Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Om as kind van die HERE jou selfbeeld in perspektief te kry moet jy van jouself wegkyk en jou liefde vir jou naaste gee. Dit bring bevryding van jouself en jy word só 'n spieëlbeeld van Christus – geen beter beeld kan jy vra nie!
BROKKIES UIT DIE BOEK KLEINSKEER (6)
KLEINSKEER
geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Die LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, mnr. Vusi Shongwe, het in ‘n departementele oorsigkomiteevergadering ruiterlik erken dat die polisie beheer verloor het oor misdaad in die provinsie.
Tydens die vergadering het die LUR beaam dat die plaaslike misdaadsindikate tans sterker is as die provinsie se polisiemag en dat omkopery hoogty vier. Misdadigers beskik glo ook oor meer en beter wapens as polisielede.
“Vuil” geld speel ook glo ‘n kommerwekkende rol in die omkopery van polisiebeamptes. Dit is veral transito-rooftogte wat op die oomblik ‘n wesenlike bedreiging inhou vir openbare veiligheid in die provinsie.
Die provinsiale misdaadstatistiek vir die eerste kwartaal van die finansiële jaar 2023-2024 bewys dit is een van die vinnigste groeiende vorme van roof met verswarende omstandighede.
Daar was vanaf April tot Junie 64 voorvalle van transitorooftogte teenoor 54 voorvalle vir dieselfde tydperk verlede jaar. Dit het dus met ‘n kommerwekkende 18,5% gestyg. Naas Gauteng vind die meeste transitorooftogte in Mpumalanga plaas en dra die provinsie 13% by tot alle gevalle in die land, die tweede meeste van alle provinsies.
Wat veral opvallend is van hierdie rooftogte, is die brutaliteit van die betrokke misdadigers en die geweld wat daarmee gepaard gaan. Net so kommerwekkend is die oënskynlike onvermoë van die strafregstelsel om hulle te keer en die betrokkenheid van korrupte polisielede.
Drie lede van Witrivier se blitspatrollie-eenheid het onlangs voor die Malalane-landdroshof verskyn vir hulle beweerde betrokkenheid by transito-rooftogte in die provinsie. Die hele blitspatrollie-eenheid is hierna tydelik ontbind vir ondersoeke.
Dit volg kort na ‘n Mbombela-verkeerspolisielid voor die Hazyview-landdroshof verskyn het vir haar beweerde betrokkenheid by ’n transito-rooftog.
Die publiek kan nie kwalik geneem word indien hulle besig is om toenemend vertroue in ’n polisiediens te verloor wat tou opgooi in die geveg teen misdaad nie.
-Werner Weber
*
Dit is reeds na tienuur as hulle Bloemfontein binne ry.
“Is jy baie moeg, Ezra?”
“Ja, oom Skeer. Baie.”
Skeer is self moeg, nie net van die bestuur nie en hierdie ou voertuig moet jy eintlik “dryf” en jy kan nooit ontspan nie of hy soek sy eie koers, asook die aanhoudende gedreun, maar ook die adrenalien wat hy ervaar het ‘n paar ure gelede, wat nou uit sy sisteem is, maar sy energie getap het.
Na ‘n paar vrugtelose pogings om ‘n gastehuis – of enige oorslaapplek – te kry, hou hy stil, Google en kry dan een, net ‘n kort entjie vanaf die snelweg en dit is ‘n pragtige, netjiese gatehuis, Olive Gardens, en al is die ontvangs reeds donker, lui Skeer die klokkie, sonder veel hoop. Hulle sal seker maar die beste moet maak van die beknoptheid van die Land Rover.
Sodra hy omdraai, gaan die voordeur oop en ‘n baie mooi vrou in haar vroeë middeljare maak die deur oop.
“Hallo, julle. Ek is Ancilin. Ons is eintlik al toe, maar as julle slaapplek soek, kan ons help.”
Die tarief is baie billik, maar dis natuurlik lank na etenstyd, die kombuis is toe en die twee sal honger moet gaan slaap. Dis jammer dat die Kentucky reeds opgeëet is en Skeer wonder of hy iewers hier in die stad ‘n oop plek sal kry om iets te gaan koop. Dit beteken egter dat hy weer die gasvrou sal moet pla en dit wil hy glad nie doen nie; sy het reeds baie moeite gedoen en dis al laat.
Nadat hy gestort het – Ezra is te moeg, sê hy – en hulle tande geborsel het, is daar ‘n klop aan die deur. Skeer vat sy handwapen, hou dit agter sy rug en maak die deur versigtig oop. Ancilin staan net buite die deur in die gang, met ‘n skinkbord.
“Julle manne is seker honger. Ek kan nie veel anders bied nie, as net toebroodjies en koffie vir jou, meneer en Milo vir die kleinman.”
“Baie dankie! Ons is regtig baie honger.” Hy probeer die wapen onopsigtelik agter in sy belt indruk, maar hy is seker sy het dit opgemerk, want sy glimlag as sy die beweging sien. Op die bed lê die ander twee wapens.
