ROBEY LEIBBRANDT VERTEL SELF (24)

  Outobiografie van Robey Leibbrandt:

GEEN GENADE

Lees reeks by Robey Leibbrandt vertel self

Indien lesers die ware weergawe oor die nasionalisme, geloof en waagmoed van Robey Leibbrandt wil weet, moet u hierdie reeks nie misloop nie. Daar het onlangs ‘n liberale weergawe verskyn waarvan die skrywer in ‘n TV-onderhoud op die vraag waarom hy oor Leibbrandt geskryf het, geantwoord het: “’n Mens kan nie net oor goeie mense skryf nie”. Die suggestie wat hy laat dat Leibbrandt ‘n ‘slegte mens’ was, kom ooreen met die liberale inhoud van sy boek.

Drie jong Afrikaners betaal die hoogste tol

Een oggend het Marie Wilz met bedroewende tyding by my aangekom. Hendrik Erasmus is naby Warmbad in die Transvaal deur die polisie doodgeskiet. Ek het gevoel of die wêreld om my in duie stort.

Volgens 'n koerantberig van 25 Junie 1942, het sersant FA. Fourie tydens my verhoor onder andere getuig dat hy op 27 November 1941 na die plaas Buffelshoek, Waterberg, gegaan het. Hy het 'n lasbrief vir die inhegtenisneming van Karel Theron en Hendrik Erasmus gehad.

 

"Die speurders het omtrent 'n myl van die opstal stelling ingeneem en die huis met verkykers dopgehou. Kort na sonop het twee blanke persone die huis genader en getuie het later 'n motor na die huis sien kom. Omstreeks elfuur het getuie, sersant Spengler en Liebenberg weerskante van hom geplaas en na die huis gegaan.

"Hulle het onder dekking van 'n plantasie die huis genader. Elkeen van die drie speurders was gewapen met 'n .303-diensgeweer. Naby die huis het getuie Theron sien sit, maar toe Theron getuie sien, het hy by die huis ingevlug. Spengler het daarop geskreeu dat Theron en Erasmus die wyk neem. Getuie het geskreeu dat hulle moes staan of die polisie sou skiet. Hulle het geen gehoor aan die bevel gegee nie en getuie het die bevel gegee om te skiet."

Hendrik Erasmus is dodelik gewond, maar Theron het in die bos ontsnap. Onder kruisverhoor het sers. Fourie verklaar dat die klag in die lasbrief in verband met brandstigting in die winkel van 'n sekere Alfred Levy gestaan het. Ook het hy verklaar dat Hendrik se broer, Doors Erasmus, histeries was en herhaaldelik gedreig het om weerwraak te neem.

In die hof is 'n brief ingehandig wat Karel Theron aan Hendrik Erasmus se ouers en broers geskrywe het. Dit lui soos volg:

Beste oom Jan, Mevrou, Doors en Jannie,

Dit is vir my swaar om uitdrukking aan my gevoel vanmore te gee. Vir my was hy soos 'n broer en sy bloed wat om wraak roep, sal so seker gewreek word. Tienduisendvoudig! Die polisie was besig om ons uit die bloekombome se kant te bekruip toe ek toevallig een gewaar het. Ons het langs mekaar gehardloop en was omtrent driehonderd tree weg toe hulle begin skiet het; ek het deur die draad gestruikel en Hendrik het skuins voor my gehardloop. Meteens het hy inmekaar gesak en het nie op my vraag geantwoord toe ek wou weet of hy geskiet is nie Die polisie het aanhoudend geskiet; ook die oomblik wat ek by hom stilgestaan het. Daar was geen geroep dat ons moes staan of oorgee of enigiets dergeliks nie ... hulle het sommer geskiet. En nou, my vriende, wees getroos. U het 'n mooi seun en broer verloor, seker die dapperste wat ek geken het. Sy bloed kan ek u egter verseker, is nie nutteloos verspil nie. Nou sal u sien hoe daar geslaan word. Hoe graag ek ook al die begrafnis wil bywoon, is dit vir my onmoontlik. Sy gees sal saamstry totdat ons die eindoorwinning behaal het. As dit moontlik is, sou ek graag van u wou sien.

Met beste groete en innige deelname in u swaar verlies.

U vriend; Kallie

By Hendrik se graf het sy vader 'n bottel bloed op die kis geledig. Terwyl hy met hierdie aandoenlike daad besig was, het hy in 'n bewerige stem gesê: "Nog 'n boompie op die pad van Suid-Afrika!"

Kort na hierdie treurige voorval het 'n nog groter treurspel die Afrikanervolk tot in sy murg geskok. Karel Theron en Doors Erasmus is afgryslik ge­dood deur 'n dinamietlading wat op die treinspoor naby Denneboomhalte in die distrik Pretoria ontplof het.

