ROBEY LEIBBRANDT VERTEL SELF (37)SLOT

Outobiografie van Robey Leibbrandt:

GEEN GENADE

Lees reeks by Robey Leibbrandt vertel self

In die arena van moed, durf en daad, het, kan en sal die Suid-Afrikaner sy man staan teen die beste in die wêreld. Waarom gryp Duitse en Engelse skry­wers my oorlogsavonture aan om sensasiebeluste lesers te bevredig? Waarom skrywe hulle nie oor hulle eie mense nie? Is my avonture dan so fantasties dat dit altyd afgewater, verdraai en uit verband geruk moet word? Waarom moet daar in boeke, tydskrifte en nuusblaaie gedurig gelieg word oor wat ek gedoen en nie gedoen het nie? Selfs hier in my vaderland is daar sekere nonentiteite wat twyfel aan die waarheid van my skrywe. Is dit onbeteuelde haat of verag­telike jaloesie? Of is dit die vrug van 'n inherente minderwaardigheidskom­pleks wat altyd neig om alles en almal af te bring na hulle eie nederige niveau?

Dit is gewoonlik hierdie lafhartige en minderwaardige idiote wat gedurig kompensasie soek vir hulle eie tekortkominge deur ander op neerhalende wyse aan te val. Die aanvalle het, met weinige uitsondering, altyd 'n party­politieke kleur. So word genl. Hertzog deur hierdie kreature voortdurend bestempel as 'n verraaier. Wie, wat, hoe en waar hy die verraad gepleeg het, weet nugter alleen. Hulle bewysredes hoort tuis in 'n malhuis. Selfs daar sal dit verwerp word. Indien so 'n groot Afrikaner op skaamtelose wyse be­swadder word, het ek, van alle mense, die minste rede om te kla.

Hoe hoog genl. Smuts as leier bo die ander uitgetoring het, kon duidelik gedurende die oorlogsjare gesien word. Hy was 'n reus. Aan die militêre front was hy die groot veldheer. Aan die politieke front was hy die onverskrokke leier en argitek. Sy woord was wet en orde. Hy was die stukrag, die inspirasie en brein van bykans heel Suid-Afrika. Hy en hy alleen kon sy politieke vyande sonder slag of stoot ontwapen.

Hy het hulle ontwapen op 'n wyse ongekend in die geskiedenis van volkere. Daardie ontwapening het my diep getref. Vir my was dit 'n vernedering, 'n weergalose ontering, 'n onvergeetlike skande. Nie genl. Smuts nie, maar die sogenaamde leiertjies van die ontwapendes was skuldig hieraan. Sonder genl. Smuts sou dit ook nooit gebeur het nie. Sy dinamiese persoonlikheid het gelyktydig respek afgedwing en vrees ingeboesem. Sonder hom sou die Suid­-Afrikaanse oorlogspogings soos 'n kaartehuis inmekaar getuimel het. Sonder ­hom sou duisende lede van die O.B. tot ontnugtering gekom het. Sonder hom sou daar chaos in die land ontstaan het. In hierdie lig het ek sake gesien. Dit was ook die slotsom van my ontleding. Ek het onwrikbaar geglo in my siening. Duisende Suid-Afrikaners het in die Noorde 'n heroïese stryd gestry vir wat hulle geglo het is reg. Menigeen lê vandag in die woestyn begrawe. Genl. Smuts het sy verpligtinge teenoor die Geallieerdes nagekom. Sonder sy toe­doen het Kommunistiese Rusland hom in die stryd teen Nasionaal-Sosialis­tiese Duitsland gewerp. Kommunistiese Rusland het plotseling'n bondgenoot van Suid-Afrika geword.

Genl. Smuts was 'n groot leier, maar ongelukkig geen groot staatsman nie.

Die ateistiese Kommunis was die Suid-Afrikaanse soldaat se wapenbroer. Ek glo stellig dat genl. Smuts ons dapper seuns uit die Noorde sou laat terugkeer het as hy maar net kon. Helaas, dit was te laat. Daar was geen keuse meer nie. Die begonne stryd moes tot sy verderflike einde deurgevoer word.

Ek wou die bondgenootskap met Kommunistiese Rusland beëindig. Ek wou my deel bydra om te voorkom wat vandag werklikheid geword het. Wees dapper, wees ridderlik en wees opreg. Lees die skrif aan die muur en erken ek was reg. Kommunistiese Rusland gaan seëvier.

Ywerig het ek die lede van die Nasionaal-Sosialistiese Rebelle meegedeel hoe om brand-, brisant- en tydbomme te vervaardig. Ek het oor horlosies beskik wat sewe dae kon loop. Die dinamietlading sou op 'n gegewe uur en tydstip ontplof. Die verbindingslinies na die Noorde moes opgeblaas word. Die publiek en spoorwegpersoneel moes vroegtydig gewaarsku word. Daar sou geen bevel vir so 'n optrede wees nie. Ek en ek alleen sou die teken gee. Wat die teken sou wees, het niemand geweet nie. Dit sou nie nodig wees om te raai nie. Die teken sou Suid-Afrika tot in sy fondament skud. Die hele wêreld sou dit verstaan. Die reuse-leiersgestalte van genl. Smuts sou op die regte sielkundige moment soos 'n geweldige eikeboom neergevel word. Ek as leier van die Nasionaal-Sosialistiese Rebelle sou hierdie vreeslike daad pleeg. Sonder hulp en sonder bystand sou dit geskied. Nie in donker gange of langs beskutte weë nie, maar in die openbaar en in die teenwoordigheid van sy volgelinge. Hy sou op die verhoog en ek op die vloer gesterwe het. Hy deur 'n nietige stukkie lood in 'n koeël gegiet. Ek sou gehang gewees het.

