WIE IS DIE AFRIKANERS?

J A Marais

Die Afrikanervolk is bo alles 'n volk wat stam uit die Blanke ras van Wes-Europa, die ras wat in sy plus en surplus die wêreld fisiek oopge­maak, tegnologies ontwikkel en 'n hoë mate geestelik oorspoel het. Die Afrikanervolk se kultuur is 'n rasgebonde kultuur, net soos die Zoeloe­volk se kultuur 'n rasgebonde kultuur is. Anderrassiges kan die kultuur ten dele aanvaar, maar hulle kan die diep verbondenheid aan die rasse­herkoms wat daarmee saamgaan, nie deel nie.

As by 'n bespreking ras uit die oog verloor word, volg verwarring oor die sake. Daar is nie so iets soos 'n veelrassige volk nie, al sou mense van verskillende rasse een taal praat. Taal alleen bepaal nie 'n persoon se volksverwantskap nie. Ras en kleur word nie as onderskeiding uitgewis deur deelgenootskap aan taal nie.

'n Volk se geskiedenis is by sy identiteitsbewustheid net so belangrik as enige fisieke of geestelike eienskap. Want die geskiedenis is 'n volk se geheue, en net soos geheue by 'n persoon hom in staat stel om te weet wie hy is en wat sy status is, hou die geskiedenis 'n volk bewus wat hy is en wat­ter plek hy beklee.

Uit die geskiedenis kom 'n volk se heldedom, en dit is vir dié wat buite 'n bepaalde volk staan, onmoontlik om dieselfde sentiment vir die volk se helde te hê.

Kan 'n Afrikaanssprekende Kaapse Kleurling byvoorbeeld dieselfde sentiment koester vir pres. Kruger as 'n Afrikaner? Kan 'n Engelsspre­kende Indiër van Natal dieselfde sentiment koester vir byvoorbeeld Ro­bert Clive (van die Black Hole of Calcutta) as 'n Engelsman van Natal?

Dit is min of meer by hierdie punt dat die saak vereenvoudig kan word tot 'n enkele stelling, naamlik wie hom- of haarself as 'n Afrikaner be­skou, is 'n Afrikaner. En dit is die byna ondefinieerbare grens tussen Afrikaners en byvoorbeeld Afrikaanssprekende Kleurlinge.

Dit is 'n gemeenplaas dat die Kleurlinge, ongeag hulle gebruik van die Afrikaanse taal, hulleself nooit as Afrikaners beskou het nie, en dit is eweneens 'n gemeenplaas dat die Afrikaners die Kleurlinge nie as Afrika­ners beskou het nie. Volkskap is soos 'n broederskap; jy behoort daar­aan, of jy behoort nie daaraan nie.

Waar daar gepoog word om Afrikanerskap hoofsaaklik, indien nie uit­sluitlik nie, te definieer in terme van taalgebruik, is dit onwetenskaplik, dra dit nie by tot verheldering van die strydvraag nie en vertroebel dit die saak waarom dit gaan.

                                                                                111

Wat wel ter sake is, is dat binne 'n volk daar te alle tye dié is wat hulle volkskap meer intens aanvoel as ander, wat 'n sterker historiese bewust­heid het as ander en wat nader aan die sentrum van 'n volk leef as ander. Soos enige organiese wese het 'n volk ook 'n kern waaromheen daar 'n wyer begrensing is, 'n verskynsel wat die beste beskryf kan word deur die beeld van 'n boom se stam. Binne is die harde pit, en daaromheen omhul­sels wat in graad al sagter word in die uitkringing na buite. Die buitenste rand, die bas, is die sagste en mees verweerbare en vervangbare deel van die stam. So is dit ook by 'n volk. Aan sy buitenste rand is daar dié wat afskilfer in hulle blootstelling aan die vreemde, maar hulle vervul 'n integrerende funksie in die geheel. Dit is as hulle die rol van die sentrum wil oorneem dat hulle teruggedruk moet word tot hulle beskore rol.

Dit is vanuit dié sentrum dat die lyne vloei wat insluit en uitsluit. Laat dit maar hardop en duidelik gesê word: volkskap is eksklusief. Om sy aard te be­hou moet dit diskrimineer. Selfbehoud, soos by alle lewende wesens, is by 'n volk ook 'n hoë wet. 'n Volk kan bekostig om dié wat nie tot hom be­hoort nie, te vervreem, maar hy word vermoor as sy kern uitgestoot word ter wile van ander wat van buite kom.

In elke tydvak sal daar wisselende klemtone in 'n volk se bestaan wees. Met hulp van buite en met versterking deur groot finansiële steun kan die buiterand van 'n volk, soos tans, 'n sterk invloed uitoefen en die indruk skep dat dit die volk is. Dit word veral aangehelp deur politieke, ekono­miese en sosiale omstandighede wat 'n volk soos die Afrikaners tans, in 'n posisie van bedreigdheid stel.

In die benouenis van 'n volk is daar by die sagte buiterand altyd 'n be­geerte om nie met die bedreiging slaags te raak nie, maar liefs aan te pas by die eise van die bedreiger, en in die proses as volksverraaiers voorkom indien die grootste deel van die volk nie saam "aanpas" nie.

Tans is dit die deel van die Afrikaners wat meedoen aan die lasterlike veldtog dat Afrikanerskap en die Afrikaanse taal die beeld van onreg en onderdrukking dra en daarom in onguns by ander taal- en rassegroepe is. Dit is hulle ratio om die begrensing van Afrikanerskap af te breek en Afri­kaans "uit te dra" en die beskuldiging sodoende af te koop.

'n Volk trek aan na homself; hy beweeg nie na ander nie. Hoe sterker Afrikaners hulle beroep op hulle afkoms, hulle gesinsverband, hulle ge­skiedenis, hulle heldedom, hulle afsonderlikheid in Afrika, hoe sterker sal die magnetisme van die kern wees wat trek en bind.

Net soos die Afrikanervolk se rasse-afkoms 'n onveranderlike aard het, is sy posisie in Afrika onveranderlik dié van afgesonderdheid. "Alleen onder die groot suidersterre", het Van Wyk Louw dit beskryf, en "van ver­drukking afgesonder", het Opperman met verwysing na die Groot Trek gesê. Dit is die magte wat die Afrikanervolk se bestaan oorheers. As hy te­rugdeins van afgesonderdheid, vlug hy van sy eie beeld. As hy sy grense wil breek, sal hy soos ander Blanke gemeenskappe "in die welsand van Afrika" verdwyn.