Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Mense verskil van mekaar en die Here loop met elkeen 'n unieke pad; ons moet dit leer verstaan en ophou om bemoeisiek te wees. Petrus het hom bemoei met wat Jesus se plan vir Johannes is, maar Jesus het Petrus geantwoord dat dit niks met hom te doen het nie, dat Petrus vir sy eie lewe moet sorg en Hom moet volg. Ons oordeel mekaar so vinnig – klim uit hierdie strik uit en sorg dat jou eie lewe met God daarin in orde is.
KOMMUNISME, DIE GODSDIENS VAN HAAT (5)
Wêreldwye ervaringe van die kommunisme-monster
deur Richard Wurmbrand
Lees reeks by Kommunisme, die godsdiens van haat
Rusland se Golgota
" As u volgende Sondag gemaklik in u kerkbank sit, onthou dat die Russiese kerke in winkels, museums, fabrieke en dansklubs verander is."
Syfers toon dat meer Christene al tydens die Kommunistiese tydperk vervolging verduur het as in enige ander tyd in die geskiedenis. Hulle wat al die langste die kruispad in die Rooi Kamp bewandel, is God se kinders in die Sowjet-Unie.
Die toets van die geloofwaardigheid van enige berig oor die stand van godsdiens in daardie land, is of die hedendaagse martelare gemeld word.
Toe Eban, die Israelse minister van buitelandse sake na Wes-Duitsland gegaan het, was sy eerste besoek aan Dachau, die plek waar sy mede-landgenote en mede-geloofsgenote uitgewis is. Behoort Christene nie van Jode te leer wat hulle gedrag moet wees nie?
Ek weet nie van een enkele geval waar ’n Christen-Kerkleier wat Rusland of enige ander Kommunistiese land besoek het, gegaan het om ’n blommekrans op die graf van ‘n martelaar te plaas of wat gevra het om Christene in die tronk te besoek nie. Tog vertel Bratskii Vestnik, die orgaan van die amptelike Baptiste-Unie van die U.S.S.R., dat ’n afvaardiging van Sweedse Baptiste-predikers die praalgraf van Lenin, die moordenaar van miljoene Christene, besoek het, in plaas daarvan om na die graf van een van sy slagoffers te gaan. In Duitsland sou Eban nie die grafsteen van een of ander Nazi-oorlogsmisdadiger gaan vereer het nie. Is die Christelike geloof nie veronderstel om ’n groter mate van samehorigheid met die onskuldige slagoffers as die Mosaïese godsdiens te verkondig nie?
Wat ons betref, gaan ons harte uit na die martelare. Nie dat ons hulle bejammer nie. Hulle kettings is van suiwer goud, hulle kruis het ’n lieflike geur. Almal wie se geestelike sintuie lewend is, weet dit. Vir Christene was die gevangenis nog altyd ’n genoeglike boord waar die soetste nektar vloei. Ons gee ook nie aan die lyding van die martelare ’n eer wat alleen die kruis van Christus toekom nie. Alleenlik op die kruis is die woorde van Johannes Chrusostomos van toepassing: "Die Kruis is die wil van die Vader, die eer van die Seun, die vreugde van die Gees, die juweel van engele, die versekering van die gelowiges, die heerlikheid van Paulus. By die kruis ken ons die erns van sonde en die grootheid van God se liefde vir die mens.”
Maar ware kennis van die toedrag van die Christendom in Rusland sal ons gemoedere en harte verruim en ons help om in die voetstappe van Christus te volg.
Rusland!
Sy skrywer Tiutchev het gesê: "Jy kan dit nie met jou verstand begryp nie, jy kan dit nie met enige maatstaf meet nie. Dit is ’n geheel wat alleen staan. Jy kan slegs in Rusland glo.” Wat my betref, glo ek. Ek glo dat hy tog aan die voete van Christus vrede sal vind.
Ons het Rusland lief. Jesus het ter helle neergedaal. Ons het ook in Rusland se hel neergedaal. Toe Broer Andrew, die skrywer van God se Smokkelaar, in Noorweë ’n oproep gedoen het om Christenwerkers ten behoewe van Rusland, was daar twee honderd vrywilligers by een vergadering. Dieselfde ding gebeur nou oor die hele vrye wêreld. Jong Christene stel hulleself aan gevangenisstraf bloot, maar hulle maak beswaar teen die vervolgings in Moskou self, op openbare pleine en in winkelsentrums. Ontelbare Christene van die vrye wêreld kan nou self die woorde van ’n Russiese ondergrondse digter, wie se versie in handgeskrewc vorm die rondte doen, gebruik.
