DIE NOTRE-DAME:

Wat verteenwoordig dit regtig vandag?

Dr Danie Theron

Die pragtige eeue oue Notre-Dame de Paris, ook bekend as "Our Lady of Paris", is in ‘n brand beskadig, in so ‘n mate dat dit biljoene rande gaan kos om dit te herstel.

Uiteraard is mens geskok oor die gebeure wat deur baie as ‘n tragedie beskou word. Die kerk se bouwerk het in 1160 begin en is grootliks voltooi ‘n honderd jaar later. Dit is ‘n Rooms-Katolieke katedraal en word beskou as een van die beste van die Frans-Gotiese argitektuur. Volgens die webblad Wikipedia het hierdie kerk ‘n ledetal (lidmatetal) van 525 600 en is die katedraal 48 meter breed, 128 meter lank en 69 meter hoog. Die aartsbiskop aan die hoof van die kerk is Michel Aupetit. Die katedraal kan 9 000 mense huisves. Daar is 10 klokke wat elkeen ‘n naam het en die swaarste klok weeg 10 ton. Die orrel het vyf speelvlakke met 115 stops en daar is 7 800 orrelpype.

Napoleon is in hierdie katedraal ingewy as heerser oor Frankryk en is in 1810 in hierdie katedraal getroud. Baie andergeskiedkundige gebeure het hier plaasgevind waaronder die troue van die Protestant Henry van Navarre met die Rooms Katoliek, Margaret, dogter van Henry II en Catherine de Medici op 15 Augustus 1572, asook die begrafnisse van generaal Charles de Gaulle en van president Francois Mitterand. In 1793, tydens die Franse Revolusie is van die beelde se koppe afgekap.

TweeFranse biljoenêrs het reeds elk minstens eenhonderd miljoen Euro’s bewillig vir die herstelwerk.

Maar wat verteenwoordig Notre Dame nou eintlik vandag? As ‘n tiende van sy lidmate nog eredienste bywoon daar sal ek verbaas wees. Het dit nie maar net ‘n museum geword nie? Dertien miljoen toeriste besoek die kerk jaarliks om hulle aan die argitektuur te verwonder. Maar is dit die doel van die kerkgebou? Om geld te vorder van besoekers? Is dit nie maar net ‘n wit gepleisterde graf nie? Verteenwoordig dit nie net dit wat wás nie?

Ek lees van ‘n kerkgebou van ‘n Afrikaanse kerk in Pretoria wat onlangs deur vandale verwoes is. Daardie kerk se eredienste is nog getrou Sondae bygewoon. Ek twyfel of enige ryk man geld gaan skenk vir die herbou daarvan. Ryk mense wil graag aan belangrike gebeure gekoppel wees. Die kerk in Pretoria is nie nuuswaardig nie. Nie belangrik genoeg vir ‘n ryke nie. Maar die kans dat die Woord van God daar verkondig word is waarskynlik soveel groter as wat die geval is met Notre Dame.

Daar is talle sulke “museums” in Europa. Die kerk, die basis van ‘n gesonde en sterk samelewing lê aan flarde in Europa en veral in Frankryk. Daarom kan dit die meerderheid Franse nie skeel as die Moslems die vakuum vul nie. Dit is die eintlike tragiek van Frankryk; nie die verwoesting van Notre Dame nie.

Die Afrikaner se fondament was nog altyd sy geloof. Ook hier sien ons hoe die Afrikaanse kerke die wêreld napraat. Ook hier is die deure oopgegooi. Ook hier speel ‘n tragedie af. Daardie tragedie is die aflegging van Afrikanerskap deur die Afrikanervolk.