Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
In ons land sedert 1994 het ons geleer hoe lyk goeie sekuriteitsheinings om ons huise om misdadigers uit te hou, maar ons kan nie heeltyd daarbinne bly nie. God se evangelie werk ook so: dit beskerm ons terwyl ons daarbinne bly maar Hy wil hê ons moet dit uitdra, nie vir onsself hou nie.
VLAE VAN SUIDER-AFRIKA (4)
Voordat die Bataafse driekleur in 1806 finaal van die Kaapse Kasteel gestryk is, was daar reeds ’n tydperk, naamlik die Eerste Britse Besetting van 1795 tot 1803, waarin daar ’n ander vlag oor die suidpunt van Afrika gewaai het. Dit was egter as tydelik beskou en selfs in 1806 was dit nog nie heeltemal seker of die Britte die Kaap nie tog uiteindelik aan die Nederlanders sou teruggee nie. Maar soos ons weet, het dit nie gebeur nie en van daardie jaar af voer die Engelse dus die bewind hier en waai hul vlag oor die Kaapkolonie.
Nouliks dertig jaar later begin die Groot Trek en daarmee word die geskiedenis van die vlae in Suid-Afrika in twee dele verdeel. In die Boererepublieke word die ou Hollands-Afrikaanse tradisie gehandhaaf; in die Engelsbestuurde gebiede word die Unionjack in verskillende vorme gebruik. Omdat die Afrikaanse tradisie die logiese voortsetting is van wat ons reeds genoem het, sal dit eers behandel word.
Ons het al gesien dat sowel in Nederland as aan die Kaap die oorspronklike oranje-wit-en-blou aan die einde van die Hollandse bewind feitlik heeltemal deur die rooi-wit-en-blou vlag verdring is. Die Engelse bewind het sy eie simbole op Afrikaanse bodem oorgeplant, maar vir die ou gevestigde bevolking het hierdie nuwe simbole nog geen gevoelswaarde gehad nie. Miskien juis omdat daar toe met die stamland geen verbinding meer was nie, het die Afrikaanse gedeelte van die bevolking die simbole waaraan hulle van oudsher gewoond was as hul eie aanvaar. Die rooi-wit-en- blou vlag het toe die betekenis verkry van die eie teenoor die vreemde.
Merkwaardig genoeg het die gevoel dat die rooi-wit-en-blou kleure die eie simbool van die Kaapse bevolking was, reeds in die Hollandse tyd ontstaan. Wanneer die republikeine van Swellendam en Graaff-Reinet aan die einde van die Kompanjie se bewind groter selfstandigheid eis, kom die gedagte aan ’n nuwe vlag nie by hulle op nie en bly hulle trou aan die ou rooi-wit-en-blou. Dit was hul kleure. Die verdwyning van die Nederlandse bewind het daarom weinig verskil gemaak. Die liefde vir hierdie kleure het bly voortbestaan en kom weer tot uiting sodra die onafhanklikheid teruggewin is.
Ons sal hier nie ingaan op die redes vir die Groot Trek en sy gevolge nie. Groepe trekkers het die Kaapkolonie verlaat, is die Oranjerivier oor en het nuwe republieke in die binneland van Afrika gestig. Daar is hoegenaamd geen getuienis dat hulle by hierdie opmars na die Noorde vlae van watter aard ook al gehad het nie. Nêrens word daarvan melding gemaak nie. Pas wanneer hulle besluit dat die trek ten einde geloop het en daar ’n nuwe staatsbestel gevestig moet word, word die kwessie van ’n vlag geopper en blyk die innige gevoel vir die ou erfenis weer.
Ons ken almal die geskiedenis van hoe die Voortrekkers eindelik in Natal aangekom het, hoedat hulle gemeen het dat hulle hier eindelik rus kon vind, en hoe hulle begin het om sake in orde te bring. Geen wonder dat hulle nie lank vir nuwe nasionale kleure gesoek het nie, en na die ou, vertroude rooi-wit-en-blou teruggegryp het: rooi bo, wit in die middel en blou aan die onderkant. Maar hulle het ook gevoel dat hulle nie sonder meer die ou vlag kon oorneem nie, want dit was mos die vlag van ’n ander staat: Nederland. Hulle moes dus iets van hul eie aan hierdie kleure gee; iets wat die gevoel sou uitdruk: ons handhaaf wel die ou tradisie, maar ons is in werklikheid ook iets heeltemal nuuts.
