Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Waar die Here boosdoeners aan die stuur van landsake toelaat, is hulle ‘n instrument in God se hand. God gebruik hulle as ‘n tugroede om sy kinders mee te straf. Daarvan kon oud-Israel getuig! Agab en Manasse was twee sulke konings. As hulle verkeerd gedoen het, het God ‘n goddelose koning oor hulle laat heers.
PETRUS: Hoofstuk 3
Die aangename somerdae wat ons die afgelope paar maande hier langs die See van Galilea beleef het, was besig om verby te gly.. Saans, wanneer ons saam met Jesus vanaf die hawe in die rigting van my huis gestap het, het ‘n koue luggie onmiskenbaar reeds sy byt laat voel. Ek het só gehoop dat ons voor die winter reeds in Jerusalem sal wees. Ek het nie die vrymoedigheid gehad om Jesus daarna uit te vra nie, want ek het nog sleg gevoel dat Hy my so bestraf het, omdat ek nie wil hê dat hulle Hom moet doodmaak nie.
Wat is gelykenisse?
Volgens my oordeel kon ons lankal in Jerusalem gewees het, al moes Jesus hier in die omgewing van Kapernaum en die Galilese See so baie mense van hulle siektes en kwale genees. Hy het ook nie ‘n geleentheid laat verbygaan om met die skare oor die ewige lewe te gesels nie. Aan die begin het ek gedink dis onnodig dat Jesus urelank met hulle praat, want dit hou ons langer van Jerusalem af weg. Maar later het ek besef dat Jesus nie kan koning wees oor ‘n volk wat só vol sonde en ongeregtigheid is nie. Jehova word skaars nog gedien. Daarom leer Jesus hulle elke dag meer van God se koninkryk, sodat hulle hul moet bekeer, voordat ons Jerusalem toe gaan.
Jesus het ons dissipels ook spesiaal voorberei vir die koms van sy koninkryk. Hy wou hê dat ons ons lewens moet regmaak en verander en verbeter, want ons moet almal leiers in sy koninkryk wees na wie die volk kan opsien en begeer om ook soos ons te leef. Hy het ons een môre ‘n endjie teen die berg uit geneem. Ons het almal in ‘n kring om Hom gaan sit en ‘n paar uur lank sy kosbare woorde ingedrink.
Ek het daardie môre besef hoe baie dinge ek in my ruwe en selfsugtige lewe sal moet regmaak, om vir Hom aanneemlik te wees. Hy het gesê: “As jou regterhand jou laat struikel, kap dit af, sodat jou hele liggaam nie in die hel gewerp word nie….As iemand jou dwing om ‘n kilometer ver saam met hom te loop, moet jy tweemaal so ver saamgaan….Julle moet jul vyande liefhê, sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is….As jy liefdadigheid bewys, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie….Julle Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra….Maak vir julle skatte bymekaar in die hemel waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie….Kyk hoe voed julle hemelse Vader die voëls van die hemel. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? Moet julle nie kwel oor wat julle moet eet of drink of aantrek nie, want julle Vader weet dat julle dit alles nodig het. Soek eers die koninkryk van God en daarna sal julle al hierdie dinge ontvang….Bid en vir julle sal gegee word; klop, en vir julle sal oopgemaak word….Elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word….”
Jesus het baie keer ook vir ons ‘n verhaal vertel om vir ons te verduidelik hoe dit in die koninkryk van die hemele gaan. Hy het gesê Hy doen dit omdat baie van ons nie sien wat ons sien nie en nie hoor wat ons hoor nie, want soms het ons nie eers die storie in die gelykenis wat Hy vertel het, verstaan nie.
Een keer het Hy vir ons ‘n gelykenis van ‘n saaier vertel. Die saad wat hy gesaai het, het op verskillende plekke geval, op harde grond, op klipbanke, tussen die onkruid en in goeie, bewerkte grond. Die saad wat in die pad op harde grond geval het, is deur die voëls opgepik. Dié op die klipbanke het ontkiem, maar kon nie wortelskiet nie. Die saad tussen die onkruid het opgekom, maar is verstik. Dié wat in goeie grond geval het, het gegroei en goeie vrugte gedra.
