Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
U hoor my stem; verberg u oor nie vir my ontboeseming, vir my hulpgeroep nie. U kom nader die dag as ek U aanroep, U sê: Wees nie bevrees nie! - Klaagliedere 3:56-57
ELKE ETE... EN NAGMAAL
SO BLOEI JOU KINDERS OM JOU DIS
Marisa Haasbroek
Hulle kou kougom, strooi papiere rond en lawaai in die skool se gange. Dis waaroor onderwysers in die jare-1940's oor hulle leerlinge gekla het. In die jare 2000+ klink die klagtes van onderwysers oor leerlinge heelwat ernstiger: Hulle raak swanger, verkrag medeskoliere, rand mekaar aan en gebruik drank en dwelms.
Die afgelope sestig jaar of wat het die wêreld inderdaad aansienlik verander. Televisie en internet is alledaags. Ons kan nie meer sonder selfone nie. Baie min mense vervaardig vandag meer goedere, die meeste van ons maak ’n bestaan deur ons kennis of kundigheid te verkoop. Ons verwissel baie gereelder van werk as ons ouers en talle van ons moet herhaalde kere totaal van beroep verander net om aan die lewe te bly.
Die instelling waar ’n mens die verandering in die samelewing die duidelikste sien, is by gesinne. Hier is ’n bietjie grootskrik-statistiek:
Daar is raad om jou gesin teen hierdie euwels te beskerm. Bedrieglik eenvoudige raad:
Eet Aandete Saam!
Amerikaanse navorsers het in 1999 meer as 11 000 tieners ondervra om te probeer uitvind watter faktore kinders teen die slegte dinge hierbo kan beskerm. Dis belangrik dat die ouers op vier sleuteltye deur die dag by hulle kinders is, het die navorsers bevind: Vroegoggend, na skool, met aandete en slapenstyd. As hierdie tye van gereelde kontak gekombineer word met gedeelde aktiwiteite en as die tieners ’n gevoel van warmte, liefde en sorg van hul ouers kry, is hulle die minste geneig om die pad byster te raak.
Wat die kontak tydens aandete betref, het ’n ander groep navorsers van Cincinnati in Amerika meer as 500 tieners ondervra en ontdek dat diegene wat vyf keer per week of meer as ’n gesin saam eet, die minste kans het om dwelms te gebruik, depressief te raak of met die gereg te bots. Die saameet-tieners vaar ook beter op skool en het gewoonlik goeie vriende. En die gesinne hoef nie by die huis te eet nie, dit kan maar ’n uitete of ’n wegneemete wees, solank dit saam is.
Dr Catherine Snow, ’n professor in opvoedkunde aan Harvard Universiteit, het 65 gesinne vir agt jaar bestudeer. Ook sy het gevind dat aandete saam meer waarde vir die kinders se ontwikkeling gehad het as skool, speeltyd of storietyd.
Daar is waarskynlik nie iets magies daaraan om juis saam te eet nie. Dit wys eerder dat gesinsverhoudings nog steeds vir tieners die belangrikste is, al wil almal ons laat glo dat die portuurgroep tydens adolessensie die plek van ouers inneem. Die waarde van saameet lê waarskynlik in die tafelgesprekke, want die etenstafel is gewoonlik die plek waar ’n gesin praat oor waardes en redes waarom hulle leef soos hulle leef. As dit plaasvind in ’n atmosfeer van liefde, kan dit vir die kinders van onskatbare waarde wees.
Nog ’n stukkie navorsing wat onrusbarend is, is dat kinders gemiddeld net vyf minute per dag aandag van spesifiek hulle pa’s kry. Afwesige pa’s word telkemale genoem as die groot rede waarom die tieners se morele nate begin uitrafel.
Sorg vir Geestelike Voedsel
En ons volwassenes? Hoeveel van ons bring nie ’n skamele vyf minute per dag saam met ons Hemelse Vader deur nie? Is dit dan ’n wonder dat ons nie meer aldag weet wat reg en verkeerd is, en wat regtig van belang is en wat nie.
En ons tafelgesprekke met ons huisgesin-in-die-Here, ons mede-gelowiges? Hoe gereeld vind dié nog plaas? “Ek dien die Here net so goed as ek ’n Sondag in die natuur deurbring of as ek bande met my familie, vir wie ek nie in die week tyd het nie, versterk,” is die verskonings wat die meeste opgehaal word om nie die erediens by te woon nie.
Maar noudat ons gesien het watter enorme invloed so ’n gereelde saameet op geestelike welsyn van kinders het, kan ’n mens ook begin verstaan hoekom ’n gereelde aansit aan ons Hemelse Vader se etenstafel ook is. En ’n mens praat nie net van nagmaal nie. Dit gaan oor elke week se “tafelgesprek” in elke erediens.
Daar is groot waarde in vertroudheid en roetine om struktuur te gee aan mense soos ons wat probeer oorleef in ’n postmoderne, relativistiese wêreld wat teen die spoed van witlig verander en dreig om al ons ankers te laat losraak.
Kom gereeld kerk toe. Jou siel het dit nodig. Jou gewete ook.
En veral die kinders.
Bronne
1. Stephen Covey, The seven habits of highly effective families
2. James Dobson, Bringing up boys