Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Versoekings is baie verskillend. Die verdorwe gedagtes wat ons aanhits om die wet te oortree is versoekings. Hierdie gedagtes word óf deur ons eie begeerstes aangevuur, óf deur die duiwel wakker geroep. Ook die dinge wat eintlik self nie sleg is nie, word versoekings deur die lis van die duiwel. Dit gebeur wanneer dinge oënskynlik onskuldig só aan ons opgedis word dat dit ons van God wegtrek.
VLAE VAN SUIDER-AFRIKA (1)
C Pama
Lees reeks by Vlae van Suid-Afrika
Die Nasionale vlag
"Die amptelike hysing van die Nasionale vlag deur ons hele land het op 31 Mei 1928 plaasgevind. Geen geskikter dag as Uniedag (later Republiekdag tot die Kommuniste die land oorgeneem en dit weer anders gedoop het) kon vir die vlaghysing gekies gewees het nie. Dit was die dag waarop elke Suid-Afrikaner hom opnuut bewus gevoel het van sy volk se hoogste ideale en strewe na die volle verwesenliking van eie nasieskap en nasionale eenheid."
Toe die Unie van Suid-Afrika in 1910 tot stand gekom het, het die Britse admiraliteit twee vlae vir gebruik in Suid-Afrikaanse waters vasgestel. Op albei was die skild van die Uniewapen. Regeringskepe moes die wapen egter op ’n “blue ensign” plaas en koopvaardyskepe op ’n “red ensign”. ’n “Ensign” in hierdie verband is ’n effe vlag met ’n Union Jack in die bohoek. Op land moes van regeringskantore en dergelike net die gewone Union Jack wapper. Al die besluite was in ooreenstemming met wat in ander dele van die destydse Britse Ryk gebruiklik was.
Die bevolking het egter nie die amptelike sienswyse gedeel nie, maar het die “red ensign” met die Uniewapen as die nasionale vlag beskou, veral nadat dit in 1912 verander is en die skild van die Uniewapen op ’n wit ronde skyf geplaas is, sodat dit duideliker geword het.
Hierdie vlag was egter nooit baie gewild nie en soos ons land selfstandiger en onafhankliker geword het, het die behoefte aan ’n werklik eie nasionale vlag al hoe dringender geword. ’n Kenmerkende nasionale vlag is mos die algemeen erkende simbool van eie nasieskap onder alle volke.
Die Unieregering het daarom ’n Vlagkommissie benoem wat verskillende ontwerpe oorweeg en weer verwerp het. In hierdie tyd was die Unie nog jonk en daar was dus onder die bevolking menings wat soms sterk uiteengeloop het oor hoe die nasionale vlag moes wees. Die Unievlag sou voorwaar vreemd daaruit gesien het as een van die destydse ontwerpe ooit aanvaar was! Dit is voldoende om te sê dat ná oorweging van al hierdie gedagtes, menings en voorstelle, daar ten slotte die gelukkigste oplossing gekom het: die Van Riebeeckvlag wat aan die wieg van Suid-Afrika gestaan het.
Op die wit baan van die vlag is die drie ander vlae geplaas as teken dat, sedert die tyd van Van Riebeeck, daar verdere ontwikkeling plaasgevind het.
In 1927 is die Vlagwet deur die Parlement aanvaar en hierin word die Nasionale vlag soos volg amptelik beskryf:
Drie horisontale bane ewe wyd, van bo na onder oranje, wit, blou; in die middel van die wit baan die gewese vlag van die Oranje-Vrystaat vertikaal ten volle oopgesprei afhangende, met die Union Jack horisontaal daar aan grensende ten volle oopgesprei in die rigting van die vlagpaal, en die gewese Transvaalse Vierkleur horisontaal daaraan grensende ten volle oopgesprei weg van die vlagpaal af, op gelyke afstand van die kante van die wit baan. Die vlae sal almal ewe groot wees, en hul vorm sal proporsioneel dieselfde as die van die Nasionale vlag wees, en die breedte van elk gelyk aan een derde van die breedte van die wit baan.