Toe ons Hom daarna vra, het Hy gesê die saad is die Woord van God. As mense dit hoor en nie verstaan nie, val die saad in hulle op harde grond. As mense die Woord hoor en aanvaar en weer afvallig word, val die saad op die klipbanke, waar dit wel ontkiem, maar nie kan wortelskiet nie. As iemand die Woord in sy hart deur bekommernisse en verleidelikhede van die lewe laat verstik, val die saad in die dorings en die onkruid. Maar as iemand die Woord hoor en verstaan en dit aanvaar en daarvolgens leef, val die saad in goeie grond, wat goeie vrug sal dra.
Jesus het nog baie ander gelykenisse vir ons dissipels vertel en vir die skare van mense wat Hom so agtervolg het, want Hy wou hê dat ons sy Vader in die hemel se liefde en genade beter moes leer ken. Daar was die verhaal van die verlore seun, die verlore skaap, die goeie herder, die tien jong meisies, die talente en nog baie ander.
Met die pragtige verhaal van die verlore seun het Jesus vir ons sy Vader se barmhartigheid, vergewensgesindheid en liefde vir sondaars wonderlik beskryf. Hy het vertel dat ‘n goeie pa twee seuns gehad het. Op ‘n dag het die wanderlus die jongste een gepak Hy het vir sy pa gevra om tog asseblief al die besittings en geld wat hy sou erf, aan hom te oorhandig, want hy wil die wye wêreld ingaan en selfstandig gaan lewe. Sy pa het dit gedoen en hy is daar weg. Die oudste seun was darem nog beskikbaar om sy pa by te staan.
Die jongste seun het ‘n weelderige en genotvolle en uitspattige lewe in ‘n vreemde land gaan voer. Hy het baie vriende gehad wat gehelp het om sy erfenis te verkwis, maar toe hy kaalgestroop raak, het almal hom verlaat. Al uitkoms was om hom aan een van die rykes van daardie land te verhuur en sy varke op te pas. Dit was ‘n vreeslike vernedering vir hierdie jong Joodse seun, wat nooit aan ‘n vark geraak het nie. Die honger het hom verteer, want hy kon nie die varke se kos eet nie.
Toe hierdie verlore seun uiteindelik met groot berou in sy hart daaraan dink dat selfs die dagloners op sy pa se plaas daar baie beter aan af is as hy en volop het om te eet, het hy besluit om terug te gaan en sy skuld te gaan bely. Sy pa, wat nog al die tyd gehoop het dat hierdie verlore seun van hom sou terugkeer, was oorstelp van blydskap en het hom met nuwe guns oorlaai.
Onderwyl die hele huishouding besig was om oor sy terugkeer fees te vier, het die oudste seun daar aangekom en met bitterheid in sy hart sy pa verwyt dat hy nog nooit vir hom wat al die jare aan hom getrou was, so’n feesmaal gegee het nie.
Sy pa se antwoord was: “Kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het is ook joue. Maar ons kan tog nie anders as om fees te vier en bly te wees nie, want hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ons het hom teruggekry.”
Kom ons bou drie hutte
Nadat Jesus daar by Sesarea-Filippi vir my gesê het my naam moet Sefas wees en dat Hy op hierdie rots gaan bou, het ek begin dagdroom en my sommer gou al gesien as sy eerste minister in sy koninkryk wat sal kom. Maar ek was weer half platgeslaan toe Hy vir my gesê het ek wil hê dinge moet gebeur soos die mense dit wil hê en nie soos God wil nie. Toe Jesus naderhand vir Jakobus en Johannes vra om Hom saam met my te vergesel wanneer Hy spesiale plekke sonder die ander dissipels besoek het, het ek begin jaloers voel en gedink dat Hy naderhand een van hulle in my plek gaan stel.
Een middag roep Jesus ons drie bymekaar en vra dat ons saam met Hom teen die berg moet uitklim; Hy wil graag daar in die stilte van die rustige natuur se gewyde atmosfeer gaan bid, sonder die steurende teenwoordigheid van honderde mense wat Hom maar gedurig omring het, waar ons ook al heen beweeg het.
Net voordat ons die kruin bereik het, het Jesus gevra dat ons drie daar ‘n rukkie moet wag; Hy wil alleen ‘n endjie verder gaan. Jakobus en Johannes het met mekaar gesit en praat oor twee gelykenisse wat Hy vir ons saam met die gelykenis van die verlore seun vertel het, van ‘n penning en ‘n skaap wat weggeraak het en ook weer gekry is.
