Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy jou spiere nie oefen nie, word hulle swak. As jy die vermoëns en vaardighede wat God jou gegee het, ewe-eens nie gebruik nie, sal jy dit verloor. As jy die vermoëns werklik gebruik soos dit bedoel is, sal God dit ook vermeerder – dit is 'n belofte wat Hy aan ons maak.
KOMMUNISME, DIE GODSDIENS VAN HAAT (2)
Wêreldwye ervaringe van die kommunisme-monster
deur Richard Wurmbrand
Lees reeks by Kommunisme, die godsdiens van haat
DIE ONDERGRONDSE KERK - RUSLAND
Christene vergader in ’n woud. Die polisie omsingel hulle. Verskeie van hulle probeer vlug, maar hulle word deur honde gevang.
Baie kry kort gevangenisstrawwe: vyftien dae, maar hulle moet losies betaal in die gasvrye inrigtings waar hulle gevange gehou word, ’n swaar las vir ’n gesin van arm Sowjet-burgers.
’n Christendame veg met die polisie. Sy weier om van haar gesangboek afstand te doen. Sy het dit al vir veertig jaar en kan dit nie vervang nie. Sy bloei, want haar neusbeen is gebreek en sy het ook beserings aan haar arms. Stel hierdie toneel vir uself voor. Fisiese geweld word verduur om die besit van ’n boek met lofprysinge aan God, terwyl ons gesangboeke het en nooit sing nie, behalwe in die kerk (as ons wel gaan).
In die U.S.S.R. is daar honderde gesinne waarvan die kinders weggeneem is omdat hulle in die Christelike geloof opgevoed is. Vir hierdie gesinne het die woorde van die Here: "As julle nie soos kindertjies word nie, kan julle die Koninkryk van die Hemele nie binnegaan nie”, ’n nuwe betekenis gekry. Volgens hulle beteken dit dat, tensy jy dit aanvaar om te ly soos hierdie kinders en jou geliefdes te verloor soos hulle hulle mammies en pappies, is daar vir jou geen plek in die Koninkryk nie.
Dit is ’n nuwe vertolking van die Bybel, of liewer, 'n terugkeer na ’n ou vertolking, en dit gebeur alleen hier in die wêreld van die Qndergrondse Kerk.
Kinders baklei. Die onderwyser sê: "Ruimtevaarders was in die ruimte en het God nie ontmoet nie.” ’n Leerling staan op. Die kind weet dat sy deur haar Christelike getuienis haar vader en moeder mag verloor, maar sy sê nogtans: "Kameraad onderwyser, het die ruimtemanne ’n rein hart gehad? Daarsonder sal jy God nooit sien nie, op watter ster jy ook al land. As jy dit het, kan jy God orals sien, selfs in ’n klas in ’n ateïstiese skool.”
In ’n ander skool word die kinders geleer dat die mens van ’n aap afstam. Die onderwyser wat vermoed dat die uitgesproke dogter in klas, Olga, ’n Christen is, wys na haar en vra haar wat sy daarvan dink. Sy antwoord: "Ek is dankbaar, kameraad onderwyser, vir wat u ons vandag geleer het. Ek het myself altyd afgevra hoe dit is dat die Kommuniste so sleg is en so baie onskuldige mense martel. Nou het u vir my die verduideliking gegee. Julle is van die ape.”
’n Rubberpop is aan die kinders, Vania, Pavlik, Andrei, Vera en Sveta gegee, Toe die kinders "biduur” speel, is hulle verontwaardig omdat die pop se knieë nie kan buig nie. Hulle kla toe teenoor die onderwyser dat hulle ’n ongelowige pop het. "Ons het geleer dat elke knie voor die Naam van Jesus moet buig.” Wat ’n les vir ’n ateïs!
Baie kinders wat in die Ondergrondse Kerk geleer word, sê openlik wat hulle van God dink, en ook wat hulle van die Kommuniste dink. Y.I. Kushev verskyn in ’n hof in Moskou. Hy was een van die organiseerders van ’n betoging teen die arrestasie van Sowjetskrywers wat op ’n openbare plein gehou is. Hy het geskree: "Laat Dobrobolski vry! Weg met diktatorskap! ”
Die aanklaer vra aan hom: "Glo jy in God?” Hy ant woord, "Ja.”
Dan verskyn Anatalovy Krasnov-Levitin as getuie vir die verdediging. Hy het Kushev na Christus gelei. Hy weet dat hy homself deur hierdie daad aan strawwe lyding blootstel, want Krasnov-Levitin het alreeds sewe jaar gevangenisstraf ter wille van sy Ortodokse geloof agter die rug. Nou sien hy sy bekeerling in die beskuldigdebank. Dis nie dieselfde as om iemand na Christus te lei en jou dan daarin te verheug dat jy hom in ’n koorkleed in die kerk sien sing nie.
