Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons mag soos Dawid bid: "Red my van my vyande HERE! ...En vernietig my vyande in u goedertierenheid, en bring hulle almal om... Slinger bliksem en verstrooi hulle; stuur u pyle uit en verwar hulle!... Die HERE bewaar almal wat Hom liefhet, maar Hy verdelg al die goddelose." Ps 143,144,145.
VLAE VAN SUIDER-AFRIKA (2)
C Pama
Lees reeks by Vlae van Suid-Afrika
Oorsprong van ons vlag (wat weer sal waai...)
Die vlag van die Republiek is saam met die staatswapen ’n simbool van die eenheid van ons land. Deur sy treffende kleure en unieke samestelling sal ons hom orals in die land en in die wêreld onmiddellik herken. En elke keer as ons hom sien, voel ons dadelik: “Hierdie kleure is ons s’n; dit is die vlag van Suid-Afrika.” Of soos die digter dit ook vroeër gesê het:
Ons eie vlag hy waai so skoon,
As ons hom sien, dan gloei die hart.
Vandag het elke land sy eie vlag. Toe daar in die afgelope jare baie nuwe state in Afrika ontstaan het, was die eerste daad wat die nuwe heersers gedoen het die hys van ’n nuwe vlag om so die begin van die staat aan die volk bekend te stel. Meestal het die vlag nie juis op daardie dag ontstaan nie, maar was hy reeds ’n partysimbool of ’n saamhorigheidsteken waaronder die inheemse bevolking teen die koloniale magte gestry het. Hy het dus al iets vir die mense beteken en dit het hulle trots laat voel om hom nou as landsvlag te sien wapper. Baie vlae het deur so ’n vryheidstryd ontstaan, ook orals in Suider-Afrika.
Dit was nie altyd so dat ’n volk of nasie deur ’n kleurryke doek gesimboliseer is nie, maar die idee is tog baie oud, so oud dat ons nie meer presies weet waar die naam vlag vandaan kom nie. Dit is egter verwant aan ons woord “vlaag”, iets wat deur die wind heen en weer beweeg word; en ook aan die Latynse woord “flaccus”, wat dieselfde beteken. Die woord kom in verskillende spellings voor onder meer in Nederlands, Engels, Duits, Sweeds en Deens en orals het dit dieselfde betekenis.
Lank voordat hierdie doeke in die wind gewapper het, was daar ander simbole aan die stokke vasgemaak. Die Romeine het byvoorbeeld die simbool van die Romeinse keiserlike mag hoog bo die leerskares uit opgehou. Dit was ’n arend met uitgespreide vlerke, wat bliksemstrale in sy kloue vashou, die geheel binne in ’n krans van lourierblare geplaas. Dit het op ’n ondergrond gestaan waar die letters S.P.Q.R. voorgekom het. Die letters staan vir Senat us Populusque Romanus. Hierdeur het hulle aangedui in wie se imam die oorlog gevoer is, naamlik “deur die Senaat en die Volk van Rome”. Hierdie simbole is tot die uiterste toe verdedig en mog nie in die hande van die vyand val nie. As dit tog gebeur het, was dit baie vernederend. In ’n bepaalde veldslag teen die Germane het twee van hierdie signa (standaarde of vaandeltekens), byvoorbeeld in die vyand se hande geval. Die Germane het dit tartend, honend en spottend aan die Romeine gewys om hul eie, grotere mag aan te toon.
Soveel het die standaard vir die Romeine beteken, dat wanneer die standaarddraer hom, by die terugtrekking van die troepe weer midde-in die stryd werp, hy seker daarvan kon wees dat almal hom sou volg. Om die leërgroep aan te spoor, het hy dan die standaard in die middel van vyandelike soldate gegooi, waaruit sy soldate dit dan weer met doodsveragting moes red. Hierdie arend het altyd ’n geliefde simbool van mag gebly en staan byvoorbeeld vandag met oopgespreide vlerke op die Transvaalse wapen.