My getroue kameraad Johannes van der Walt sou my plek as leier ingeneem het. Nou kan almal verstaan waarom ek sê dat die klag van hoogverraad teen my hopeloos vals geformuleer was. Nou kan iedereen begryp waarom my toespraak in die Hooggeregshof, toe ek ter dood veroordeel is, doelbewus vervals is. Advokaat Lutge — die hoofstaatsaanklaer tydens my verhoor — se artikel in Die Brandwag in 1959 was misleidend vaag. Hy erken dat daar geen soliede saak teen my was nie en tog is ek gevonnis om die hoogste tol aan die galg te betaal.

Hoewel adv. Lutge se optrede in die hantering van my saak nie altyd ridderlik was nie, is hy desnieteenstaande 'n besonder knap regsgeleerde. Aan sy assistent, wyle adv. Barret, kom die hoogste lof toe vir die wyse waarop hy hom van sy taak gekwyt het.

Van al die regsgeleerdes wat 'n aandeel gehad het in hierdie opspraakwekkende hoogverraadsaak, gaan die lourierkrans aan adv. C.P. Bresler. Hy het kop en skouers bo die ander uitgetoring. Geen wonder dat hy later een van ons land se knapste regters geword het nie.

Die Voorsienigheid het dit so beplan dat ek nie gehang is nie. God het ook bepaal dat genl. Smuts 'n natuurlike dood sou sterf. Hoe anders kon dit gewees het nie! Indien ek met die val van Tobruk nog op vrye voet was, sou dit die gegewe moment gewees het om Jan Christiaan Smuts van sy troon te laat tuimel. Die moraal van sy oorlogsondersteuners het toe sy laagwatermerk bereik.

My selfopgelegde missie en vasberade plan om genl. Smuts dood te skiet durf nooit dien as navolgenswaardige voorbeeld vir selfs die grootste politieke skollie nie. My optrede moet egter gesien word in die tydsgewrig en teen 'n agtergrond wat hom miskien nooit weer in menseheugenis sal voordoen nie. Dit was trouens ook in hierdie stormagtige tye dat die Geallieerdes alles in hulle vermoë gedoen het om veldmaarskalk Rommel, die geniale Duitse veld-heer in Noord-Afrika, te vermoor. Dit is reeds geskiedenis dat die Britse geheime diens manne aangestel het om hierdie daad te pleeg.

Net soos die Geallieerdes veldmaarskalk Rommel beskou het as die leier en stukrag van die spilmagte in Noord-Afrika, het ek genl. Smuts tereg erken as die magtige militêr-politieke skakel in Suid-Afrika se bondgenootskap met die sadistiese Kommunistiese Rusland.

Hoe suiwer ek die grootheid en fenomenale bindingskrag van genl. Smuts as politieke leier gesien het, kan duidelik afgelei word van die partypolitieke patroon wat na sy dood tot stand gekom het. Sy eertydse kragtige politieke party het hom teen die rotse van vertwyfeling te pletter geloop.

Toe die gryse generaal op sy sterfbed op Irene gelê het, het ek 'n telegram aan hom gestuur. Die afskrif van hierdie telegram met die Hermanus-poskan­toorstempel daarop is nou nog in my besit. Ook die antwoord van genl. Smuts se sekretaris, mnr. Cooper, is in my plakboek te vinde. Die telegram het soos volg gelees: "Ek respekteer u as 'n groot leier, 'n moedige vegter en 'n dapper vyand. Spoedige herstel, Generaal."

Vergeet was die haat van gister. Vergeet was die lyding en pyn. Dit was 'n stryd sonder genade. Dit was my antwoord op die roepstem van Suid-Afrika.

Kort na my vrystelling uit die gevangeneskap is ek met die oulikste nooien­tjie getroud wat ek in my omswerwinge ontmoet het. Sy is intelligent, lewens­lustig en liefdevol. Ook besit sy al die basiese eienskappe vir leierskap. In 1948 was sy die hoofmeisie van die Hoërskool Goudini op Rawsonville. Saam met my het sy die stryd aangedurf teen dreigende armoede en saam het ons geseë­vier. Nooit het sy gekla of my verwyt nie. Moedig het sy haar sorge en laste gedra, getrou aan die tradisie van ons voorgeslagte in Suid-Afrika.

Uit die huwelik is vyf kindertjies gebore: Hermann, Remer, Izan, Rayna en Meyder Johannes. Klein Remertjie rus vandag in 'n graffie in Pretoria.

EINDE