EKONOMIESE ONTKNEGTING VAN DIE AFRIKANER

Nico van der Dussen

" Die Afrikaner is die enigste etnies-kulturele groep ter wêreld wat vrywillig sy kapitaal volledig tot beskikking van sy vyand stel... Die sukses van hierdie ekonomiese verknegtingsproses was sodanig dat die Afrikaner sy vryheid prysgegee het sonder om eers een enkele skoot te skiet – die tragiek was dat geen politieke of kulturele leier besef het dat jy vandag moeilik 'n gewapende vryheidstryd kan stry as jy nie ook bereid is om met een van die wapens van die huidige tydsgewrig, jou kapitaal en ekonomiese vermoë, 'n vryheidstryd te stry nie."

Negatiewe uitgangspunte soos "die Afrikaner moet nog eers verder swaarkry voor hy sal opstaan", of "daar is geen volk meer om te red nie", word gereeld deur sommige "behoudende" politieke en kulturele leiers geuiter. Hierdie afbrekende uitgangspunte moet gestaak word. Om die volk se ekonomiese lyding as teelaarde vir 'n politieke magsbasis te visualiseer, terwyl hulle self op 'n politieke salaris oorleef, is 'n ernstige refleksie op die kwaliteit van leierskap in sommige kringe in Afrikanergeledere. Die oordeel of daar nog 'n volk is of nie, lê nie op die weg van mense nie maar is God se uitsluitlike prerogatief – die uitering van sodanige twyfel is nie alleen 'n belediging teenoor ons volk nie maar is saam met die eerste uitgangspunt gewoonlik ook 'n gemaksverskoning om nie daadwerklik betrokke te wees by die skepping van sinvolle beheersings- en oorlewingsoplossings nie.

Behoudende politieke leiers se oorbeklemtoning van die politiek ten koste van die skepping van sinvolle ekonomiese beheersings- en oorlewingsoplossings wat juis ter ondersteuning van 'n politieke vryheidsideaal moet dien, wek kommer. Dit stem ooreen met die populêre beskouing wat ook eie is aan Afrika-politici, naamlik om eers die "politieke koninkryk" te wil soek in die geloof dat alle ander dinge dan vanself daarop sal volg. Om te wil argumenteer dat enige van die politiek of die ekonomie belangriker is as die ander, het ewe min nut as om te argumenteer of suurstof of voedsel die belangrikste sou wees vir die voortbestaan van 'n menslike liggaam!

Dit is belangrik dat die ekonomie weer beskou word vanuit 'n Bybelse perspektief. Dan sal besef word dat die ekonomie hoogstens 'n histories presiese wetenskap kan wees van dit wat elkeen elke dag in die sweet van sy aangesig doen om sy brood te verdien en 'n dak bo sy kop te plaas. As ons dan ons geloof in God as die Skepper van alles stel, dan kan geen ekonoom sy verordeninge verontsagsaam nie en dan is die Bybel ook die mees gesaghebbende ekonomiese handboek wat ooit geskryf is.

Daar moet dus besef word dat alle individue, groepe, volke of nasies net een van twee realiteite beleef: óf hulle beheer die ekonomiese gegewe rondom hulle bestaansmilieu, óf hulle word daardeur beheer – daar is geen tussenweg nie.

Hierdie ekonomiese beheersingsrealiteit moet dus primêr gerig en getemper word aan die hand van jou geloofsbeginsels terwyl daar verder deur polities-kulturele en ekonomiese wisselwerking sin gegee word aan die uitlewing van 'n volksvryheidsideaal in dankbare erkentlikheid teenoor God wat ons en ons volksgenote in 'n bepaalde etnies-kulturele werklikheid geskape en geplaas het.

Tot beskaming van menige Christen moet gekyk word na die manier waarop die Moslems hulle geloofsoortuigings ook op 'n ekonomiese bestaansvlak deurtrek en uitleef.  In krasse teenstelling daarmee staan die gemaksdualisme van veral die behoudende Christen wat sy geloofsreëls net wil uitleef binne die "kerkgrense" terwyl die moderne ekonomiese bestuursreëls nie in hul voorspoednajaging deur "onpraktiese" geloofsreëls" gerig kan of mag word nie. Duidelike voorbeelde hiervan was die Afrikaanse kerke se destydse korrekte beroep op die owerheid om Sondagfliek en dobbelary te verbied. Die direkte deelname aan hierdie sondes word ook tereg vermaan en veroordeel, maar tewens word daar geswyg oor kerke en lidmate wat deur middel van hulle pensioenfondse, versekeraars en vele ander vorme van direkte of indirekte belegging, voordeel trek uit die instansies wat juis dié ondernemings ekonomies bedryf wat die veroordeelde sondes moontlik maak.