“Ek is nie gevaarlik nie, meneer.”
Nadat sy die deur toegemaak het, sluit Skeer en haal die kleefplastiek van die skinkbord af. Daar is ‘n halwe tuisgebakte brood se toebroodjies; ham-en-kaas, spek-en-eier en grondboontjie botter met stroop. Ezra, wat al begin insluimer het, word wakker van die geur en die geritsel van die plastiek, vlieg uit die bed op en storm nader.
“Wag so ‘n bietjie, Ouboet. Waar is jou maniere?”
“Ai Oom. Maniere is vir gewone tyd, maar nou is ek mos baie honger.”
“Gaan ons nie eers dank nie?”
“Ja. DankielieweJesusvirdiekoshelpanderwatookniekaneetnieamen.” sê Ezra in een woord, vat ‘n toebroodjie, byt ‘n reuse hap en sy ogies trek op ‘n skrefie as hy dit proe. Skeer moet vinnig vat as hy sy deel wil hê, maar hy los die laaste broodjie vir Ezra, wat veel meer as helfte van die bord eetgoed gehad het.
“Gaan borsel nou weer jou tande,” beveel Skeer voordat die seuntjie dit gehoorsaam, maar met onwilligheid, doen.
Dis nog donker as die twee opstaan, die beddens opmaak en sorg alles is skoon en netjies in die badkamer. As hulle in die voorportaal, by ontvangs kom, wag die gasvrou hulle reeds in.
“Ontbyt in die eetkamer, menere.”
Skeer is weereens verbaas oor Ezra se aptyt en hy begin dink dat, sodra hulle die geleentheid kry, of hy nie moet laat kyk of die outjie dalk wurms het nie. Selfs Ancilin is verstom oor sy weglêvermoë. Skeer trek sy skouers verskonend op.
“Dis alles reg, meneer – ek ken seuns, hulle is leeg tot by hulle hakskene.”
Sodra Skeer betaal – met kontant –groet en uitloop, roep die dame hulle terug.
“Wat van julle padkos?”
Buitekant ondersoek Skeer die Land Rover kursories, maar behalwe vir ‘n koeëlgat deur die laaibak en die twee buffers wat nerf-af geskrap is, lyk dit nie asof daar regtig skade aan die kar is nie.
Skeer los skielik ‘n paar emfatiese knope as hy sien die spaarwiel op die enjinkap is stukkend. ‘n Swaarkaliber koeël het nie net die band flenters geskiet nie, maar ook die wielvelling, wat meeste mense ken as ‘n “rim” is ‘n gat in geskiet.
Ezra luister na die tirade.
“Oom Skeer, my ma het gesê ‘n mens praat nie so nie. Dis net moegoes en slegte mense wat daardie woorde sê.”
Skeer wil hom eers vererg, maar die seun lyk so ernstig en onskuldig, dat hy net sy hare deurmekaar vryf.
“Jou ma was reg. Jy moet nooit sulke woorde sê nie.”
“Dis goed Oom. Wat is ‘n moegoe?”
“Ek is nie seker nie, maar sodra ek uitvind, sal ek jou ook sê, goed?”
“Is daar probleme?”
Skeer kyk om en die gasvrou staan na hulle en kyk. Sy het sekerlik die woordewisseling gehoor, want daar is ‘n lag in haar stem en ‘n mooi glimlag om haar mond. Skeer sien dat sy inderdaad ‘n baie mooi vrou is, veral hier, in die vroeë oggendskemer, met haar donker, krullerige hare nog effens deurmekaar en haar blou kamerjas aan.
“Ja, ons kar se wiel is stukkend. Dis nou die spaarwiel en ek weet nie waar ons op ‘n Sondagoggend ‘n ander een gaan kry nie.”
“Wag ‘n oomblik.”
Nadat sy ‘n oproep per selfoon gemaak het, praat sy weer:
“Dis Koos Meintjies. Hy het ‘n bandeplek net hier anderkant. Hy sal oor twintig minute daar wees.”
Sy beduie vir Skeer hoe om daar te kom en steek haar hand uit om hom te groet. Haar hande is mooi, met slanke vingers, koel en sag in die oggendlug. Sy buk af en soen vir Ezra op sy mond, wat hy met die agterkant van sy hand vies afvee.
Alhoewel die band dieselfde grootte is as die ou een en die aluminium wiel ‘n ander fabrikaat is, pas alles uiteindelik. Dit kos baie geld, wat Skeer weereens met kontant betaal. Hy maak of hy nie die vraagteken op Koos se gesig kan sien as die man die gat duidelik as koeëlskade kan eien nie.
Wanneer hulle weer naby die gastehuis verbyry, kyk Skeer onwillekeurig in daardie rigting.
“Dis ‘n mooi tannie, nê Oom?”
“Sy is. Maar onthou, sy het vir jou gesoen en nie vir my nie.”