Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Besef jy dat jy elke oomblik van elke dag van jou lewe voor die Heilige, Drie-enige God, Beskikker van volke en nasies aan Wie alle mag in die hemel en op die aarde behoort, staan? Of dink jy dalk dit is net in die kerk of dergelike plekke waar jy in sy heilige Teenwoordigheid is?
JAPAN NEEM WRAAK
Dr Pieter van der Dussen
Japan se Wraak oor Hirosjima en Nagasaki
Vroeg in Augustus 1945 het die Amerikaanse lugmag een van die afskuwelikste misdade gepleeg deur atoombomme op die Japansa stede Hirosjima en Nagasaki neer te werp. Honderde duisende mense, hoofsaaklik burgerlikes, het in die aanvalle omgekom of is vermink en deur die gevolge van kernkragbesmetting aangetas. Die Japanse generaals wat nie harakiri gepleeg het nie, het onmiddellik aan die Amerikaners oorgegee.
Die gebeurtenis is nooit vergeet nie. Vanjaar is dit soos elke jaar tevore uitvoerig in Japan herdenk. Dit was egterr of daar 'n gesindheid van afkeer ingetree het. Japan het voorheen, veral na 1970, begin terugslaan. Hy het Amerika begin aanvat waar dit hom die seerste kon maak: Die ekonomie. Namate die Amerikaanse ekonomiese swakhede al hoe meer na vore gekom het, het die Japanners dit nie makliker vir die VSA gemaak nie. Inteendeel! Hulle het geleidelik beheer oor die Amerikaanse banke oorgeneem en op een tydstip nege van die tien grootste Amerikaanse banke beheer. Hulle het die VSA met huishoudelike en ander goedere van hoë gehalte uitgedaag en daarin geslaag om hierdie mark mettertyd te oorheers. Hulle het op elektroniese gebied die ontwikkeling van 'n eie Amerikaanse nywerheid wesenlik voorkom. Uiteindelik het hulle daarin geslaag om nie net die VSA se oorheersing van die internasionale voertuigmark buite Europa te beëindig nie – hulle het selfs die binnelandse voertuigmark in die VSA begin oorheers en ondernemings soos General Motors tot bankrotskap gebring. Japan het 'n groot aandeel gehad in die ekonomies-finansiële ineenstorting van die Amerikaanse hegemonie.
Vandag is Japan ekonomies self verswak. Met 'n totale skuldlas van meer as tweekeer sy jaarlikse Bruto Binnelandse Produk worstel hy met die aanslag van Sjina en met die gevolge van die wêreldwye ineenstorting (Depressie) waartoe sy eie optrede ten opsigte van Amerika 'n groot bydrae gemaak het. Dit hinder hom egter nie. Hy het met Oosterse geduld die geleentheid afgewag om hom oor Hirosjima en Nagasaki op Amerika te wreek, ten spyte daarvan dat hy tot op groot hoogte ekonomies harakiri moes pleeg om dit te doen. Vir die Westerling lyk dit miskien na 'n stoïsynse benadering, maar vir die Japanner is dit 'n uiting van sy Zen-Boeddistiese godsdiensbeoefening waarin harakiri 'n groot rol speel.
Duitsland en die Bombardement van Dresden en Hamburg
Kort voor die einde van die Tweede Wêreldoorlog, toe dit reeds duidelik was dat danksy Amerika se oorweldigende krag Duitsland verslaan was en daar vermoedelik reeds oor 'n wapenstilstand begin onderhandel is, het die Britse Eerste Minister Winston Churchill dit in sy kop gekry om 'n laaste heldedaad te pleeg. Hy het beveel dat Hamburg en Dresden gebombardeer moes word. Hierdie stede is deur die Rooi Kruis tot vlugtelingstede vir burgerlikes en verminktes verklaar en het geen militêre betekenis gehad nie. Vir Churchill was dit die ideale teiken – het hy dan nie in die Engelse Oorlog as joernalis die moorddadige uitroei van Afrikanervroue en -kinders in Suid-Afrika aanskou nie?
Daar het egter onverwags teenstand opgeduik. Die Britse opperbevel onder Lord Montgomery het tereg geen sin in die beoogde optrede gesien nie. Duitsland se weerstand was verbreek en dit moet die Britse opperbevel tot eer gegee word dat hulle geweier het om die bombardement te gaan uitvoer. Vir Churchill was dit egter onaanvaarbaar en hy het na iemand gesoek wat die bombardement kon lei en uitvoer. Uiteindelik het ene Harris wat bekend was as “Bomber” daartoe ingestem, al het dit teen sy opperbevel ingegaan. Die bombardement is onder sy leiding uitgevoer en honderde duisende burgerlikes is daarin dood en vermink – eintlik vermoor - terwyl die twee historiese stede wesenlik vernietig is. Chruchill se lafhartige gruwelike bloeddorstigheid is bevredig. Dit dien tot eer van die Britse magte dat “Bomber” Harris spoedig uit elke militêre klub en menasie verban is en dat met sy dood 'n klompie jare gelede geen belangrike offisier die begrafnsi bygewoon het nie.