Daar was nie baie weë vir hulle oop nie. Hulle kon die kleure vertikaal pleks van horisontaal geplaas het, maar dan sou dit die vlag van die Franse republiek geword het. Om die kleure in ’n ander volgorde te plaas, sou ook ’n te groot breuk met die verlede beteken het. Daar moes dus ’n vormverandering wees. Die Nataliërs kon dit nouliks betekenisvoller gedoen het as om die wit van die vlag ’n puntige vorm te gee en hierdie punt in die rigting van die stok van die vlag te keer.
Ons weet nie wie hierdie vlag vir die Republiek Natalia ontwerp het nie, maar uit ’n skoonheidsoogpunt beskou, is dit die mooiste van al die republikeinse vlae wat daarop gevolg het. Hy was so goed gebalanseer dat dit seker ’n lus was om hierdie vlag teen die agtergrond van die Natalse heuwels te sien waai. Dit was die simbool van ’n volk wat na die hoogste vryheid verlang het.
Die vertrek op 24 Desember 1839 van die Britse skip die Vectis, met Engelse troepe aan boord uit die hawe van Port Natal (nou Durban) is deur die Voortrekkers as ’n erkenning van hul onafhanklikheid beskou. Hulle het dan ook kort daarna op Port Natal die nuwe vlag gehys en ’n salvo ter viering van die geleentheid afgevuur. Nog ’n groter plegtigheid het op 14 Februarie 1840 plaasgevind toe Andries Pretorius in die Volksraad opdrag gegee het dat die vlag gehys moes word voordat hy sy bekende proklamasie voorgelees het.
Hierdie mooi vlag het ongelukkig nie lank gewaai nie. Ná die verowering van Natalia het die Engelse troepe die vlag op 26 Junie gestryk en is dit aan goewerneur Napier in Kaapstad oorhandig. Wat verder daarmee gebeur het, is nie bekend nie.
Hierdie geskiedenis bewys die groot waarde wat die Voortrekkers aan hul vlae geheg het en spreek van die eerbied waarmee hulle die simbole van hul onafhanklikheid behandel het. Dit blyk ook uit die geskiedenis van die ander republikeinse vlae wat nou volg.
Die naam Oranje-Vrystaat het ontstaan na aanleiding van die groot rivier wat in 1778 ontdek is deur kaptein Jacobus Gordon, die kommandant van die Kaapse garnisoen van die V.O.C., wat dit die Oranjerivier genoem het. Dit was ter ere van die Huis van Oranje en veral van die regerende prins, stadhouer Willem V.
Die Vrystaters het voor dieselfde moeilikheid te staan gekom as die Voortrekkers in Natal, naamlik dat die onafhanklikheid van hul nuwe staat ook deur ’n nuwe vlag gesimboliseer moes word. Watter vlag? Daar is aanduidings dat hulle eers ook weer die kleure rooi, wit en blou gekies en ter onderskeiding in die middel ’n ster geplaas het, maar daar is geen deurslaggewende bewyse hiervoor nie.
Uit die verdere verloop van sake blyk dit dat die eerste staatspresident, J. P. Hoffman, gevoel het dat hy liewer deskundige advies moes vra. Hy skryf toe in Mei 1854 aan professor U. G. Lauts, wat as Vrystaatse konsul in Nederland opgetree het, met die versoek om aan Willem III, die Nederlandse koning, ’n vlag en wapen vir die Vrystaat te vra. ’n Paar maande later skryf die president self nog ’n brief aan die koning waarin hy nadruk lê op die feit dat die naam van die Huis van Oranje in die naam van die nuwe republiek vereer is.