Ek buig na die bo-kant van jou bed,
Rusland, was jou van alle etter, elke traan met sy bloed.
Die Russiese martelare is nie meer alleen in hulle stryd nie.
Miljoene mense in die vrye lande ween nou met hulle wat ween in die Sowjet-Unie oor die sluiting van hulle geliefde Godshuise.
Pravda sê in sy uitgawe van 18 April 1968 dat daar in die distrik Vologodsk slegs sewentien kerke is in vergelyking met die agthonderd voor die Kommunistiese oorname. Is dit omdat mense opgehou het om te glo? Die antwoord word in dieselfde artikel verskaf: "Die sekteleiers kon hulle invloed uitbrei. Godsdiens is nie in ons dag onskadelik nie. Dit is nie besig om die laaste asem uit te blaas soos sommige glo nie, maar op die een of ander manier het dit die neiging om voort te gaan, om aan te val.”
Dit is nie die godsdiens se skuld dat hy ondergronds moet aanval nie. Dit is nie sy skuld dat hy gedwing is om kerke te sluit in ’n tyd waarin sy invloed uitbrei nie. Pravda berig op 8 April 1968 die sluiting van 210 kerke in die Wessastreek.
Maar hoe gaan dit met die kerke wat oopgebly het? Dit blyk goed te gaan in Moskou, Leningrad en ’n paar ander plekke wat deur buitelandse toeriste besoek word. Maar wat van die kleiner stede en dorpe?
’n Geheime berig van die Ondergrondse Kerk deel ons mee dat ’n Baptiste-godsdiensoefening in Kopeisk op die 10de April 1969 deur ’n groep ateïste onder leiding van ’n polisieman, ontstig is. Hulle het bottels met alkoholiese drank op die Nagmaalstafel geplaas en die mense by die bottels afgeneem. Hierdie foto’s sal vir ateïstiese propaganda gebruik word.
Die voortbestaan van die Ondergrondse Kerk word deur amptelike berigte bevestig. In Wetenskap en Godsdiens van November 1967, vertel die Kommuniste wat in die gelisensieerde Baptistekerk in die dorp Batiatitsh gebeur het. Die ateïstiese lektrise Bilchinko het die kerk op Sondag binnegegaan, die pastoor eenkant toe gestoot en haar godslasterlike leringe verkondig. Die wat kom aanbid het, moes die lof van godloosheid aanluister.
Buitelanders en Westerse kerkleiers is nooit teenwoordig by kerkdienste waar hierdie dinge gebeur nie.
Die Psalmis het die huis van God liefgehad. So ook elke Christen. As u volgende Sondag gemaklik in u kerkbank sit, onthou dat die Russiese kerke in winkels, museums, fabrieke en dansklubs verander is. Van die 50 000 Ortodokse kerke voor die Rewolusie het slegs 7 000 oorgebly. Onthou die kerke wat hierdie bespotting moet verdra.
Maar die tempel van die Heilige Gees is die Christen self. Teen hom word die groot stryd gevoer.
’n Brief wat deur 180 jong Christene geteken is en aan die Sowjet-regering en ander amptenare geadresseer is, is uit die U.S.S.R. gesmokkel. Dit is gedateer die 13de Mei 1969 en maak beswaar teen die inhegtenisneming van ’n groot aantal broeders. Die jongste van hulle, E. Radoslavov, was slegs 19 jaar oud. (Die oudste Christen-gevangene van wie ons weet, is Peter Popov. Hy is tagtig jaar oud, net so oud as wat Polycarpus was toe hy vir die leeus gegooi is).
Toe hierdie groep Baptiste in hegtenis geneem is, het Malamud, die direkteur van skool nr. 61, aan die kinders vertel dat die Baptiste gevonnis is omdat hulle ’n dogtertjie aan God geoffer het deur haar te kruisig. Daarom moet die kinders en ouers op hulle hoede wees vir die Baptiste.
