ROBEY LEIBBRANDT VERTEL SELF (26)

Outobiografie van Robey Leibbrandt:

GEEN GENADE

Lees reeks by Robey Leibbrandt vertel self

Indien lesers die ware weergawe oor die nasionalisme, geloof en waagmoed van Robey Leibbrandt wil weet, moet u hierdie reeks nie misloop nie. Daar het onlangs ‘n liberale weergawe verskyn waarvan die skrywer in ‘n TV-onderhoud op die vraag waarom hy oor Leibbrandt geskryf het, geantwoord het: “’n Mens kan nie net oor goeie mense skryf nie”. Die suggestie wat hy laat dat Leibbrandt ‘n ‘slegte mens’ was, kom ooreen met die liberale inhoud van sy boek.

Dr. J.F.J. van Rensburg veroordeel homself

Op 6 Desember 1941 verskyn in Die Vaderland 'n verslag oor dr. Van Rens­burg se toespraak in Bezuidenhoutvallei, Johannesburg. Hierdie koerant het gedurende die oorlogsjare die bedrywighede van die Ossewabrandwag breed­voerig gerapporteer. Die verslag lui:

"Seker twee-derdes van die mense in die leër is vandag Afrikaners wat om ekonomiese nood, uit avontuurlus of uit oortuiging in die Noorde is. Ons eer daardie seuns van ons. Daar is meer O.B.'s in die Noorde as wat baie van ons besef. Hulle ... daardie Afrikanerseuns, sal terugkeer na die boesem van hul volk en die O.B."

Met albei hande het ek na hierdie toespraak gegryp en in my tweede pam­flet 'n deeglike ontleding gegee van die implikasies wat hierdie woorde in­gehou het.

In hierdie warboel is die plan sorgvuldig gesmee om my in 'n lokval te lei. Onverwags ontvang ek een oggend 'n brief van Erna Eggert. Sy en kaptein Taillard, alias mnr. Black, sou my op 24 Desember kom haal. Ons sou saam 'n hooggeplaaste persoon digby Pretoria gaan spreek, wat dit moontlik so kon bewimpel dat die Ossewabrandwag van hulle leier, dr. Hans van Rensburg, ontslae kon raak. Weer het sy haar vertroue in Taillard uitgespreek en weer het sy my die waarborg gegee dat Taillard 'n eerlike en opregte mens is.

Erna Eggert, vergesel van Taillard, het op die vasgestelde tyd en datum hulle opwagting by mev. Maack se woning gemaak. Ons het almal in die voor­huis plaasgeneem waar ek my tweede pamflet aan almal teenwoordig voorge­lees bet. Aan die slot van my voordrag het Taillard opgespring, met uitge­strekte regterarm gesalueer en "Heil Hitler!" uitgeroep. Sy optrede het my so diep geskok dat ek onmiddellik geweier het om saam met hom en Erna te gaan. Hierdie gebaar van Taillard was heeltemal teenstrydig met my opvatting van Nasionaal-Sosialisme en ek moes toe reeds geweet het dat iets skort.

Erna Eggert het 'n lang pleidooi gelewer waarom ek haar en Taillard na Pretoria moes vergesel. Taillard het selfs so ver gegaan om sy motor aan te bied waarmee ek die volgende dag na Johannesburg kon terugkeer om my af­spraak met 'n groep lede van die Ossewabrandwag na te kom. Uiteindelik het ek ingewillig om saam te gaan


Hoe ek oorrompel is

Terwyl ons na die motor stap, het Taillard my vertel dat hy voorsorgmaatreëls getref het vir ons veiligheid. Nie alleen vals nommerplate nie, maar ook ba­lonne is aan die motor geheg om kastig uiting te gee aan die vrolike stemming waarin ons op Ou Kersaand verkeer. Hy het drie Kersfeeshoedjies te voorskyn gehaal en aan ons uitgedeel.

Ons was skaars 'n honderd tree van die huis af weg toe ek opmerk dat die toutjies waarmee die balonne voor aan die motor vasgemaak was, te lank was en maklik kon breek. Taillard het stilgehou en ek het hom gehelp om die balonne korter vas te maak. Weinig het ek geweet dat dieselfde balonne juis my teenwoordigheid in die motor moes verraai.

