Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons wil almal tog so graag 'n goeie selfbeeld hê sodat ons goeie verhoudinge kan handhaaf en sommer oor die algemeen meer selfvertroue kan hê om meer produktief te wees. Maar min mense weet egter hoe om by daardie punt in sy lewe te kom. Die enigste antwoord is om realistiese selfkennis op Godskennis te bou. En dít kan ons wel regkry wanneer ons ons oë op Christus gevestig hou. Daar is geen ander standhoudende fondament nie.
KOMMUNISME, DIE GODSDIENS VAN HAAT (1)
Wêreldwye ervaringe van die kommunisme-monster
deur Richard Wurmbrand
Lees reeks by Kommunisme, die godsdiens van haat
EPISODES UIT DIE GESKIEDENIS VAN DIE ONDERGRONDSE KERK
Hierdie is een episode uit die geskiedenis van die Ondergrondse Kerk. Dit het in 1969 gebeur.
In Noord-Korea het min werkers ’n vry dag. Hulle werk van die le Januarie tot die 31e Desember. Die rewolusionêre feeste word deur verhoogde produksie gevier. Jy kan alleenlik tuis bly as jy siek is.
In ’n groot steenkool-mynkamp met sowat 40 000 werkers, het dit opgeval dat 1 200 op Sondae altyd as siek aangemeld word. Dit het die owerhede se agterdog gewek en hulle vind toe uit dat die afwesiges om die beurt in private huise of, gedurende die gunstige jaargety, in die woude vergader het. Hulle pastoor sou ’n gesang opgee maar omdat die gevaar om gehoor te word, te groot was, het niemand gesing nie. Hulle sou slegs almal terselfdertyd in stilte die onderskeie liedere uit handgeskrewe gesangboeke lees. Dan sou hulle bid, ook in doodse stilte. Die pastoor sou ’n paar Bybelverse lees en ’n baie kort boodskap bring wat dan deur die hele gemeente in stilte oordink word. Daarna sou hulle in klein groepies uitmekaar gaan, terwyl hulle rondkyk om seker te maak dat niemand hulle sien nie.
Vyf-en-veertig Christene wat as die leiers van hierdie groep Christene beskou is, is geskiet. Wat die lot van die ander was weet ons nie.
Nog 'n episode:
Eerwaarde Fang-Cheng is in die tronk. Hy word gemartel, maar hy verraai niemand. Eendag word hy weer voor die ondervragingsoffisier gebring. In die hoek van die kamer sien hy ’n hoop vodde en hy hoor kettings ratel. Hy kan nou duideliker onderskei. Dit is sy moeder. Maar sy het nie vroeër wit hare gehad nie. Nou hét sy en die kleur van haar gesig is asvaal. Jy kan sien dat ook sy deur diep beproewings gegaan het.
Die Kommunis vra aan Cheng: "Ek het gehoor dat julle Christene Tien Gebooie het, wat glo deur God aan julle gegee is en wat julle probeer nakom. Ek sou hulle graag wou hoor. Sal jy so vriendelik wees om hulle op te sê?”
Cheng is in ’n vreeslike gemoedstoestand, maar nietemin mag so ’n geleentheid om ’n dissipel van Mao met God se wet bekend te maak, nie verontagsaam word nie. Hy begin die gebooie opsê, maar toe hy kom by "Eer jou vader en jou moeder,” word hy egter onderbreek. Die Kommunis sê aan hom: "Cheng, ek gee jou graag die geleentheid om jou moeder te eer. Hier is sy in lyding, in kettings. Vertel ons wat jy van jou broeders in die geloof weet en ek belowe dat jy en jou moeder vanaand vry sal wees. Jy sal in staat wees om haar te eer en te versorg. Laat ek nou sien of jy werklik in God glo en graag sy Gebod wil onderhou.”
Dit is nie maklik om te besluit nie.
