AFRIKANER- NASIONALISME (10)

T B Floyd

Lees reeks by Afrikaner-nasionalisme

  1. Politieke organisasies

Waar ’n nasionale stryd ’n konstitusionele een is, en waar dit ’n oorlog sonder koeëls is om Milner se uitdrukking te gebruik, kan ’n verowerde nasie nie sonder ’n politieke front sy stryd met sukses voortsit nie. Teoreties is dit nie nodig dat daar net een party moet wees nie en daar kan omstandighede wees waar meer as een nodig is. In die geval waar die Britse partystelsel in werking is, sal dit beter wees om net een party as die politieke front te gebruik.

Om konstitusioneel op te tree, moet wetgewing gemaak of verander word om die verowerde nasie se doel te bereik. Dit kan geen kulturele organisasie doen nie.

Die beste wat sulke organisasies in hierdie opsig kan doen, is om druk uit te oefen. Deur wetgewing kan geweldig baie gedoen word om die taal, kultuur en lewensbeskouing van ’n verowerde nasie te bevorder en te beskerm. Deur wetgewing en die beheer van die regering kan ook die ekonomiese belange van ’n verowerde nasie be­skerm en bevorder word. Sonder wetgewing kan ’n verowerde nasie nooit die verowering konstitusioneel ongedaan maak nie. Anders kan dit alleen deur opstand plaasvind.

Al die ander fronte van nasionalisme moet dus dikwels deur die poli­tieke front hul doel en die doel van nasionalisme bereik en soms kan sekere doele nie anders bereik word nie. So skakel die kultuur­organisasies met die politieke om dan nasionalisme te dien.

Die politiek is die kuns van die moontlike. Dit kan dikwels nie dadelik na die volle vryheid of doelwit soos in die geval van ’n rebellie strewe nie. Die verkryging van verlore regte moet soms geleidelik wees, maar tog moet dit met durf aangepak word en nie onnodig sloer nie. Anders as die kultuur en geestelike fronte wat net met besielde mense aan die gang gehou word, en waarin die verwaterde en swakke of selfsugtige elemente nie belang stel nie, moet die politieke front, om sukses te behaal, juis probeer om alle soorte as ondersteuners te kry. Soos N.J. van der Merwe dit uitgedruk het: „By ’n politieke party is daar altyd gevaar dat daar te veel gelet word op die werwing van stemme.” ’n Nasiestryd is langtermyn, terwyl die massa mense gewoond is om korttermyn te dink. Dit lei die politikus tot opportunisme en korttermyn-optrede en so word dikwels die einddoel of selfs die werklike plig en betekenis van die politieke front vergeet of in die agtergrond geskuif. Dat dit soms ’n betalende loopbaan kan wees en geleenthede skep vir uitbuiting en selfs korrupsie, maak dit ook ’n werktuig wat soms in sy doel kan faal. Net soos in ander lande wat ’n stryd van nasionalisme aangeknoop het, het die politieke front van die Afrikanerdom hom in die steek gelaat.

In omstandighede soos in Suid-Afrika moet die politieke front ’n aktiewe rol speel in die behoud van die landstreek van die nasie en hy moet die gedagte op die voorgrond hou dat dit die nasie se land is wat nie gedeel kan word met vreemdelinge of ander persone wat nie die nasie ondersteun of deel van die nasie uitmaak nie. Geen ander organi­sasie kan dit doen nie.

Wat die taal betref, moet die politieke front dit aktief beskerm en be­vorder. Dit is ’n amptelike taal wat gebruik word in regeringsinstellings en daar, wat Suid-Afrika betref, moet gesorg word dat dit gehandhaaf word in minstens ’n 60% posisie, want dit is sy demokratiese reg. Sy reg as die taal van die nasie van die land is om die enigste amptelike taal te wees en daarvoor moet geywer word. Die politieke front het ’n rol om te speel wat die taal betref ten spyte daarvan dat daar een of meer taal-organisasies bestaan, want die een moet die ander aanvul.

Die Afrikaner kan dankbaar wees dat sy politieke front nie in die stryd vir taalkundige vryheid sy taal totaal verwaarloos het tot Republiekwording nie. In Ierland het nasionalisme hom so toegespits op die stryd om vryheid te verkry deur middel van wapengebruik of politieke aksie dat die taal en kultuur van die Iere totaal verwaarloos is tot die taal amper verdwyn het. Toe eers het sommige van die Ierse patriotte ná 1900 wakker geskrik, maar toe het net 10% van die Ierse bevolking nog Iers as huistaal gebruik terwyl in 1800 die groot meerderheid lerssprekend was.

