Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is wel redes waarom Suid-Afrikaners die afgelope paar jaar met lang gesigte loop, maar daar is rede om ook te glimlag – God is in beheer van alle omstandighede. Daarom kan ons saam met die digter in Psalm 42 sê: Hoop op God, want ek sal Hom nog loof – die verlossing van my aangesig en my God! Dit is moontlik om God se vriendelike aangesig te ontmoet en sy glimlag oor ons te voel skyn, dan sal óns aangesigte ook verhelder!
KOMMUNISME, DIE GODSDIENS VAN HAAT (4)
Wêreldwye ervaringe van die kommunisme-monster
deur Richard Wurmbrand
Lees reeks by Kommunisme, die godsdiens van haat
Heilige skynheiligheid
My teenstanders het feite verlang. Hier is hulle.
Die voorvalle in die lewe van die Ondergrondse Kerk mag pragtig en indrukwekkend wees, maar ons sal moet onderskei tussen mooi legendes en ’n indrukwekkende werklikheid. Ek laat vir eers al my emosies tersyde en wil slegs feite, bevestig uit onbetwisbare bronne, gee. Ek kan nie daaroor swyg nie, nie vanweë my eie lotsgevalle, wat my in botsing met die Kommunisme gebring het nie, maar omdat ek Jesus liefhet. In Mattheus 24: 31 staan geskrywe dat sy engele sy uitverkorenes uit die vier windstreke sal versamel. As die evangelie nie in die kommunistiese wêreld verkondig word nie, sal engele uitverkorenes in slegs drie windstreke vind en die Meester se woord sal nie vervul word nie.
Die Kerk in die Rooi Kamp word vervolg. Hy het ons hulp nodig. Daarom moet die feite oor sy marteling bekend word. Selfs in kweekskole waar van allerlei kerke geleer word, word nooit van die Ondergrondse Kerk geleer nie - ’n Kerk wat ’n derde van die wêreld verteenwoordig. Hierdie onreëlmatigheid moet beëindig word. Die bestaan daarvan, die lyding, die oorwinning moet verkondig word.
In Sovietskaia Moldavia van 11 Junie 1968 word daar onder die opskrif: "Daar bestaan geen openliker en walgliker leuen as die Christelike godsdiens nie”, ’n geheime Baptiste-byeenkoms in Chishinau beskryf. Kinders hou die straat dop, sodat geen vreemdeling hulle mag lastig val nie. Baie van hulle wat die diens bywoon, is jong tienderjariges. Die skuldige man is Horev, wat al verskeie kere tronkstraf uitgedien het. Die artikel sê dat hy sulke byeenkomste reël. Hy versprei geheime godsdienstige leesstof.
Iemand wat ook aangekla is weens die organisasie van ’n geheime biduur in die woude, is die Christen S. Apostu.
In Pravda van 19 Augustus 1969 word ’n Ondergrondse Baptistekerk in die dorp Mozdok, beskryf. Gelowiges kom in ’n twee-slaapkamer woonstel byeen en vul dit.
Die koerant sê: "Gedurende die diens huil mense.” Dit is een van die kenmerkende eienskappe van die Ondergrondse Kerk. Ek kan my geen godsdiensbyeenkoms herinner waartydens ek nie trane sien vloei het nie. Hulle geniet nie hulle dienste nie, hulle ly dit. Hulle deel in die lyding van Christus, die lyding van almal wat ly. Hulle ween ter wille van hulle in die Weste wat die kosbare gawe van ’n teer hart en die vermoë om te ween met hulle, wat vervolg word, verloor het.
Pravda (moet asseblief nie vergeet nie, dat hierdie woord in Rusland "Die Waarheid” beteken) beskrywe die geheime doop van drie gelowiges. Die Christene het op pad na die doopplegtigheid deur die donker strate, mense vermy. Waarom sou hulle dan gekke wees om in die geheim gedoop te word as daar godsdiensvryheid in die Sowjet-Unie is, soos oor en oor aan ons vertel word?
