreldoorlog III, 'n gebeure wat deur geen mens gekeer sal kan word nie want so is dit van die begin af deur Satan se lis beplan. JESUS self het gesê dat die mens uiteindelik so 'n laagtepunt sal bereik dat hy in die hande van bose leiers sal verval wat, verdoof en betower deur Satan, hom reguit met die pad na Armageddon sal laat voortmarsjeer. In hierdie reeks word in elke aflewering dan die verskillende tekens van 'n naderkomende wêreldoorlog bespreek.
Op 14 Julie 1976 was die Amerikaanse,televisiediens, CBS, besig om verslag te lewer van die kongres van die Demokratiese Party waartydens Jimmy Carter aangewys is as die amptelike presidentskandidaat. Terwyl die name van die aanwesiges aangeteken is, het Walter Cronkite die verrigtinge skielik onderbreek met 'n aanhaling uit die gewyde lied 'When the call is called up yonder':
When the trumpet of the Lord shall sound
And the time shall be no more,
And the morning breaks eternal, bright and fair;
When the saved of earth shall gather
To their home beyond the skies,
And the roll is called up yonder, I'll be there.
Daar was beslis 'n tikkie nostalgie in Cronkite se verwysing; dit het 'n mens se gedagtes onwillekeurig jare teruggevoer, na die begrafnis van wylepres. John F. Kennedy — 'n voorganger van Carter.
Kardinaal Cushing het ten aanhore van 'n biljoen mense op alle kontinente aangehaal uit 'n brief van die apostel Paulus: "Want die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly saam met hulle in die wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde" (1 Thessalonicense,4:16 — 18). Maar vir diegene wat agterbly, sal daar die verskrikking van oorloë en 'n finale oorlog wees, wat erger sal wees as enigiets wat nog in die geskiedenis van die mens plaasgevind het.
Toe Jesus se dissipels aan Hom vra: "Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?" het Hy geantwoord: "En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë... Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander..." (Mattheus 24:3,6,7). En later het Jesus op hierdie antwoord uitgebrei toe Hy aan die apostel Johannes verklaar het dat die mens se oorlogsugtigheid sal lei tot 'n wêreldwye oorlog aangehits deur "die geeste van duiwels wat tekens doen", wat staatshoofde blindelings sal voortdryf "om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God. .. op die plek wat in Hebreeus genoem word Armageddon" (Openbaring 16:14, 16). Dit sal inderdaad die Derde Wereldoorlog wees.
Die Eerste Wêreldoorlog het in Wes-Europa plaasgevind. By die Tweede Wêreldoorlog was drie van die wêreld se vyf kontinente betrokke asook drie van die vyf oseane. Armageddon sal die nasies van die "hele wêreld" betrek en as sulks sal dit die Derde Wêreldoorlog wees. Die opstoker en skurk in hierdie drama sal die Seun van Verdoemenis uit die hel wees, die Antichris. Die Redder en Oorwinnaar sal die Seun van God uit die hemel wees: Jesus Christus.
China se uitvoerende staatshoof, wat namens die grootste nasie op aarde gepraat het, het in die sewentiger jare aan die Amerikaanse president, verteenwoordiger van die magtigste nasie op aarde, gesê dat die mens ongetwyfeld op pad is na die Derde Wêreldoorlog. "Dit staan heeltemal afsydig van die mens se wil." Dit is waarskynlik die verbasendste stelling in die geskiedenis van ateïstiese politiek: wêreldoorlog staan "afsydig van die mens se wil". Dit is presies wat Jesus aan Johannes gesê het: dat die mens uiteindelik so 'n laagtepunt sal bereik dat hy in die hande van bose leiers sal verval wat, verdoof en betower deur Satan, hom reguit met die pad na Armageddon sal laat voortmarsjeer.
"Dit is te laat om die Derde Wêreldoorlog te keer", sê Alexander Solzhenitsyn terwyl hy die gedreun van oorlogstromme en die strydkrete van Moskou tot Washington, tot Suidoos-Asië, tot die Midde-Ooste, tot Angola, tot die destydse Rhodesië verneem het. Daar is aan die redakteur van die belangrikste Kanadese nuustydskrif gevra wat sy grootste bekommernis is; sy antwoord: "Dieselfde ding as wat elke ander redakteur van 'n groot nuustydskrif bekommer: dat die Derde Wêreldoorlog verklaar sal word".