Ek het maar met ‘n halwe oor geluister en gesit en kyk hoe Jesus ‘n endjie van ons af op die kruin in ‘n biddende houding staan. Ek het geweet Hy verkeer op daardie oomblik in gesprek met sy hemelse Vader.
Na ‘n rukkie hoor ek nie meer vir Jakobus en Johannes praat nie en sien hulle het altwee aan die slaap geraak. Ek wou myself ook net lekker op die groen gras neervly, toe ek sien dat Jesus heeltemal verander het. ‘n Helder lig het Hom omstraal en sy klere het skitterend wit geword. Ek het ‘n paar oomblikke spraakloos na Hom bly staar. Toe verskyn daar skielik twee mans weerskante van Hom. Dit het gelyk asof hulle klere deurskynend was, net of ‘n mens dwardeur hulle kan sien.
Ek het vir Jakobus en Johannes wakker gemaak. Ons het verdwaas na hierdie wonderlike toneel bly staar. Jesus het in sy blinkende wit klere met die twee mans gestaan en praat. Wie sou hulle tog wees? Naderhand fluister Johannes: “Dit is Moses en Elia.”
Ek het geweet hy is reg. Toe spring ek op en hardloop ‘n paar tree nader. Die woorde borrel sommer uit my mond: “Here! Here! Dis wonderlik om hier te wees! Kom ons bou drie lekker hutte, sommer net hier, een vir U, een vir Moses en een vir Elia!”
Toe ek tot my sinne kom, besef ek dat ek al weer ‘n dwaashed kwytgeraak het. Gelukkig lyk dit of Jesus my gladnie gehoor het nie. Daar kom ‘n mooi wit wolk aangesweef en gooi sy skaduwee oor ons. ‘n Paar oomlikke later sluit die wolk ons almal met ‘n swaar mistigheid in en ons hoor ‘n stem: “Dit is my geliefde Seun, oor wie Ek My verheug. Luister na Hom!”
Die almagtige teenwoordigheid van God in hierdie wolk, het ons drie dissipels van ons voete af geruk en op die grond neergeslinger. Toe ons na ‘n paar oomblikke weer bewend op ons voete kom, was die wolk weg. Moses en Elia was ook nie meer sigbaar nie.. Net Jesus het voor ons gestaan.
“Moenie so bang wees nie,” het Hy gesê. “Hierdie verheerliking van My deur my Vader moes plaasvind in teenwoordigheid van Moses en Elia. Ons het gepraat oor wat binnekort met My in Jerusalem gaan gebeur. Julle moet vir niemand vertel wat julle vandag gesien het nie.”
In my dwaasheid het ek vir myself gesê, ja natuurlik moet ons nie praat nie. Jesus wil nie hê dat dit rugbaar moet word dat ons Hom een van die dae in Jerusalem tot koning gaan uitroep nie. Maar toe Hy ‘n paar dae later vir ons die gelykenis van die goeie herder vertel en sê dat Hy die goeie Herder is wat sy lewe aflê vir sy skape, het dit weer verwarring en onsekerheid by my veroorsaak. Waarom praat Hy die afgelope tyd so dikwels van sy dood?
Here, stuur vuur om hulle te verteer!
Jesus het vir ons gesê Hy wil graag saam met ons die Huttefees in Jerusalem gaan bywoon. Ek het geweet die groot gebeurtenis van sy kroning sal nie by hierdie geleentheid plaasvind nie, maar by die meer geskikte volgende groot gebeurtenis van die Paasfees, wanneer daar duisende pelgrims in Jerusalem saamgetrek is.
Toe ons met ons suidwaartse reis na Jerusalem in die omstreke van Samaria kom, stuur Jesus vir my en my broer Andreas na een van die Samaritaanse dorpe om daar vir ons huisvesting te gaan reël. Jesus wou graag daar ‘n paar dae oorbly voordat ons die vermoeiende reis verder suidwaarts voortsit. Maar die Samaritane was ons gladnie goedgesind nie. Toe hulle hoor ons is op pad na Jerusalem om daar te gaan aanbid, weier hulle volstrek om enge gasvryheid aan ons te betoon.