Op 28 Mei 1942 het sersant Van Heerden op 'n vraag van advokaat C.P. Bresler verklaar dat dit moontlik is dat die poging om die treinspoor in die lug te laat vlieg 'n wraakmaatreël was en nie die voorbedagte plan van 'n organisasie nie.

Speurdersant F.A. Fourie het getuig dat die polisie bewus was van die ver­vreemding wat daar tussen my en Karel Theron plaasgevind het. Die twee Erasmusbroers was onder die invloed van Karel Theron. Karel was nie ge­diend met die idee dat daar getalm moes word totdat die regte sielkundige oomblik aanbreek om te slaan nie. Al wat hy geweet het, was dat ek 'n teken sou gee wanneer daar met harde slae teen die vyand opgetree sou word. Hy het wel geweet dat die Suid-Afrikaanse volk vroegtydig in kennis gestel sou word alvorens die verbindingslinies na die Noorde in die lug geblaas word. Daar sou 'n versoekskrif aan die pers gerig word om die publiek te waarsku dat die gebruikmaking van die Suid-Afrikaanse Spoorweë na 'n sekere datum 'n dobbelspel met die dood sou beteken. Hoewel dit 'n skrikwekkende gedagte is, moet ek tog hier meld dat ek oor genoeg tydbomme beskik het om die ver­voer na Noord-Afrika vir 'n geruime tyd lam te lê. Ongelukkig sou hierdie optrede die lewens geëis het van spoorwegwerkers wat as onskuldige en stand­vastige Afrikaners beskou kon word. Dit was egter oorlog en oorlog ken geen genade nie. Dink maar aan die duisende onskuldige vroue en kindertjies wat die wrede bomaanslae ten prooi geval het. Dink maar aan die leed en pyn, smart en verdriet; ja, dink aan die dood en verwoesting wat die oorlog oor die wêreld gesaai het.

Karel Theron en Hendrik Erasmus was patriotte in die edele sin van die woord en hoewel net Karel bewus was van my plan, kon hy sy daadlus een­voudig nie beteuel nie. Ek is amper seker dat, indien hy geweet het wat die teken sou wees wat ek sou gee, by hom in bedwang sou gehou het.

Ná my petalje met die polisie by die pastorie het ek Theron en Erasmus al­bei laat waarsku dat hulle nooit hulle rug op die polisie moes draai nie. "Toe ek my kop van die een groep polisie na die ander gedraai het, is daar op my gevuur. Indien ek my rug sou gedraai het, sou ek 'n lyk gewees het," het my boodskap aan hulle gelui.

Karel het my waarskuwing verontagsaam en later gepoog om saam met Doors die dood van Hendrik te wreek deur 'n trein wat troepe vervoer het, in die lug te blaas.

Hoe geheg die twee broers aan mekaar was, word duidelik weerspieël deur 'n gebeurtenis wat eendag op Warmbad plaasgevind het.

Doors het geweier om aan die polisie te vertel waar Hendrik en Karel hulle bevind en, om druk op hom uit te oefen, is hy in die tronk gestop. Toevallig was Gert van der Walt, die seun van oom Bert van der Walt, juis toe in die omgewing van Warmbad. Hy en Hendrik het daar en dan besluit om Doors daardie nag uit die tronk te gaan haal. Die groot probleem was dat nie een van hulle oor 'n vuurwapen beskik het nie. Gert het Hendrik egter gou oor­tuig dat hulle geen wapen nodig het nie.

"Wat stel jy dan voor?" wou Hendrik van Gert weet.

"Dis baie maklik," antwoord die Boerseun. "Sodra die bewaarder jou pak, sal ek hom bekruip en met hierdie kierie oor die kop slaan."

Die program van aksie is deeglik bespreek. Terwyl Hendrik na sy ouers se huis is om 'n vyl in die hande te kry, het Gert die tronk bespied. Toe Hendrik uiteindelik weer sy opwagting by die tronk maak, het hy die blye nuus aan Gert meegedeel dat Doors reeds tuis was. Sedert daardie aand is daar altyd na Gert Kierie verwys en dra hy vandag nog daardie naam.

In die Hooggeregshof het die twee staatsaanklaers, Lutge en Barret, alles in hulle vermoë gedoen om die onstuimige gedrag van die drie oud-kamerade op my skouers te skuif. Dat hulle nie geslaag het nie, is uitsluitend toe te skrywe aan die opregtheid van oud-speurdersersant FA. Fourie.

Dit is vir my as Afrikanerseun geen aangename taak om hier te meld dat mede-Afrikaners verantwoordelik was dat die polisie op Hendrik Erasmus en Karel Theron geskiet het nie.

