Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Moed is om te doen wat gedoen moet word met die diep, innerlike oortuiging dat, as jy jou plig doen, jy vir die res op God kan vertrou
GAAN U IN SATAN SE OES EINDIG…
…OF IN GOD SE OES?
Wat is die mens dat hy so versleg? Sy gees is ontvanglik vir goed en sleg maar soos die jare aanstap verduister die goed en bly daar net die sleg. Of is dit nuwe slegwees wat op hom toegesak het? Vandag se mens het nie meer die karakter van die mens in die vyftig- en sestigerjare nie; nie eens dié van die sewentigs of tagtigs nie. En die wat nou baie jonk is sal nie eers weet waarvan hier gepraat word nie want hulle het dit nooit geken nie.
Wat nie geken nie? Daar is lyste vol goeie maniere wat uit ‘n goeie karakter voortkom maar kom ons begin by die minste (is dit min?) Wanneer iemand ‘n brief ontvang, is dit opgevoed om ontvangs te erken. Vandag is ons so bevoorreg om hierdie ritueel in minute met digitale ontwikkeling af te handel – destyds was daar darem nog ‘n poskantoor waar mens ‘n brief gepos en die antwoord weer gaan afhaal het al het dit lank geneem maar daar was toe ook iets soos geduld – nog ‘n vreemdeling vir die mens van vandag. Om ontvangs van ‘n skrywe te erken is nie ‘n guns nie maar ‘n noodsaaklikheid.
Die woord van die mens van vandag is niks werd nie. Sy beloftes beteken niks. Dit word gesien in die elke dag se handel en wandel veral in besigheid en in verhoudings. Geen bankklerk skakel terug nadat belowe is om die kliënt binne 24uur terug te skakel nie. Nedbank het sover gegaan dat mens hulle oor die tydperk van ‘n maand dertien keer kan skakel om te herinner dat hulle nog nie teruggeskakel het nie, en die 13 antwoorde? “Ons sal u binne 24 uur terugskakel”. Dit is die “respek” wat hulle en talle ander instansies teenoor hulle kliënte openbaar.
Verhoudings vaar nog slegter. Mense is dolverlief en beloof om tot die dood hulle skei aan mekaar getrou te bly – maar dit duur slegs tot die volgende”groot liefde” opdaag. Die ergste is dat dit in die geval van die huwelik aan God belowe word, wat dit na regte ‘n gelofte maak want enige belofte aan God is outomaties ‘n gelofte. Maar niemand weet of onthou wat God sê ons sal oorkom indien ons nie ons geloftes aan Hom onderhou nie!
Daar is nie eers ‘n vraag rondom die feit dat mense nie meer respek vir mekaar het nie; hulle daag nie eers op vir ooreengekomde afsprake nie. En indien wel, is een of beide laat daarvoor. Is dit respek vir die ander persoon?
Laat ons vandag nie eers die sleg van korrupsie en moord bespreek nie – daarmee het ons heeldag elke dag te doen en voel al naar daarvan.
Kom ons praat oor respek en liefde. Respek spruit voort uit liefde. God sê ons moet mekaar liefhê soos wat ons onsself het. Maar as ons bogenoemde swak maniere handhaaf het ons net onsself lief. Dit beteken ongehoorsaamheid aan God.
Tans is die hemel God se koninkryk en het Hy die aarde aan Satan oorgelaat as sý koninkryk om sy oes te kom insamel. Satan se werkernemers werk nou demonies en onophoudelik om daardie oes bymekaar te maak voordat die Here terugkom aarde toe om sý kinders (oes) te kom haal.
Weet dat ons in die begin van die eindtyd van die aarde en sy inwoners leef. Weet ook dat die aandrywers van slegword, Satan se werktuie is wat vir ons so graag by hulle oes wil voeg. Weet dan veral dat die eindresultaat by onsself berus: ons kan voortgaan om liefdeloos teenoor ander op te tree en in ons selfverliefdheid voortdroom, of ons kan kies om by God se oes te eindig deur die slegte eienskappe vir die satanskinders te los en God se mooi eienskappe van respek en liefde vir mekaar te handhaaf totdat Hy kom! Dink mooi oor die keuse wat u maak...