Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
‘n Leier se liefde vir God en sy volk is die spil waarop sy menseverhoudings draai. Dis die deur wat hom uit die kerker van selfsug na buite lei. Eer moet egter nie met eerbewys verwar word nie. Geen mens is nog ooit vereer vir wat hy ontvang het nie, maar slegs vir wat hy gegee het.
KOMMUNISME, DIE GODSDIENS VAN HAAT (8)
Wêreldwye ervaringe van die kommunisme-monster
deur Richard Wurmbrand
Lees reeks by Kommunisme, die godsdiens van haat
Rooi China
’n Vindingryke persoon het bereken dat as ’n man langs ’n pad moes staan en die hele bevolking van China verby hom moes sien loop teen die snelheid van een individu per sekonde, meer as twintig jaar sou verloop voor die laaste lid van die optog verby is. Maar in hierdie groot en steeds toenemende menigte, sou baie min Christene wees.
Selfs vóór die Kommunistiese oorname, was daar in China slegs een Christen vir 475 nie-Christene. Ons moet bewus wees van die kwantitatiewe onbeduidendheid van sendingwerk. Tien persent van die wêreldbevolking is Engelssprekend. Hulle het negentig persent van die predikers en pastore. Slegs tien persent van die predikers werk tussen die negentig persent van hulle wat die sonde gepleeg het om nie-Engelssprekend te wees en daarom aan die geestelik onderontwikkelde volke behoort. Sover as my kennis strek is Noorweë en Noord-Ierland die uitsonderings, en die sendingpogings van kerke in ander westerse lande is minimaal. Van die onmeetbare inkomste van die kerke in die V.S.A. word slegs ses persent vir liefdadigheids- en sendingdoeleindes gebruik. Ons het nog nie die groot opdrag: "Gaan heen en verkondig aan alle nasies,” uitgevoer nie.
In China was die Christene nog altyd ’n klein minderheid.
En nou moes die Christene die aanval van ’n nuwe godsdiens, "die Mao-aanbidding”, trotseer. Reusestandbeelde van Mao het dwarsoor die lengte en breedte van China verrys. Miljoene is deur die vervolmaakte breinspoelmetode gehipnotiseer.
Baie van die invloedryke Christenleiers het nie die gevaar van Kommunisme besef nie. Sommige het slegs simpatiek daarteenoor gestaan. Andere sou hulleself beperk by wat hulle verstaan het onder ’n suiwer Evangelie en glad nie melding maak van die Kommunistiese bedreiging nie, omdat dit sou beteken dat hulle in politiek betrokke sou raak. Maar as Kommunistiese politici hulle op die gebied van godsdiens waag om daar hulle dodelike gif te strooi of om God se kinders te vervolg, word politiek op ons afgedwing. Dit kan nie en behoort nie vermy te word nie. Wie dink dat godsdiens van politiek geskei kan word, ken nòg die godsdiens, nòg die politiek.
Teken gerus al die dele in die Bybel aan wat politieke betekenis het. U sal vind dat dit sowat sewentig persent van die Skrif beslaan. Die vorming van ’n nasie, die vrystelling van slawe, geringe wette wat die staatslewe beheer, reëls vasgelê deur regters en konings, profete wat hulle gedagtes oor groot ryke en nasies wat die Jode omring het, verwoord het, "Betaal aan die Keiser,” "Wees onderhorig aan gesag,” maar ook die beskrywing van hierdie magte as wilde diere in Daniël en Openbaring, al hierdie en baie ander dele van die Bybel is polities van aard. Christene moet oor politieke vraagstukke ’n standpunt inneem, sonder om egter politiek met persoonlike gewin of nasionale ambisies te verdraai.
In elk geval, die Chinese Christene was onvoorbereid vir die aanval. Toe die Kommuniste China oorgeneem het, het die Kommunisme Rusland al dertig jaar lank regeer. Niks is in die Chinese kerke en kweekskole geleer van die ondervindinge en werksmetodes van die Ondergrondse Kerk nie. Die voorbeelde van Russiese martelare was nie bekend nie.