Ek het langs hom gesit en hy het die hele pad aan my getorring om maar liewer die motor te bestuur daar hy nie die pad so goed ken nie. Taillard het al stiller en stiller geword.

"Hoe lyk dit my jy is bekommerd oor iets?" het ek hom uitgelok. "Nee wat, dis sommer niks," het hy geantwoord.

Hoewel ek dit daarby gelaat het, kon ek tog voel dat daar iets buitengewoon verkeerd was met die eertydse polisie-offisier. Sy swygsaamheid het my gehin­der. Ek het geen rede gehad om te dink dat die man se houding nie 'n skul­dige gewete spruit nie. Daarvoor het ek te veel vertroue in die vriende van Erna Eggert gehad.

Op enige reis het ek gewoonlik my pistool op my skoot gehou, maar daardie aand het ek dit in my broek se agtersak gedra. Waarom, weet ek self nie. Net toe ons 'n hoogtetjie voor die brug oor Sesmylspruit binne Pretoria bereik, hou Taillard stil. Die motor wat al agter ons gery het, het verby­gesteek. Ons het na die bome langs die pad gestap, 'n rukkie vertoef en toe stadig verder gery. Hoe nader ons aan die brug gekom het, hoe stadiger het Taillard gery. Meteens het ons in die ligte van die motor 'n hele paar motors oorkant die bruggie gesien staan.

"Waarom staan daar so baie motors?" wou ek weet.

"Ek wonder self," het Erna gesê.

"Seker 'n ongeluk," het Taillard beduie.

Ons het stadig oor die bruggie gery — so stadig dat ek met 'n gebreekte been sou kon saamstap. Net toe ons oor die bruggie was, het 'n motor plotse­ling van die regterkant skuins voor ons ingetrek. Ek wou net op die vermetele padvark skel, toe Taillard stilhou. Die motor was nog aan die beweeg toe ons van alle kante oorval word. Alles het blitsvinnig gebeur. Die deure van die motor is vinnig oopgepluk. Twee, drie manne het agter in die motor gespring en 'n wurggreep om my nek geplaas. Gelyktydig is Taillard met een enkele pluk agter die stuur van die motor uitgeruk. Hy het geen weerstand gebied nie en tog het iemand hom met 'n knuppel oor sy kop geslaan. Of Taillard geveg het, weet ek nie; ek was intussen te besig om met die polisie te worstel. Hulle het my kop agteroor getrek en my aangehou wurg. Binne enkele sekondes is twee paar handboeie om my gewrigte geslaan. ‘n Polisie-offisier het digby die motor gestaan en bewe. Sy pistool het teen die motor se ruit, vlak voor my gesig, gerittel.

"Jy wat so bewe, waarom skiet jy nie? Skiet bl ... skiet!" het ek uitgeroep. Reikhalsend het ek daarna uitgesien dat iemand my moes skiet. Ek wou nie lewe nie en het verkies om liewer te sterwe. Dit was vir my op daardie oomblik blik 'n groot vernedering om lewendig oorrompel te word.

Met veel gesukkel is ek uiteindelik uit die motor getrek. Taillard het bewusteloos op die grond uitgestrek gelê. Bloed het uit die wond aan sy kop uitgesypel. Die hou met die knuppel was seker vir my bedoel. Die polisie verwag dat ek agter die stuur sou sit.

Die hele omgewing het gewemel van polisiemanne en soldate. Twee kolonelle was in bevel van hierdie veertig of vyftig uitgesoekte manne. Die soldate is gebruik om die masjiengewere te beman wat langs die pad gereed gestaan het.

Dit mag vir die oningeligte persoon fantasties klink dat soveel manne gebruik is om een persoon te oorrompel, maar wie kennis dra van die organisatoriese deeglikheid van die SA. Polisie sal weet dat hierdie getalle geens oordrewe is nie. Indien ek net daarin kon slaag om my pistool in die hande te kry, sou ek daardie aand gesterwe het soos ek graag wou.