Staatsmanne Dwarsoor die Wêreld was bekommerd reeds sedert die sewentigerjare:
Wanneer 'n mens die 38e en 39e hoofstukke van Esegiël lees, kan jy nie anders as om die gevoel te kry dat die belangrikste oorsaak van die Derde Wêreldoorlog en die begin van die reis op die pad na Armageddon, Rusland is nie. Leonid Brezhnev self het destyds al ver genoeg afgewyk van sy gewone detente-propaganda om die laaste kwart van ons eeu te betree met 'n verwysing na die universele mens se "terugkeer na die Koue Oorlog en na 'n steeds gevaarliker balans op die rand van 'n warm oorlog. . . Dit is nodig dat almal dit baie goed moet verstaan". Een wat glo hy verstaan dit goed, uitermate goed, was die Britse politikus, Winston Churchill wat half wrang antwoord:
"Daar is 'n volk wie se leiers — waar hulle ook al voor die Weste te staan kom — steeds in 'n aanvalsformasie opgestel is. Hulle word ondersteun deur 'n wapentuignywerheid wat dieselfde persentasie van die volksinkomste absorbeer as wat Hitler 'n jaar voordat hy die mensdom in die Tweede Wêreldoorlog gedompel het, bestee het. Die land is Sowjet-Rusland... Die Russe se hele ekonomie is ingestel op oorlog... As hulle versoek word deur die Weste se algehele apatie en bewese swakheid, sal dit nie meer gaan om die onafhanklikheid van 'n paar Afrikastate nie. . . dit sal gaan om vrede, wêreldvrede."
Clare Booth Luce noem haarself " 'n optimis wat dink goeie dinge kan gebeur, maar sal waarskynlik nie". Sy het ook gesê: "Dit is baie moontlik dat 'n kernoorlog binne die volgende vyf en twintig jaar sal uitbreek".
Die Amerikaanse senator Robert Griffin het destyds reeds in die program "Ontmoet die Pers" gesê die wereld sit op 'n kruitvat en algehele uitwissing wink hom toe.
Senator Peter Dominick het op sy beurt die feit betreur dat die enigste internasionale liggaam wat 'n geslag lank in staat was om vrede te bewerkstellig, doodgewurg is. "Ons moet eenvoudig aanvaar dat die VVO, oorheers deur die Algemene Vergadering, nie meer enige hoop op vrede bied nie. Hierdie feit het maar te duidelik reeds in Julie 1976 geblyk toe die Israeli's 'n groep gyselaars in Uganda gaan red het en daarna van die anti-vrede -propagandiste by die VVO moes verneem dat hulle daarmee die wêreldvrede bedreig het."
President Valery Giscard d'Estaing van Frankryk was waarskynlik die wêreld se mees patrisiese leier. Hy't gesê: "Die wêreld is ongelukkig. Hy is ongelukkig omdat hy nie weet waarheen hy gaan nie en vermoed dat indien hy wel geweet het, hy sou agterkom dat hy besig is om op 'n ramp af te stuur".
Henry Kissinger, die voormalige Amerikaanse minister van buitelandse sake, omstrede soos hy was, het in die Armageddon-bedreigde Midde-Ooste met die Damokles-swaard van 'n kernoorlog dreigend daaroor, voor 'n televisiekamera in trane uitgebars. Hy het gesê: " 'n Mens moet saamleef met die gevoel van die onafwendbaarheid van tragedie".
Abba Eban, Israel se toenmalige minister van buitelandse sake, het gevoel dat " 'n toevalskoot of 'n wanberekening" met een van die talle kernkragkoppe wat al hoe meer blindelings dwarsoor die wêreld opgerig word, die wêreld in 'n reusagtige krematorium kan omskep.
Wyle Albert Schweitzer het die mens se neiging tot selfvernietiging so gesien: "Die mens het die vermoë verloor om te voorsien en te voorkom. Hy sal uiteindelik die wêreld vernietig."
Talle skrywers is ook oortuig dat die Einde nie so ver is nie:
H. Wells is oorlede 'n jaar nadat die atoom-eeu begin het, maar in hierdie kort tydjie het hy genoeg gesien om te waarsku: "Vir die mens en sy wêreld is daar geen ontvlugting nie".
Wyle Arnold Toynbee het voorsien dat die mens wanneer hy die laaste kwart van die twintigste eeu binnegaan, "homself in 'n permanente toestand van beleg gaan bevind ... Die toekomstige strengheid sal voortdurend wees en sal steeds erger word. Wat dan?" En juis met die woorde "Wat dan?" voel die mens die apokalips aan.