Geen klokke lui meer op die Chinese vasteland wat onder Kommunistiese besetting is nie. Al die kerke is gesluit en ontheilig. Jy kan op hulle die inskripsie sien "Hang God op,” wat ook as slagspreuk met hulle parades geskree word.
’n Ooggetuie wat na Hongkong ontsnap het, het vertel hoedat ’n Christenmeisie in ’n Kommunistiese slawe-arbeiderskamp tot die dood gestenig is. Haar hande en voete was vasgebind en sy is gedwing om in die middel van ’n kring mense te kniel, wat die opdrag gekry het om haar te stenig. Hulle wat geweier het om daaraan deel te neern, is geskiet. Die ooggetuie sê dat sy gesterf het met ’n gesig wat geblink het soos diévan Stefanus. Ten minste een van hulle wat haar gesien het, is na geloof in Christus gelei deur daardie meisie wat haar getuienis met haar bloed verseël het.
Vyf studente wat gestuur is om diep gate te gaan grawe waarin hulle toe geplaas is, het Christelike liedere gesing terwyl hulle lewendig begrawe is.
In Vart Land van 11 Februarie 1969 word beskryf hoe ’n pastoor uit die distrik Swaton deur die strate gesleep is met ’n gekkemus op die kop waarop lelike inskripsies was. Getroue pastore is met kaalgeskeerde hoofde in bespotlike optogte, blootgestel aan verguising. Maar hierdie pastore het voortgegaan om hulle kuddes in klein groepies, gewoonlik nie groter as vier tot tien mense nie, te versamel.
Christene moet in die strate kniel. Daar word op hulle gespoeg. Sommige se koppe is kaalgeskeer, terwyl net hare in die vorm van ’n kruis gelaat is as teken dat hulle Christene is.
Die noukeurigste beskrywings van die martelinge wat die Christene moet ondergaan, is deur hulle Russiese kamerade gegee, wat ’n tyd lank teen hulle gekant was. ’n Dief wat ek in die tronk geken het, het baie hoë morele beginsels gehad.
Hy het my eenkeer vertel dat hy enige diefstal wat deur enigiemand anders as hyself gepleeg word, beslis veroordeel en dit as oneties beskou! Dit is hoe die Russiese Kommuniste dink. Hulle eis die alleenreg om dwarsdeur die hele wêreld die marteling van onskuldiges te bepaal. Die Chinese Kommuniste, wat hierin nie gehoorsaam was nie, word nou vir hulle wreedheid veroordeel. Dat dit in die Sowjet- Unie die geval is, leer ons uit ’n Moskouse tydskrif, Lite- raturnaia Gazeta (aangehaal in Russkaia Jizn van 18 Junie 1969).
Tydens ’n vorm van marteling wat bekend staan as "die klein kritiek” word ’n man deur die straat gelei met ’n gekkemus op sy kop en ’n kaart, waarop die klagtes teen hom verskyn, op sy bors.
Dit hou vir drie agtereenvolgende dae aan. Elke keer nadat hy so moet paradeer, moet hy die vuilste en swaarste werk doen. Hy kry slegs een keer per dag kos, maar alleenlik nadat hy negentig keer laag voor Mao se portret gebuig het.
As hierdie behandeling hom nie heropvoed nie, volg die "groot kritiek”. Met sy hande agter sy rug vasgebind, moet hy twee maande lank daagliks vergaderings bywoon. By hierdie vergaderings word sy sonde, nl. dat hy nie in Mao glo nie, blootgelê. Hy word meedoënloos geslaan en bespuug. Na elke vergadering volg weer die eerbiedige negentig buigings voor Mao se portret.