Ek en Andreas het teruggegaan en vir Jesus en die dissipels
van die Samaritane se vyandiggesindheid vertel. Jakobus en Johannes het toe baie kwaad geword en wou hê dat Jesus hulle moes toelaat om vuur uit die hemel af te bid, sodat dit die Samaritane kon verteer. Maar Jesus het hulle baie skerp tereggewys. Toe het ek verstaan waarom Jesus hulle “boanerges” genoem het, seuns van die donder. Later het hierdie twee broers hul vinnige humeure en kortgebondenheid heeltemal kwytgeraak. Ons het vir Johannes die dissipel van die liefde begin noem, toe ons opmerk dat hy ‘n spesiale plekkie in Jesus se hart inneem.
Julle is kinders van die duiwel
Jesus se optrede in Galilea was gedurig onder die aandag van die skrifgeleerdes en Fariseërs. Die Sadduseërs het hulle nie veel aan Hom gesteur nie, maar die ander het Hom voortdurend dopgehou om te kyk of hulle nie met Hom kon foutvind nie, want hulle het niks daarvan gehou dat die hele volk feitlik besig was om agter Hom aan te gaan en Hom te eer en Hom meer as een keer al wou koning maak nie. Hulle was bang dat hulle dan nie meer die volk se godsdienstige en politieke leiers sou wees nie, maar hulle het ook gevrees dat die Romeine dan sal kom en ons land verpletter. Daarom het hulle al hoe meer vyandiggesind teenoor Jesus geword.
Toe ons nou Jerusalem binnekom en Jesus die paar dae voor die fees gebruik om die mense in die tempel te leer, het die Fariseërs voortdurend probeer om Hom met slim vrae uit te vang, in ‘n hoekie te dryf en te verkleineer. Maar hulle het elke keer die onderspit gedelf en besluit om Hom dood te maak. Jesus het eenkeer vir hulle gesê: “Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader en julle wil doen wat julle vader wil hê wat julle moet doen.”
Wie sal die eerste klip gooi?
Ek was baie bekommerd oor Jesus se veiligheid. Ek het vir Jakobus en Johannes gesê ons drie moet Hom nie ‘n oomblik alleen laat nie, nie eers daar in die tempel nie. Toe het ons drie maar altyd onopsigtelik in die voorhof tussen die mense rondgedwaal, wanneer Jesus, omring van die massa, besig was om vir hulle te preek.
Die tweede dag wat ons daar was, sien ek tot my ontsteltenis weer ‘n stuk of tien Fariseërs tussen die mense, op pad na Jesus toe. Hulle het ‘n vrou by hulle gehad wat hulle feitlik gesleep-dra het tot voor Hom. Toe skree hulle sodat almal in die omgewing dit moet hoor: “Hierdie vrou is op heterdaad betrap waar sy egbreek pleeg! Die wet van Moses sê sy moet gestenig word. Maar jy, rabbi, wat sê jy?” Hulle het Hom boos aangegluur.
Ek en Jakobus en Johannes het nadergeskuif en ‘n endjie agter Jesus gestaan. Ek het vir hulle gefluister: “Laat hulle vandag net aan Hom vat…” Die twee seuns van die donder het instemmend geknik. Ons was geharde vissermanne met staalspiere en het vir al tien die sagte menere kans gesien.
Ek het gewonder wat Jesus gaan antwoord. Toe fluister Johannes: “As Hy sê sy moenie gestraf word nie, gaan hulle sê Hy is teen die wet en as Hy sê hulle moet haar stenig, gaan hulle sê Hy kom in opstand teen die Romeine, want net hulle kan die doodstraf toepas.”
Maar daar het ‘n wonderlike ding gebeur. Jesus het neergebuk en iets op die grond geskrywe. Die tien aanhitsers het nie daarvan gehou nie en weer geskree: “Toe rabbi! Wat sê jy? Moet sy gestenig word?”
Almal in die omgewing het meteens doodstil geword toe Jesus stadig regop kom en sy oë oor die groep Fariseërs laat gaan. Toe breek sy sagte stem die stilte met net hierdie paar woorde: “Laat dié een wat sonder sonde is, die eerste ‘n klip op haar gooi.” Hy het weer neergebuk en verder geskryf.