Die Ierse geskiedkundige Curtis skrywe hieroor soos volg: „A new nation emerged from Irish and settlers. In common people a blended race who in the long run have proved to be the characteristic Irish people, feeling a sense of common history, and a common faith, with an intense passion for the land, which nothing was able to shake, and speaking that Gaelic language which was the speech of the majority up to 1800.” Verder skrywe hy: „By 1900 the Irish language though some­thing like half a million people still spoke it along the western and southern coasts and great numbers of older people spoke nothing else, was rapidly dying. . . While the Welsh Celt has retained his language and has made it the badge of his nationality and the expression of his religion, the Irish Celt has not been taught by his leaders to maintain his distinctive language nor has it been much heard from the altar.”6 3

Die politieke leier Daniel O’Connell, wat in 1840 geweldig gewild was, het die mense aangeraai om Engels te leer en het moontlik meer begedra tot die agteruitgang van die Ierse taal as die Engelse onderdrukking self.

Hierin is groot lesse vir die Afrikaner. President Steyn was reg toe hy gesê het: „Die taal van die veroweraar in die mond van die verowerde is die taal van ’n slaaf.” Afrikaners wat Engels aanmoedig, speel die rol van O’Connell. Afrikaners wat beweer dat die taal die vernaamste faktor is, is reg. Die wat verder beweer dat deur een amptelike taal en die opname van die immigrante-nedersetters in die Afrikanerstroom die enigste weg na eenheid is, is ook reg.

Dit is belangrik om die stryd van die Christelik-nasionalisme en die rol van die politieke front daarin volkome te begryp en ook om sy swakhede te ken aangesien die Afrikaner dan in die toekoms daardie swakhede kan uitskakel, die struikelblokke vermy en die pad vorentoe kan verlig.

Dat die politieke front hier dikwels teleurgestel het, is nie ’n inherente swakheid van die Afrikaner nie. In die stryd van nasionalisme in lerland het dieselfde gebeur. Daar het dit gewissel van geslag tot geslag in ’n wapenstryd met rebellie en ’n konstitusionele stryd deur ’n politieke party. Die party het dikwels verwater geraak of versleg en nasionalisme in die steek gelaat, met die gevolg dat heelwat Iere net in geweld as ’n metode begin glo het. Wat die Afrikaner betref, het daar ook dikwels verwatering van beginsels, afwyking en totale verdwaling voorgekom. Dit moet in gedagte gehou word dat die stryd soms die felste op die politieke front woed.

Waar die politieke front in die verlede sterk gestaan het, is daar wel groot dinge vir die Afrikanerdom bereik. Hier word veral gedink aan die verkryging van Hollands as ’n amptelike taal al was dit om die reg met Engels te deel, die staatkundige onafhanklikheid en die oopmaak van die deure van die staatsdiens vir die Afrikaner - alles wat onder generaal J.B.M. Hertzog se leiding verkry is. Van minder belang was die verkryging van ’n wetlike Suid-Afrikaanse nasionaliteit. Hoewel dit beter was as Britse nasionaliteit, het dit nogtans nie die Afrikaner bevredig nie.

Dr. Malan het gepoog om ’n eie vlag vir die Afrikaner te verkry, maar deur die opportunistiese inmenging van Tielman Roos en die ontrouheid van ander Afrikaners het dit op ’n fiasko uitgeloop en werklik ’n oorwinning vir die imperialiste geword. In plaas daarvan dat die Union Jack verdwyn het, pronk hy in ’n dominerende posisie in die vlag.

Later is wel ’n Volkslied vir die Afrikaner wat wetlik erken is, verkry.

Daar is nie genoeg aandag aan die suiwerheid van nasionalisme in die beginsels van die politieke front in die verlede gegee nie. ’n Swakheid in die beginsels van die Nasionale Party wat die denke op Suid-Afri­kaanse in plaas van Afrikaanse grondslag toegespits het, het sekerlik onbewustelik sake vertroebel en weggelei van ’n suiwere nasionale benadering. Hierdie swakheid gaan terug tot in die begin van die Nasiona­le Party in Januarie 1914. Artikel 1 van die Program van Beginsels van die Nasionale Party wat op die kongres te Bloemfontein van 7 tot 9 Januarie, 1914 aangeneem is, het soos volg gelees: „De Nasionale Party verteenwoordigt de nasionale overtuiging en aspiraties van’t Suid- Afrikaanse Volk binne de Unie, en streeft er naar om deze overtuiging en aspiraties te ontwikkel en doen verwesenliking tot ruime zegen voor land en Volk.”[1]

Die verduideliking van hierdie artikel noem dikwels die „nationale aspiratie” van die volk, maar se nêrens of dit die Afrikaanse volk - die Boerevolk of Suid-Afrikaanse Volk, beteken. Siende dat geen Suid- Afrikaanse Volk, behalwe ’n denkbeeldige een, bestaan het nie, is die verduideliking misleidend.

Die toepassing van Christelik-nasionalisme het heftige teenstand van die volgende ondervind: (i) die Engelse imperialisme; (ii) die internasionale kapitalisme; (iii) die barbaredom en (iv) die Afrikaner-meelopers van die imperialisme en Afrikaner-lafhartigheid.

Vervolg...

 


[1]    Generaal J.B.M. Hertzog en die ontstaan van die Nasionale Party, Bylaag D. deur

J.D. Naude, p. 166.