ROBEY LEIBBRANDT VERTEL SELF (23)

  Outobiografie van Robey Leibbrandt:

GEEN GENADE

Lees reeks by Robey Leibbrandt vertel self

Indien lesers die ware weergawe oor die nasionalisme, geloof en waagmoed van Robey Leibbrandt wil weet, moet u hierdie reeks nie misloop nie. Daar het onlangs ‘n liberale weergawe verskyn waarvan die skrywer in ‘n TV-onderhoud op die vraag waarom hy oor Leibbrandt geskryf het, geantwoord het: “’n Mens kan nie net oor goeie mense skryf nie”. Die suggestie wat hy laat dat Leibbrandt ‘n ‘slegte mens’ was, kom ooreen met die liberale inhoud van sy boek.

Magaliesberg word my tuiste

Ingehaak het ek en my tante tot by die polisiemotor gestap waaruit een van die speurders die geweer getrek en toe weer laat los het. In die motor het ek drie gewere, twee paar handboeie en 'n lang tou gewaar.

"Kyk hier, tant Babs," het ek ergerlik uitgeroep. Ek het die geweer wat naaste aan die deur gelê het, gegryp en driftig na die eerste klip gestap met die doel om dit aan flenters te slaan. Speurderkonstabel Els het gesien wat my plan was en vinnig na my gestap. Hy het mooi gevra dat ek dit tog asseblief nie moet doen nie. Dit was nie die eerste keer dat ek deur mooi woorde getem is nie. Erg ontstoke het ek die geweer weggesmyt.

 "Volgens die hoofkonstabel se pleidooi moet ek saam met julle gaan of geïnterneer word en kyk wat lê alles hier agter in die motor. Julle het genoeg gewere en ammunisie om 'n klein oorloggie van stapel te stuur."

"Vergeet dit tog maar, Robey. Jy het meer vriende in die SA. Polisie as wat jy besef."

"Valse vriende, ja."

"Laat ons nie nou daaroor redekawel nie. Kom ons gaan liewer in die rondawel."

Toe ons die rondawel binnetree, stel Els voor dat ons albei op ons knie moet gaan en 'n gebed doen. Sy voorstel het my beslis nie beïndruk nie.

"Nee, jy kan maar jou oë toemaak en bid ... ek sal luister en jou reghelp waar jy verkeerd sê," het ek teengewerp.

Op daardie oomblik het ds. Joyce sy verskyning in die deur gemaak. Ek het om verskoning gevra en by die deur uitgestap, reguit na die motor wat Stadle op Witbank "geleen" het. Nadat ek my bagasie verwyder het, het ek my geweer geneem en na die pastorie gestap. Terwyl ek besig was om my geweer na te sien en skoon te maak, het Violet die vertrek binnegestap.

"Wat maak jy nou?" wou sy weet.

"Jy kan mos sien."

"Moenie skiet nie, Robey," het sy sag gepleit. "Die polisie is jou nie vyandig gesind nie. Moet hulle nie dwing om terug te skiet nie.

Ek het geantwoord: "Moenie kaf praat nie. Hulle het dan reeds op my geskiet. Gelukkig dat die kêrel so gebewe het, anders sou hy my doodgeskiet het. Onthou, hy het uiters vier tree van my gestaan toe hy gevuur het. Alleen jou pappie se kloekmoedige optrede het vandag bloedvergieting voorkom. Toe hulle hul rug op my gedraai het, kon ek minstens sewe uit die agt platgetrek het.

"Pappie is 'n Joyce en hy sal jou nooit in die steek laat soos daardie vriend van jou nie. Toe hy merk dat jy deur nege gewapende manne vasgekeer is, het by die hasepad gekies."

Violet se houding was kenmerkend van die Joyce-familie. Hul innerlike trots was nog altyd hulle duurste besitting.

Nadat ek die magasyn van my geweer met patrone gevul en van my niggie en tante afskeid geneem het, is ek daar weg. Vanwaar ek by die besproeiings­kanaal gelê het, kon ek die pastorie en omgewing deeglik bespied. Net die dominee se koringland was tussen my en die pastorie.