Nieteenstaande die drie oud-kamerade se dood, het ek onverpoosd voortge­gaan met die afrol van my eerste pamflet. Die papier wat daarvoor gebruik is, het die Regering se watermerk gedra. Daar is 'n paar duisend van die pam­flette afgerol wat ek in die geheim oor die hele land wou laat versprei.

In die pamflet, gerig tot die "Kamerade in die SA. Polisie", het ek hewig te velde getrek teen die Smutsregime en sy bondgenootskap met die nihilis­tiese Mongool-Tartaarse Kommunistiese Rusland. Die Jode het ek beskuldig as die vaders, skeppers, leiers en agitators van die moderne Kommunisme. My aanvalle op die Kommandant-generaal van die Ossewabrandwag was vlym­skerp.

Hierdie pamflet is in een nag oor groot dele van die Transvaal en Vrystaat versprei. Aangesien ek niks meer van my volgelinge verwag het as wat ek self bereid was om te doen of reeds gewaag het nie, het ek op die afgesproke nag my deel bygedra om die pamflette op Heidelberg en ander plekke te versprei. Soos dikwels in die verlede, was ek ook hierdie keer deur vroue vergesel, en nie deur mans nie.

Daar was 'n jong seun, Kallie Wilz, saam met ons. Later het hierdie jong knaap in die hof 'n voorbeeld aan oud en jonk gestel. Op 'n vraag van die staatsaanklaer het hy geantwoord: "My moeder was in die tronk en my suster was in die tronk en ek was alleen. Die polisie het my aanhoudend geïntimi­deer met die gevolg dat alles wat ek aan die polisie gesê het, leuens was."

Hierdie woorde is gebesig ondanks die staatsaanklaer se waarskuwing dat hy nie mag afwyk van sy verklaring aan die polisie nie. Hy is gewaarsku dat hy andersins van meineed aangekla sou word.

Die manmoedige optrede van hierdie jong seun onderskraag net die stelling dat dapperheid 'n bestanddeel is van die besondere mens en dat dit nie kuns­matig aangekweek kan word nie.

Wanneer ek dink aan die bydraes wat die vroue, dogters en seuns gelewer het gedurende my stryd, wel 'n vloedgolf van deernis en trots in my op. Wat my in hierdie tye veral geamuseer het, was hoe die verskillende koeran­te in die donker rondgetas het oor al my doen en late. Onder reuse-opskrifte is daar in die dagbladpers die mees fantastiese stories oor my aan die publiek opgedis.

Een verslaggewer het selfs die vermoede uitgespreek dat ek stilletjies met 'n dame van Witbank in die magistraatskantoor getroud is. Hierop het ek ge­reageer deur die redakteur van die betrokke blad mee te deel dat ek nie alleen getroud is nie, maar dat my vrou my reeds twee seuntjies geskenk het en dat hulle Adolf Hitler en Benito Mussolini beet.

Die koerante het 'n vreeslike kabaal opgeskop oor die ywer waarmee die polisie na my soek. Onderstaande is 'n versameling van opskrifte uit enkele Johannesburgse koerante wat vandag in my plakboek pryk:

Police Searching for Robey Leibbrandt, Great Police Search for S.A. Boxer, Leibbrandt still at Large, Polisie het Leibbrandt reeds tevore in hande gehad, Union wide search for Leibbrandt, Wasteland Wanderer... Is he Robey Leib­brandt? Biggest Manhunt in S.A. History en Politieke Soektogte van Polisie uit­gebrei.

Nadat my eerste pamfiet op 2 Desember 1941 verskyn het, was die koerante natuurlik vol wilde bespiegelings. Een Engelse blad het selfs my skryfstyl as die van Adolf Hitler aan die publiek voorgestel. Hierop het ek natuurlik ge­antwoord en die brief in Noord-Transvaal laat pos. Onder die opskrif Robey Leibbrandt flattered by Hitler Comparison, het hulle my gedug aangeval oor die astrantheid om uit Noord-Transvaal aan hulle so 'n parmantige brief te skryf.

Die pers het onder andere die volgende opskrifte gebruik om die leserspubliek se aandag te trek: Leibbrandt writes his own `Mein Kampf Challenge to Van Rensburg, Leibbrandt warns Police to shoot straight or, ‘ I mow you down like barley'.  ens.

Terwyl ek rustig in Johannesburg gesit het, het die volgende berig inDesember 1941 in 'n Afrikaanse koerant verskyn onder die opskrif: Ernstige Onluste in Port Elizabeth. "Daar het 'n gespanne atmosfeer die afgelope week ontwikkel. Onder meer het 'n gerug rondgegaan dat Robey Leibbrandt hom hier in Port Elizabeth bevind."

Ek was die groot sondebok en vir enigiets opspraakwekkends is ek verantwoordelik gehou. Dis geen wonder dat my moeder later vinnig begin oud word het nie.
Vervolg...