Die tydskrif Time het beweer dat George Orwell se onheilspellende voorspellings van 'n halfeeu gelede hom vandag 'n grieselige "cliche vir apokalips" maak. Of, soos Clive Cooking reeds in 1976 geskryf het: "Ons is tans besig om die gebied van die Tussenstasies van die Apokalips' binne te gaan". Blitsverkopers op die boekemark het dikwels titels soos UItimatus en Oordeelsdag gebruik, en 'n hele paar die sleutelwoord Armageddon: By Armageddon, Die Stem van Armageddon en Die Pad na Armageddon.
Veral Wetenskaplikes is Bekommerd:
Flora Lewis van die New York Tunes, het plegtig hulde gebring aan die wêreldberoemde "wetenskaplikes wat die toekoms voorspel, gewoonlik met apokaliptiese donderslae". Die een van wie ons waarskynlik die meeste gesien en gehoor het, was die Rus Andrei SakIharov, "vader van die Russiese waterstofbom". Sy posisie as een van die voorste wetenskaplikes besorg hom 'n aandagtige gehoor wanneer hy waarsku dat "die onbelemmerde aangroei van kernarsenale en die steeds groeiende gevaar van 'n konfrontasie die mens bedreig met die dood van die beskawing en sy eie fisiese vernietiging".
Sy grootste steun in die Weste in die opvatting dat die mens op die randjie van selfvernietiging is, het waarskynlik gekom van die 2 300 Amerikaanse wetenskaplikes wat hulself die "Unie van Bekommerde Wetenskaplikes" noem en destyds 'n petisie aan die Amerikaanse president oorhandig het. Onder hulle was agt Nobelpryswenners en, wat nog meer insiggewend is, vier wetenskaplikes wat dekades gelede sleutelposisies beklee het in die ontwikkeling van die eerste atoombom. Hulle het die president gewaarsku oor die "ernstige potensiële gevare" van kernenergie wat, "indien dit in 'n oomblik van woede gebruik word, wêreldwye vernietiging kan veroorsaak". Hulle het ook daarop gewys dat indien kernkrag vir "vredestydse opwekking van, elektriese krag gebruik word, die kernafval 'n ernstige en gevaarlike probleem sal skep wat net beheer kan word deur sorg, waarneming en versigtigheid op die hoogste vlak".
Die omstrede Klub van Rome:
So omstrede as wat hierdie klub in die politiek is, was selfs hulle reeds in die sewentigerjare bekommerd oor die pad waarop die wêreld stap. In 'n werkstuk van die liggaam, genaamd "Die Mens by die Keerpunt", word gewaarsku dat die mens afstuur op vernietiging: "Die pad wat die wêreld lei, stuur direk af op 'n ramp". Daar word bygevoeg dat daar in afsienbare tyd "miljoene kinders per jaar in Asië van die honger sal omkom; daar sal 24 000 kernkragstasies oor die aarde versprei wees met geleentheid vir die onwettige vervaardiging van bomme en verwoesting as gevolg van die weggooi van radio-aktiewe afval". Dit het alles reeds gerealiseer.
Harvard: Paneel Waarsku:
Die toekomspeiling van George Rathjens, professor in tegnologie aan die Massachusetts Institute of Technology, is in die sewentigs wêreldwyd bekend gemaak. Sy artikel, waaraan hy saam met vier ander gesaghebbendes aan die MIT en die Universiteit van Harvard gewerk het, het oorspronklik in die Harvard Magazine verskyn. Hierin word gesê dat die mens na verwagting binne die volgende halfeeu 'n atoomoorlog sal beleef. Dit sal waarskynlik begin word deur een van die kleiner volke, soos Israel, die Arabiere, Indië of Pakistan, of een van die volke van Afrika, en oor die wêreld versprei. Hierdie groep wetenskaplikes het natuurlik liberaal saamgestem dat die enigste ding wat so 'n ramp kan verhoed, "'n onaangename soort wêreldregering" sal wees. Dit kom dus hierop neer: Sal die wapenwedloop oorwin of die wedloop na wêreldoorheersing, of sal hierdie twee verskynsels saamspan om die mens se ondergang te bewerkstellig? Die mens sit opgeskeep met 'n meëdoenlose tydbom. Die tande van die naderende uitwissing soek reeds sy nekslagaar. Die minuutwyser van die atoomhorlosie beweeg onkeerbaar na middernag. Die mens is behep met 'n onheilsgevoel dat hy afstaar in die loop van 'n gelaaide kanon wat enige oomblik kan afgaan; hy ervaar dieselfde dwang wat 'n mot na 'n dodelike vlam aantrek. Hy wil graag sterf.