Ons drie dissipels het die spulletjie dopgehou. Hulle was eers doodstil en toe het daar ‘n gefluister en gemompel onder hulle ontstaan. Een het omgedraai en stadig begin wegstap. Daarna het sommer twee-drie die hasepad gekies. Dit was nie lank nie of almal was weg. Net die arme vrou het nog bewende voor Jesus gestaan.
“Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou? Het daar nie een oorgebly nie?” het Hy gevra.
“Nie een nie, Here. Hulle is almal weg,” het sy deur haar trane heen geantwoord.
“Ek veroordeel jou ook nie. Gaan nou huis toe en moenie weer daardie sonde doen nie.”
Sy het voor sy voete neergeval en onderwyl haar trane onbeheerst vloei, vir Jesus aanhoudend bedank. Toe het sy die Here begin loof en prys vir sy groot genade en liefde wat Hy aan haar bewys het.
Ek kan sien! Ek kan sien!
Na hierdie voorval in die tempel het ek my nie meer baie bekommer oor die skrifgeleerdes en Fariseërs se aanvalle op Jesus nie. Ek was oortuig daarvan dat hulle nie kan verhoed dat ons Jesus as koning salf tydens die Paasfees nie. Goewerneur Pilatus se handjievol Romeine in Jerusalem sal ook baie vinnig op die vlug slaan as ons duisende volksgenote wat die fees kom bywoon, hulle daardie dag verdryf. Ek was vol moed, maar Jesus het só min van sy eie planne aan ons meegedeel. As ons Hom vra of Hy Israel se koningskap weer gaan oprig, dan sê Hy dit kom ons nie toe om te weet wat die Vader in sy mag bepaal het om te gebeur nie. Hy het ook al ‘n paar keer vir ons gesê dat Hy nog baie onder die skrifgeleerdes en Fariseërs en ander slegte mense moet ly. Elke keer wanneer Hy dit gesê het, het my moed in my skoene gesak, maar ek het dit nie weer gewaag om met Hoim daaroor te praat nadat Hy my daar by Sesarea-Filippi so afgeransel het nie.
Die Fariseërs het nie opgehou om Jesus te treiter nie. Daar was gedurig ‘n paar agter Hom aan om te kyk of Hy nie miskien iets wil doen of sê waaroor hulle Hom kon aankla nie.
Een middag, toe ek en Jakobus en Johannes saam met Jesus van die tempel af wegstap, sien ons ‘n man wat sit en bedel, omdat hy blindgebore was en nie kon werk nie. Jesus het hom jammer gekry, klei aangemaak, dit aan sy oë gesmeer en gesê dat hy hom in die Siloambad moet gaan was. Toe hy terugkom, kon hy sien. Sy bure was verbaas en baie mense wou nie glo da hy die blinde bedelaar was wat altyd daar by die tempel gesit het nie. Hy moes oor en oor vertel hoe dit gekom het dat hy nou kon sien. Dit was vir hulle só snaaks dat hulle hom na die Fariseërs gneem het, sodat hulle ook sy storie kon hoor. Toe hulle hoor Jesus het dit op die sabbatdag gedoen, het hulle gesê Jesus kom nie van God af nie, want kyk hoe het Hy die sabbat verontheilig!
Hulle het nie geglo dat die man blind was nie en roep toe sy ouers. Hulle wou nie praat nie, want hulle was bang vir die Fariseërs en sê: “Vra vir homself. Hy is oud genoeg om vir homself te praat.”
Daarna het hulle die arme man weer opnuut gepak en vir hom gesê Jesus is ‘n sondaar, wat hy natuurlik betwis het, want hy het gesê Jesus is ‘n profeet. Toe hulle weer wou weet hoe Jesus hom genees het, sê hy vir hulle:
“Ek het dit al vir julle gesê en julle glo my nie! Waarom moet ek dit weer doen? Dit lyk vir my julle wil ook dissipels word van hierdie Man.”
Ag aarde, toe moes jy gehoor het hoe skel hulle hom uit. “Jy is seker sy dissipel. Ons is dissipels van Moses!”
