Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Verstaan u die verskil tussen vertroue en vergifnis? Vergifnis is om die verlede los te laat. Vertroue het met die toekomstige gedrag te doen. Vergifnis moet onmiddellik plaasvind, terwyl vertroue mettertyd gebou word. Maar so is beide ewe belangrik en noodsaaklik in ons lewens.
KOMMUNISME, DIE GODSDIENS VAN HAAT (3)
Wêreldwye ervaringe van die kommunisme-monster
deur Richard Wurmbrand
Lees reeks by Kommunisme, die godsdiens van haat
Bestaan die Ondergrondse Kerk?
Toe ek deur die publikasie van Vir Christus Gemartel, Die Russiese Heiliges, Ondergronds vir God en ander boeke en artikels hierdie wonderlike wêreld van Christenmartelare en -helde bekend gemaak het, en toe ek hierdie Kerk se verhaal wat, hoewel waar, na groter verdigsel as enige roman klink, vertel het, was die reaksie oorweldigend. Ek het opgehou om die briewe van geesdriftige ondersteuners te tel nadat dit die 300 000-kerf oorskry het.
Christene het eenvoudig geweet dat daar nou aan hulle ’n verborge waarheid vertel is. Die menslike hart is van baie dinge bewus waarvoor daar geen bewys nodig is nie. Hulle het geweet dat Kommunisme ateïsties is. Hulle het geweet dat dit ’n diktatorskap is.
En ook in die vrye wêreld word Christene deur ateïste omring, of mense wat vir alle praktiese doeleindes sonder God is, al mag hulle op een of ander vorm van godsdiens aanspraak maak. Christene weet uit eie ervaring hoe wreed ’n baas, man, of ’n ouer kan wees as hy die Skepper nie vrees nie. Hulle ken die verset in hulle eie harte teen die vreeslike druk van die wêreld. As hulle lees van die stryders van die Ondergrondse Kerk wat verkies om liewer te sterf as om ’n kompromis aan te gaan met die Rooi Draak, sien hulle in die mense se pragtige voorbeelde slegs ’n vergroting, onder buitengewone omstandighede, van die beste in hulleself.
Ek het briewe ontvang van sommige wat deur tronke gegaan het of wat saam met my in die Ondergrondse Kerk gewerk het. ’n Oud-gevangene skryf: "Wat u sê, is so waar as wat twee maal twee vier is.” ’n Roemeense Lutherse pastor skryf: "Ons staan vierkantig agter u.”
Maar ek het interessante briewe van mense met heeltemal verskillende agtergronde ontvang. Een hiervan kom van ’n Sikh in Indië en bemoedig ons: "Geraak deur u mees tydige boodskap, kan ek nie help om trane te stort vir julle nie, geliefdes. Ek hoop dat die boodskap van die Ondergrondse Kerk God se kinders in die vrye wêreld sal voorberei vir die moeilike tyd wat voor die deur is.”
Ek haal aan uit ’n brief uit Swede: "Ek het u in ’n kerk in Stockholm gehoor. Vir baie dae daarna kon ek nie oor enigiets anders as die Ondergrondse Kerk dink of praat nie.”
’n Pastor uit Bombaai se: "My kollegas is alreeds deur die publikasies van u sendinge geprikkel en baie vertel daarvan aan hulle eie gemeentes. Die duiwel van berusting in die marteling van die broeders het ’n neerlaag gely.”
’n Amerikaner skryf: "Gaan asseblief voort. Die gewone man luister graag na u. Selfs al spoor u net sommige van ons gewone mense aan tot gebed, sal u al ’n baie getroue bediening hê. Dra asseblief ons liefde oor aan ons broers en susters in die Kommunistiese lande.”
Nog ’n stem uit Skandinawië: "Moenie moed opgee nie. Dit is waar dat die meeste van ons slaap, maar daar is ook hulle wat ly as gevolg van hierdie luiheid. Daar is 10 000 lidmate in ons gemeente. Hoogstens vyf en twintig kom Sondae na ons groot kerkgebou. Soms word ’n gesang gespeel sonder dat ’n enkele persoon sy mond oopmaak om te sing. Ek het die boodskap van die Ondergrondse Kerk ontvang. Dit het ’n tydperk van deursoeking van my hart, wat vir my goed was, beteken. Ek sal alles wat ek van u sending ontvang weer lees en dit so dikwels as moontlik aan andere leen. Die onkunde oor die Kerk in die Ooste skyn groot te wees in ons land.”
