Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons sê dat ons magteloos is teen die onreg, pyn en kwaad in die wêreld. Gebed is 'n magtige wapen wat God sy kinders gegee het om in so 'n wêreld te oorleef.
VLAE VAN SUIDER-AFRIKA (5)
C Pama
Lees reeks by Vlae van Suider-Afrika
Die Engelse tradisie
Dit is ’n merkwaardige sameloop van gebeure dat juis die Afrikaners wat in die eerste eeue van hul bestaan tog ’n landelike volk is, vasgekleef het aan ’n vlag wat op see gebore en getoë is. Die Engelse daarenteen, wat veral in die latere eeue van hul geskiedenis by uitnemendheid tuis gehoort het by die seevarende volke, het ’n vlag wat in al sy besonderhede die vlag van ’n landsbevolking is: die sogenaamde Union Jack.
In sy huidige vorm is hierdie vlag nie baie oud nie. Dit word die eerste maal beskryf in ’n koninklike proklamasie van 1801 met die volgende bewoording:
". . . that the Union Flag shall be Azure, the Crosses Saltire of St Andrew and St Patrick Quarterly, per Saltire counterchanged Argent and Gules; the latterfimbriated of the second, surmounted by the Cross of St George of the third, fimbriated as the Saltire."
Hierdie stukkie Engelse heraldiese terminologie verdien ’n verklaring. Heraldiese kleure het naamlik spesiale name:
Azure is blou, Argent is silwer, Gules is rooi en wanneer hulle praat van “the first”, “the second” en so meer, moet jy kyk na die kleur wat die eerste, tweede en so meer genoem word. Daar word dus gesê dat die Unievlag (dit wil sê die Union Jack) blou sal wees, en daarop die skuinskruise van St. Andries en St. Patrick, en met verwisselde kleure silwer en rooi, dié van St. Patrick “fimbriated” dit wil sê met ’n wit soompie, terwyl oor alles heen die kruis van St. Joris, ook met ’n wit soompie, staan.Dit is nie net vir ons moeilik om presies te weet wat met hierdie besluit bedoel word nie; die Engelse het dit self ook nie mooi geweet nie. In elk geval het daar onenigheid ontstaan tussen die leer, wat eers by die heroute se beskrywing van die vlag soos reeds beskryf, gebly het, en die vloot, wat ’n eie ontwerp gemaak het, naamlik die vlag soos ons hom vandag ken. Indien die vlag in ooreenstemming met die koninklike proklamasie gemaak sou word, sou die kruise van St. Andries en St. Patrick van eenderse wydte moet wees. Dit sou onmoontlik wees, want as ’n mens dan die een op die ander sou plaas, sou een van die twee mos verdwyn! Ook sou die buitelyne van St. Patrick se kruis dan ’n eenderse wydte hê as die van St. Joris.
Die leer het hom op die duur wel by die vloot se mening neergelê en hoewel daar naderhand nog weer meer moeilikhede ontstaan het, is die vlag tog in wese nie verder verander nie.
Die Iere het betreklik afsydig teenoor die saak gestaan, maar die Skotte het selfs in 1853 nog beswaar daarteen gemaak dat hul kruis van St. Andries agter dié van die Engelse se St. Joris-kruis geplaas is. Die teenargument was dat die wit van die Skotse kruis in die bohoek by die paal - die vlag se ereplek - begin het en dat daar dus eintlik aan hul simbool voorkeur gegee is. In wese het die een voorkeur die ander uitgeskakel en is die een dus nie bo die ander verhewe nie. Die Skots-Engelse gevoelighede het egter altyd bly voortbestaan. Dit sal later blyk dat dieselfde soort gevoeligheid by die samestelling van ons Unievlag voorgekom het.
Die amptelike naam van die Britse vlag was altyd nog “Union Flag”, maar dit het gebruik geword om dit die “Union Jack” te noem. In die letterlike sin is die Union Jack slegs die klein vlaggie, of “geus”, wat van die geusstok (Engels: jackstaff), ’n stok op die boegspriet of voorgedeelte van die skip, waai. Die naam “Union Jack” is egter vandag heeltemal ingeburger.
Soos die koninklike besluit van 1801 self al sê, is die vlag saamgestel uit die kruise van Engeland, Skotland en Ierland, wat genoem is na hul beskermheiliges of skutspatrone: St. Joris, St. Andries en St. Patrick.
Oor die laaste kruis kortliks die volgende: St. Patrick het op negentigjarige leeftyd in sy bed gesterf, en om hom deur ’n kruis te verteenwoordig, is dus in werklikheid vreemd. Dit is slegs gedoen omdat die twee ander skutspatrone nou eenmaal kruise gehad het. In werklikheid was die rooi skuinskruis op silwer die heraldiese embleem van die Geraldines, ’n familie wat oor groot gedeeltes van Ierland geregeer het. Hoewel St. Patrick wel die beskermheilige van Ierland is, het die kruis dus in werklikheid niks met hom te doen nie.
Oor die twee ander kruise het ons ietwat meer geskiedkundige gegewens. Daar was eers drie beskermheiliges van Engeland, naamlik St. Joris, St. Edmond en St. Eduard, wat die bynaam “die Belyder” gehad het. Gaandeweg het St. Joris egter die gewildste geword en is ten slotte as enigste skutspatroon aanvaar. Hy is ook altyd deur ’n rooi kruis op silwer gesimboliseer en hierdie wapen en vlag het die Engelse volk en die Engelse kerk tot 1701 gemeen met mekaar gehad. Die Engelse kerk het die vlag onveranderd gelaat en die St. Joris-vlag is nou die vlag van die Anglikaanse kerkgemeenskap oor die hele wêreld. Dit het egter die gebruik geword dat elke bisdom sy eie wapen in die eerste kwartier van hierdie vlag plaas en ons kan dit op kerklike feesdae ook in Suid-Afrika so sien wapper.