Cheng keer hom na sy moeder – "Moeder, wat moet ek doen?” Sy antwoord: "Ek het jou van kleins af geleer om Christus en sy heilige Kerk lief te hê. Moenie oor my lyding bekommerd wees nie. Strewe daarna om aan die Verlosser en jou broeders getrou te wees. As jy verraad pleeg, is jy nie meer my seun nie.”
Dit was die laaste keer dat Fang-Cheng sy moeder gesien het. Sy het heel waarskynlik onder marteling gesterf.
’n Derde episode uit die geskiedenis van die Ondergrondse Kerk:
’n Amptenaar van die Geheime Polisie sit in ’n pastoor se studeerkamer. Die Kommunis is baie beleef, en hy vra die pastoor om as nuusdraer vir die Geheime Polisie op te tree. In ruil daarvoor kan hy na hartelus preek. "En dan, wie weet? Ons het deesdae seggenskap in die Kerk. Ons kan help om u tot biskop te bevorder.”
Die pastoor weier.
Dit is ’n Saterdagmiddag. Die Kommunis vertrek maar as hy alreeds by die deur is, sê hy: "Ek sal Maandag terugkom om ’n finale antwoord te kry. Ek raai jou aan om daaroor na te dink. Terloops, jou gemeente beskou jou as ’n heilige. Maar jy onthou jou verhouding met Bettie? Dit het ver gevorder. Ons het ’n foto van haar in jou omhelsing. Julle was baie onverskillig. As jou gemeente hiervan te hore kom, is dit klaar met jou. Ek wens jou alles van die beste toe. Sorg dat jy ons voorstel aanvaar. In elk geval, tot siens en ’n baie geseënde Sondag.”
Sondagoggend vertel die pastoor vanaf die kansel van sy liefdesverhouding, en verswyg slegs die naam van die meisie. Hy sê: "Ons is almal sondaars, pastore, ewe groot as leke. Ek het gefaal. Die Geheime Polisie pers my deur hierdie sonde af om oor u as gemeente nuus te dra. Ek verkies dan eerder die skande om deur u as ’n hoereerder beskou te word. God sal vergewe. Ek sal nie ’n Judas word nie. Die misstap wat ek begaan het, is genoeg. Origens laat ek dit aan u oor om te besluit of ek as 'n pastoor kan aanbly of nie.”
As hy van die kansel afstap, drom die gemeentelede om hom saam. Bewoë soen hulle hom en sê: "Moenie ons verlaat nie. Ons is nie beter as u nie."
Toe die Kommunis Maandag terugkom, sê die pastoor: "Gaan maar voort en maak bekend wat ek gedoen het,” maar die bekendmaking daarvan bring hom geen oneer op die hals nie. Almal antwoord: "Ons ken die storie. Hy het dit self aan ons vertel en ons het hom vergewe.”
Spoedig hierna word die pastoor tronk toe gestuur, maar vir hom is dit asof hy na ’n fees gaan.
'n Vierde episode uit die geskiedenis van die Ondergrondse Kerk:
Ná sy ontslag uit die tronk, gaan ’n Christenboer na die veld en hy bid: "God, maak my volmaak.” ’n Stem binne-in hom antwoord: "Sou jy bereid wees om terug te gaan tronk toe ten einde volmaak te word?” Hy huiwer. Hy het so baie gely. Hy antwoord: "Enigiets anders, God, net nie dit nie.” Die stem sê: "Moet dan nie vra om volmaak te wees nie.”
’n Lang innerlike stryd volg waarna die Christen hom uiteindelik oorgee. "Maak my volmaak, wat dit ook al mag kos,” bid hy. Spoedig word hy weer gearresteer en in eensame afsondering opgesluit. Hy bring ’n lang tyd met slae, honger, gebrek aan son en sonder leesstof daar deur. Sy enigste tydverdryf is om met behulp van die Morse-kode deur die muur met sy mede-gevangenis in verbinding te tree. Eendag is daar ’n nuwe gevangene in die sel langs hom. Toe hy hom vra hoe sy naam is, moes hy verneem dat dit dieselfde as sy eie is. Dit is sy seun. Aangemoedig deur die heldhaftige voorbeeld van die vader, het die seun ook die kruisweg bewandel en ook in die tronk beland. Die vader dank God vir die voorreg om ’n belyer van die geloof as seun te hê: ’n Merkwaardige stap op die pad na vervolmaking.
