Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
“Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?” (2 Kor.6:14).
KOMMUNISME, DIE GODSDIENS VAN HAAT (6)
Wêreldwye ervaringe van die kommunisme-monster
deur Richard Wurmbrand
Lees reeks by Kommunisme, die godsdiens van haat
Alle kerkgenootskappe word vervolg
Die sluiting van kerke, die gevangeneming van Christene, die wegneem van kinders - dit alles blyk ontoereikend te wees vir die Kommuniste. ’n Ondergrondse dokument deel ons mee hoe die bejaarde Ortodokse nonne, Morozova, Cherasimbhuk en Korolenko, verkrag is by die klooster van Pochaev. Tomakova is verkrag en om die lewe gebring. Die skrywer, Galanski, wat hierdie nuus in sy geheime tydskrif, Phoenix (’n mitologiese voël wat weer opstaan uit sy as, wat as simbool van die Saligmaker in die katakombes gebruik is), geplaas het, het hiervoor tronk toe gegaan.
Die Moskouse Uitgewersmaatskappy het ’n boek, Psigo- sd en Godsdiens, uitgegee. Hulle sê dat alle pogings om Christene met argumente te oortuig, misluk het. Christene moet as geestelik siek beskou word en in sielsieke inrigtings opgeneem word. Ons het nou broeders en susters in die geloof wat in dwangbuise geplaas is en wie se monde toegebind is. Ons ken die buurt in die stad Kalinin, waar hierdie inrigting is.
Alle kerkgenootskappe word vervolg. Die Lutherse Wêreldfederasie het vergeet om ons in te lig. Ons moes in die roman Dit Gebeur Baie Selde, deur die Kommunis M. Glinka, lees dat die grootste Lutherse Kerk in Leningrad in ’n swembad omskep is.
Unirea van Januarie 1969 berig dat die Katolieke priester, Potochniak, in Lviv tot vyf jaar dwangarbeid gevonnis is. In Vysti iz Rymu van Junie 1969 word aangekondig dat die Katolieke biskop, Welyekowich, in die tronk dood is. Ander bronne sê dat hy nog in die tronk lewe. Maar in elk geval, die Katolieke word ook vervolg.
Hoeveel Christene is in dieTronk in die Sowjet-Unie?
Die enigste ware antwoord is dat niemand weet nie.
Die Free Trade Union News, orgaan van die Amerikaanse handelsunies, ’n betroubare proletariese bron, sê in sy uitgawe van April 1968 dat ses-en-vyftig konsentrasiekampe in die Sowjet-Unie geëien is. Die totale aantal gevangenes word op 1 150 000 gestel.
Hoeveel van hulle ly ter wille van hulle geloof in God? Probeer self die regte syfer skat op grond van die volgende gewens:
Op 8 Mei 1969 berig Pravda Vostoka uit die stad Angren oor die veroordeling van agt Christene - Friezen, Schmidt, Walla en andere. Hulle het tussen twee en vyf jaar gekry omdat hulle glo saamgesweer het om op drie maniere siektes onder die bevolking te versprei: hulle het nagmaal gebruik uit dieselfde beker, is in dieselfde doopkapel gedoop en het mekaar met ’n heilige kus gegroet. (Die Russiese Christene het die Bybelse gewoonte om mekaar te soen so dikwels as hulle mekaar ontmoet, terwyl hulle mekaar met die volgende woorde groet: "Mag die vrede van God met jou wees,” in plaas van die lelike en sinlose "Hallo” of "Dag” wat deur Christene in die Weste gebruik word. Hierdie is Bybelgelowige Christene. Kan iemand my sê waar hulle ’n "HaIlo” of "Dag” in die Bybel vind? Het Paulus sy broeders so gegroet?
Wel, dit is Sowjet-reg. Om saam met andere na ’n swembad te gaan, versprei glo nie siektes nie maar om saam met ander gedoop te word, glo wel. Onheilige soene is blykbaar immuun. Slegs ’n heilige kus dra glo kieme oor. As jy ’n mens groet met ’n heilige kus, kan dit jou vyf jaar in die tronk kos.
Slegs ’n maand later, op die 12de Junie 1969, berig dieselfde koerant dat nog vyftien mense ter wille van hulle godsdienstige oortuiging gearresteer is. Hulle het die misdaad gepleeg om van huis tot huis te gaan en mense tot heilskennis te bring. Onder hierdie vyftien is ’n sekere Rabinchuk saam met al vyf sy seuns. Dink ’n oomblikkie na en probeer die smart van mev. Rabinchuk se hart verstaan. Sy het op een dag al die vreugde van haar huis verloor.
Daar is dus drie en twintig mans in een enkele maand in die stad Angren ter wille van hulle geloof gevonnis. Drie en twintig van wie ons toevallig weet. Daar mag baie meer wees. Daar is geen rede om te glo dat die anti-Christelike skrikbewind in Angren hewiger as op enige ander plek sou wees nie. Die Sowjet-Unie het 5 092 stede. As daar in een stad binne een maand drie en twintig ter wille van hulle geloof tronk toe gaan, hoeveel Christengevangenes is daar? Wie weet wat in die dorpies waarvan ons nooit enigiets hoor nie, gebeur?