Nou berig The International Express uit Londen dat daar beoog word om 'n monument vir Harris in Londen op te rig. Vanuit Duitsland is onmiddellik beswaar gemaak met die beskuldiging dat Harris se optrede niks anders as 'n oorlogsmisdaad is nie. Volgens die koerant kan die aangeleentheid tot 'n diplomatieke krisis tussen Duitsland en Brittanje lei. Terloops moet daarop gewys word dat dit Churchill in sy vermetelheid was wat op die Neurenbergverhoor aangedring het waar die Duitse leiers weens sogenaamde oorlogsmisdade verhoor en ter dood veroordeel is oor optredes wat selfs nou nog betwyfel word. Dat oor die misdadige optrede van Harris in opdrag van Churchill net so min twyfel kan bestaan as oor die Amerikaanse atoombomme oor Japanse stede, staan vas.
Duitse Herontwaking?
'n Paar maande gelede het 'n BBC-joernalis 'n vraag in Engels aan 'n Duitse Onderminister gestel. Die betrokke Onderminister het onmiddellik gesê: Wir sprechen nur Deutsch en nie die onderhoud voortgesit nie. 'n Maand of wat terug het die Voorsitter van die Duitse Bundestag (Parlement) die gevoel uitgespreek dat Duits die enigste taal van die land moet word en dat wetgewing daartoe ingestel moet word. Waar Engels tans skynbaar die taal is waarin sake van die Europese Unie gevoer word, is uitsprake soos hierdie nie sonder betekenis nie. Dit plaas ook die herrie rondom die beoogde Harrisgedenkteken in 'n bepaalde lig.
Die vraag is geregverdig of 'n Duitse herontwaking aan die gang is. Die ineenstorting in 2007 van die Amerikaansgeleide ekonomiese bestel het vinnig tot die wesenlike verval van die Angelsaksiese hegemonie gelei. Brittanje is ekonomies 'n derderangse moondheid en moet noodgedwonge deur die VSA staande gehou word om enigsins nog die skyn van 'n magsblok te behou. Dit terwyl Amerika self sukkel om die ergste gevolge van die Depressie af te gooi. Die wyse waarop die Europese Unie sy interne probleme tot dusver hanteer kan nie anders as toenemende vertroue wek nie. Dit spreek vanself dat in die lig van Duitsland se leiersrol in die EU, dit sy selfvertroue toenemend sal verstewig. Die oënskynlike dwarstrekkery van Sarkozy van Frankryk moet teen die agtergrond gesien word dat die intieme Duits-Frans-Italiaanse samewerking vyftig jaar teruggaan tot die Europese Gemeenskapsmark wat later in die Europese Ekonomiese Gemeenskap oorgegaan het. In elke geval is slegs ses lande betrek, naamlik die genoemde drie plus België, Nederland en Luxemburg. Die onderlinge verhoudings wat in hierdie klein groep ontwikkel het, het 'n onderlinge afhanklikheidsgevoel meegebring wat grootliks op vertroue in Duitsland as die leidinggewende mag berus het. Na die stigting en uitbreiding van die Europese Unie is hierdie vertrouensverhouding daarheen oorgedra. Dit stel Duitsland in die besondere posisie om sy eie buitelandse beleid te volg sonder dat hy oor sy skouer hoef te kyk.
Gevolge vir die Wêreldtoneel
Oor die uitwerking van hierdie verwikkelinge op die wêreldtoneel kan daar hoogstens bespiegel word. Wat hierbo genoem is, behels maar net enkele klein episodes. Intussen kom nuwe verbintenisse tot stand wat elkeen sy eie ideale en drome vir die toekoms aanbied. Dit val egter op dat die gesprekke oor die ontwikkeling van die wêreldhandel (Doha) en oor die ekonomiese wêreldbestel nogal stil geraak het. Na die Pittsburgberaad van September 2009 (wat niks opgelewer het nie) het selfs die sogenaamde G20-groep stil geraak, terwyl die sogenaamde BRIS-groep (Brasilië, Rusland, Indië en Sjina) probeer om enigsins ernstig opgeneem te word, sonder werklike sukses (behalwe ene Zuma se gesanik om ook deel daarvan te word). Intussen het die woelinge in die Europese Unie rondom Griekeland en ander lede ook betreklik stil geword namate die erns van die toestand eerder met optrede as met 'n eindelose gepratery hanteer word. In hierdie omstandighede bly dit noodsaaklik dat Europa bestendig en so rustig moontlik bly op die pad na groter duidelikheid en wêreldwye bestendigheid. Daarsonder kan die herstelfase na die Depressie nie vorder nie en allermins ordelik word en is die deurlopende tekens van onsekerheid getuienis van voortslepende algehele verwarring.
Dr Pieter van der Dussen