’n Vyfde gebeurtenis uit die geskiedenis van die Ondergrondse Kerk, soos berig in Vestnik Spasenia (Die Heilsboodskapper), die geheime tydskrif van die Russiese Baptiste:
In Sovietskaia Bielonissia van 15 Augustus 1967 kom die volgende voor: "Onkundige dwepers van die Utevsk Evangeliese Christen-Baptistekerk het in die omgewing nesgeskop . . . Hulle is vasberade om die bevolking te bekeer en die invloed van die evangeliese ideologiw in die land te versprei, om godsdiensonderrig aan kinders in te voer, en om die anti-godsdienstige propaganda afgeskaf te kry. Hulle spoor elkeen aan om sy saligheid te verdien deur ander aktief vir Christus te werf.”
Die Moskouse uitgewersmaatskappy, Znanie, het ’n boek deur ’n Kommunis, A. Shamaro, uitgegee met die titel Onversoenlikheid. Dit gaan gal af teen die Christene. Maar terselfdertyd beskryf dit hulle: "Die predikers, die aktiewe beoefenaars van godsdiens in al sy vorme - in kerke of sektes - lag nie en maak nie grappe nie. Hulle tree op. Hulle werk dag en nag. Hulle preek oral, by bushaltes en in hospitaalsale. Hulle werf nuwe lede vir die parogieë of sektariese gemeentes. Hulle soek hulle oral. Op straat sal hulle onbekende mans voorkeer, wat, volgens hulle, ’n treurige gesig het. Dag en nag soek hulle die skape wat afgedwaal het. Geloof sonder dade is dood, sê hulle. Om vissers van mense vir God te wees, om nuwe lede na kerklike gemeentes en sektariese groepe te lok, beskou hulle as die vernaamste werk waardeur hulle God kan eer. Nie alleen is vuil godsdienstige predikers en werwers daarop uit om geen geleentheid te laat verbyglip om ’n siel te wen onder hulle met wie hulle saamwerk, tussen hulle wat in dieselfde stad of dorp bly, onder hulle wat hulle op straat ontmoet nie, maar hulle doen alles in hulle vermoë om die koppe van hulle kinders, en dié van familie en bekendes, vol te prop met godsdienstige geloof.” Waar is daar sulke getroue pastore? Waar is hierdie vurige Christene? Ons kom hulle nie dikwels in die vrye wêreld tee nie. U het weer eens van die Ondergrondse Kerk gehoor, soos beskrywe deur sy grootste vyande.
Nog 'n episode:
’n Brief waarin die skrywer homself as ’n bloemis voorstel, arriveer. Hy spesialiseer in die kweek van orgideë en het nuwe variteite gekweek wat selfs in Noord-Siberië kan groei. Sover as daarvandaan, maar ook uit baie ander dele van die land, kom mense om ’n afskrif van sy katalogus van sewe-en-twintig nuwe soorte orgideë te maak. (Terloops, watter toeval! Die Nuwe Testament is uit sewe-en-twintig boeke saamgestel. Kan dit wees dat hy die gelukkige besitter van ’n Nuwe Testament is en dat mense kom om dit met die hand af te skrywe?) Hy sê dat die mees gewaardeerde sy Amosiaanse orgideë is, soorte 8 en 11. Ek maak die Bybel oop by Amos 8:11 en lees: "Kyk, daar kom dae, spreek die Here HERE, dat Ek ’n honger in die land stuur, nie ’n honger na brood nie en nie ’n dors na water nie, maar om die woorde van die Here te hoor.”