Daar was in daardie dae nie veel verbinding tussen Bloemfontein en Den Haag nie en wat daar was, was uiters gebrekkig en langsaam. Die koning se raadgewers moes dus self beslis hoe om die versoek van president Hoffman te vertolk. Moes daar iets van die Huis van Oranje in die nuwe staatsimbole tot uitdrukking kom of van die ou stamland Nederland? Of moes dit ’n heeltemal neutrale ontwerp wees? Hieroor is in Nederland lank beraadslaag en die argiefstukke wat daarop betrekking het, bestaan gelukkig nog sodat ons die hele verloop van die vlagaangeleentheid van ontwerp tot ontwerp kan volg. Eers was daar ’n neutrale ontwerp, naamlik ’n golwende, oranjekleurige rivier op ’n silwer skild wat gebruik is vir die staatswapen sowel as die vlag. Daarna is jaghorings aan die ontwerp toegevoeg, want ’n jaghoring was ’n baie ou embleem van die Huis van Oranje. Die legende van hierdie horing gaan terug na die dae van Karel die Grote in die vroeë Middeleeue. In sy gevolg was ’n sekere Willem met die Horing, so genoem omdat hy ’n groot jaghoring op sy skild gehad het. Hy had groot besittings in die suide van Frankryk en het baie onder die aanvalle van die More gely met strooptogte vanuit Spanje wat hulle na Willem se grondgebied uitgevoer het. Willem besluit toe om homself te verdedig. Eers verloor hy, maar later behaal hy ’n groot oorwinning, neem die Moorse koning, Abdel Melik, gevange en verower die stad Oranje wat deur ’n ander Moorse koning beset was. As beloning gee Karel hom toe die prinsdom.
Dit was darem nog nie die einde nie. ’n Ander Moorse koning, Isodore, so sterk soos ’n Simson, begin toe opnuut oorlog maak en daag Willem tot ’n tweegeveg uit. Met groot behendigheid het Willem hom onder die arm met die swaard die doodsteek gegee, waarop die Moorse leer op die vlug slaan. Willem, wat die erenaam van “Die Swaard van die Christene” gekry het, word ’n kloosterling en laat sy besittings na aan sy dogter, Herimbrue.
Hierdie legendariese Willem van Oranje, “met die horing” word in talle Middeleeuse legendes genoem en grootliks vereer. Die latere Oranjes het daarom altyd aan die simbool van die horing vasgekleef en vandag pryk dit nog in die wapen van die Nederlandse koningshuis. Dit verskyn ook in die wapen van die Oranje V rystaat.
Maar wat was die verdere verloop van die Vrystaatse vlag? Die Nederlandse kabinet en die koning het die ontwerp met die horings goedgekeur, maar dit het in Nederland teenkanting ontlok. Die vlag is toe eenvoudiger gemaak en pleks van een oranje baan met drie horings, is vier oranje bane geplaas tussen vyf wit bane, almal van gelyke breedte, asook ’n rooi-wit-en-blou kanton of bohoek, soos hierdie vlagwoord beteken. Daar is dus wel iets van Nederland in die vlag geplaas, maar die rooi-wit-en-blou, soos ons al gesien het, was ook ’n Suid-Afrikaanse tradisie. Die Vrystaat het in die praktyk altyd ’n vlag met net drie oranje bane en ’n rooi- wit-en-blou kanton gehad. Die oorspronklike tekening met vier bane het verlore gegaan. ’n Koninklike geskenk van ’n vlag en wapen kon natuurlik nie sommer so deur die pos na Bloemfontein gestuur word nie. Dit moes persoonlik deur ’n geskikte gesant oorhandig word. Die taak is opgedra aan Cornelis Hiddingh, lid van ’n ou Kaapse familie, wat na Suid-Afrika wou gaan om sy bloedverwante daar te besoek. Na ’n reis van ’n maand per ossewa vanuit Kaapstad kom hy toe op 12 Januarie 1856 in Bloemfontein aan.
