STRYD IS LEWE (6)

JA Marais

Lees volledig by Stryd is lewe

Die helde van ‘n volk (2)

Dit was die toestand in Kaapland. Maar op daardie tydstip het benoorde Kaapland die Republiek van Transvaal en die Vrystaat bestaan waar Hollands die amptelike taal was. Die Konvensies van Sandrivier en Bloemfontein het aan Transvaal en die Vrystaat ‘n al groter losgemaaktheid van Brittanje gegee. Die Britse mag het gevoel dat sake besig was om in ‘n verkeerde rigting te ontwikkel en daar is begin om toenemend druk op Transvaal en die Vrystaat uit te oefen om hulle onafhanklikheid ongedaan te maak.

Dit is nie so ‘n unieke situasie wat destyds geheers het nie. Ons het vandag ‘n soortgelyke toestand.

Net soos daar benoorde Kaapland, benoorde die gebied waarin die GRA hom bevind het, twee onafhanklike republieke was wat blootgestel gestaan het aan die druk van die Britse mag, het ons vandag benoorde ons eie Republiek weer ‘n gebied wat wesenlik is van die blanke beskawing en wat aan die selfde druk van die Britse mag onderhewig is. En net soos vandag gepraat word van die land benoorde ons as 'n gebied verleentheid besorg, net so is destyds smalend van Transvaal gepraat as 'n verleentheid vir die Britse magshebbers van daardie tyd in Kaapland. So skryf Woodhouse in 1869 aan die Britse koloniale Kantoor dat "Transvaal is a source of embarrassment and danger to its neighbours." Dit is waarom Transvaal se onafhanklikheid van hom weggeneem moes word.

Die Afrikaners van Kaapland het met groot insig begryp wat hier aan die gang was. Die Afrikaners wat onder Britse gesag gestaan het, het besef dat die noordelike republieke onafhanklik moes bly om versterkend op Kaapland in te werk. Net so het die mense van Transvaal besef dat as daar 'n vereniging van die Afrikanerdom moes kom, die mense van Kaapland, wat die draer van hierdie standpunt was, beskerm en gesteun moes word. Daarom was daar uit die staanspoor tussen die manne van die GRA en Transvaalse en Vrystaatse Afrikaners 'n baie groot vereenselwiging en 'n baie noue wisselwerking. En soos die gety van die geskiedenis teen die Afrikaners van Transvaal geloop het, na dié mate het dié Afrikaners in Kaapland sterker geword en kon hulle vanuit daardie posisie inspirerend op die mense van Transvaal en die Vrystaat inwerk.

Die GRA het hom uit die staanspoor op 'n verenigde Suid­-Afrika gestel. Dit is opvallend dat hulle, wat onder die Britse vlag was, gepraat het van 'n verenigde Suid-Afrika, maar nie onder die Britse vlag nie.

Dit is ook goed om te kyk na die metodes wat hierdie mense aangewend het, om vas te stel wat dit beteken het en watter bruikbaarheid dit nog vir ons het. In die eerste plek is dit opvallend dat die GRA in die geheim gestig is en in die geheim gewerk het; in die tweede plek dat die Genootskap 'n koerant gestig het, ook in die geheim, en in die derde plek dat die GRA kort na sy totstandkoming op die stigting van 'n politieke party uitgeloop het.

Wat die geheime aard van die GRA betref, is dit betekenisvol dat die mense wat die pleitbesorgers van Afrikaans as die landstaal was, in die geheim moes begin omdat hulle 'n onbe­skermde en miskende minderheid was. Hulle was bespot en misken en vir hulle eie veiligheid moes hulle in die geheim begin. Maar hulle het gehad wat die ander nié gehad het nie: die geloof in die reg van hulle saak en die vermoë om hulle volkome toe te wy aan die bereiking van hulle ideaal.

Laat dit ongekwalifiseerd gesê word dat daardie klein be­spotte groepie die Dietse kultuur in Suid-Afrika en in Afrika van ondergang gered het. Die vyandigheid wat hulle van hulle mede-Afrikaners ondervind het — want dit was nie van andere nie — was nie omdat hulle teenstanders so verskriklik teen Afrikaans was nie, maar omdat hulle nie die beskermdheid en veiligheid van hulle posisie wou prysgee nie. Vir hulle was dit gerieflik, gemaklik en veilig om binne die instellingsorde van daardie tyd te bly. Daarom het hulle vyandskap getoon teen elkeen wat daardie gerieflikheid en gemak wou versteur. Dit was Afrikaners, wat nie verengels het nie, maar wat ook niks gedoen het om die proses van geleidelike verengelsing te stuit nie. Hulle was nie in vyandskap teen Afrikaans nie. Trouens, hulle het self 'n gevoel teen Engels gekoester, maar hulle standpunt was dat jy tog net nie iets moes doen wat so drasties is dat jy die vrede versteur nie.