Op hierdie skerpsinnige wyse stel hierdie broeder westerse Christene in kennis van sy mense se behoefte aan Bybels.
’n Ander doen dit op ’n eenvoudiger manier. ‘n Christen begin sy brief met die woorde: "Geagte Sensor, ek weet dat elke brief wat na die buiteland gaan, aan sensuur onderwerp word. Maar u is ook ’n man deur God geskape, wat eendag voor sy Regterstoel sal verskyn. Laat hierdie brief deurgaan. Dit berokken die staat geen skade nie. Ek kommunikeer maar net met my broeders in die geloof in 'n ander land.” Die brief word deurgelaat. Sommige Kommunistiese sensors is ook manne met harte.
Nog 'n episode:
’n Toeris keer van die Sowjet-Unie terug. Sy het verskeie klein geskenkies daar ontvang, onder meer ’n handdoek. Die toeris word deeglik deursoek as sy die U.S.S.R. verlaat, maar niemand slaan ag op die handdoek nie. As ons dit kry, steek ons dit in ’n chemiese oplossing. Ons kan sodoende ’n berig van die Ondergrondse Kerk lees. Daar bestaan ’n kerk wat betrekkinge met ander kerke deur middel van sulke metodes handhaaf.
Mevrou Ghinzburg is ’n Sowjetskryfster en ’n Kommunis. Nietemin het sy ongeveer sewentien jaar in Sowjettronke deurgebring. Sy is deur haar eie Party-genote in die tronk gestop. Hierdie geval is glad nie ’n uitsondering nie; Kommunisme is nie net anti-christen of anti-Joods of anti- imperialis nie; dit is eenvoudig anti-almal. Die een Kommunis haat ’n ander Kommunis. Die Kommunis Kosygin sit boeie om Kommunis Dubcek se polse. Mao haat Kosy¬gin. Kosygin haat Tito. Chroestjof het sy eie vrou agt jaar lank gevange gehou, Kommunisme is ’n godsdiens van haat. In Party-suiwerings is duisende Kommuniste in die tronk gesit en doodgemaak. Mev. Ghinzburg was een van die slagoffers.
Nadat sy vrygelaat is uit die tronk, het sy ’n boek, Die Warrelwind, geskryf. Hoewel sy volhou dat sy steeds Kommunistiese oortuigings het, beskryf sy nietemin eerlik die afgryslikhede van die Kommunistiese gevangeniskampe. Sy sê onder meer dat daar in die noorde van Siberië, waar die sneeu nooit smelt nie, sekere Christengevangenes geweier het om op Paassondag te werk, want, het hulle gesê, hulle moes die Here se opstanding herdenk. Vir straf is hulle gedwing om kaalvoet op die ys te staan. En die Kommunistiese skryfster voeg by: "Nie een van hulle het siek geword nie.”
Dit herinner ons aan wat 1 600 jaar gelede gebeur het:
Veertig Christen-offisiere wat in ’n Romeinse legioen in Sabaste (Armenië) diens gedoen het, het geweier om ’n afgodsoffer aan die Romeinse Keiser te bring. Hulle klere is van hulle afgestroop en hulle is gedwing om op die ys van die Kisil-Irmakrivier te staan. Op die wal het ’n vuur gebrand. Vir hulle wat van besluit sou verander, is ’n warm bad gereed gemaak. Elke uur is hulle gevra of hulle bereid was om van hulle geloof af te sien, in welke geval hulle lewens gespaar sou word. Op die ou end het één die Saligmaker verloën. Terselfdertyd het die Romeinse hoofman oor honderd, wat die teregstelling dopgehou het, veertig engele met veertig krone uit die hemele sien neerdaal om die martelare te kroon. Maar een van die engele het geen hoof gevind waarop hy die kroon kon plaas nie. Een wat ’n martelaarskroon sou kon ontvang het, het ’n verraaier geword. Die hoofman oor honderd het toe self sy klere uitgepluk en met die uitroep: "Engel, ek hom,” na die ys gehardloop. Hy het saam met die ander vir die eer van die Saligmaker gesterf.