In dieselfde artikel in Pravda word die feit dat Christene liefde teenoor vyande leer, "verraad” genoem. Die artikel eindig deur beriggewing van die inhegtenisneming van verskeie Christene onder wie ’n sekere Cherviakof, op aanklag dat hy ’n soort Bybelvakansiekursus vir kinders gereël het. Twaalf seuns en dogters is daar in die Woord van God onderrig. Vir hierdie misdaad werk Cherviakov nou kniediep in die sneeu van ysige winters in Noord-Siberië se slawe-arbeidskampe.
In die Franse Christelike tydskrif Tont qu'il Fait Tour van November 1969, beskryf ’n Deense Christen sy deelname aan ’n Ondergrondse Kerkdiens iewers in die Sowjet- Unie. Hy het die adres van een van die lidmate gehad. Nadat hy daarin geslaag het om een aand uit sy hotel te ontsnap, het hy, sonder om aandag te trek, in die betreklike duisternis van die buitewyke van die stad ’n jong meisie ontmoet wat hom op swak Duits gevra het of sy hom kan help. Hy het die wagwoord vir die byeenkoms gegee. Sy het hom gevra om haar op ’n afstand van tien tree te volg, terwyl sy voorgee dat sy hom nie ken nie. Sy het hom na ’n huis geneem waar daar jongmanne en jongmeisies tussen die ouderdomme agtien en vyf en twintig was. Hulle het nie nodig gehad om verdowingsmiddels vir hulle plesier te neem nie. Om Jesus op die kruisweg te volg, om Hom onder die gevaar van arrestasie en dood te aanbid, was genoeg opwinding. Om geen aandag te trek nie, het ’n enkele kers die kamer verlig. Aanvanklik het niemand gcpraat nie. Na ’n lang tyd van stil gebed, is daar ’n Bybellesing gefluister. Daarna het die Christene die een na die ander, met onreëlmatige tussenposes in die nag verdwyn. Maar die nag was nie vir hulle donker nie. Hulle was die lig van donker Rusland.
I n Zaria Vostoka, ’n Kaukasiese Kommunistiese koerant van Maart 1969 word berig van die arrestasie van Peter Restshuk en andere, omdat hulle ’n geheime drukpers in Suhum georganiseer het.
Ek kan so ’n drukpers wat ek self gesien het, beskryf. Stel uself ’n klein staatskruidenierswinkeltjie voor. Vragmotors laai goedere af of neem onverkoopte voorraad terug. Niemand sal dit opmerk as bale met papier afgelaai word of gedrukte materiaal in dose uitgeneem word nie. In die kelder van die huis is ’n put. Dit is aan die buitewyke van ’n primitiewe dorpie. Jy kry nie oral in die Kommunistiese Kamp lopende water nie. ’n Man word met ’n tou in die diep put neergelaat. Uit die wande van die put, bokant die wateroppervlak, lei ’n tonnel na ’n klein kamertjie waarin die drukpers is. Die wat daar werk, het min lug. Keer op keer moet hulle uitgaan om vars lug te skep. Sulke drukperse word ontdek. Andere neem hulle plek in. Maar Die Heilsboodskapper verskyn al vir baie jare gereeld. Dit is die ondergrondse tydskrif van die Sowjet-Baptiste.
Dit is nie net die Baptiste nie. Die Sowjet-Unie is hoofsaaklik ’n Ortodokse land. In Sovietskaia Kirghizia van 15 November 1969 word van die Ortodokse monnik Zosima vertel, wat alreeds een keer ter wille van sy geloof in die tronk was. Nadat hy vrygelaat is, het hy ’n kerk in sy voorkamer georganiseer en die eredienste daar gehou. Die Christen se huis is die Kerk. So was dit in die Nuwe Testamentiese tye. Dit sou in die Weste ook baie meer doeltreffend wees as die bestaande groot geboue wat soms sonder gees is.