Ongelukkig het niemand hom daar verwag nie. Die moeilikheid was dat sedert president Hoffman aan koning Willem geskryf het, die politieke situasie in die Vrystaat erg verander verander. President Hoffman moes aftree en in sy plek is president Boshof benoem. Dié het nie van die versoek aan Nederland geweet nie en was duidelik in verleentheid omdat hy reeds in Kaapstad ’n bestelling vir ’n staat- of grootseël vir die republiek geplaas het, wat toe gelyktydig met Hiddingh in Bloemfontein aankom. Ná al die koste van ontwerp en uitvoering van die grootseël, kon dit nie sonder meer verwerp word nie. Die Nederlandse koning kon egter ook nie beledig word deur die verwerping van sy ontwerp nie. Op die een of ander manier moes ’n kompromis gevind word. Toe die volksraad op 28 Februarie 1856 vergader, word dus besluit om die vlagontwerp van die koning te aanvaar, asook die wapen, met dien verstande dat die golwende oranje dwarsbalk sou wegval en dat die nuwe grootseël ook op die skild van die staatswapen aangebring sou word.
Op Maandag, 23 Februarie 1857, is die nuwe vlag en wapen amptelik in Bloemfontein onthul. Tydens ’n spesiale sitting van die volksraad het president Boshof die nuwe vlag getoon, en het hy ook ’n begeleidende brief van koning Willem III voorgelees. Hierna het die staatspresident, saam met die lede van die volksraad en hoofamptenare, in optog na die Bloemfonteinse Fort geloop. Die vlag is hier vir die eerste keer gehys en ’n saluut van twintig skote is afgevuur. Redevoerings wat die ou bande met Nederland beklemtoon het, is gehou en die dag is verder aan feesviering gewy. Hierdie vlag het onveranderd die staatsvlag van die Oranje-Vrystaat gebly tot aan die einde van die republiek in 1902. Die wapen en grootseël is ook gehandhaaf.
In die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal) is die staatsimbole, naamlik wapen en vlag, ook deur ’n volksraadsbesluit ingestel. Wat die vlag betref, is dit op 18 Februarie 1858 in die volgende bewoording bekragtig:
Is besloten dat eene Vlag voor de Zuid-Afrikaansche Republiek aangenomen zal worden, bestaande uit de volgende kleuren: Rood, Wit en Blaauw, horizontaal, evenbreed en boven elkanderen gesteld, en Groen perpendiculair langs den stok. Daarop zullen de woorden geplaatst worden: Eendragt maakt Magt.
Hierdie bewoording is die enigste formele wetsbepaling en omskrywing van die beroemde Vierkleur. Die spreuk “Eendragt maakt Magt” het op sy eie nooit op die vlag voorgekom nie, maar het tereg sy tuiste onder die staatswapen gevind. Dit was die ou wapenspreuk van die Nederlandse Republiek en ook ’n slagspreuk van die Kaapse Patriotte. Toe die Belge in 1830 gerebelleer en hulle van Nederland losgemaak het, het hulle ook weer na hierdie spreuk teruggegryp en dit, in Frans, onder hul staatswapen geplaas. Die spreuk “Eendragt maakt Magt” was dus ’n ere-erfenis uit ons stamlande. Wat die kleure van die vlag betref, hulle het weer die ou vertroude rooi-wit-en-blou gekies en net die vertikale groen baan van “jeug” of “vryheid” daaraan toegevoeg.
Die vlag is deur ds. Dirk van der Hoff ontwerp, en is op 6 Januarie 1857 in gebruik geneem. Nadat die staatspresident en lede van die uitvoerende raad op ’n plegtige byeenkoms die ampseed in die Potchefstroomse kerk afgelê het, het die statige optog weer na die landdroskantoor beweeg. Onderweg is stilgestaan by die landsvlag wat in die middel van die kerkplein gewapper het, hoede is afgehaal en ds. Van der Hoff het ’n vlaglied, deur homself gedig, voorgedra:
“Vivat de vlag! Vivat de vlag!
Door vrijheid hier geplant!
Waai rond door Zuid’lik Afrika
Van Oost- tot Westerstrand.
Waai onbezoedeld schoon en rein
En wapper ook op zee;
Vertoon u aan der volk’ren oog
Tot aan de verste ree.