Skaars'n uur later merk ek dat 'n paar vragmotors, gelaai met polisiemanne in uniforms, agter die pastorie stilhou. Met geweer in die hand, het die polisie in enkelgelid die koringland gefynkam. Een van hulle het nie minder as vyftien tree van my verbygestap nie. Sy oë was stip op die grond voor hom gerig. Hy wou my blykbaar nie sien nie. Hulle poging was maar taamlik flou.

Al wat die polisie daardie dag uitgevoer het, was om ds. Joyce se koringland plat te trap. Teen die middag het die meeste van hulle weer op die vrag­motors geklim en weggery. Vier of vyf geregsdienaars het by die pastorie agergebly om my te verras indien ek die nag sou terugkom.

Teen sononder het ek begin koud kry. Ek was net in 'n hemp en broek ge­klee, en so naby 'n waterkanaal kan dit geniepsig koud word. Toe dit sterk donker was, het ek besef dat ek beswaarlik die hele nag daar langs die water sou kon deurbring sonder beter beskerming teen die koue. Ek wou nie graag daar weggaan nie, want ek wou die motortjie, waarmee Stadler my by Sout­pansberg gaan haal het, skraap en na 'n ander omgewing vlug, ingeval die polisie die omgewing verlaat. Gevolglik het ek besluit om die pastorie te bekruip en te kyk of ek nie van die polisie se jasse kon buitmaak nie.

Met 'n ompad het ek tot in die hoofweg gestap en toe die pad geneem wat na die pastorie lei. By die rondawel digby die hek waar ek die oggend met die polisie slaags geraak het, was 'n groepie polisiemanne besig om te rook en te skerts.

Versigtig het ek tussen die doringbome deurgestap tot sowat vyftien tree van hulle. Ek het teen 'n boomstam digby die huis gaan sit. Naby my, aan die anderkant van die draadheining, het twee konstabels met gewere oor hulle skouers langs die muur van die pastorie heen en weer gestap. Gespanne het ek, met my geweer in my hande geklem, gesit en wag. Plotseling gewaar ek 'n motor die pad afkom na die pastorie. Ek het geweet dat die motor alleen by die hek kon draai en dat sy lig gevolglik vol op my sou val. Die beste was om plat te val en gebeurlikhede af te wag. Toe die motor die draai by die hek maak, is die ligte gelukkig afgeskakel. Duidelik kon ek hoor hoe die een kon­stabel aan die ander sê: "Kom ons gaan kyk wie dit is."

Die nuuskierigheid van die geregsdienaars het my verlig laat voel. Aangesien daar geen jas was om te buit nie, het ek van die geleentheid gebruik gemaak om, sonder 'n warm kledingstuk, terug te stap na my ou skuilplek by die ka­naal waar ek die res van die nag deurgebring het.

Vroeg die volgende oggend was die polisie weer by die huis bedrywig. Toe ek weer sien, staan daar 'n lang, skraal polisieman op die dak. Hy het met 'n flitslig by die ventilasiegat van die huis se gewel ingelig asof hy na iets heel klein soek. Twee konstabels het vol belangstelling op die grond gestaan en hulle kollega dopgehou. My hande het gejeuk om op die polisieman wat in die ventilasiegat loer, te skiet. Ek wou maar net kyk hoe hy skrik as die koeël digby hom vasslaan. In stede van slapende honde wakker te maak, het ek maar besluit om my op die gras neer te vlei en te slaap.

Teen die aand het die polisie nog geen aanstaltes gemaak om die huis te verlaat nie, en ek het vermoed dat hulle opdrag gekry het om daar te bly tot­dat my tante se koffie opgeraak het. Toe dit donker was, het ek besluit om na die woning van mnr. Visser, toentertyd hoof van die skool op De Kroon en later Volksraadslid, te gaan.

Ek het 'n paadjie gevolg waarmee ek en my neefs, Murray en Carel, in 1931 een keer gestap het. Hoewel dit baie donker was, het ek goed gevorder tot by De Kroon se hoofpaaie.

