Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
My seun, gaan nie met hulle saam op die weg nie, hou jou voet terug van hulle pad; want hulle voete hardloop na die kwaad en haas hulle om bloed te vergiet – Spreuke 15.
KOMMUNISME, DIE GODSDIENS VAN HAAT (7)
Wêreldwye ervaringe van die kommunisme-monster
deur Richard Wurmbrand
Lees reeks by Kommunisme, die godsdiens van haat
Die Tronkbewind
Ons sou die bewind in Sowjet-tronke uit berigte wat deur die Ondergrondse Kerk uitgesmokkel word, kon beskrywe, maar dit mag as bevooroordeeld beskou word. Daarom verkies ek om ’n Kommunis toe te laat om die storie te vertel.
Onder die bewind van Dubcek was daar ’n kort verandering in Tseggo-Slowakye. Jy kon ’n bietjie van die waarheid vertel. ’n Sekere Loebl, ’n eertydse Kommunis, ’n hooggeplaaste amptenaar van die Departement van Buitelandse Handel, het toe die verhaal vertel hoe hy deur sy eie kamerade onder Novotny gemartel is in ’n tyd toe die Tseggiese Geheime Polisie deur Russiese spesialiste gelei is. Loebl se verhaal, wat deur ander Kommuniste, wat dieselfde beproewing deurgemaak het, bevestig is (sien The Confession van Arthur London en mev. Slanski se boek oor haar man wat deur sy eie kamerade gehang is), sal ons ’n prentjie gee van wat ons broeders in die Sowjet- tronke moet deurmaak en ons die geleentheid gee om die gebod: "Dink aan die gevangenes asof julle medegevangenes is” (Hebr. 13:3), na te kom.
Ek haal aan uit die Tseggiese Kommunistiese blad, Verslaggewer, van 15 Mei 1968. Loebl skryf dat hy gedurende die ondervragings, wat gemiddeld sestien uur per dag geduur het, nie toegelaat was om te sit nie. Hy moes dae lank sestien uur per dag staan of marsjeer. Die hele tyd was hy honger. Na veertien dae was sy voete geswel, elke sentimeter van sy liggaam het gepyn by die geringste aanraking daarvan. Soms moes hy ’n hele dag lank met sy gesig na die muur toe staan. Selfs die latrines was van die regop soort.
Hulle het vir Loebl dwelmmiddels ingegee. So het hulle ook met my gemaak. So maak hulle met Christengevangenes in die Sowjet-Unie.
"Skielik sou dit vir my voel asof iemand probeer om sy hand in my kop te druk. Dit was ’n soortgelyke sensasie as dié wat ’n mens kry nadat jy met laggas onder verdowing geplaas is. Ek het van ander gevangenes, wat die skoonmaakwerk in die tronkhospitale moes doen, gehoor dat hulle leë bottels wat verdowingsmiddels bevat het wat in die gevangenes se sop gegooi is, gevind het.
"Afgesien van die klassieke slae was daar yskoue stortbaddens en die vergruising van die geslagsdele. Verder is die slagoffer se kop in ’n nat lap toegedraai en soos die lap droog word en krimp, het dit onuithoubare pyn ver-oorsaak; ek was nie meer ’n mens nie.”
Tydens hierdie kort verademing in Tsjeggo-Slowakye het ons gehoor wat voortdurend in die Sowjet-kamp gebeur, maar onvermeld bly. Die Tseggiese Kommunistiese koerant, Kulturny Zhivot van 31 Mei 1968, berig: "Die kerk as geheel is sedert 1950 in die tronk . . .” In die gevangenisse het wagte vanaf die uitkyktorings in die selle gevuur. Honde sonder muilband is in die tronkhospitale ingelaat, die pasiente is met karwatse op hulle koppe geslaan en met water uit tuinslange gespuit. Die ondervraers het gegil: "Ons erken geen mensliewendheid nie!” Baie van die pasiente het aan inwendige beserings gely. Sommige, soos Hermanovsky, ’n baie jong man, het kranksinnig geword van die marteling. Een van die gedeporteerdes was die vyf-en-sewentigjarige biskop Vojtassak. Hulle het hom kaal uitgetrek en hy moes verskeie ure op die klipvloer staan. Toe hy nie met die neerhurk-oefeninge kon voortgaan nie, het hulle op hom geskree: "Hurk, tot jy bloed spoeg, jou ..."
In daardie tyd het die gewese teologiese professor Hromadka, self ’n Tseg, namens die Wêreldraad van Kerke al die kontinente deurreis en die wêreld vertel van godsdiensvryheid.
Moenie net die verhaal van hierdie martelinge lees nie, maar voel dit, asof uself gemartel word, dat dit in werklikheid u is. Alle Christene is een van siel en een van hart. Hulle maak die mistieke liggaam van Jesus Christus uit. As een lid ly, ly al die lede saam met hom. Nooit sou ’n mond sê: "Ek gee nie om nie. Dit is nie ek nie, maar die tand of die maag wat pyn.” Dit sou eerder sê: "Ek het pyn,” en al die lede sou gesamentlik die pyn aanvoel en dit probeer verminder.
Met ’n harde blik in sy oë en ’n gesig wat vaal geword het van sorge, het ’n leidende persoonlikheid in die Duitse Lutherse Kerk my gewaarsku: "Dit is sinneloos om sulke feite te publiseer. Dit sal dinge net vererger.” My hande het begin bewe en ek het met drif gesê: "Eeue gelede sou die Chinese miskien geweier het om ’n drenkeling te red uit vrees dat dit die wraak van die watergeeste sou wek. So ’n denkwyse is verouder in die twintigste eeu. Krokodille eet nie mense omdat dierkundiges hulle ontstel het deur oor hulle gulsigheid te skryf nie, maar omdat dit in hulle aard is. Die Russiese Kommuniste het begin met die marteling van Christene toe ek nege jaar oud was. Hulle sal voortgaan om dit te doen en hulle meedoënloosheid sal selfs toeneem, omdat dit hulle leer is, nie omdat ek teen die skrikbewind beswaar maak en noodleniging organiseer vir hulle wat vervolg word nie.”
Vervolg...