Die forsgeboude Springbok-rugbyspeler, Lucas Strachan, en ene Nel het weerskante van my ingehaak en my half gedra en half gesleep na 'n troeldraer wat aan die einde van die motors gereed gestaan het.

Skielik het ek 'n geweldige slag agter my nek gevoel soos iemand my met die vuis geslaan het. "Jou verduiwelde lafaard," het ek geskel. "So ken ek jou soort. As ek my rug draai, is jy man, maar as ek storm, hardloop jy!" Met stortvloed vloekwoorde het ek my veragting vir die lafaards in die gelede van die polisie uitgebasuin.

In my magteloosheid het ek nie lus gehad om gissings te maak oor hoe polisie geweet het dat ek op pad na Pretoria was met 'n motor waaraan twee balonne vasgemaak was nie.

Eers toe ek in die troepedraer sit, het ek weer tot verhaal gekom.

"0 so," het ek aan die klomp gewapende polisiemanne gesë wat saam met my in dieselfde troepedraer geklim het, "dan het julle wel gehoor gegee aan my uitdaging dat 'n regiment van genl. Smuts nodig is om my in hegtenis neem."

"Nee,” het een geantwoord, "soveel is ons darem nie. Die ander wat jy sien sit is net nuuskierige lede van die publiek."

"Wat maak die klomp soldate dan hier?"

"Dit moet jy vir die kolonel vra."

"Maar hoekom het julle nie geskiet nie? Julle skiet dan so graag... Ek sou liewer in 'n skermutseling wou sterwe as om lewend in die kloue van die Regering te val," het ek my gemoed gelug.

Nog steeds ingehaak deur Strachan en Nel, en gevolg deur 'n menigte ander, is ek met my aankoms by die SA. Polisie-hoofkantoor na kol. Bill Coetzee se kantoor geneem.

Toe ons by die deur inkom, het ek die speurder gesien wat Hendrik Eras­mus naby Warmbad agter in die kop geskiet het. Met byna bomenslike krag het ek my losgeruk uit die greep van Strachan en Nel en op die speurder­sersant afgestorm.

"Jy het mos een van my beste manne doodgeskiet," het ek woedend uitge­roep.

Met my geboeide hande bo my regterskouer, het ek gestorm en toe met ge­weld geslaan. Die speurder het net betyds sy kop teruggetrek. My kneukels het hom skuins teen die kakebeen getref. Hy het geskuif soos hy val.

Gou was die ander speurders by om my te pak en op 'n stoel vas te druk. Die sersant het vinnig na die deur gestap, omgedraai, sy pistool uit sy sak gehaal en dit dreigend aan my getoon.

"Met dieselfde blink pistooltjie het jy nou die dag by die pastorie gehardloop dat jou baadjiepante styf staan. Waarom wys jy dit vir my? Gooi die ding weg en kry vir jou 'n paar tekkies," het ek hom toegesnou.

Brigadier Baston, toentertyd Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisie, het die kantoor binnegekom. Hy het my vas in die oë gekyk, maar niks gesê nie. Geen merkbare teken van triomf was in sy oë of op sy gelaat nie. Hy het geweet dat die fyn uitgewerkte polisieset onverwags en blitssnel uitgevoer is en dat ek geen kans gekry het om my hand selfs naby my pistool in my agter­sak te bring nie. Hy het my geken en het geweet dat ek nie sou aarsel om te skiet nie.

Onderwyl ek daar op die stoel gesit het, het Erna Eggert en Taillard die ver­trek binnegekom. Hulle was vergesel deur 'n aantal speurders met kol. Bill Coetzee aan die spits.

Taillard het daar bedremmeld uitgesien ten gevolge van die hou wat hy met die knuppel oor die kop gekry het. Later het dit deurgeskemer dat Taillard se voorstel dat ek die motor moet bestuur, bedoel was om te verhoed dat ek my pistool gebruik.

Toe ek Erna Eggert sien, het ek woedend uitgeroep: "Daardie vrou het niks met my optrede te doen nie. Laat haar loop ... laat haar gaan!"