Hierdie beskrywing is streng sonder opsmuk en tegnies van inslag, maar vir die mense wat daarmee te doen het, is dit kristalhelder. Feitelik beteken dit dus dat die Oranje-Vrystaatse vlag as ’t ware as vlagpaal in die middel diens doen en van daar waai die Union Jack na die linkerkant en die Transvaalse Vierkleur na die regterkant toe uit, dit wil sê as jy voor die vlag staan en daarna kyk. Die merkwaardige van hierdie plasing is dat baie mense al gedink het die Union Jack staan omgekeerd, omdat hulle so daaraan gewoond is dat hy van ’n paal na die ander kant toe waai. Normaalweg waai hy mos na die regterkant uit. Hierdie vraag na die sogenaamde omkering van die Union Jack kan ’n mens dus maklik beantwoord as jy net goed nadink. ’n Heeltemal ander saak is egter die vraag hoekom die vlaggies juis so geplaas is. Waarom is hulle nie net naas mekaar gesit nie?
Die deskundiges het natuurlik baie kop gekrap voordat hulle die oplossing gevind het, want dit was ’n byna onmoontlike taak om af te handel.
In die tyd van die sogenaamde vlagstryd was die bevolking van ons land ook emosioneelpolities gespanne. Dit sou vir die ontwerpers van die vlag eenvoudig onmoontlik gewees het om aan een van die drie vlaggies ook selfs maar ’n skyn van ’n ereplek of voorrang bo die twee ander te gee.
In die stemming van die dae sou so iets ’n verskriklike kabaal afgegee en verwyte van partydigheid en wat ook al uitgelok het. Die plasing van die drie vlaggies moes dus eenvoudig so wees, dat vanuit ’n heraldiese oogpunt gesien, aan almal dieselfde eer sou toekom.
Die Kaap en Natal was daarby eintlik al uit die staanspoor benadeel deurdat hulle saam net deur een vlaggie, die Union Jack, verteenwoordig was. Die rede was dat hulle, soos reeds aangetoon, albei ’n vorm van die Union Jack as koloniale vlag gehad het. Daar is toe gemeen dat hulle dus paslik as een beskou kan word. Daarteen is ook nooit beswaar gemaak nie.
Die idee dat die Union Jack Engeland verteenwoordig, is dan ook heeltemal verkeerd. ’n Union Jack wat wel Engeland, of eintlik in uitgebreide sin die destydse Statebond, verteenwoordig het, het van 1927 af as tweede, aparte vlag altyd naas die Nasionale vlag gehang, maar het in 1957 uiteindelik vir goed verdwyn.
Die vlagontwerpers het toe drie vlaggies gehad wat so geplaas moes word dat geeneen ’n ereplek bo die ander sou kry nie. Hoe het hulle dit reggekry?
Die heraldiek is ’n eeue-oue wetenskap en daar bestaan dus eintlik vir enige situasie wette en gebruike. Hierdie probleem het egter nog nooit tevore voorgekom nie en dus moes die ontwerpers die ou gebruike op ’n nuwe manier toepas. Hulle het toe waarskynlik soos volg geredeneer:
Van ouds af is die plek naaste aan die vlagpaal as ereplek beskou, maar net as die embleem van die vlagpaal af uitwaai - soos die geval by ’n normale vlag is. ’n Union Jack wat normaal geplaas was, sou dus outomaties ’n ereplek gekry het. Dit kon egter vermy word deur hom vanuit die middel na die paal toe te laai waai, met ander woorde deur die Vrystaatse vlag as ’t ware as vlagpaal te beskou. Die Vierkleur wat wel sy normale plasing behou het, sou gewoonweg aan die buitekant van die Nasionale vlag ’n minder eervolle plek ingeneem het. Deur die teenoorgestelde plasing van die Union Jack het albei egter nou presies dieselfde eer gekry.