God zij met u - God zij met u,
Gij maagdelijke vlag,
En met het volk, dat u verkoos
Tot aan den jongsten dag!”
Die aanwesiges het toe drie maal “hoera” geroep en terwyl daar onophoudelik met gewere geskiet is, het die stoet verder na die landdroskantoor beweeg. Soortgelyke plegtighede het ook op ander dorpe van die republiek plaasgevind. Net op Soutpansberg het moeilikhede ontstaan, waarskynlik omdat hulle al ’n eie vlagtradisie gehad het, maar hierdie saak is ’n jaar later opgeklaar. Kort daarna is besluit dat Lydenburg, wat eers ’n republiek op sy eie gevorm het, sy ou vlag kon behou. Hierdie Lydenburgse vlag was niks anders as die ou Nederlandse of Bataafse driekleur, die rooi-wit-en-blou, nie.
Toe Thomas Francois Burgers in 1872 staatspresident geword het, wou hy die “ou Voortrekkervlag” weer herstel, te wete ’n oorhoekse rooi kruis op blou. Die herkoms en gebruik van die vlag is egter onbekend. Hierdie ontwerp is deur die volksraad in Oktober 1874 aangeneem, maar toe die president ’n besoek aan Europa gebring het, is dit ’n paar maande later weer ongedaan gemaak en die Vierkleur is in ere herstel. Die vlag van Oktober 1874 het egter die Presidentsvlag geword. Inderdaad het die vlag altyd in Pretoria naas die Vierkleur gewapper wanneer die president daar in residensie was.
Tydens die eerste Britse besetting van Transvaal - van 1877 tot 1881 - is albei vlae natuurlik afgeskaf. Ná die herstel van die onafhanklikheid is net die Vierkleur weer herstel totdat dit uiteindelik op 31 Mei 1902 in Vereeniging vir die laaste keer gestryk is, toe ook die republiek, waarvan dit die simbool was, opgehou het om te bestaan.
Ons het reeds gesien dat die vlae van die republikeinse bewegings in Swellendam en Graaff-Reinet en dié van die Republiek Lydenburg slegs die Bataafse driekleur was. Die vlag van die Republiek Natalia is ook behandel. Daar was egter nog ’n paar ander.
In die tagtigerjare het Stellaland en Goosen aan die wesgrens van Transvaal ontstaan. Stellaland, wat sterland beteken, het sy naam te danke aan die groot komeet wat in die tagtigerjare die wêreld verbaas laat opkyk het hemel toe. Die vlag was vertikaal verdeel in groen en rooi, met ’n wit ster op die deellyn. Soms is ook ’n groen vlag met ’n wit ster, of die volledige staatswapen daarop, gebruik.
Die vlag van Goosen was ’n vierkleur, naamlik drie horisontale bane van swart, wit en rooi met ’n groen vertikale baan langs die stok. Goosen het deel geword van die Britse protektoraat Betsjoeanaland, terwyl die grootste gedeelte van Stellaland by die Kaapkolonie ingelyf is. ’n Klein gedeelte daarvan hoort vandag by Transvaal.
Die Republiek Vryheid, ook genoem De Nieuwe Republiek, het in 1879 ontstaan as gevolg van wanordelikhede in Zoeloeland, maar is in 1888 by Transvaal ingelyf. Die vlag was ook ’n vierkleur, met drie horisontale bane van rooi, wit en groen en daarby ’n blou vertikale baan. Die volksraad het in 1884 besluit om die Union Jack op die blou en groen bane te plaas en ’n Transvaalse vierkleur en Vrystaatse vlag onderskeidelik op die rooi en wit baan. Hoewel daar geen bewys is dat die besluit ooit uitgevoer is nie, is dit tog interessant omdat dit in sekere sin dieselfde idee uitdruk wat later in die Unievlag verwerklik sou word.
Ten slotte moet nog die Republiek Klein Vrystaat genoem word, wat van 1876 tot 1883 aan die Swazilandse grens bestaan het en daarna by Transvaal ingelyf is. Hulle het eenvoudig die Transvaalse Vierkleur oorgeneem.
Vervolg...