Later is aan die stok, veral by berede troepe, ook nog ’n doek, die vexillum, vasgemaak. Dit kan vry wapper en nog meer die aandag op die “standaard” vestig sodat niemand dit sou miskyk nie. Dit het ’n nuwe ontwikkeling aan die gang gesit. Die gevolg was dat die simbool sy plek bo-op die stok moes prysgee en na die doek verhuis het. Hy was toe natuurlik nie meer gebeeldhou nie, maar is op die doek geskilder of geborduur. Allerlei dier- en ander figure is hiervoor gebruik.
Van toe af het die doek dus die eenheidsimbool geword. Hy het hoog bo die stryders uitgewaai en ’n kleurige voorkoms aan groepe of eenhede soldate gegee. Die ontwikkeling is voortgesit sodat nie net ons vlae na die vexillum van die Romeine teruggevoer kan word nie, maar ook die bekende vaandels van ons regimente. Die was eweneens ’n simbool van die Middeleeuse kerk.
’n Mens moet egter onthou dat hierdie versierde doeke vroeër maar net simbole van leëreenhede en nie van volke was nie. Die Middeleeuse leërs was egter anders saamgestel as ons s’n, waar later in dieselfde kaserne manne uit alle dele van ons land byeengebring word. In die Middeleeue het soldate in eenhede geveg wat almal uit ’n bepaalde land of streek gekom het. Hulle was dus stam- en volkseenhede en het onder die banier van hul koning, hertog, graaf of ander aanvoerder geveg. Hierdie baniere was vlae amper vierkantig in vorm, en hierop het meestal die wapenfiguur van die aanvoerder gestaan.
As almal in ’n bepaalde land onder dieselfde banier sou veg, sou die teken deur die soldate natuurlik betreklik gou as hul land- of volksimbool beskou word. Dis egter voorbarig om wat die Middeleeue betref, al van nasionale vlae te praat. Die kom wel later, ook al het sommige nasionale vlae uit daardie baniere voortgespruit - soos die kruise van die Engelse Union Jack en die vlag van die Dene.
Vlae ontstaan dus op twee maniere: uit tekens van aanvoerders en as vryheidsimbole. In ons eie vlag is daardie twee as’t ware verenig. Een van die eienaardighede van die oranje-wit-en-blou hoofgedeelte is naamlik dat hy oorspronklik sowel die simbool van ’n aanvoerder, asook van ’n vryheidstryd en geslaagde revolusie was. Dit spreek daarom amper vanself, dat hy baie ouer is as ons Republiek, selfs as die Kaapkolonie. Toe Jan van Riebeeck in 1652 die Nederlandse gesag hier gevestig het, was die oranje-wit- en-blou al meer as tagtig jaar oud en het dit reeds ’n veelbewoë geskiedenis gehad.
In daardie dae was die hele Europa eintlik in ’n voortdurende staat van oorlog, in sommige opsigte enigsins te vergelyk met die koloniale bevrydingsoorloë wat in ons leeftyd in ons eie wêrelddeel, Afrika, plaasgevind het.
Nederland, die sogenaamde “lae lande” aan die Noordsee in Wes-Europa, was toe onder die gesag van die koning van Spanje.
Hierdie koning was Rooms-Katoliek en om sy mag te handhaaf en die Protestantse godsdiens te onderdruk, het hy ’n groot leërmag na Nederland gestuur onder die bevel van die Hertog van Alva. Die bevolking het hom hierteen verset en binne afsienbare tyd het party begin rebelleer. Die Spanjaarde het teruggeslaan, tallose Nederlanders is gevange geneem en vermoor en duisende ander het uit die land gevlug. Omdat hulle min besit het, is hulle “Geuse”, dit wil sê bedelaars, genoem. Hierdie skeldnaam het egter gou ’n erenaam geword. In die buiteland het die vlugtelinge waar moontlik hulle weer verenig om hul vaderland te probeer bevry. Hul aanvoerder was Prins Willem van Oranje, wat vanuit sy kasteel Dillenburg in Duitsland die opstand gelei het. Hy moes uiteindelik al sy besittings verkoop om wapens en ammunisie aan die opstandelinge te kon verskaf.
’n Bevrydingsleër is op die been gebring en het Nederland binnegeval, maar dit is deur die Spanjaarde verslaan. Ander Nederlanders wat op skepe gevlug het, het die vyand op see aangeval en hom soms groot skade berokken. Hulle is dus Watergeuse genoem.