Nog ’n brief uit Indië: "Die nag nadat ek van die martelare gelees het, kon ek nie slaap nie. Ek bid dat baie mense sulke slapelose nagte mag hê en tot gebed opgewek mag word.” ’n Brief in dieselfde gees kom uit Frankryk: "Die voorbeeld van die Ondergrondse stryders tref ons op ’n welkome wyse. Daarin is genade vir almal.”
En nou ’n Brit: "Ek was nie ’n Christen nie. Ek was nog nooit ’n lidmaat van enige Kerk nie en ek het nog nooit ’n Christelike lewe gely nie. Maar ek het nou oor die hedendaagse martelare gelees en kan nie ophou om te huil nie. Nou verstaan ek die vers:
As ek die kruishout gadeslaan,
Waaraan die Hemelkoning hang,
Is al my pogings enkel waan,
Verfoei ek trots en selfbelang.”
Ontelbare skrywers betuig hulle dankbaarheid waar daar nou vir hulle die geleentheid geskep is om vir die eerste keer die Bybelse bevel na te kom: "Ween saam met hulle wat ween.” Christene het een van die edelste gawes van die Heilige Gees ontvang, naamlik die stort van trane ter wille van hulle lydende broeders.
’n Nieu-Seelander: "Die dinge wat u beskrywe, kan net so wel in ons land herhaal word. Ek het hierdie moontlikheid onder die oë gesien en besluit dat ek gereed is om, soos hierdie geliefdes, saam met Jesus te ly.”
Die mening van ’n Engelsman is: "Die soort Christelikheid wat in die Rooi Kamp uitgeleef word, is baie nodig in ons land.”
’n Indiër skryf: "Die enigste gevolgtrekking wat ek in staat is om van die boodskap van die Ondergrondse Kerk te maak is: Ek wens ek het meer vir Christus gely.”
’n Brief uit Nigerië: "U het my gevra wat die beste manier sou wees om die Kommunistiese bedreiging in my land te bestry. U het alreeds die beste wapen voorsien: die voorbeelde van die helde van die martelaarskerk.”
Een brief uit Ulster: "My gemeente is baie wêrelds. Ek en my suster het altyd die koue dienste en die afgesaagde preke wat heel dikwels gebring word, met minagting bejeën. Die sang in ons kerk is so dood en harteloos, dat dit ’n belediging vir ons Here moet wees. Maar nadat ek gelees het hoe Christene tronk toe gaan omdat hulle Christelike liedere gesing het, en voortgaan om soos nagtegale te sing, selfs al is hulle in kerkers, is ek vasberade om met Christus se krag en leiding hierdie toedrag van sake te verander, sodat die Westerse Kerk net so sieloorredend mag wees as die Ondergrondse Kerk in lande agter die Ystergordyn.”
’n Kaliforniese seun van vyftien skryf dat hy die kinders in die junior hoërskoolgroep uitgedaag het om hulle snoepgoed en mout te laat vaar en die geld vir die verspreiding van Bybels in Rusland te stuur.
Vooraanstaande kerkleiers van die vrye wêreld het ons boodskap met liefde ontvang en het hulle katedrale vir ons geopen om die roepstem van hulle wat vir Christus gemartel word, daar te bring.
Ons het egter ook twyfelaars ontmoet, maar hierdie skeptici het nog nie ’n brief wat ek deur geheime kanale van ’n polisie-agent in die Russiese Geheime Polisie ontvang het, gelees nie: "Ek het al u boeke gelees en is bly dat hierdie dinge vertel word. Ek weet dat sommige u bewerings betwyfel. Ek sou hierdie mense aanraai om tien jaar lank in ’n Sowjettronk onder my bevel te kom sit. Dan sou hulle die waarheid weet. Die enigste ding in u boeke waarmee ek nie saamstem nie, is dat u so gematig skryf. As ek in u plek was, sou ek my pen in gal gedoop het.”
