ROBEY LEIBBRANDT VERTEL SELF (22)

  Outobiografie van Robey Leibbrandt:

GEEN GENADE

Lees reeks by Robey Leibbrandt vertel self

Indien lesers die ware weergawe oor die nasionalisme, geloof en waagmoed van Robey Leibbrandt wil weet, moet u hierdie reeks nie misloop nie. Daar het onlangs ‘n liberale weergawe verskyn waarvan die skrywer in ‘n TV-onderhoud op die vraag waarom hy oor Leibbrandt geskryf het, geantwoord het: “’n Mens kan nie net oor goeie mense skryf nie”. Die suggestie wat hy laat dat Leibbrandt ‘n ‘slegte mens’ was, kom ooreen met die liberale inhoud van sy boek.

Die polisie skiet op my

Omstreeks nege-uur die oggend van 7 Oktober 1941 het ek vir die tweede keer slaags geraak met die polisie. Hierdie keer het agt speurders en een polisiesersant opgedaag om my in hegtenis te neem. Hoe die speurders so gou op my spoor gekom het, weet ek vandag nog nie.

Die pastorie van die Krokodildrif-gemeente was in die bosse sowat 250 tree van die pad tussen Pretoria en Brits geleë.

 

My niggie Violet en ek het hand-aan-hand by die agterdeur uit na die lemoenboord gestap — sy met die mandjie aan haar arm gehaak. Digte struike het ons uitsig op die teerpad versper. Aan dreigende onheil het ek nie gedink nie. Toe ons die rondawel bereik wat by die plaashek staan, kom 'n motor skielik dig by ons tot stilstand. Die enjin van die motor was afgeskakel. Ek het half geskrik en ietwat teruggedeins. Die eerste gedagte wat my te binne ge­skiet het, was dat dit gemeentelede is wat die dominee kom besoek. Gelukkig het die persoon voor in die motor en naaste aan my, 'n polisie-uniform aan­gehad.

Dinge het hierna vinnig gebeur. Die manne het uit die motor gespring en ek het na my Walther-pistool in my broek se agtersak gegryp. My vingers het skielik dom geword van senuweeagtigheid en ek kon die pistool nie uitkry nie.

Sowat dertig tree van die hek het 'n tweede polisiemotor stilgehou. Vier ge­wapende manne het wild in my rigting gestorm. Uiteindelik het ek daarin ge­slaag om die Walther uit te kry. Ek het hom stewig in my regterhand vasge­klem. Ek moes iets doen, maar die tyd was min. Iets doen, behalwe weghard­loop, want dit sou my innerlike trots my nie toelaat nie.

Een van die vier aanstormende geregsdienaars het geskreeu: "Robey, as jy beweeg, skiet ons!"

Ek het vinnig na regs gekyk en die haan van my pistool teruggetrek. "As julle skiet, moet julle raak skiet. Ek waarsku julle," het ek op my beurt laat hoor.

Meteens het 'n skoot links van my geknal. Die koeël het rakelings by my kop verby gevlieg.

Ek het my gesig in die rigting van die skoot geswaai.

"Wie het geskiet? Wie het geskiet? Praat, of ek skiet julle almal vrek," het ek woedend uitgeroep. Niemand het geantwoord nie.

Ek het darem in hierdie benoude oomblikke die floue troos gehad dat 'n bloedgeswore kameraad van my in die omgewing was en ek het enige oomblik verwag dat hy die geregsdienaars sou verras. Ek sou eers later uitvind dat hy geweeg en te lig bevind is. Later was hy selfs te lig vir die interneringskamp.

Op daardie moment het ds. W.R. Joyce op die toneel verskyn. Onderskraag deur die teenwoordigheid van 'n man op wie ek kon staatmaak, het ek op my bors geslaan en uitgeroep: "Skiet hierdie Afrikanerhart. Hy's groot genoeg. Dit sal meer as een koeël verg om hom stil te maak."

Ek het so hard gekonsentreer op die beweging van die speurders dat ek skaars gehoor het toe ds. Joyce sê: "Moet asseblief nie van my perseel 'n bloedbad maak nie." Aangevuur deur hierdie woorde, het ek dreigend uitge­roep: "Wie is in bevel julle klomp d...?" Ek het my vraag herhaal. Speurder­sersant Otto, die man wat my amper raakgeskiet het, het met 'n huiwerige vinger na hoofkonstabel De Kock gewys, wat regs van my aan die punt van die gevormde halfmaan gestaan het.