Solank die Watergeuse die buit wat hulle op die Spaanse skepe gemaak het in Engelse hawens kon verkoop, het alles goed gegaan. Toe sluit koningin Elizabeth van Engeland egter ’n ooreenkoms met koning Filips II van Spanje, as gevolg waarvan die Britse hawens vir die Watergeuse gesluit is. Hulle kon toe nêrens meer aan land gaan nie, want ook die Vasteland se hawens was vir hulle verbode. Die toestand kon nie lank so voortduur nie en ’n wanhopige plan is gemaak. Hulle besluit toe om met hul skepe Nederland binne te val en in hul eie vaderland ’n hawestad te verower. Vanuit so ’n verowerde stad kon die opstand dan verder gevoer word. Bo alle verwagting in het die gewaagde plan geslaag en op 1 April 1572 verower hulle die stadjie Den Briel onder die geroep van “In naam van Oranje maak oop die poort”. Hulle hys toe van die toring in die stadjie vir die eerste keer aan land hul vryheidsvlag: oranje, wit en blou. Met daardie gebeurtenis maak die vlag dus vir die eerste keer geskiedenis. Hy sou verder nog groot opgang maak.
Waarom oranje, wit en blou? ’n Antwoord kan nie so maklik gegee word nie. Die Watergeuse het in klein skepies op ’n gevaarlike see rondgevaar en geen aantekeninge van hul doen en late gehou nie. Ons moet dus maar ons eie afleidings maak.
Die boonste baan van die vlag met sy oranje kleur lyk duidelik ’n toespeling te wees op die naam van hul aanvoerder, Willem van Oranje. Die Oranjes het ook ’n wapenskild gehad, naamlik ’n horing van blou en wit met ’n rooi binnestuk op ’n goue grond, terwyl hul diensknegte die kleure oranje, wit en blou as kenteken gedra het. Dit lyk dus asofdie verklaring oor die vlag in die rigting lê. Het hulle dan nie in die naam van Oranje opgetree nie?
Maar hoe dit ook al sy, toe die vlag in Den Briel vir die eerste keer aan land gehys is, het die onderdrukte Nederlanders die oranje-wit-en-blou as simbool van die vryheid beskou en orals met gejuig begroet. Toe die Spanjaarde Den Briel weer wou herower, is hulle deur die Watergeuse verslaan. Daarna het die vryheidsleër triomfantlik deur die land getrek en die een stad na die ander bevry. Orals waar hulle kom, word ook die oranje-wit-en-blou gehys, wat nou die “Prinsevlag”, die vlag van die Prins, genoem word. Van aanvoerdersteken het hy wel gou tot volksimbool ontwikkel en toe die revolusie uiteindelik geslaag het en die Spanjaarde uit die land verdryf is, word hy dan ook die vlag van die nuwe Nederlandse Republiek.
In dié tyd het die oranje kleur egter groot moeilikheid veroorsaak. Dit was amper onmoontlik om ’n oranje te maak wat op ’n wolvlag sy suiwer kleur sou behou. Die stowwe wat gebruik is om die verf te maak, het veroorsaak dat die oranje later dikwels tot ’n soort rooi verkleur het. Om ander tegniese redes is die saak verder bemoeilik. Oranje was op see nie ’n baie stewige kleur nie en sy plek is gaandeweg deur rooi ingeneem, wat vaster was. Desondanks is dit nie as ’n kleurverandering opgeneem nie en mense het nog van “oranje-blanje-blou”, dit wil sê oranje-wit-en-blou en “Prinsevlag” bly praat hoewel hulle rooi-wit-blou gesien het. Vlae met oranje het darem ook deur die hele tyd van die republiek in gebruik gebly.
Om hierdie redes is dit moeilik om te sê watter vlag Jan van Riebeeck ontplooi het toe hy hier aan land gegaan het. Daar is ’n seinbrief van hom, gedateer 22 Augustus 1653, waarin die woord “Prinsevlagge” voorkom en daarom is aanvaar dat dit wel die oranje-wit-en-blou moes gewees het. Om dié rede noem ons hierdie vlag vandag ook die “Van Riebeeckvlag”. Nadat die vlag met die koms van die Engelse verdwyn het, is daar in 1927 besluit om hom weer in ere te herstel en die basis te maak van die nuwe vlag van die Unie van Suid-Afrika. Ons kom hierop later terug.