Krasnov-Levitin sê: "Dit is onder my invloed dat Kushev gevra het om gedoop te word. Ek was op die plein toe iemand aan my sê: 'Hulle het Kushev gearresteer.’ Ek het agter hom aangehardloop, maar dit was te laat. Hulle het hom in ’n motor gedruk en gery. En nou sien ek hom na agt maande hier, bleek en gespanne na sy lang inkerkering . . . hy is ’n man van buitengewone eerbaarheid . . . Wat met hom gebeur het, is die direkte gevolg van sy edelmoedigheid . . . hy is baie onselfsugtig, dink altyd aan andere en nooit aan homself nie. ’n Begaafde digter . . . hy het die aanleg van ’n skitterende skrywer.”
Die verdediging vra: "Was jy bly dat hy gedoop is?” Levitin: "Natuurlik was ek bly. Watter soort gelowige man of skrywer sou ek wees as ek nie bly is as mense tot geloof in God kom nie? Maar ek is baie misnoeg om hom in die hof te sien.” Die verdediging (wat in die Sowjet-Unie ook vir die aanklaer optree): "Jy neem aan dat jy ’n negentienjarige seun sonder sy ouers se wete kan doop?” "Daar is ’n kerkregtelike reël dat die kerk nie gemagtig is om die doop aan enigeen te weier nie en die Evangelies roep almal sonder uitsondering op om gedoop te word.”
Die regspraktisyn Alski wat Kushev "verdedig”: "Levitin het sy reg om godsdienstig te wees en om godsdiens te verkondig laat geld, maar niemand het hom die reg gegee om minderjariges te ondermyn deur godsdiens of om dwang te gebruik nie. Ek vra u om in u uitspraak die noodsaaklikheid daarvan om sulke kinders teen Levitin te beskerm, in gedagte te hou.
Spoedig na Kushev se verhoor, is Levitin ook gearresteer. ’n Kommunis, generaal-majoor P. Grigorenko, het teen die onregverdige optrede beswaar gemaak. Hy is ’n ateïs, maar Levitin noem hom "die barmhartige Samaritaan” wat hulp verleen, terwyl priesters verbyloop. Grigorenko is in ’n gestig opgeneem.
’n Nuwe mode het in die Russiese dorp Liubets verskyn. Vroue het linte gedra met opskrifte soos: "Mag God opstaan en sy vyande beskaam”, "Die Allerhoogste lewe om te help”, "Mag die duiwels omkom voor die aangesig van die lewende God”, ensovoorts. Dit is in die openbaar gedra met openlike miskenning van die Kommuniste.
Maar hoe kon dit vervaardig word? Elke fabriek het ’n politieke gemagtigde wat alles ondersoek. Wel, dit het so gekom dat die man van die Geheime Polisie wat vir die tekstielfabriek van Luibetz aangestel is, in die geheim ’n Christen was. Hy het tot die polisiemag deurgedring om die saak van Christus te bevorder. Sy naam is Stasuik. Hy is ontdek en is tans in die tronk, maar hy het geslaag.
Dit is hoe die Ondergrondse Kerk werk.
Sommige van die Ondergrondse Kerke, veral die onder die Ortodokse geloof, is ook op politieke gebied aktief. Christene sou verkies om niks met politiek te doen te hê nie, maar as Kommuniste in kerksake inmeng, as Kommunistiese politiek miljoene Christene in die tronk stop en doodmaak, het gelowiges nie veel van ’n keuse nie. Hulle moet hulself verdedig. Het die lede van die Skotse Verbond nie met wapengeweld teen die wrede Koning Jakobus II geveg nie? ’n Komplot om die Kommunistiese bewind omver te werp, is in Leningrad aan die lig gebring. Broeders van die Ortodokse Ondergrondse Kerk was die aanvoerders hiervan. Sestig intellektuele hooggeplaastes was hierby betrokke.
In hierdie geval is die verduideliking aan ons oorgedra van hoe dit kon gebeur dat die Sowjetpers soveel besonderhede oor die vervolging en groei van die Ondergrondse Kerk kon plaas. Ons kan nou die geheim vertel, omdat dit ontdek is.
Sommige Christene het ’n groter offer gebring as martelare wat hulle vryheid en hulle lewe gee. Hulle het hulle eerbaarheid ter wille van Christus opgeoffer deur lede van die Kommunistiese Party te word. Ten einde die Ondergrondse Kerk te help, het hulle sleutelposisies probeer bereik.