Wanneer daar weer 'n beginselwaardeperspektief tov die ekonomie geopenbaar word, sal ons hopelik minder tyd mors om as kampvegters vir kapitalisme, steeds die Kommunisme en Sosialisme te veroordeel; dan sal ons dalk besef dat ons vanuit 'n waardeperspektief die euwels van beide die stelsels kan veroordeel want daar is geen plek in die wêreld waar Kommunisme bestaan het, waar dit nie deur kapitalisme toegelaat is om te bestaan nie. Tot op hede weet ek ook van geen Afrikaner wat deur Kommunisme verkneg is nie terwyl letterlik miljoene tans deur kapitalisme verkneg is!

AFRIKANERSELFBESKIKKING – EKONOMIESE REALITEITE, TEENSTRYDIGHEDE

ZB du Toit het in Rapport geskryf dat 'n volkstaat 'n hersenskim bly totdat die voorstanders daarvan 'n nuwe ekonomiese werklikheid skep. Terselfdertyd sê Leon Louw van die Vryemarkstigting dat ekonomiese onafhanklikheid nie noodwendig 'n voorvereiste is vir staatkundige onafhanklikheid nie.

BELANGE

Piet Muller keer destyds uit Europa terug met die gewaarwording van 'n nuwe verskynsel wat "enorme implikasies gaan hê vir die demokrasie" naamlik die "vorming van groepe en kulture... getalle raak al meer onbelangrik terwyl klem meer en meer op belange geplaas word."

PROBLEMATIEK

Bogenoemde reflekteer kortliks die realiteite van die tekortkominge van die moderne globale ekonomiese stelsel. Dit is nie vryemark kapitalisme wat oor Sosialisme en Kommunisme geseëvier het nie maar die "val" van Kommunisme is juis die voorlopige manifestering van die realiteit dat geen stelsel permanent sal heers oor die uitlewing van groepsbelange soos vanuit 'n etnies-kulturele basis gedefinieer nie. Laasgenoemde is die enigste basis waaruit daar vanuit 'n inherente bestaans-, oorlewings- en roepingsuitlewing welvaart geskep kan word, in teenstelling met die leë ekterne materialisme wat as basismotivering en bestaansreg moet dien vir kapitalisme.

VRAE

Diegene wat sê dat hulle hul vir Afrikanerselfbeskikking beywer, moet dus ernstig oor die volgende vrae besin:

Hoe ernstig is en kan die Afrikaner oor selfbeskikking wees as hy en sy leiers nog hulle sekuriteit soek in uitgediende ekonomiese stelsels – stelsels waarin beide die nasie-staat en die multinasionale konglomerate nie meer die oorlewingsantwoorde kan verskaf nie?

Watter erns is daar wanneer daar 'n onwilligheid by leiers is om in te sien dat die moderne ekonomiese neiging juis die geleentheid tot Afrikanerselfbeskikking skep?

EKONOMIESE SELFBESKIKKING

Selfbeskikking vir die Afrikaner kan en gaan 'n geloofuitlewingsrealiteit word wanneer daar besef word dat die Afrikaner die huidige tydsgewrigsrealiteite moet beheer. God se seën op 'n volksoorlewingsideaal kan alleen verwag word as ons bereid is om daarvoor te werk op sy voorskrifte. Die verantwoordelike uitlewing van ekonomiese selfbeskikking tot eer van God en tot voordeel van ons naaste is 'n roepingsuitlewing wat ook vir andere die weg kan berei ten opsigte van die problematiek van die moderne globale ekonomie. Die versuim om hieraan gehoor te gee, en daarenteen te bly vasklou aan die materiële "sekuriteit" van uitgediende stelsels sal teenoor God en ons nageslag verantwoord moet word.

FINANSIËLE DIENSTESEKTOR

Die bespreking en ontleding van die Finansiële dienstesektor in die Suid-Afrikaanse ekonomie is om verskeie redes belangrik en dit is ontstellend dat daar geen of bitter min erkenning gegee word aan die rol wat hierdie sektor in die ekonomiese verknegting van die Afrikaner gespeel het.

