Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die Bybel maak dikwels melding van kwaadsprekery onder mekaar wat soveel broederlike twis en onmin veroorsaak. Onder kwaadsprekery verstaan ons haatlike beskuldigings, gebore uit kwaadwilligheid, en die lus om mekaar se goeie bedoelings te ondermyn. Ons moet daarteen waak om die goeie wat God in iemand gewerk het met woorde te verdraai.
WYSHEIDSTORIES (10)
Skerp Waarnemer
Lees reeks by Wysheidstories
Soek elke storie se les
en omskep dit in dade
BEREID OM TE GEE?
Daar was groot hongersnood in die land omdat dit lank nie gereën het nie. Een boer het 'n groot plaas gehad en kon nog regkom omdat sy waterput nie opgedroog het nie. Iemand wat die ongelukkige, maar goeie arm mense wou help, het die boer kom vra of hy 'n trekker vir die ander kon leen om te probeer ploeg. "Ongelukkig", sê die boer, "het ek net een trekker en moet hom self gebruik." Op ander vrae antwoord hy ook elke keer dieselfde. Hy het net een koei wat melk gee, net een waterpomp vir sy put, net een perd en net een ploeg.
Toe word gevra of hy miskien met geld kan help vir die mense wat niks kos het om te eet nie. "Nee," sê die boer, "ek sal nie geld gee nie." "O is dit omdat jy nie juis geld het nie?" "Nee, ek het genoeg geld in die bank, spog hy, maar die ander mense moet vir hulself sorg."
Hoe meer geld iemand het, hoe meer wil hy hê (gierig) en hoe minder wil hy ander goeie mense help. Plaas jouself in daardie posisie om selfs die min wat jy het met ander te deel wat dit uit verdienste nodig het om te oorleef.
OORDEEL ANDER
In 'n groot dorp het 'n goeie man 'n fout begaan. Die mense het hulle tande geslyp om hom te verhoor . . . en skuldig te bevind. Dit is mos lekker om hoë bome (goeie mense) te sien val.
Almal het bymekaargekom vir die hofsaak. Dit was die gebruik dat die wyse ou dominee ook na sulke geleenthede genooi word om sy goeie raad te gee. Maar toe die dag van die verhoor aanbreek, is daar geen teken van hom nie. Die leiers stuur toe 'n paar mense om die ou man te gaan haal. "Kom, almal wag net vir u," sê hulle ongeduldig toe hulle by hom kom. "Ons kan nie sonder u begin nie."
"Nou wag dan net 'n oomblikkie vir my, ek kom nou," sê die ou man en staan op van waar hy gesit en bid het. Toe hy by die huis uitkom om saam met hulle te loop, het hy 'n emmer water by hom. En daar is 'n gaatjie in, want soos hulle deur die stofstrate loop, kronkel daar 'n strepie water al agter hulle aan.
By die hofsaal aangekom, loop die selfaangestelde regters hom tegemoet. Ergerlik vra hulle: "Dominee, watse water is dit wat so by die emmer uitloop? Kon u nie 'n heel emmer gevat het nie? Wat wil u in elk geval met die water maak?"
Die ou dominee kyk oor sy skouer en sê: "My foute loop agter my aan en ek sien hulle nie. Hoe moet ek dan nou oor die foute van 'n ander kom oordeel as ek self foute het? Sien julle ooit die foute raak wat agter julle lê?"
ARMER AS EK
Hy was baie verslons; geklee in 'n broek wat op die knieë geskeur en onder om die pype uitgerafel was. Dit was regtig 'n verslete broek. Soos ook die skoene en die deurgeskifte hemp.
Hy het altyd 'n paar verlepte groentetjies kom verkoop wat hy self geplant het of wie-weet-waar teen 'n paar sente te koop gekry het. Ons het maar net gekoop om ons gewetes te stil omdat ons nie meer doen om te help nie. Baie dae het hy op die sypaadjie voor in die straat gesit en op sy mondfluitjie gewyde liedjies gespeel ‒ met so 'n salige uitdrukking op sy gesig dat 'n mens kon glo hy bedoel elke noot.
Ons het hom jammer gekry en 'n vinnige insamelinkie onder familie en vriende gedoen. Die volgende aand het ons 'n sak vol ou skoene en klere gereed gehad toe hy weer met sy flenterbroek en slap groentetjies opdaag.
Ons het vreugde verwag, maar nie die woorde wat daarmee saamgegaan het nie. "Jislaaik, maar ek is verskriklik bly. Daar woon soveel ander mense rondom my wat dit bitter nodig het, meer as ek. Ek sal dit aan hulle uitdeel."
Daar is altyd mense wat meer hulp nodig het as jy en vir wie jy kan help. Hier help 'n man wat baie minder as jy het, ander wat nog minder het. Jy spreek groot waardering uit, maar verleen jy hulp aan verdienstelike volkgenote?
'N LEEU EN 'N MUIS
Koning Leeu lê eendag in die son en slaap toe 'n veldmuis oor sy voorpoot hardloop en hom wakker maak. Die ou grote was sommer vies en hap na die muis om hom vir 'n versnaperinkie in te sluk.
"O liewe Leeu, laat my tog asseblief gaan! Dalk kan ek jou dan weer eendag 'n guns bewys," pleit Muis.
Leeu kry sommer lag. Wat sal die arme drommeltjie tog nou ooit kan doen om hom te help? Maar hy was 'n goedhartige leeu en hy het die muisie se moed bewonder, daarom het hy Muis laat gaan.
In die bos waar die leeu gewoon het, was daar wilddiewe wat vangnette vir grootwild gestel het. Eendag beland Leeu niksvermoedend in so 'n sterk vangnet. Hy was magteloos. Al was hy sterk en al het hy hoe geruk en gepluk kon hy homself net nie uit die toue losgewoel kry nie. In sy kwaadgeit uiter hy 'n geweldige brul.
In 'n ander deel van die woud hoor Muis hom! Hy laat vat in die rigting van waar die geluid gekom het, en nie lank nie of hy staan voor die gevange koning van die oerwoud.
"Staan net doodstil, liewe Leeu, ek sal jou loskry. Jy het my 'n guns bewys, en nou is dit my beurt." Hierdie keer het Leeu nie vir die Muis se woorde gelag nie, want hy kon sien hoe die knaagdiertjie se skerp tandjies reeds die toue begin deurbyt.
Toe die bevryde leeu en sy klein vriendjie later rustig langs mekaar in die son lê, sê hy: "Ek is jammer ek het vir jou gelag, Muis, maar vandag het ek geleer dat niemand te belangrik of te onbelangrik is om 'n ander te help of om hulp nodig te kry nie."