Sommige van hulle het redakteurs van anti-godsdienstige tydskrifte en koerante geword en onder die voorwendsel dat hulle teen die Bybel is, hele hoofstukke daarvan geplaas, gevolg deur ’n paar woorde van kritiek. Langs hierdie weg het die Ondergrondse Kerk bladsye van die Bybel, gedruk deur die Kommuniste, gekry. Om dieselfde rede het hulle feite oor die vervolging geplaas.
Hmara was ’n Oekrainer. Sy vader was ’n welgestelde boer; vir hierdie "misdaad” is hy en sy hele gesin na Siberië verban. Hmara het daar met bitterheid in sy hart grootgeword en het ’n anti-sosiale persoon, ’n rower, geword. Hy is vir kriminele oortredings in die tronk gestop. In die gevangenis het hy Christene ontmoet, wesens van ’n ander wêreld, wat met stralende gesigte gely het vir ’n Here van Wie hulle en hulle lewens so pragtig getuig het. Oorweldig deur wat hy in hulle gesien het, het Hmara aan een van hulle vertel hoe hy ’n rower geword het en geëindig met die woorde: "Ek is ’n verlore man.” Die Christen het glimlaggend aan hom gevra: "Wat is die waarde van ’n rekening van tien roebels vir sy eienaar as hy dit verloor het? Is dit nie nog steeds tien roebels werd nie? Verminder die waarde van ’n diamantring as iemand dit verloor het? ’n Verlore mens het dus die volle waarde van ’n mens, ’n lieflike skepsel van God. Vir God het mense waarde, al is hulle sondaars. En Hy het sy Seun vir hulle gegee.” Die ou verhaal van Jesus, in eenvoud vertel, het gevolg met sy ou uitwerking. Hmara het tot bekering gekom.
In 1964 het hy sy gevangenistermyn voltooi en is hy vrygelaat. Hy was nie meer die ou dronkaard wat sy vrou en kinders geslaan het nie. Hulle het in hom ’n nuwe man gesien. Hulle, sy broers, sy bure het tot bekering gekom. Hmara het ’n lidmaat van die Ondergrondse Kerk geword.
In 1966 word hy gearresteer. Die Geheime Polisie het geen besondere beweegrede gehad waarom hulle hom, eerder as enigiemand anders, gevang het nie. Hy sou die voorwerp van ’n nuwe proefneming wees.
’n Leidende persoonlikheid in die Ondergrondse Kerk wat ons broeder X sal noem, het in die hande van die Kommuniste geval. Hy het alle vorms van marteling weerstaan en geweier om verraad te pleeg. Die Geheime Polisie het gedink: "Wat sal die uitwerking wees as ons een van sy kudde in sy teenwoordigheid martel, terwyl aan hom gesê word dat hierdie marteling van iemand anders, ’n geliefde broeder, alleenlik beëindig sal word as hy die geheime uitlaat? Dit sou die moeite werd wees om te probeer.”
Hmara is gevolglik geslaan en aan alle vorms van marteling onderwerp. Hulle het die onderste deel van sy buik oopgeskeur en sy tong uitgesny ten einde ’n leidende pastoor tot verraad te dwing. Hierdie pastoor het niemand verraai nie. Gestel Hmara sterf? Moet ’n pastoor bewe omdat die liggaam van een van sy kudde doodgemaak gaan word en hy in die hande van die Een wat die lelies gemaak het, gaan val? Hmara sal dieselfde God aan die ander kant van die dood hê.
Broeder X het later vertel dat, terwyl Hmara gemartel is, hy nie so baie aan die gemartelde gedink het nie. Hy het geweet dat hy ’n pad met dorings besaai hemel toe bewandel; maar hy was ontsteld by die aanskoue van die sadistiese genot op die gesigte van hulle wat gemartel het. Hy het onthou dat Christus ook vir hulle gesterf het, en hy het vir hulle gebid.
Die proefneming het nie geslaag nie. Die lyk is aan die familie teruggegee met die doel om andere af te skrik om Christene te word. Dit het egter sulke verontwaardiging onder die inwoners veroorsaak, dat die owerhede dit nie kon verhoed dat die begrafnis ’n triomfantelike mars vir die Ondergrondse Kerk geword het nie. Terwyl Christelike liedere gesing is, het skares Christene en nie-Christene die kis na die begraafplaas geneem.
Soos die Kommuniste gewoonlik maak, raak hulle van die laksmanne ontslae. Hulle wat op bevel gemartel het, word gevonnis. Die regter is ’n vrou. Sy huil by die aanhoor van die beproewinge en sy omhels Hmara se kinders. Toe het sy tot bekering gekom. Ek, wat van ’n kommunistiese land af kom, weet dat die bepaalde laksmanne spoedig weer vrygelaat is en elders gestuur is om dieselfde dinge daar te gaan doen.