Dit is nie die fantasie van net een man nie. Die Staatsuitgewersmaatskappy van Leningrad het ’n boek Kinders en (Godsdiens), uitgegee. Daarin herhaal die Kommuniste die ou leuen wat lank gelede oor die Jode verkondig is, naamlik, dat Christene rituele moord verkondig en beoefen. Die sogenaamde Christene maak hulle eie kinders dood om vir hulle sondes boete te doen. Die Romeinse vervolgers het die storie eeue gelede versin. Nou is dit weer deur die Bolsjewiste opgegrawe om die kinders bang te maak en hulle te verhinder om Christene te word. Baie Christene word vandag in die Sowjet-Unie onder die aanklag van rituele moord gevonnis. Net een voorbeeld: in 1969 het die Militêre Uitgewersmaatskappy van Moskou ’n boek deur F. Dolgich en A. Kurantov, Ons Moenie Vergeet nie, uitgegee. Daarin word pastor M. Krivolapov van die dorp Neftogorsk in die distrik Karaganga daarvan beskuldig dat hy die driejarige seuntjie van die Christen Oslovetz "aan God geoffer het as ’n lam sonder gebrek”. Hy het die kind glo in die teenwoordigheid van sy moeder en al die ander aanbidders doodgemaak. Nie een van die gelowiges het ooit probeer om die verskriklike misdaad te verhinder nie. Hulle het glo alles wat gebeur het, as die wil van die Heilige Gees beskou. Die kind is na bewering gedurende die nag in ’n bos begrawe. Die jong moeder is dood van verdriet. Sulke "feite” uit die Sowjet-pers is, onnodig om te sê, alles leuens. Is Krivolapov en andere soos hy alreeds tereggestel vir ’n moord wat nooit gepleeg is nie, of wag hulle hul teregstelling in ’n dodesel af ?
Selfs om ’n amptelike Baptisteleier te wees wat deur die moordlustige Kommunistiese Regering gelisensiëer is, vrywaar ’n persoon nie noodwendig van vervolging en jare in staatsgevangenisse nie.
Sovietskaia Moldavia van die 13de November 1969 beskryf die verhoor van so ’n pastor, Slobodchikov te Chishinau. Dit was bekend in die stad dat hy ’n aanklag gelê het teen die ondergrondse leier Rudenko, wat as gevolg hiervan met tien jaar tronkstraf gevonnis is, Rudenko het gesterf as gevolg van die martelinge wat hy moes verduur.
Slobodchikov het gereken dat omdat hy op goeie voet met die Kommuniste verkeer het hy van gevaar gevrywaar was. Hy het dit gevolglik gewaag om ’n mikrofoon by ’n Baptistetroue te gebruik en aldus, soos die artikel dit stel, "het hy die grootste moontlike misdaad gepleeg”. ’n Paar woorde oor Christus het oor sy lippe geglip toe hy met die kinders gepraat het. Die koerant sê dat hy hulle eerder van die twaalfjarige Paul Morozov, ’n Soviet-held, wie se standbeeld in een van Moskou se parke is, behoort te vertel het. Morozov se heldhaftige daad was dat hy sy eie vader aangekla het omdat hy ’n bietjie onkruid uit die land, wat vroeër aan hom behoort het, maar nou die eiendom van die kollektiewe plaas was, geneem het. Die vader is gevangenisstraf opgelê. Die seun is deur die dorpsbewoners doodgemaak.
Wel, Slobodchikov het twee misdade gepleeg. Hy het ’n mikrofoon gebruik en, in plaas daarvan om ’n seun wat sy vader in die tronk laat beland het, op te hemel, het hy mooi dinge gesê oor Christus wat aan sy ouers gehoorsaam was. Slobodchikov het dus twee jaar tronkstraf gekry. In die tronk mag hy miskien sy slagoffer, Rudenko, onthou en berou hê.
Die wêreldpers het die arrestasie van die Ortodokse Talantor en Krasnov-Levitin aangekondig.
Die aanklag teen hulle was dat hulle beswaar gemaak het teen die gebrek aan godsdiensvryheid in Rusland, die sluiting van kerke en die verspotte verbranding van Christusbeelde. Jy kan sekerlik ’n beeld verbrand. Maar die ingewyde Ortodokse gelowige het nog nooit daarvoor gebuig nie. Vir hom is die beeld deursigtig. Hy kyk deur die beeld uit Jesus se heiligheid, Maria se reinheid, na die moed van 11 die martelare wat op hulle geteken is. As jy beelde verbrand, verbrand jy daarmee saam baie bygelowige opvattinge wat aan hulle verbind is. Maar vuur kan nie hulle wie se afbeeldinge op die beelde was, verbrand nie. Nog minder kan jy die liefde jeens hulle in die harte van Christene uitwis. Die Christen op aarde is een met Christus en met die verheerlikte heiliges in die hemel.
Vervolg...