Weens die ontwikkeling wat ons al genoem het, en ook om politieke redes het die rooi-wit-en-blou vlag aan die einde van die agtiende eeu al hoe meer die ou oranjevlag verdring- ’n gang van sake wat vir ons land nie sonder belang was nie. Ook aan die Kaap het mense aan die einde van die Hollandse bewind rooi, wit en blou uiteindelik as die kleur van hul vlag aanvaar en hierdie ontwikkeling het belangrike gevolge gehad.
In 1795 het die Franse Nederland binnegeval en het die ou republiek onder gegaan. Die laaste regeringshoof, prins Willem V van Oranje, het na Engeland gevlug. As gevolg daarvan het die Engelse in sy naam die Kaap vir die eerste keer beset en is die toenmalige Engelse vlag by die Kasteel gehys.
Nederland is egter nie onmiddellik by Frankryk ingelyf nie. ’n Sogenaamde Bataafse Republiek is uitgeroep wat die Kaap in 1803 weer van die Engelse oorgeneem het. Die kennis van die oorsprong van die vlag was in Nederland toe al verlore en hierdie feit het gesorg vir die behoud van die vlag. Die nuwe regerende party, die Patriotte, het naamlik geglo dat die vlag ’n ou geskenk van Frankryk was, ’n argument wat natuurlik met vrug teen die Kranse vriende gebruik is. Waarskynlik nog belangriker was die feit dat die vlag van die Franse Revolusie ook rooi, wit en blou bane gehad het, maar in ’n vertikale rigting geplaas is. Daar was dus eintlik geen rede vir ’n vlagverandering nie.
Die Batawe wou ook iets van hulself aan die vlag toevoeg en het daarom in die bohoek ’n sogenaamde Hollandse Maagd geplaas. Hieraan het ons waarskynlik die ontstaan van die latere Kaapse Maagd te danke, wat met die een arm op ’n rots rus en in die ander ’n anker, simbool van hoop as toespeling op die naam “Goeie Hoop”, vashou. ’n Mens kan haar vandag nog op die wapen van die Kaapprovinsie en in die eerste kwartier van die staatswapen sien staan. Die gebruik van dergelike simboliese vrouefigure was in die tyd besonder gewild. Die Engelse het byvoorbeeld die maagd “Britannia” gehad en die Franse ’n meisie “Marianne”.
Al het die Bataafse Republiek dus nie presies geweet van waar sy vlag gekom het nie, hulle het hom in elk geval nie verander nie. Die Bataafse bewind was in die Kaap gewild en die hervormings van kommissaris-generaal De Mist was van groot betekenis vir die latere ontwikkeling van Suid-Afrika. Die Bataafse vlag het hier natuurlik ook gewapper. Die Kapenaars het hierin egter waarskynlik niks anders gesien nie as bloot die ou rooi-wit-en-blou vlag waaraan hulle reeds so gewoond was. Wat ook al verander het, die vlag het dieselfde gebly.
Toe die Engelse uiteindelik in 1806 die Kaapkolonie blywend beset het, het rooi, wit en blou dus in die herinnering van die Kapenaars voortgeleef as die kleure van die vlag van die ou tyd. Soos dit altyd maar gaan, het die tyd in die herinnering van die volk luisterryker geword as wat werklik die geval was. Die liefde vir hierdie vlag is nog verder versterk deur die Hollandse skepe wat met hierdie vlag die Kaapstadse hawe bly aandoen het op hul reise na Oos-Indië wat, anders as die Kaap, Nederlands gebly het.
Voortrekkerleiers soos Trichardt, Van Rensburg, Retief, Potgieter, Pretorius en ander is almal nog onder daardie “Bataafse driekleur” gebore en het daarom ’n mindere of meerdere mate van sentiment daarvoor gehad. Ons sal ook sien watter invloed dit op die vlagstryd in Suid-Afrika gehad het.