Die Vrystaatse vlag staan nou tussen die twee ander vlaggies en daardeur het hy in sekere sin ’n neutrale posisie ingeneem. Bowendien hang hy van bo na onder. Daardeur het die vraag of hy nader of verder van die vlagpaal waai, eintlik verval, want hy waai nog van die een, nog van die ander kant, maar hang van bo af.
Hierdie Vrystaatse vlag het egter sy eie probleem opgelewer. Dit was, soos ons reeds gesien het, ’n geskenk aan die Vrystaat van Koning Willem III van Nederland; en die Nederlandse rooi-wit- en-blou driekleur het in die bohoek van hierdie vlag ’n besondere ereplek gehad. Indien ’n mens nou die Vrystaatse vlag tussen die twee ander vlaggies in die Nasionale vlag op normale manier sou plaas, sou daardie Nederlandse bohoek aan die regterkant, dit wil sê die verste van die vlagpaal af, te staan gekom het. Daar is egter gevoel dat die bohoek sy ereplek moes behou en dit is bereik deur die hele Vrystaatse vlag om te draai, sodat die rooi-wit-en-blou aan die linkerkant gekom het en ondanks alles sy ereplek behou het.
Alles in ag genome het die drie vlaggies dus dieselfde waarde ten opsigte van mekaar en is selfs die ou Nederlandse driekleur nie benadeel nie. Kon ’n mens ’n beter oplossing gevind het? Ek glo nie so nie.
Dit is baie makliker om dit agterna te verduidelik, maar veel moeiliker om dit sonder voorbeelde of presedente so te ontwerp. Dit verraai ’n vakkennis van die hoogste graad en ’n mens kan net hulde bring aan diegene wat dit destyds reggekry het. In die meer as ’n halfeeu wat agter die rug lê, het dit nog nooit proteste uitgelok nie. Inteendeel, daardie vlagkundiges se werk het baie daartoe bygedra dat daar ná 1927 geen verdere stryd was nie. Sê nou dat die heraldiek geen taak meer in ons moderne samelewing het nie!
Twee maande voor die eintlike ingebruikneming aan die einde van Mei, naamlik op 30 Maart 1928, is die nuwe Nasionale vlag al in Havana by ’n internasionale konferensie gehys. Dit was nie net die eerste keer dat die vlag in die buiteland gesien is nie, maar dit was ook die eerste keer dat dit in amptelike hoedanigheid gewapper het in sowel die binneland as in die buiteland.
Die amptelike hysing van die Nasionale vlag deur ons hele land het op 31 Mei 1928 plaasgevind. Geen geskikter dag as Uniedag (later Republiekdag tot die Kommuniste die land oorgeneem en dit weer anders gedoop het) kon vir die vlaghysing gekies gewees het nie. Dit was die dag waarop elke Suid-Afrikaner hom opnuut bewus gevoel het van sy volk se hoogste ideale en strewe na die volle verwesenliking van eie nasieskap en nasionale eenheid.
Die groot plegtigheid het in Kaapstad plaasgevind, waar die goewerneur-generaal die teken gegee het dat die Nasionale vlag saam met die Union Jack tot hoog bo die Parlementsgebou gehys word. Onder kanongebulder, klokkegelui en trompetgeskal het hy die teken gegee. Toe ’n vriendelike luggie die nuwe vlag laat ontplooi en trots laat wapper het, het daar ’n spontane gejuig opgegaan van die duisende mense wat voor die ingang van die Parlement vergader was. Ook voor die Stadhuis het ’n mensemassa ’n vlagplegtigheid bygewoon.
Die eerste hysing van die landsvlag kon geen beter en geen waardiger ontvangs gehad het nie. Deur die hele land het daar soortgelyke plegtighede plaasgevind. Suid-Afrika was nou in staat om onder sy eie vlag sigself te wees en te voel, en om as ’n vrye volk sy verskyning te maak onder die vrye volke van die wêreld.
Dis die tyd, dis die dag om te handhaaf en te bou.
Hoog die hart, hoog die vlag,
Hoog Oranje-blanje-blou...