Jesus is weer oorgegee om gekruisig te word in die persoon van Hmara van Kulunda. Twee broers van Hmara is nog steeds in die tronk.
Hoe dink Ondergrondse Christene? Aida Skripnikova, die heldin van die Christenjeug in die Sowjet-Unie, is sewe- en-twintig jaar oud en vir die vierde keer in die tronk. (Haar vader is deur die Kommuniste ter wille van sy geloof geskiet).
Sy skryf: "Ek kan nie my hart verdeel nie, want dit behoort heeltemal aan die Kerk.” (’n Westerse Christen sou gesê het: "Dit behoort aan Christus.”) In die Sowjetkamp is die Kerk baie geliefd. Hy word in sy luister gesien. Daar het die woorde van ouds behoue gebly: "Enigiemand wat God as sy vader het, het die Kerk as sy moeder.” (Westerse Christene praat eerder oor die Kerk as ’n skoonmoeder). Skripnikova gaan voort: "My hart is in my godsdiens en om my godsdiens weg te neem, sou beteken om my hart uit te skeur.”
Ek het ’n Ondergrondse Ortodokse priester uit Rusland ontmoet. Ek het aan hom gevra deur wie hy georden is. Hy het geantwoord: "Ons was tien jong manne wat besluit het om in die bediening te gaan. Geen gewone Ortodokse biskop sou ons orden nie, want hulle kan dit alleenlik met die toestemming van die Kommunistiese owerhede, wat onaanvaarbare voorwaardes stel, doen. Ons het toe na die graf van ’n martelaarbiskop gegaan, hande gehou en 'n kring daarom gevorm. Twee van ons het ons hande op die grafsteen geplaas en ons het ’n eed van getrouheid, wat ons in ’n ou boek oor die Kerkgeskiedenis gekry het, afgelê: 'Ek neem kastydinge, gevangenskap, martelinge, verwyte, kruise, slae, beproewings en alle wêreldse versoekings wat ons Here en Bemiddelaar en die Algemene en Apostoliese Heilige Kerk op hulleself geneem en liefdevol aanvaar het, op myself. Net so neem ek, ’n onwaardige dienskneg van Jesus Christus, met groot liefde en gewilligheid al hierdie dinge op my tot die oomblik van my dood.’ Toe het ons gebid dat Jesus ons met sy deurboorde hande mag bevestig, en ons glo Hy het.”
Hierdie ordening was in my oë geldig.
Twee vroue kniel op die trappies van ’n winkel in Rusland. Op die vraag waarom, antwoord een van hulle: "Dit was vroeër ’n kerk. Dit is nog steeds heilige grond. As ek op die trappies kniel, kan ek ’n priester hardop die lof van God hoor sing. Jy sal sê dat tekstielware hier verkoop word en dat daar geen priester is nie. Ek glo jou nie. Ek glo wat ek hoor. Ek ruik die wierook. Ek sien die beelde. Die aanbidding gaan voort. Daarom kom ek elke aand.”
Kenmerkende Russiese mistisisme, sal u sê. Maar waarom voel u verplig om iets te sê? Is dit nie beter om enige kommentaar te verswyg nie? U is op heilige grond. Wie kan bepaal wat moontlik en wat onmoontlik is op heilige grond?
Ek is ’n Roemeen, nie ’n Rus nie. My eertydse Lutherse kerk in Boekarest is nou ’n ateljee vir die vervaardiging van rolprente. Toe ek die gebou binnestap nadat dit ontheilig is, kon daar nie ’n sweem van twyfel wees nie. Die engele het dit nie verlaat nie.
Toe die Katedraal van Sophia deur die troepe van Mo hammed II binnegeval is, het die priester die liturgie onderbreek en agter ’n deur, wat sedertien toe is, verdwyn. Die Christene het toe geglo dat wanneer Konstantinopel deur die Christene oorgeneem word, dieselfde priester sal verskyn en sal voortgaan met die liturgie waar hy dit onderbreek het. In die 15e eeu was die Christene soos kinders. Daar is nog steeds kinders wat glo dat hierdie gebou, wat eers in ’n moskee en toe in ’n museum verander is, weer ’n kerk sal wees en dat die genoemde priester daarin dienste sal hou. Die kinderlike gemoed wat in legendes glo, bestaan vandag by weinig mense. Ek reken myself onder hulle.
Daar is Christene in Rusland wat dag en nag ysterkettings onder hulle hemde dra, om so hulle broeders in gevangenskap nooit te vergeet nie.
Ek het u op allerheiligste grond gebring. U het nou tonele van die Kommunisties-onderdrukte Ondergrondse Kerk beleef.
Vervolg...