Op die hoek voor 'n huis het 'n groepie mense gestaan en gesels. Uit vrees dat hulle my miskien vyandig gesind kon weer, het ek my geweer styf teen my been vasgedruk en mank-mank by hulle verbygestap. In stede van reguit te loop, het ek regs gedraai. Net toe ek oor die pad gaan, gewaar ek 'n motor wat stadig in my rigting beweeg. Gelukkig was daar 'n doringboom langs die straat waaragter ek kon skuil.

Die mense wat op die hoek gestaan het, het later aan mev. ds. Joyce vertel dat hulle duidelik kon hoor hoedat ek die grendel van my geweer oopruk en 'n patroon in die loop stoot, maar aangesien hulle my goedgesind was, het hulle niks laat blyk nie. Die motor wat vermoedelik aan die polisie behoort het, het stadig by my verby gegaan. Die insittendes het nie na links of regs gekyk nie.

Na veel gesukkel het ek uiteindelik by die woning van mnr. Visser gekom. Hy was verras toe hy verneem dat die persoon na wie die polisie soek en van wie 'n beskrywing in die omgewing versprei is, by hom kom aanklop. Nieteen­staande die polisie se waarskuwing dat my teenwoordigheid onmiddellik aan­gemeld moes word, het hierdie kranige ou stryder my in sy motor gelaai en teruggeneem na die pastorie waar my Amerikaanse dollars vergete gebly het. Daar die polisie nog steeds die pastorie bewaak het, was ek genoodsaak om by die kerk se hek af te klim en te wag totdat mnr. Visser terugkom.

Ds. Joyce het saam met mnr. Visser by die hek opgedaag en die geld aan my oorhandig.

Daar is besluit dat ek na 'n plaas, sowat 'n myl verder, sou gaan tot tyd en wyl ek na 'n veilige oord geneem kon word.

Later dieselfde aand het my tante, mev. ds. Joyce, deur die polisiekordon gebreek en my besoek op die plaas waar ek my toe bevind het. Die plaas het behoort aan 'n dapper en hulpvaardige oud-polisieman, wie se naam ek ongelukkig vergeet het. Sedert ek deur selfsuggestie en selfhipnose alle name uit my geheue uitgewis het, vind ek dit vandag nog moeilik om name in my ge­dagtes te registreer.

Toe alles die aand stil was, het die oud-polisieman my na 'n ander plaas geneem waar ek die nag en ook die volgende nag in 'n klein kliprantjie ge­slaap het.

Reëlings is getref dat ek die aand van 10 Oktober na 'n plaas van 'n sekere mev. Erna Eggert, wat aan die Magaliesberg geleë was, sou gaan. Die aand van 9 Oktober het dit hard begin reën, met die gevolg dat ek die hele nag gesit en bibber het van die koue. Om alles te kroon het ek die volgende aand ver­keerd geloop en lank in die bosse rondgedwaal voordat ek weer by die opstal van die oud-polisieman uitgekom het. Die omgewing daar was taamlik ruig en ek moes my gedurig loswoel uit die haak-en-steek-dorings. Onbewus het ek tussen die bosse deur my dollarnote wat in 'n leerbeursie in my hempsak was, verloor.

Laat die aand het Tollie Snyman, 'n waaghalsige jong klerk wat in die magi­straatskantore op Brits werksaam was, my na Erna Eggert geneem. Die eerste nag by hierdie Duitse vrou, wat stoksielalleen op 'n eensame plasie tussen die bosse aan die hang van die Magaliesberg gewoon het, het ek in die kombuis geslaap. Daarna het ek gereeld in die berg op sakke en blare vernag.

Indien daar eendag 'n boek oor mev. Erna Eggert geskrywe word, sal Die Heldin van Magaliesberg 'n paslike titel wees.