Dit is naïef om die probleem van Christengevangenes in Rusland tot ’n paar honderd Baptiste te herlei. Die Baptistekerk is nie gesentraliseer nie en het nie die geleentheid om te weet wat in die uitgestrekte Sowjet-Unie gebeur nie. Daar bestaan verskeie ondergrondse Baptistegroepe wat onafhanklik van mekaar figureer.
In Desember 1969 het die Europese Baptiste-Unie met groot vreugde aangekondig dat "die Initsiativniki”, dit is die ondergrondse Baptiste van die U.S.S.R., met die amptelike Kerk verenig het. Maar op die 4de van dieselfde maand het Rooi Ster, orgaan van die Sowjet-Leer, die veroordeling van ’n groep Baptistesoldate aangekondig. Niemand weet hoeveel nie, watter vonnisse hulle opgelê is en op watter aanklagte nie. Die name word nie verstrek nie. Daar is slegs van hulle gesê dat "die Baptiste ’n wrede godsdiens het en hulle kinders nie jammer kry nie. Hulle maak hulle nie dood nie net omdat die wette van die staat dit nie toelaat nie.”
In Januarie 1970, nadat die "hereniging” spesiaal ter wille van buitelandse afgevaardigdes van stapel gestuur is, het die hele ondergrondse bedrywigheid voortgegaan, so wel as die veroordeling daarvan deur die Sowjet-pers.
Daar moet duisende Baptiste in die tronk wees. In Kristeligt Dagbladet, Kopenhagen, van 4 Maart 1970 word hulle op 10 000 geskat.
In my boek, Die Heiliges van Rusland, het ek baie voorbeelde verskaf en het ek die name van vervolgde Sewendedagse Adventiste gegee. Maar die groot meerderheid Christengevangenes is van die Ortodokse geloof, wat die meerderheid van die Sowjet-bevolking uitmaak.
Die amptelike Ortodokse Kerk het ’n ledetal van vyftig miljoen, volgens die aanspraak wat sy afvaardiging by die sitting van die Wêreldraad van Kerke in Nieu-Delhi gemaak het. Die ondergrondse Ortodokse word op ’n verdere vyf en veertig miljoen geskat. Dan bestaan daar die sogenaamde Ware Ortodokse Kerk en die Ou Rituele Ortodokse. Hulle almal gee ’n groot aantal gevangenes op. Soms lees ons in die Sowjet-pers van hulle. Ander nuus kry ons uit ondergrondse dokumente. Maar die name van die meeste van die martelare is slegs aan God bekend. Dan is daar die lydendes uit alle soorte Christelike sektes wat net in die Sowjet-Unie bestaan, soos die Molokane, die Duhobortsi, die Murashevtzi en andere.
Die Ondergrondse Kerk is die magtigste anti-Kommunistiese krag in die Sowjet-Unie. Dit is ook die mees georganiseerde. As die syfer van 1 150 000 politieke gevangenes korrek is, moet ’n groot persentasie die godsdienstige teenstanders wees wat deur die Kommuniste as politieke misdadigers beskou word. Die Kommuniste self sê oor en oor dat godsdiens hulle vyand nr. 1 is.
Hoeveel Christene is in die tronk in die Sowjet-Unie? Niemand weet nie. Onthou egter dit: in een stad is drie en twintig in een enkele maand gevonnis. Daar is 5 092 stede en daar is twaalf maande in ’n jaar.
Na hierdie stroewe dinge behoort ons miskien ’n bietjie te glimlag, al sou dit ook ’n bitter glimlag wees.
Moscow News, die Engelse koerant wat in die hoofstad van die Sowjet-Unie verskyn, sê in sy uitgawe van 25 Oktober 1969: "Alle godsdiensgenootskappe in die land (Baptiste, Mennoniete, Metodiste, Adventiste, Molokane, Pinkstergroepe en selfs Jehoviste) het die reg om vryelik hulle rites op spesiaal toegekende persele te beoefen.” Die koerant het nie gesê dat die persele tronkselle is nie.
Michel Zhidkov, een van die hoofleiers van die amptelike Baptiste-Unie van die U.S.S.R. het in Augustus 1969 by die Europese Baptistekongres in Wenen verklaar dat niemand in sy land ter wille van sy geloof vervolg word nie. Michel Zhidkov se eie vader het baie jare in Siberië deurgebring omdat hy dit gewaag het om in Christus te glo teen die bevele van die Kommunistiese diktators in.
Nie een afgevaardigde het Michel Zhidkov uitgejou nie.
Die Belgiese tydskrif, Panorama, berig op 9 Mei 1969 dat een van die vorige Gestapo-hoofde, Hendrik Mueller, wat as oorlogsmisdadiger gesoek is, nou leier van Moskou se Kommunistiese Geheime Polisie is. Hy het Christene en Jode in tye wat verby is, in die naam van Hitler gemartel. Hy doen nou dieselfde in die naam van Karl Marx se ideale. Wat by hom tel, is om in ’n posisie te wees om te kan martel.
Manne soos hy, en sy ware Kommunistiese kamerade, voel nie dat dit verkeerd is om wreedhede te pleeg nie, net soos ons dit nie as wreed beskou om aartappels te skil nie. Vir Marxiste is die mens slegs materie. Hulle glo nie in die bestaan van die siel of die gees nie. Ons saag hout, ons sloop huise, ons slaan spykers in die muur in. Dit is materie. Ons het geen wroeging daaroor nie. Net so bejammer die Kommuniste ook nie hulle slagoffers nie. Vir hulle is hulle materie.
Vervolg...