Die Kommuniste berig aangaande hierdie monnik, dat wanneer Christene van hom praat, hulle die volgende uitdrukkings gebruik: "Die heerlikheid omglans hom,” "God het aan hom die gawe van redevoering, soos die van die Apostels gegee,” "Hy lei ’n regverdige en onberispelike lewe.” Die artikel gebruik die presiese uitdrukking "Ondergrondse Kerk” en dit is uiters gepas.
Ek het in die Webster’s Dictionary of the English Language nageslaan wat die betekenis van die woord "ondergronds” is en gevind dat dit ’n sinoniem vir "geheim” is. Monnik Zosima se kerk was sekerlik geheim. Wie ook al dit wou besoek, moes deur ’n vertroude persoon aanbeveel word en moes die belofte van stilswye, net soos in die Akademie in die Bos, aflê. Die ingang na die kerk was in een straat en die uitgang in ’n ander straat. (Die bestaan van so ’n kerk met twee uitgange het in die Nazi-tye my lewe gered.) Monnik Zosima het aan die Christene gesê om versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe te wees en, as hulle gevra word, nie te vertel waar hulle was nie, maar om ’n opgemaakte storie te vertel.
Ek glo persoonlik dat Dominicus nie ’n fout gemaak het toe hy van heilige skynheiligheid geskryf het nie. Dit beteken nie dat die doel die middele heilig nie, maar presies die teenoorgestelde. Die Christene se doel is om persoonlike eerbaarheid en reinheid van hart te behou, maar in ’n Kommunistiese staat word mense aan die terrorisering van tirannie oorgelaat en kan die evangelie alleen deur sameswering na hulle gebring word. Dit mag deur moraliste as skynheiligheid beskou word, maar dan dink hulle nie daaraan nie dat dit meer immoreel is om hierdie slagoffers van tirannie sonder Christus te laat.
Zosima het ook ’n ondergrondse werkswinkel vir die vervaardiging van kerse gehad. Sovietskaia Kirghizia sê dat baie mense sy kerse, wat in die geheim vervaardig is, gekoop het, wat aandui dat daar plekke is waar kerse, wat as noodsaaklik vir die godsdienstige seremonies by ons Ortodokse broeders beskou word, op geen ander moontlike wyse te kry is nie. Die koerant sê nie wat verder met monnik Zosima gebeur het nie, maar honderde ander artikels uit die Sowjetpers regverdig die veronderstelling dat hy weer in die tronk moet wees.
Meer nog. In die groot Sowjet-Unie is daar ’n hele distrik wat net deur Christene bewoon word, ’n distrik waarvan Westerlinge niks weet nie. Die wêreld het die eerste keer daarvan te hore gekom deur middel van ’n Kommunistiese bron Nauka i Religia, gedateer September 1968. Dit vertel ons van ’n groot aantal gelowiges met ou Ortodokse rituele wat hulle toevlug geneem het na ’n onbereikbare distrik in die verre noorde van Siberië. Hierdie Christene erken nie die gesag van die Kommunisme nie net soos die Protestante eeue gelede nie die gesag van die Katolieke erken het nie en na Amerika gevlug het. Nauka i Religia sê: "Hulle leef in ’n mistieke, ongeloofwaardige, nuutgevonde wêreld. Die mans en vrouens erken nie die mag van die anti- christelike owerheid nie. Hulle verwelkom ’n regverdige dood as ’n stap na die ewige lewe.”
Die ateïstiese tydskrif bevat ook verskeie foto’s wat in Siberië geneem is. Dit toon, onder andere, ’n eksemplaar van hulle Bybel. Dit het ‘n groot gat in die middel wat deur rotte gevreet is. Hulle het niks gehad waarmee hulle dit kon vervang nie.
Ek maak nie ’n afgod van feite nie. Elke mens sien wat hy as "feite” bestempel volgens ’n voorafbestaande beeld in sy gedagtes. Dit is nie moontlik om feite te stel sonder om in ag te neem dat menings verskil volgens die standpunte waaruit die feite beskou word nie.
Vervolg...