Hulle het gesterf. Die susters in Siberië het nie gesterf nie. Maar daar was nie ’n enkele een wat haar geloof prysgegee het nie.
Dit is die Ondergrondse Kerk soos ’n Kommunistiese skryfster dit beskryf het.
Nog 'n gebeure:
Ketchik is ’n Christen wat laat in sy lewe tot bekering gekom het. Hy het van ’n klein pensioentjie gelewe. Sy vrou het nie in sy Christelike geloof gedeel nie.
Eendag is Ketchik by ’n geheime biduur betrap en is hy gedwing om vir twee maande sy inkomste as boete te betaal. Hy het opgeruimd van die hof teruggekeer en aan sy vrou gesê: "Nou kan jy sien dat ek reg was toe ek jou vertel het van die groot waarde van gebed en jy my nie geglo het nie. Maar kyk hier - die vonnis. Die Kommuniste ken die waarde van gebed. Selfs in hulle oë het ’n gebed die waarde van twee maande se pensioen. As dit soveel werd is, sal ek van nou af nooit ’n biduur misloop nie.” Hy is drie keer in een jaar beboet en moes sy inkomste vir ’n halwe jaar prysgee. Maar hy het die waarheid geleer van wat Augustinus gesê het: "Gebed is die krag van die Christen en die swakheid van God.”
Hier volg nog een van die baie gebeurtenisse in die geskiedenis van die Ondergrondse Kerk:
Monseigneur Draganovic was die hoof van die Joego- Slawiese afdeling by die Vatikaan. Hyself is ’n Kroaat.
Toe het die Vatikaan egter besluit om met Tito ’n ooreen-oms aan te gaan. Tito het mos nie al die Katolieke doodgemaak nie! ’n Mens kyk maar net by al die lyke van die honderdduisende dooies verby, vergeet om vêrder van hulle onskuldige dood te praat, en jy teken ’n verdrag. Gevolglik moes Monseigneur Draganovic as opponent van die Kommunisme die Vatikaan verlaat. Maar hy het nogtans voortgegaan om vanuit Duitsland ten behoewe van sy vervolgde broeders te werk. Hy was egter bedag op die moontlikheid dat hy ontvoer mag word, daarom het hy in ’n verklaring wat hy neergeskryf en op ’n veilige plek gebêre het, gesê dat hy glad nie van voorneme is om terug te keer na Joego-Slawië nie en dat hy enige verklaring wat hy mag gee, as hy ooit in Joego-Slawie is, as ongeldig beskou, omdat dit slegs teen sy sin kan geskied. Draganovic is na Priest gelok waar iemand na bewering vir hom sou wag om hom meer dokumente en foto’s oor Tito se misdade te gee. In Friest het hy verdwyn.
Aan die buitelandse korrespondente in Belgrado is daar later ’n verklaring, geskryf deur Draganovic, getoon waarin hy verklaar dat hy uit eie keuse na sy vaderland teruggekeer het. Die verslaggewers het selfs foto-afdrukke van die dokument gekry. Dit was beslis sy handskrif, maar Monseigneur Draganovic was ’n verfynde skrywer en in hierdie verklaring was die sinsbou dié van ’n ongeletterde. Dit is deur ’n Kommunistiese offisier met weinig opvoeding, gedikteer.
’n Paar weke later het Draganovic self voor die buitelandse pers verskyn en verklaar dat hy besluit het om na Joego-Slawie terug te keer om tereg te staan op die aanklag dat hy ’n "oorlogsmisdadiger” is, alhoewel hy nooit in die leër was nie. Net God weet deur watter metodes van marteling en breinspoeling hy tot so ’n verklaring gedwing is.
Vervolg...