Rolprente met die naderende Apokalips as Tema:
Die rolprentbase buit hierdie menslike vrees uit en vergroot dit tot die uiterste. Marlon Brando speel in Apocalypse Now en America hurtling toward Apocalypse. Dit was reeds voor die sewentigs, en daarna het talle rolprente hieroor verskyn. Jack Kroll, die senior redakteur van Newsweek, het 'n onderhoud gevoer met die briljante dramaturg Susan Sontag in 'n CBS-program. Op 'n vraag wat die sentrale tema van die rolprente van die sewentigerjare was het sy sonder aarseling geantwoord: "Apokalips" Sy het bygevoeg dat hoe jonger en meer links-liberaal die dramaturg was, hoe meer "Apokalips" sal die tema van sy of haar werk wees.
Nuusmedia Voorspel Ondergang:
Terwyl die bedreiging van die algehele uitwissing van die omgewing en die vernietiging van alle lewe op aarde oor die mens hang, wil dit voorkom asof die nuusmedia nie juis in staat is om enige goeie nuus oor te dra nie. Dennis Braithwaite, 'n geleerde uit Toronto, kla: "Deesdae se nuus is so verskriklik, 'n mens wil dit liewer nie met aandag lees nie".
Walter Cronkite sê weer: "Ek wens dikwels ek kon eerder vir u 'n vrolike danswysie voorspeel in plaas van vernietiging en agteruitgang te vertel. Maar ons staan op die drumpel".
Tom Alderman lug sy mening in die Canadian Magazine dat die wêreldtoneel gekenmerk word deur "massamoorde, brande, aardbewings, opstande op straat, die agteruitgang van die wêreldekonomie, die verlaging van politieke moraliteit, die bedreiging van builepes, die uitwissing van die osoonlaag, en die koms van Armageddon".
Apokaliptiese Skuilplekke:
Alderman beweer: "Sedert die paniek jeens radio-aktiewe straling in die vyftigerjare was daar nog nie weer soveel aanhoudende praatjies oor rampe, verval en vernietiging soos nou nie". Hy bring aan die lig dat talle Kanadese vandag "die apokalips verwag en skuilplekke in die berge en verafgeleë dele van die land soek, vind, bou en toerus". In 'n artikel in The Winnipeg Free Press is daar geskryf oor 'n grootskeepse oorloop na Yogi's, ghoeroes en Oosterse christusse wat aan bang Noord-Amerikaners suike goed soos R5 000-grotte in die Himalajas verkoop waar welgestelde ontevredenes rus en vrede kan kry. Reeds in 1976 is daar in China aan Richard Nixon 'n hele reeks ondergrondse tonnels en gange gewys wat hulle oortuig was nodig sal wees as skuiling in 'n toekomstige kernoorlog.
Dit is beswaarlik blote gissings. Die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers se lid vir Wisconsin, Les Aspin, het vertel dat die Pentagon dekades gelede reeds sowat R140 miljoen bestee het aan uitgrawings in die Rocky-gebergte vir 'n hoofkwartier vir die Noord-Amerikaanse Verdedigingstroepe.
In een van Amerika se vooraanstaande nasionale tydskrifte was 'n artikel oor die seun van 'n Kaliforniese dokter wat mense help om hulle ontsnapping uit die Amerikaanse gemeenskap te beplan. Hy glo vas dat hierdie gemeenskap in die nabye toekoms in duie sal stort. Een van sy kliënte, 'n voormalige rekenaarkonsultant wat glo die Amerikaanse beskawing is gedoem, het in 'n woud in Oregon 'n gat sowat ses meter lank, twee meter wyd en 2,5 meter diep gegrawe. Hy het die werk hoofsaaklik in die winter gedoen omdat die natuurbewaarders dan nie die gebied so intensief patrolleer nie. Tans woon hy saam met sy vrou en kinders in hierdie gat. Dit is so deeglik weggesteek dat 'n mens maklik daaroor sal loop sonder om daarvan te weet.
'n Ander kliënt is 'n windmakerige, Amerikaanse miljoenêrboer wat miljoene bestee het om ondergronds te kan skuil. Hy het twaalf werknemers en 'n werkswinkel waar hy enigiets van vuurwapens tot plaaswerktuie kan herstel, asook vee vir suiwelprodukte en vleis - kortom, alles wat nodig is vir 'n aantal mense om 'n geruime tyd selfonderhoudend te leef.
Dit klink alles 'n bietjie laf. Maar dit dui op die dinge wat gaan kom wanneer die mens, soos in Openbaring gesê word, gaan beland in 'n verwoestende vlaag rampe en smart. Die mens sal so oorweldig wees deur vrees dat hy nie sal weet waarheen om te gaan nie: "en die konings van die aarde en die grotes en rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?" (Openbaring 6:15-17).2
Vervolg... DIE FISIESE TEKENS