Maar die sienende blinde het voet by stuk gehou en onomwonde vir hulle vertel dat Jesus van God af kom en daarom hierdie wonderwerke kan doen. Hulle skel hom toe weer uit en sê: “Ag toe nou, jou onnosel ding! Wil jy wat van kop tot tone met sonde besmet is, nou vir óns kom leer?” Hulle het hom toe belet om ooit weer sy voet in hulle sinagoge te sit.
Hou moed; Hy roep jou
Toe die Huttefees verby is en Jesus sien hoe vyandiggesind die skrifgeleerdes, Fariseërs en priesterhoofde is, het Hy vir my gesê ons moet maar liewer na Galilea terugkeer, want daar is nog baie werk om te doen. Ons kan dan later vir die Paasfeesvierings weer na Jerusalem kom. Ek het Hom ondersteun, want dit was vir my duidelik dat die tyd nog nie ryp was om Israel te bevry nie.
Ons het die pad na die Jordaan gevolg. So ver as wat ons geloop het, het mense by ons aangesluit en saamgestap. Naderhand het ons geselskap al weer tot etlike honderde aangegroei. Ek het ‘n hele end voor die ander geloop om te sorg dat die pad vir Jesus hulle veilig is. Ek het vir Jakobus en Johannes gevra om altyd weerskante van Jesus te loop vir onmiddellike beskerming en vir die ander dissipels om te volg en ons agterhoede te dek.
Maar al die mense wat by ons aangesluit en saamgestap het, was ons goedgesind, maar hulle was by tye regtig lastig. Ons moes hulle dikwels van Jesus se lyf weghou, want elkeen wou met Hom praat en aan Hom raak. Dit het ons gang vertraag.
Toe ons naby Jerigo kom, sit daar ‘n blinde bedelaar langs die pad. Hy wou van my weet wie dit is wat agter my aan die kom is. Toe hy hoor dit is Jesus, skreeu hy net so hard as wat hy kon: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!” Ek sê vir hom: “Moenie so skree en Hom lastig val nie. Ons is haastig, anders kom ons nooit vanaand in Jerigo nie!”
Hy steur hom nie aan my nie en bulder dit nog harder uit. Jesus hulle is toe al naby ons en ek hoor sy stem bokant die geroesemoes van geluide rondom Hom: “Petrus, bring hom hier na My toe.” Ek lei die arme ou skepsel aan die hand na Jesus toe. Hy vra vir hom: “Wat is jou naam?”
“Bartimeus.”
“Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”
“Rabboeni, dat ek kan sien.”
Toe die mooiste woorde wat die ou bedelaar nog ooit gehoor het, in sy ore weerklink, kry ek so skaam dat ek hom van Jesus af probeer weghou het: “Jy kan nou maar gaan, Bartimeus, want jou geloof het jou gered.”
Hy kon onmiddellik sien, en hy sien nog steeds. Hy is al juigende saam met die mense agter Jesus aan.
Haai jy, klim uit die boom !
Ek was weer die voorhoede van hierdie groot optog na Jerigo. Ek gewaar ‘n groot wildevyeboom langs die pad waar ons moes verbygaan en sien sy blare onnatuurlik roer, terwyl dit ‘n windstille dag is. Gedagtig aan Jesus se veiligheid, loop ek tot onder die boom en kyk op. Daar sit ‘n kleinerige ou mannetjie hoog in die takke, en hy lyk vir my heeltemal onskadelik.
Voordat ek hom kon vra wie hy is en wat hy daar doen, was Jesus hulle ook al by ons. Hy kyk op en sê: “Saggeus, klim af uit die boom en kom saam, want ek moet vandag in jou huis tuisgaan.”
Ek en die ander dissipels was verbaas, nie net omdat Jesus hierdie ou klein mannetjie se naam geken het nie, maar dat ons by hom moes tuisgaan. Die mense wat daar saam met ons rondgestaan het, het met my en die ander dissipels begin praat en gesê hierdie kêreltjie is die hoof van die tollenaars in Jerigo. Hy is skatryk, want die tolgeld wat hy en die ander by die hekke eis, is baie meer as wat hy aan die Romeinse owerheid moet oorbetaal.
Maar daardie aand het Saggeus vir ons ‘n heerlike maaltyd voorgesit en vir Jesus beloof om al die geld wat hy geroof het, viervoudig terug te gee. Toe het Jesus gesê daar het vandag redding gekom vir hom en sy huis.