Onderwyl ek in die berg vertoef het, het ek van verskillende goedgesinde vriende nuus ontvang. Daar is onder andere aan my meegedeel dat die polisie daarin geslaag het om die radiosender op Soutpansberg te vind. Die twee Van der Walt-broers, Andries en Frikkie, is as gevolg van hierdie ontdekking geïn­terneer. Hierdie opsluitery agter 'n draadversperring het Andries glad nie aan­gestaan nie en na enkele weke in die Ganspankamp het hy saam met 'n maat ontsnap.

Daar is ook aan my vertel dat die polisie R1 000 uitgeloof het vir my uit­lewering, dood of lewendig. Foto's van my is by openbare plekke opgeplak. Aan hierdie snert het ek my hoegenaamd nie gesteur nie en besluit om tydens my verblyf in die berg 'n pamflet te skryf.

'n Berig in Die Transvaler van 14 April 1942 lui soos volg: "O.B.-Hoof sou versoek het dat Robey Leibbrandt geskiet moes word. Opspraakwekkende Staats­getuienis.

"Die tweede staatsgetuie wat reeds sy getuienis afgelê het, is onder kruis­verhoor geneem. Hy het onder andere verklaar dat dr. J.F.J. van Rensburg, Kommandant-generaal van die O.B., hom opdrag gegee het om Robey Leib­brandt te skiet en van die gras of te maak. Dr. Van Rensburg was baie opge­wonde oor die moord van Leibbrandt. Dr. Hans van Rensburg was baie ern­stig toe hy gesê het: 'Skiet hom, maak hom uit die pad.'

"Getuie meen dat dr. Van Rensburg geglo het dat getuie Leibbrandt sou skiet. Dr. Van Rensburg het met getuie gepraat omdat getuie in die polisiediens was en hoof van Leibbrandt se beweging in die Vrystaat. Daar was

ander persone ook teenwoordig, onder andere sersant Hendrik Annandale.

"Van De Jager, Assistent-Kommandant-generaal van die Vrystaat het getuie verneem dat die Ossewabrandwag 'n brief van Adolf Hitler, wat Leibbrandt sou saamgebring het, in die hande het."

Hierdie getuie is op versoek van die hof deur die pers beskerm en as "Sersant X" beskryf.

Dis eienaardig hoe die leuen wat ek die aand in die motor naby Silverto aan dr. Hans van Rensburg opgedis het, later 'n metamorfose ondergaan en in 'n brief van Adolf Hitler ontpop het. Net so maklik soos die O.B. daardie selfopgemaakte versinsel geglo het, net so maklik het ek daarin geslaag or die Ossewabrandwag en die Herenigde Nasionale Party uitmekaar te jaag.

Die wysgerige stelling dat "die sterkere die sterkste is wanneer hy alleen staan," was na my mening ook van toepassing op die Herenigde Nasional Party. Dat ek reg was in my oordeel, is met die algemene verkiesing in 1948 bewys. Die skeuring was tog immers onvermydelik en indien dr. Hans van Rensburg tot kort voor die verkiesing met sy kaperjolle gewag het, sou daar verwarring in die geledere van die Herenigde Nasionale Party ontstaan het en sou die Verenigde Party beslis geseëvier het. "Slim" Jannie het hom met sy eie halter laat vang!

Dr. Hans van Rensburg het beslis nie baie van my gehou nie. Hy het dit gelaak dat ek, wat in Suid-Afrika net ligweg bekend was as 'n boksertjie, nou ontluik het as 'n politieke soldaat wat homself die astrantheid toegeëien het om 'n stok in die politieke hoenderhok van 'n voormalige Administrateur van die Vrystaat te gooi. Die kwota eiers wat sy politieke hoenderboerdery opgelewer het, het vinnig gekwyn.

Dat "Sersant X" nie meineed gepleeg het nie toe hy sy verklaring in die hof gemaak het, is deur sersant Hendrik Annandale en "Lange" de Beer aangedui, en selfs deur 'n O.B.-rapportryer bevestig.

In Die Transvaler van 4 Junie 1942 verskyn die volgende berig onder die opskrif: Gewese O.B.-Rapportryer in Getuiebank. Beweerde bevel dat Leibbrandt uitgelewer moes word.