"H ... h ... hy," het hy stotterend gesê.

Ek het vinnig na die hoofkonstabel gekyk: "Ek gee jou drie tellings om die bevel te gee om te skiet. Net drie tellings, hoor!"

"Een! het ek desperaat gesê en 'n pas na vore gegee. My linkervoet was amper teen die polisiemotor. "Twee!" en ek het noodgedwonge na regs in die rigting van die hoofkonstabel getree. Soos verskrikte wild het die speurders uitmekaar gespat. Hulle het gehardloop - een klomp in die rigting van die dammetjie en verby die geparkeerde polisiemotor tot agter die vrag doring­hout wat daar opgestapel gelê het. 'n Sekere sersant, die lafaard wat later vir Hendrik Erasmus geskiet het, kon ek aan die voorpunt sien. Met pistool in die lug het hy gehardloop dat sy baadjiepunte styf staan.

Die ander klomp het rieme neergelêe in die rigting van die bosse. Konstabel Els, die enigste speurder wat geen pistool in sy hand gehad het nie, het met sy arms oor sy bors gevou gestaan en geen poging aangewend om pad te gee nie. Hy het my vol in die oë gekyk en gepleit: "Moet tog asseblief nie na my kollegas skiet nie."

Ek wou my eers vererg vir die astrante klein mannetjie wat beslis geweier het om aan die wedren deel te neem. Vir my was dit 'n geval van lewe of dood, want in tyd van stryd is daar geen genade nie. Dit was alleen die paaiende woorde van ds. W.R. Joyce en speurderkonstabel Els wat my weer­hou het om op die vlugtende geregsdienaars los te brand.

Een van die retirerende speurders het by die geparkeerde polisiemotor met­eens in sy spore vasgesteek. Hy het die agterdeur van die motor oopgeruk en 'n geweer uitgepluk. Ek het luid gewaarsku: `Los die geweer of ek skiet!" Die geweer het met 'n dowwe geluid uit sy hand geval en hy het vinnig agter die stapel hout, waar ook Spengler veiligheid gesoek het, verdwyn.

"Kom hier!" het ek na die hoofkonstabel geroep wat sowat 'n honderd tree verder tot stilstand gekom het.

"Nee! Oorhandig eers jou pistool aan die dominee," het hy geantwoord.

"0 so, en wat is daardie blink affêre in jou hand? Is dit nie ook 'n pistool nie?" het ek kwaad geroep.

In plaas van my pistool aan ds. Joyce te oorhandig, het ek dit weer in my ag­tersak gesteek. Ds. Joyce het my tot by die hoofkonstabel vergesel. Die ander speurders het een-een uit die bosse en van agter die hout gekom om onder die boom by ons aan te sluit.

Die hoofkonstabel het my 'n lang en oninteressante sprokie vertel enmy probeer oorreed dat ek moet saamgaan. Met wilde handgebare het ek my verbasing oor die belaglike versoek uitgespreek.

"Wat sal die kolonel sê as ons sonder jou daar aankom?" wou die hoofkonstabel weet.

"Na die duiwel met die kolonel. Ek daag hom uit om my hier te kom haal. Gee my 'n potlood en 'n stuk papier sodat ek self my saak aan die kolonel kan verduidelik."

Een van die speurders het gedwee voor my kom buk sodat ek sy rug as skryfblok kon gebruik en ek het die papier van een van die speurders se sakboekies gebruik en soos volg geskryf:

Geagte lt-kol. Verster,

Ek verstaan u posisie, asook dig van die mede Afrikaners wat u na my gestuur het om my in hegtenis te neem, maar ek vra u om my as draer van die ware nasionalisme van Jong Suid Afrika in sy volle betekenis te erken en as sodanig weier ek voor my God en voor my volk om my ooit oor te gee. My dooie liggaam sal in kloue van die Regering val, maar ek as vryheidsvegter nooit!

U vra om bloed luitenant-kolonel, maar onthou asseblief dat ek as Afrikaner nie geroof, gemoor of sabotasie gepleeg het nie, maar ek staan as eerlike burger voor u vir reg en geregtigheid.