In die ekonomieë van die ontwikkelde wêreld speel die Finansiële dienstesektor 'n steeds belangriker rol in die mobilisering en skepping van kapitaal. Inderdaad vergroot die rol van hierdie sektor relatief tot die totale ekonomie deurentyd, onder andere vanweë die vermoë om deur middel van die ontwikkeling in die rekenaar- en inligtingstegnologieë al hoe meer gesofistikeerde beleggings- en skuldinstrumente te skep.

'n Soortgelyke tendens vind ook in die Suid-Afrikaanse ekonomie plaas en uit die bestudering van die ekonomiese statistiek vanaf 1960 tot hede kan vir die doeleindes van hierdie inleidingsgesprek, sekere afleidings gemaak word:

Dit is 'n mite dat die Afrikaner nie 'n suksesvolle mobiliseerder van kapitaal is nie. Uit onlangse wêreldwye opnames blyk dit dat Suid-Afrika die enigste land is waar daar meer as 10% van die waarde van die bruto binnelandse produk aan bydraes tot lewensversekeraars spandeer word.

As in ag geneem word dat hierdie bydraes histories hoofsaaklik vanuit die eerste wêreld-komponent gekom het, het die situasie nou ontstaan dat die volgende stellings statisties gestaaf kan word:

  1. Die Afrikaner is die enigste etnies-kulturele groep ter wêreld wat vrywillig sy kapitaal volledig tot beskikking van sy vyand stel.
  2. Die Afrikaner is verder aan sy vyand verskuld, en inderdaad word 'n groot gedeelte van die kapitaal wat so geredelik aan sy vyand beskikbaar gestel word, deur middel van skuld gefinansier.
  3. Die Afrikaner bevind hom as gevolg daarvan in 'n ekonomiese herverdelingsknyptang waar sy kontraktuele besparingsbates deur middel van sosiopolitiese herverdeling, vigs en ander mortaliteits- en morbiditeitssubsidiëring na 'n relatiewe waardeloosheid gereduseer kan word, terwyl hy met hoër rente en belasting die wanbetaling en onderprestering van die "agtergeblewe" meerderheid moet probeer goedmaak.

Die sukses van hierdie ekonomiese verknegtingsproses was sodanig dat die Afrikaner sy vryheid prysgegee het sonder om eers een enkele skoot te skiet – die tragiek was dat geen politieke of kulturele leier besef het dat jy vandag moeilik 'n gewapende vryheidstryd kan stry as jy nie ook bereid is om met een van die wapens van die huidige tydsgewrig, jou kapitaal en ekonomiese vermoë, 'n vryheidstryd te stry nie.

Die sukses van die verknegtingsproses verskaf egter ook die sleutel tot ontknegting.
Daar sal besef moet word dat die verknegting baie subtiel en gesofistikeerd plaasgevind het en dat ontknegting as slagspreuk en doelstelling sal misluk indien dit nie ook deur gesofistikeerde metodiek ondersteun word nie.

  • Die Afrikaner sal hom moet verhef bo die praktyk wat ontstaan het om kleingeld aan die kerk, volk en kultuur toe te deel terwyl grootgeld aan die sekuriteit van die vyand toevertrou word. Hoe absurd tog om te kla oor die juk van "regstellende aksie" terwyl jy self die kapitaal voorsien om hierdie diskriminasie teen jouself moontlik te maak!
  • Wat beteken al die geld in die wêreld indien jou kinders nie 'n waarde-, kulturele- en ekologies onverwoeste omgewing het om sin daaraan te gee nie?
  • Moet die Afrikaner nie weer besef dat hy geen bestaansreg het indien hy nie ook bereid is om 'n toekoms vir volksgenote se kinders te skep nie? Of gaan ons ons ekonomiese oorlewing as groepies in ander lande probeer voortsit?
  • Die Voortrekkers moes wegtrek van al hulle ekonomiese en materiële sekuriteit – moet die huidige geslag Afrikaner nie ook 'n geestelike trek aanpak weg van die sogenaamde materiële "sekuriteit" van die skynwelvaartsindroom waarin sy vyande hom geknel het nie?

EKONOMIESE OORLEWINGSTRATEGIE: IS DIT ONS ERNS?

Daar begin in verskeie Afrikanerkringe toenemend 'n ernstige besef posvat dat grondige besinning oor 'n ekonomiese oorlewingstrategie vir die Afrikaner 'n oorlewingsnoodsaaklikheid geword het. Sodanige strategie moet onder andere ten doel hê om die Afrikaner se etnies-kulturele laerisiko realiteit as batebasis te mobiliseer ten einde sy finansiële, kundigheids- en arbeidskapitaal in 'n sinvolle ekonomiese oorlewingsmodel te vorm.