Ek is in die kantoor van ’n belangrike persoon van die Wêreldraad van Kerke.
"U boeke en lesings het ’n groot sensasie veroorsaak. Ek neem aan dat u opreg glo wat u sê, maar objektief gesien, is u bewerings onwaar. Daar is geen Ondergrondse Kerk nie. Ek het al tallose kere Rusland, Roemenië en ander Kommunistiese lande besoek en nooit die geringste spoor van ’n Ondergrondse Kerk gesien nie.” Ek vra: "Was u ook al in China en Korea?” "Nee. My reise het my nie so ver gevoer nie. Maar kom ons bly by Rusland en Roemenië.”
Ek weier."Nee, ek wil nie hier ophou nie. Deur te veronderstel dat my bewerings verkeerd is en dat daar geen Ondergrondse Kerk in die Sowjet-Unie en die Europese satellietlande is nie, is dit nog geen argument nie. Een uit elke vier mense is ’n Chinees. In China is daar beslis nie ’n enkele kerk oop nie. Volgens wat berig word, is een miljoen Katolieke doodgemaak en na verhouding dieselfde aantal Protestante. Die tronke is vol. Die Christene daar beoefen hulle godsdiens slegs ondergronds, onder die gevaar van marteling en die doodstraf. Dieselfde geld vir Noord-Korea en Mongolië. Nendor, blad van die Albaniese Kommunisteparty, het in November 1968 amptelik die sluiting van alle kerke aangekondig. Hier het jy vier lande waaroor niemand kan redekawel nie. Die Kerk daar kan slegs ondergronds bestaan. Dit ly. In plaas daarvan om oor Rusland te debatteer, waarom organiseer julle nie beter hulp vir die Chinese martelaarskerk nie?”
Hy is ’n man met blosende wange, maar sy hele gesig word nou rooi. Hy sê beslis: "Laat ons ons net bepaal by die Europese lande.” Ek weet dat ek moet ingee, anders sal die bespreking daar eindig. Hy is ’n biskop en ek nie. Hy moet aan die wenkant bly.
"Naïewe mense word maklik beïnvloed. En u het ’n gawe. Maar ek is nie ’n gek nie. Ek het goed rondgekyk toe ek in Rusland was. Daar is nie ’n Ondergrondse Kerk nie.” Ek antwoord: "Ek is nou al vyf jaar in die Weste en het ook aandagtig rondgekyk. Ek het nooit ’n Sowjetspioen gesien nie. Sou u sê dat ek reg sou wees as ek beweer dat daar nie sulke spioenasienetwerke bestaan nie? Mense wat ondergrondse werk verrig, stel hulleself nooit as sulks voor nie.”
Nou stap hy opgerui in die kamer rond. Sy nuwe skoene kraak. Ek onthou hoedat ek in die tronk een paar skoene met ’n eertydse generaal moes deel. Elkeen van ons het daarin al om die ander dag na die oefening in die binneplein gegaan.
Die biskop sê: "Comparison nest pas raison.” (Vergelyking is geen argument nie). "Ondergrondse Kerk is ’n uitdrukking met ’n baie presiese betekenis. Ons lewe nie meer in die tyd van die katakombes nie. ’n Ondergrondse Kerk sou geheime kweekskole, geheime drukperse, geheime dienste, Sondagskole, ensovoorts, moet hê. Sulke dinge gaan nie onopgemerk verby nie.”
Ek het goed voorberei na hom gekom. Ek haal Nauka i Religia (Wetenskap en Godsdiens), die onheilspellende ateïstiese tydskrif van die Sowjet-Unie, gedateer Mei 1966, uit my sak. Daarin is ’n artikel onder die opskrif "Pod- pole” (Ondergronds) waar beskryf word hoe ’n Christen met die naam Elisa ’n geheime seminarium vir jong gelowiges gestig het. Dit is diep in die eindelose woude van Siberië, baie myle van enige huis af en om dit van die naaste dorp te bereik, moes ’n mens jou pad deur modder en oerwoud vind. Daar was die seminarium - twee huise: een vir mans en een vir dames. Die Christene het hierdie seminarium Die Akademie in die Bos genoem. Die ateïstiese tydskrif bespot die sekretaris wat verantwoordelik is vir die organisasie van die Kommunistiese jeug van daardie distrik, wat nie die vaagste benul gehad het van die bestaan van die seminarium nie. Maar selfs die Christene het alleenlik daarvan geweet as hulle direk met die skool te doen gehad het. Die vereistes vir ’n sameswering is volkome nagekom.