Ek sal veg en val soos ek is ... 'n Afrikaner in murg en been.

Die Vierkleur Hoog!

Ek het die briefie aan die hoofkonstabel oorhandig en gesê: "De, hier is julle pas."

Vandaar het ek oor die pad gestap na waar nog drie speurders gestaan kajuitraad hou het. Ek het speurdersersant Otto voor die bors gegryp gevra: "Na wie het jy geskiet?"

"Ek wou jou maar net afskrik," het hy bedremmeld gesê. "Maar luister Robey, netnou kom luitenant Strauss met 'n pantsermotor en vyftig man, wapen met masjiengewere, handgranate en traangasbomme. Jy moet tog asseblief nie skiet nie. Ek is 'n getroude man met twee jong bloedjies en jy weet die Orphans' Fund (Weesfonds) betaal nie veel nie."

Ek het die speurder gestampstoot dat hy amper met sy sitvlak in 'n doringbos beland het.

Onverwags het my tante met 'n skinkbord op die toneel verskyn. Sy het die speurders lemoensap en handtertjies aangebied. Toe sy terugstap huis toe, ek by haar ingehaak.

Op 28 April 1942 het die volgende berig in Die Transvaler verskyn: "Leib­brandt-verhoor. Pantsermotor en 50 man in gereedheid om hom te vang.

"Die feit dat die polisie in Pretoria 'n pantsermotor en vyftig man in gereed­heid gehou het om Robey Leibbrandt, die Afrikaanse kampioen-vuisvegter, in hegtenis te neem, is gister deur gewese hoofkonstabel De Kock aan die lig gebring toe die voorlopige verhoor van Robey Leibbrandt en 17 ander op aan­klag van hoogverraad voor mnr. CA. Backeberg in die Pretoriase gevangenis voortgesit is."

In Die Transvaler van 25 April 1942 verskyn die volgende in banierskrif: "Leibbrandt moes dood of lewendig gevang word. Inhoud van brief op Brits geskryf.

"Die boodskap wat Robey Leibbrandt aan kolonel Verster gestuur het toe nege speurders hom by die pastorie van ds. Robey Joyce op Brits vasgekeer het en wat hy op die rug van die speurders geskryf het, is gister by die voor­lopige verhoor van Robey Leibbrandt in die hof ingedien." En verder:

"In ant­woord op vrae aan adv. Cillie het speurdersersant Els verklaar dat Otto eers uit die motor geklim het voordat hy op Leibbrandt geskiet het. Die opdrag van gewese hoofkonstabel C. de Kock, nadat hy van kol. Verster gekom het, was om Leibbrandt dood of lewendig te vang."

In die hof het die speurders gesê dat hulle net geretireer het toe ek op hulle afstorm. Die belangrikste getuienis oor hierdie Brits-episode is gelewer deur gewese hoofkonstabel C.G. de Kock en speurderkonstabel Els. Omrede De Kock en sy makkers nie daarin geslaag het om my dood of lewendig te vang nie, is De Kock in rang gedegradeer. As gevolg van hierdie uiters onregver­dige behandeling het De Kock sy ontslag uit die SA. Polisie gekoop. Indien sy hoofde dan gereken het dat hulle beter kon doen, waarom het hulle dan nie self so 'n poging aangewend nie? Eers toe hulle tussen veertig en vyftig man bymekaar was, het twee kolonelle dit gerade geag om self die bevel oor te neem. Ons sal aanstons by hierdie heldedaad kom.

Speurderkonstabel Els was deurgaans dapper en hy het nie nodig gehad om enige papbroekigheid met leuens te verdoesel nie.

My doel met hierdie vertelling is geensins daarop gemik om die SA. Polisie te verkleineer nie. Ek was self 'n lid van die mag en ek is trots daarop. Alles wat ek hier op skrif stel, word gestaaf deur getuienis in die hof. Die koerant­verslae oor al hierdie gebeure is in my plakboek te vinde.

Speurdersersant Otto het aan die regters in die Hooggeregshof vertel dat hy net in 'n moeilike posisie in die motor gesit het, anders sou hy my morsdood geskiet het. Ook by hom was dit 'n geval van lewe en dood. Nie een van die ander getuies het hierdie storie van Otto gestaaf nie en ek ag dit ook nie nodig om verder daarop voort te borduur nie.
Vervolg...