Dat die Afrikaner vandag volledig 'n politieke bywoner in sy vaderland is, is 'n feit wat as een van die motiveringsbene van 'n nuwe vryheidsideaal dien.

Die ekonomiese verknegtingsproses wat die afgelope dekades ten opsigte van die Afrikaner toegepas is, was sodanig geslaagd dat die Afrikaner se vermoë tot noemenswaardige weerstand teen die oorgawe van sy vryheid in 1994 grootliks verlam is.

Die ekonomiese verknegtingsproses is egter nog nie tot sy volle konsekwensie deurgevoer nie en die Afrikaner het nog die volgende keuses:

  1. Om hom op ekonomiese gebied aktief te begin ontkneg.
  2. Om sy ekonomiese ontknegtingsproses aan te wend tot behaling van sy staatkundige vryheidsideaal.

BEWUSMAKING

Om enigsins 'n ekonomiese oorlewingstrategie as 'n saak van erns aan te pak, is dit noodsaaklik dat die Afrikaner die volgende ten opsigte van sy huidige ekonomies verknegtingstaat moet besef:

Die Afrikaner is die enigste etnies-kulturele groepering ter wêreld wat sy vyand met al sy finansiële middele finansier! Nie alleen kanaliseer die Afrikaner feitlik al sy beleggings na sy vyand toe en stel dit tot laasgenoemde se beskikking nie, maar die Afrikaner leen in effek by sy vyand geld sodat hy vir laasgenoemd kapitaal beskikbaar kan stel om tot nadeel van die Afrikaner en sy waardestelsel aan te wend.

As gevolg van bogenoemde is die Afrikaner geheel en al uitgelewer aan 'n ekonomiese herverdelingsproses wat geleidelik in stappe moet geskied totdat hy slegs deur ontkenning van sy kultureel-etniese herkoms as willose ekonomiese slaaf 'n "lewensvoorreg" mag geniet in dit wat regtens sy vaderland is.

Dit is derhalwe lewensnoodsaaklik dat die Afrikaner ook moet weet dat deur God se genade die wêreld- en plaaslike ekonomie in 'n toenemend onoplosbare problematiek verkeer wat aan hom, vanweë die feit dat sy behoudende waardebasis 'n risiko-oorlewingsbatebasis verskaf, ' n unieke geleentheid bied om deur middel van 'n ekonomiese ontknegtings- en selfbeskikkingsproses sy vryheidsideaal te bereik.

PRAKTIESE TOEPASSING

Om 'n ekonomiese oorlewingstrategie in 'n praktiese toepasbare vorm te giet, gaan harde werk, deursettingsvermoë en baie moedk os. Dit gaan vereis dat daar weer in nuwe gedaante instansies moet ontstaan wat die funksie van die ou Reddingsdaadbond, die Helpmekaar-vereniging en die Ekonomiese Instituut sal moet vervul. Alleen daardeur sal die Afrikaner sy finansiële, kundigheids- en arbeidskapitaal in 'n sinvolle ekonomiese oorlewingsmodel kan vorm. Sekondêr daartoe sal die vorming van 'n gemeenskapsbank 'n noodwendige realiteitsgevolg wees ten einde die weg voor te berei vir 'n nuwe "Volkskas" en 'n nuwe "Sanlam."

TEENSTRYDIGHEDE

Om hierdie strewes te verwesenlik, sal ook van die Afrikaner se leiers, veral sy politieke leiers, vereis om 'n ekonomiese oorlewingstrategie vir die Afrikaner hul erns te maak.

Kan daar van die volk op grondvlak verwag word om te glo dat hy homself ekonomies kan ontkneg terwyl sy leiers en organisasies nie toon dat hulle dit glo nie?

Watter boodskap word uitgestuur wanneer politieke, kulturele en kerkleiers en organisasies in hulle politieke en waarde-uitsprake sê dat hulle nie glo dat FW en Mandela se Suid-Afrika kan slaag nie terwyl hulle, wat hulle ekonomiese en finansiële vermoë en sekuriteit aanbetref, die "Nuwe Suid-Afrika" ten volle ondersteun?
Kan politieke leiers van die Afrikaner verwag om te glo dat die selfbeskikkingsbeleid om "teen die hele wêreld vry te wees" haalbaar kan wees as daar skynbaar nie erns mee gemaak word om die verknegtingsinstrumente van hul mense, te wete die Volkskasse en Sanlams van die huidige tydsgewrig, die stryd aan te sê nie?