Die derde marteling word "vliegtuig” genoem. ’n Stok word op ’n man se skouers geplaas. Die hande, wat agter die rug vasgemaak is, word boontoe na die stok getrek totdat hulle uit lid is. In hierdie posisie moet hy 180 keer buig voor die een wat beter as alle gode is.
Tydens die marteling wat die "Goue Skaal” genoem word, word ’n swaar juk op die skouers van die 'skuldige' geplaas. Aan elke kant van die juk sit die Rooi wagte drie bakstene. Met die bakstene op sy skouers moet hy vir twee uur voor Mao se portret op aandag staan. Elke twintig minute word ’n steen weerskante bygevoeg. Eindelik moet hy agtien stene dra. Weë hom as dit beweeg. As hy sy knieë slegs effens buig, begin die hele marteling van voor af.
Nog ’n ander marteling is om die koppe van Christene kaal te skeer en as daarop te strooi. So moet hulle dan op aandag staan voor die heilige afgodsbeeld van Mao. Geen beweging word toegelaat nie.
’n Sekere Christen het al hierdie vernederings verdra, maar geweier om te buig en het keer op keer geantwoord: "Ek weet net een ding: daar is ’n God. Behalwe dit weet ek niks nie.” (Hy het nie die "God-is-dood” teoloë gelees nie.) Hy het keer op keer geantwoord: "Maak met my wat julle ook al wil, maar ek sal my geloof nie verloën nie.” Dapper Sung-Fu. Ons weet nie wat sy uiteinde was nie.
Christene was verplig om hulle Bybels en godsdienstige boeke te gee, sodat dit in die openbaar verbrand kan word. Sommige het in hulle harte geweet en andere het dit uit die kerkgeskiedenis geleer dat, wie ook al in die eerste eeue ’n Bybel aan die vervolgers oorhandig het, vir altyd uit die Kerk verban is.
Christus is die Woord van die lewende Vader. So is die Bybel ook. Om die Bybel oor te gee om verbrand te word, is net so goed as om Christus oor te gee om gedood te word. Daar was Christene wat die eerbied verskuldig aan die geskrewe woord van God besef het. Hulle het die Bybel weggesteek. In die Asian News Report van Maart 1968 word die volgende vertel: "In Kanton is ’n Christendame wat haar Bybel in ’n sloop weggesteek het, deur die Rooi Wagte aan die brutaalste vernedering onderwerp. Sy is kaal uitgetrek, haar hele liggaam is met heuning besmeer en sy is gedwing om ure lank in die moordende son te staan.”
Pakkies uit die buiteland wat Bybels bevat, word teruggestuur met ’n nota waarin verklaar word dat sy leer "teen die wet en sedes van die Volksrepubliek van China,” is.
Om ’n Bybel te besit, is om in dodelike gevaar te verkeer. ’n Broeder wat uit die Weste daarheen gestuur is om te help, is deur ’n Chinese Christen in sy karner geneem. Hy het die hortjies toegemaak om seker te maak dat niemand hulle van buite sou sien nie. Toe het hy ’n paar planke in die vloer verwyder. Daar het hy ’n Bybel en ’n gesangeboek gehou. Wanneer hy seker was dat hy nie gesien kon word nie, het hy dit uitgehaal en gelees.
Die welbekende boek Red or Dead deur die Duitse Christen, Rittling, verklaar dat die Rooi Wagte manne met rooiwarm vuurysters brand. Daar was al gevalle van kruisiging. Maar dieselfde berig meld dat Kommuniste dit soms verkies om tronk toe te gaan in plaas daarvan om voort te gaan om Christene te martel. Daar is toevallig gehoor dat een van hulle gesê het: "As ons hulle tonge uitsny en die Christene verbied om te praat, het hulle met hulle hande, hulle voete, hulle oë lief, hulle het altyd en oral lief tot hulle laaste asemteug. Weet niemand hoe om die krag van liefde uit hierdie onnosel Christene te neem nie? Ken niemand ’n metode om hulle Christus in die hande te kry nie?”
Vervolg...