"Ons het dus die eerste teken van ’n gewone Ondergrondse Kerk: geheime seminaria.”
Ek haal ’n boek 'n Samekoms in Wegkruipplekke deur die Sowjet-skrywer P. Savkin, uit wat die bestaan van ondergrondse drukperse staaf. Dit sluit af met die beskrywing van die inhegtenisneming van Christene wat so ’n pers geor- ganiseer het.
Toe haal ek ’n Russiese Nuwe Testament te voorskyn wat in die geheim in die Sowjet-Unie gedruk is. Dit is dus baie meer as ’n geheime drukpers. Hulle het ’n geheime Bybelgenootskap.
My broeder, wat my teenstander is, sê: "Wat u sê, skyn op die oog af feitelik te wees, maar van naderby beskou, is dit tog nie so nie.” Ons is bewus van ’n klein Baptiste-splintergroepie wat sulke dinge gedoen het. Hierdie groep het nou herenig met die amptelike Kerk. Dit was ’n klein gebeurtenissie van verbygaande aard waarvan u die belangrikheid grootliks oordryf het.”
Ek antwoord: "Ek is jammer om u te weerspreek. Die dokumente toon duidelik dat die Akademie in die Bos Ortodoks is. Diegene wat gearresteer is as gevolg van die drukpers wat in Savkin se boek vermeld word, is die Ortodokse priester Pletkov en verskeie Ortodokse dames. Die Anglican Digest, een van die tydskrifte van die Episkopaalse Kerk van die V.S.A., sê dat die Ortodokse Ondergrondse Kerk van die Sowjet-Unie - moet nou nie verbaas wees nie - vyf en veertig miljoen lidmate het. Die Episkopaalse Kerk van Amerika werk in die Wêreldraad saam met die amptelike kerke van Rusland.
Daar sou geen doe! in wees om die rol van die Ondergrondse Kerk te vergroot nie.
"Die Hoofweg van Januarie 1968, ’n tydskrif bekend vir sy weinige simpatie met sektariërs, sê dat die aantal Onder-grondse Baptiste vier miljoen is. As jy die Katolieke, Pinkstergroepe en ander groepe byreken, wil dit blyk dat elke vierde burger van die Sowjet-Unie sekere bande met Ondergrondse Kerke het. Dit is nie ’n geval van ’n klein Baptiste-splintergroepie nie.”
Ek haal ’n stapel artikels van die Sowjet-pers uit my sak en wil hom graag berigte oor geheime vergaderings en geheime Sondagskole vir kinders toon. Maar dit is onwaarskynlik dat hy soos ys onder die strale van die son sal smelt voor my bewyse.
Lenin het gesê dat as besondere belange op die spel sou wees in die ontkenning daarvan dat twee en twee vier maak, mense dit sou ontken. Ek onthou die honderde duisende briewe van steun. Mense skryf dat nadat hulle geluister het na die roepstem van die Martelaarskerk, hulle geween het, hulle slapelose nagte gehad het. Andere verkies gemak. Hulle verkies om te slaap.
Die biskop skud my hand. Hy sê aan my: "Ek simpatiseer met u. Ek verstaan dat u veel gely het. Dit maak u emosioneel. Ons is gewoond om feitelik te dink, ’n Man wat sulke pyne deurgemaak het soos u, kan nie enigsins meer objektief wees nie. Feite is nie vir u belangrik nie. Dit is alles sentiment.”
Die deur het alreeds oopgegaan. Die sekretaris het die volgende besoeker kom aankondig. Toe ek die deur agter my toemaak, kraak dit. My laaste gedagte toe ek hom alleen laat, is: "HuIle behoort ’n oliekannetjie te neem en ’n bietjie olie in die skarniere te drup.” Watter gedagtes gaan soms deur ’n menslike gemoed!
Vervolg...