Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons huil Here, ons rou oor ons volk wat so verdruk en uitgemoor word. U sien dit en U weet dit. En U bemoei U met ons ellende want U weet hoe swaar ons kry. Help ons om te onthou dat U ons nooit sal vergeet nie maar nou met ons werk sodat ons weer na u sal wil terugkeer. Help ons ook veral om te onthou dat U reeds die finale oorwining oor die Bose vir ons bewerk het, en dat 'n nuwe aarde en 'n nuwe hemel aan die kom is.
RASSE-INTEGRASIE IN EUROPA HET NIE GESLAAG
'N BRIEF AAN SOLIDARITEIT
"Doen gerus die moeite en gaan kyk na die politieke verwikkelinge in België, Frankryk, Duitsland, Oostenryk, Finland, Brittanje en veral Skotland. Dit is duidelik dat die multikulturele eksperimente van hierdie lande nie geslaag het nie".
Ek woon nou reeds bykans drie jaar in Den Haag, Nederland en het die propaganda-agtige aanslag van die media in Nederland en Suid-Afrika teen die Partij voor de Vrijheid, en in besonder teen sy leier, Geert Wilders, met groot belangstelling dopgehou.
Hierdie party se ontstaan en vinnige opgang kom voort uit dieselfde gevoel van onbehae in die Nederlandse samelewing as wat ‘n dekade gelede verwoord is deur die politieke wetenskaplike Pim Fortuijn, wat egter op 6 Mei 2002 deur ‘n linkse ekstremis koelbloedig doodgeskiet is. Fortuijn het sy uiters suksesvolle akademiese loopbaan verruil om in die laat 1990’s ‘n politieke party te stig.
Een van sy bekendste boeke, Tegen de Islamisering van onze cultuur, getuig van die alledaagse problematiek waarmee gewone Nederlanders in hul land te make het, veral ten opsigte van die moeisame integrasie van veral Moslem-groeperinge in die Nederlandse samelewing. Na Fortuijn se dood het die jong politieke party waarvan hy die leier was, Lijst Pim Fortuijn, verbrokkel omdat dit nog nie behoorlik gevestig was nie en in ‘n groot mate afhanklik was van die charisma van sy leier.Vandag, byna ‘n dekade later, het dieselfde Nederlanders wat Fortuijn ondersteun het, ‘n politieke heenkome gevind by die Partij voor de Vrijheid en groei hierdie party se ondersteuningsbasis so vinnig dat hulle binne die eerste nasionale verkiesing waaraan hulle deelgeneem het, reeds deel geword het van die koalisieregering. Nadat die PVV-leier, Geert Wilders, bepaalde openbare uitsprake teen die Islam gemaak het, is hy deur linkse groeperinge aangekla vir iets wat soortgelyk is aan wat ons in Suid-Afrika ken as ‘haatspraak’. Die ekwivalent van die Suid-Afrikaanse prokureur-generaal in Nederland kon aanvanklik geen gronde vind om Wilders aan te kla nie, maar moes uiteindelik voor linkse politieke druk swig en die saak teen hom het voortgegaan. Verlede week is Wilders in ‘n Nederlandse hof vrygespreek op alle aanklagte teen hom.
Die PVV is tans die derde grootste party in Nederland. Gevolglik het die grootste party (VVD met Mark Rutte, die huidige premier van Nederland, as leier) geen keuse gehad as om die PVV by die huidige koalisieregering te betrek nie. Die verdeling van setels in die Nederlandse parlement lyk tans soos volg: VVD 31, PvdA 30, PVV 24, CDA 20 en kleiner partye gesamentlik 44. Volgens ‘n onlangse meningspeiling sal die PVV 26 setels in die parlement kry indien daar nou ‘n algemene verkiesing gehou sou moes word, wat aandui dat die party steeds besig is om te groei.
Lesers is welkom om op die webblad van die PVV te gaan kyk na die kandidatelys en doelwitte van die party ten einde self te oordeel of die PVV ‘n ekstreem regse party is. Vergelyk dan jou eie gesonde oordeel met dit wat die media, spesifiek Beeld en sy rubriekskrywers, oor hierdie party te sê het.
Die verskynsel PVV en hul politieke standpunte wat inslag vind by groot getalle Nederlanders is nie beperk tot Nederland nie, maar weerspieël veranderende politieke denke wat ook elders in Wes-Europa sigbaar word. Doen gerus die moeite en gaan kyk na die politieke verwikkelinge in België, Frankryk, Duitsland, Oostenryk, Finland, Brittanje en veral Skotland. Dit is duidelik dat die multikulturele eksperimente van hierdie lande nie geslaag het nie, soos wat die Duitse bondskanselier, Angela Merkel, dit onlangs so duidelik in die openbaar gestel het. Hoe al hierdie verwikkelinge bloot afgemaak kan word deur die etiket “ekstreem regs” daarop te plak en dit dan te ignoreer, maak nie sin nie en maak dat die oë gesluit word vir ‘n ingrypende politieke ommeswaai in Wes-Europese lande.