Met vlammende oë en grimmig het ek gesit en wag op die eerste vraag van die polisie aan my. Ek was vasbeslote dat nòg die polisie, nòg enige nuwer­wetse metode, nòg die dood, een enkele woord oor my koms na Suid-Afrika en my doel en strewe hier uit my sou pers. Uit my sou hulle geen woord en geen naam kry nie.

Op daardie tydstip is egter geen vraag gestel nie. Alles wat in my sakke was is verwyder en op 'n tafel geplaas. Daarna is ek onder sterk geleide na polisieselle geneem.

Voor my sel is sewe gewapende wagte geplaas. Die ander het agter my stelling ingeneem. Aangesien die polisie geweier het om die handboeie om my gewrigte te verwyder, was ek genoodsaak om die hele nag met die knelle ysters op die sementvloer van die sel deur te bring.

Na 'n rustelose nag in die sel was ek die volgende oggend vroeg nog steeds geboei, en moes ek ervaar hoeveel opspraak my inhegtenisneming onder die polisie verwek het. Nuuskieriges het ingestroom om my te besigtig en ek het kompleet soos 'n leeu in 'n sirkushok gevoel. Hoewel dit Kersfees was, was daar geen verslapping in my bewaking nie. Die handboeie het om gewrigte gebly en is selfs nie verwyder toe ek my ontbyt ontvang het nie, die gevolg dat ek geweier het om te eet.

Later die oggend is ek toegelaat om in die klein agterplasie op en of te loop vir oefening. Taillard wat vir die nag in die sel langs my opgesluit was, is toegelaat om by my aan te sluit.

"Wie dink jy het ons verraai?" was my eerste vraag aan hom.

"Nee, man, dit sou ek nie kon sê nie," het hy ewe onskuldig geantwoord. "Dit is darem deksels eienaardig dat die polisie grootskeepse voorbereiding kon tref terwyl niemand behalwe ons van ons rit geweet het nie." "Ja, die saak is vir my ook duister, maar miskien het iemand ons bewegings dopgehou."

Die tronkgeneesheer het die gesprek onderbreek deur Taillard te ontbied sodat hy die knuppelwond kon toewerk. Onderwyl die dokter besig was die plekkie te behandel, het Taillard flou geword. Ondertussen is ek in my sel geplaas. Kort daarna het ek gehoor hoe Taillard hardop met 'n seun Louis Esselen gesels. Dit het tot my deurgeskemer dat hulle met opset gepraat het dat ek kon hoor. Die gesprek was van so 'n aard dat ek onder indruk moes kom dat Taillard se verhouding met my eg was. Dit was die eerste keer dat ek Taillard werklik gesien het.

Indien die polisie gedink het dat hulle my met sulke toneelspelery om die bos kon lei, het hulle hulle terdeë misgis.

Op Kersdag is ek onder besondere sterk geleide na die tronk in Potgieterstraat geneem. Voor en agter die vangwa waarin ek was, het polisiemotors met masjiengewere gery. Hierdie voorsorgmaatreëls het my glad nie verbaas nie, want ek het geweet dat die polisie bang was dat my volgelinge my probeer bevry.

By die tronk is ook 'n buitengewone maatreël getref. In stede van voor die tronk stil te hou, het die vangwa by die groot staaldeure ingery. Eers na die deure gesluit was, is ek uit die vangwa gehaal. Vir die eerste keer na wat agttien uur was, is die handboeie verwyder.

Die eerste nag in die tronk kon ek weer rasioneel dink en het die gebeure van die voorafgaande paar dae helder voor my opgedoem. Toe die bestuurder van die tronk my die volgende oggend vra wie my aan die polisie uitgelewer het, kon ek sonder aarseling antwoord: "Ja, natuurlik weet ek. Dit is daardie ver... Taillard."

"Ek dink ook so," was sy mening. Later het hy my egter probeer oortuig dat dit in werklikheid nie Taillard was nie. Die polisie het hom natuurlik voorgesê om dit te doen, daar hulle bang was dat my volgelinge op Taillard sou toe­slaan. Eers ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog het Taillard aan die Engelse pers verrel hoe hy my en sy getroue vriendin, Erna Eggert, in die polisielokval laat beland het.
Vervolg...