Die Stigting van die Patriot as die eerste koerant in Afri­kaans was van al die dinge wat die GRA gedoen het, waarskynlik die belangrikste, want daarmee is 'n orgaan geskep wat die draer sou wees van 'n wye Afrikaans-nasionale oplewing ver buite die grense van Kaapland. Die Afrikaner het daardeur nie net begin lees nie, maar hy het ook begin skryf en besef wat die waarde daarvan is om te skryf. Hy het besef dat hy deur so 'n medium baie verder kon reik en hy het geleer dat hy sy mede-Afrikaner met feite en beskouinge bereik om weer die nasionalisme aan te wakker en te voed. Dit was bestem om die sterkste teenwig teen die proses van verengelsing te wees.

Die Patriot moes van sy stigtingsdae die spitsroede van vyandskap van sowel die Engelse as die verengelsde Afrikaners loop. In Desember 1878 skryf die Patriot oor die sondes wat hom in daardie tyd toegereken is : "Een van die sondes is dat ons te Afrikaans is, ons is nie heeltemal Engelsgesind en half Hollands nie; ons wil nie met 'n bietjie Hollands vir die naam Engels help invoer nie. Ons is Afrikaans, heeltetal Afrikaans, in hart en siel."

Die tweede sonde wat hulle toegereken is, was, paradoksaal genoeg, omdat hulle te godsdienstig was. "Ons wil God se Woord en sy Naam oral geëerbiedig hê. En hier is 'n bron van al die vyandskap. Die bose kan ons nie verdra nie. Dit word ons as sonde toegereken."

En dan derdens, en seker ook nie heeltemal sonder betrekking in ons tyd nie: "Ons is te rondborstig. Ons kom uit vir die waarheid sonder aansien van persoon. Ons noem eke ding op sy naam en daarom mag ons ook saam met Paulus sê: en ek dank u vir elke woord en die waarheid seggende."

Die Patriot het met hierdie uitgesprokenheid, met hierdie sterk Afrikanerskap, met sy sterk klem op die godsdiens, mondstuk geword van die vegtende Afrikanerdom tot buite die Kaap. Want in sy vereenselwiging met Transvaal ná die oorrompeling van die Republiek deur Shepstone in 1877 skryf die Patriot op 8 Julie 1877: "Die Transvalers is nie tevrede nie, maar die volk het geen stem en geen hoop nie. 'n Paar lawaaimakers op die dorp maak of hulle die hele publiek is, maar die boere is stil op hulle plase en daar word gesê almal is nie tevrede nie. Maar die volk het geen hoop nie. Die volk wou die land wat hulle met bloed gekoop het, met bloed verdedig, maar Burgers het hulle afgeraai."

Twee jaar later, toe Transvaal onderwerp was aan Brittanje en die gebaar gekom het dat Transvaal weer 'n wetgewende vergadering en 'n uitvoerende raad kon kry — eintlik maar so 'n verskoning vir onafhanklikheid — toe skryf die Patriot vir hulle: "As julle eenmaal die pad van versoening ingeslaan het, sal julle oplaas wel alles kwyt wees. Transvalers, pasop, laat julle nie met mooi woorde wegsleep nie."

Vier jaar later, ná die lydelike verset, het Transvaal met die wapen na Brittanje gegaan en is die Britse mag by Amajuba verslaan en het Transvaal weer vry geword. Moenie dink dat die aandeel van die Patriot in daardie tyd gering was nie. Dit was die orgaan waardeur die Transvalers gedurig steun gegee is en gedurig aangespoor is om hulle nie te onderwerp aan die besetting van hulle land nie.

As 'n mens hierdie dinge genoem het wat die belangrikheid van die Patriot se bestaan beklemtoon, het ons tegelyk gekom by een van die belangrikste faktore wat deur die mense in daardie vroeë jare van Afrikanerbestaan ingesien is. Dit is dat kommunikasie onontbeerlik is in jou volk se lewe. 'n Mens kan nie toelaat dat die kommunikasiemiddele van jou volk deur jou vyand beset en deur jou vyand gebruik word nie. Die insig wat die mense van daardie tyd geopenbaar het, is vandag nog net so geldig.

Vervolg...