"Die bewering dat dr. J.F.J. van Rensburg 'n bevel aan die O.B. uitgereik het dat Robey Leibbrandt, die bekende Afrikaanse vuisvegter, aan die polisie uitgelewer moes word, is gister aan die lig gebring deur Jan van Riebeeck Ketz, gewese rapportryer van advokaat J.D. Jerling, Assistent-Kommandant generaal van die O.B. in Transvaal."

Die bewering dat dr. Hans van Rensburg my wou laat doodskiet, het my hoegenaamd nie gehinder nie; inteendeel, in my eerste pamflet wat in Magaliesberg opgestel is en aan die "Kamerade in die SA. Polisie" gerig was, het ek Hans van Rensburg uitgedaag om my te skiet. Ek het bygevoeg dat hy 'n duisend van sy soort moes saambring en die plek en tyd moes bepaal wanneer die kompetisie moes plaasvind.

Na voltooiing van my pamflet is ek na Johannesburg om dit af te rol. Wyle Von Elling het my op Schietfontein korn haal en by sy woning in Pretoria afgelaai. Vandaar is ek na Johannesburg waar ek 'n tyd lank by 'n Hollander tuis was.

Hierdie Hollander, oubaas Vermey, het meer moed en durf besit as menige jong bombastiese `held'. Hy was 'n wewenaar en het in 'n pragtige groot huis gewoon. Met veel omsigtigheid moes daar te werk gegaan word sodat sy be­diende en tuinjong nie van my teenwoordigheid in die huis bewus word nie. Die kamer waar sy vrou oorlede is, was my verblyfplek. Niemand sou vermoed dat iemand die kamer, wat so lank gesluit was, betrek het nie.

Aan die begin was ek maar 'n bietjie ligvoet vir die oubaas. Nederland was toe reeds 'n Duits-besette gebied en die Hollanders se haat het hoog opge­vlam teen alles en almal wat nie hulle gevoelens gedeel het nie. Ek het hom meegedeel dat Nederland 'n geheime verdrag met Engeland gesluit het. Oor­eenkomstig hierdie verdrag moes Nederland toelaat dat die Geallieerde troepe daar kom land sodat Duitsland in die flank aangeval kon word. Die oubaas het stilswyend na my vertelling geluister en toe uitgebars: "Jongeling, dat geloof ik niet!"

"Waarom het Nederland dan gemobiliseer? Hulle was tog neutraal en sonder provokasie sou Duitsland beslis nie Nederland binnegeval het nie."

"Vertel my tog geen onsin," het oubaas Vermey gesê.

"Luister!" het ek half afgehaal en half vererg vervolg: "Die Hollanders was tog nog altyd Brits geörienteerd, nie waar nie?"

Die feit dat ek nie van "julle" gepraat het nie, maar die naamwoord Hollan­ders gebruik het, het veel daartoe bygedra dat ek en die oubaas later versoen geraak het. Ek glo egter nie dat daardie brokkie toegepaste sielkunde die be­slissende faktor was nie, want spoedig moes ek ontdek dat hierdie wakker ou­kêrel vlerk gesleep het by 'n hoogs intelligente Duitse vrou. Hierdie middel­jarige dame het die Hollander baie gou in haar liefdesnet toegespin. Algaande het die oubaas die grootste respek by my afgedwing. Sy onbaatsugtige optrede en vlugge brein het my geweldig beïndruk.

Weens die vernouende beperktheid van beweging, is ek later na die woning van mev. Maack, wat saam met haar beeldskone dogter Ingeborg, alleen gewoon het. Hierdie twee Duitse dames is later vir etlike maande in die tronk gestop omrede hulle nie bereid was om 'n valse verklaring teen my te doen nie. Dieselfde lot het ook 'n ander Duitse moeder en haar skrander dogter, Marie Wilz, te beurt geval.

Dit was juis Marie wat my in al my ondernemings moedig bygestaan het. Sy het my gehelp om 'n afrolmasjien in die hande te kry waarmee ek my pam­flette kon afrol.

Vervolg...