Die St. Joris-vlag besit in Engeland ook ’n groot historiese betekenis en gevoelswaarde. Onder die oranje-wit-en-blou vlag het Nederland Nieu-Amsterdam (die latere New York) gestig, Brasilië verower, die grootste gedeelte van Australië en Indonesië ontdek en die poort van Japan vir die Weste oopgelaat deur ’n kantoor van die V.O.C. in hierdie land te hê. Net so was die rooi St. Joris-kruis die vlag waaronder die groot Engelse seevaarders onder koningin Elizabeth I uitgeseil het om die grondslae van die latere Britse Ryk te lê. Dit was ook die vlag waaronder Drake om die wêreld geseil het.
Met die toevoeging van die Union Jack in die kanton of bohoek was dit trouens nog altyd die vlag van die Engelse vloot. As sodanig het dit weer as voorbeeld gedien vir die Suid-Afrikaanse vlootvlag: die rooi kruis is slegs deur ’n groen kruis vervang en in die plek van die Union Jack het die Suid-Afrikaanse vlag gekom, ook al is die drie klein vlaggies in die middel deur die sogenaamde vlootleeu vervang omdat hulle in verkleining te onduidelik geword het.
Ook die Skotse vlag is ’n tradisionele vlag hoewel dit nie so oud is soos die Engelse St. Joris-vlag nie. Oor die oorsprong is daar nie veel bekend nie, behalwe dat dit sy naam gekry het omdat die apostel Andreas op ’n kruis van hierdie vorm gesterf het. In die Skotse geskiedenis word graag die woorde van admiraal sir Andrew Barton aangehaal: “Stand fast by the Cross of St. Andrew.”
Dit was onder hierdie vlag dat die Skotte aan die godsdiensoorloë op die vasteland van Europa deelgeneem het. In die leër van die Sweedse koning Gustaaf Adolf, wat soveel vir die Protestantse saak in Europa gedoen het, was daar nie minder as vier Skotse generaals en twee-en-twintig kolonels nie.
Toe die unie tussen Engeland en Skotland tot stand gekom het, het daar begryplikerwys ’n stryd ontstaan oor die voorrang van die vlae. Wie se vlag was belangriker, die van Engeland of die van Skotland? Op verskillende maniere is toe gepoog om die twee vlae op ’n aanneemlike manier te verbind, maar dit was slegs onder Karel I dat ’n oplossing gevind is. Die kruis van St. Joris is eenvoudig op dié van St. Andries geplaas. Karel I is egter op die skavot onthoof en dit was slegs na die Cromwell-tydperk en onder Karel II, wat in die koningskap herstel is, dat hierdie oplossing van die vlagkwessie algemeen aanvaar is. Dit het in die vorm van die vlag van die Verenigde Koninkryk tot 1801 gebly. Soos ons al gesien het, is toe ook nog die sogenaamde kruis van St. Patrick toegevoeg. Dit was die ou vorm van die vlag wat tydens die eerste Engelse bewind ook oor die Kaapse Kasteel gewapper het.
Dis egter die vlag van ná 1801, die teenswoordige Union Jack, wat in die geskiedenis van Suid-Afrika so ’n groot rol gespeel het. Hierdie vlag is tereg as simbool van die Britse invloed beskou en verteenwoordig in elke opsig die Britse tradisie. Die British South Africa Company wat deur Cecil Rhodes tot stand gebring is en wat so ’n groot invloed uitgeoefen het op die ontsluiting van die noordelike gebiede, het die Union Jack, met ’n klein toevoeging in die hart van die vlag, gebruik. Met ’n verdere toevoeging was dit ook die vlag van die Britse kolonies in Suidelike Afrika: die Kaapprovinsie, Natal en die Britse gebiede bo en onder die Limpopo.
Ten slotte was daar die sogenaamde Red Ensign of Red Duster, ’n rooi vlag met die Union Jack in die bohoek. Met die Uniewapen op ’n wit ronde veld in die middel, was dit van 1910 tot 1928 eintlik die nie-amptelike vlag van die Unie van Suid-Afrika. Hierdie vlag het egter bloot ’n formaliteit gebly en selfs by die Engelssprekende deel van die bevolking het dit nie wortel geskiet nie.
Die Union Jack het van 1928 tot 1957 nog naas die teenswoordige Nasionale vlag gewaai om die verbintenis van die Unie met die ander lede van die Britse Statebond aan te dui. Met die wysiginge van die Vlagwet het die Union Jack as sodanig verdwyn.
As simbool van die aandeel wat die Britte en die Engelssprekende Suid-Afrikaners in die opbou van Suid-Afrika gehad het - hoewel amptelik maar net as verteenwoordiger van die Kaapkolonie en Natal - staan die Union Jack vandag nog naas die Vrystaatse en Transvaalse vlag in die hart van ons Republiekvlag. Met sy kleure van rooi, wit en blou vorm dit ’n geheel met hierdie ander vlae; dit is miskien in ons vlag selfs ’n onbewuste simbool daarvan dat ondanks ’n heeltemal ander vorm, die bestanddele tog dieselfde kan wees, want rooi, wit en blou verteenwoordig ook die Afrikaanse tradisie in Suid-Afrika. Op hierdie wyse is die drie vlae tesame miskien ’n groter uitdrukking van eenheid as wat oorspronklik waarskynlik beoog is