Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Geluk is nie ‘n bestemming waarby ‘n mens aankom nie, maar eerder die manier waarop ons deur die lewe reis. Soms loop ons geluk mis omdat ons dit iewers daar ver gaan soek, terwyl dit sommer naby aan ons is. Wyses kweek dit aan hulle voete!
BROKKIES UIT DIE BOEK VRYBURGER (13)
geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
1. Slag van Bronkhorstspruit 20 Desember 1880
Desember 1880 is Luitenant–kolonel PR Anstruther met sy 94ste regiment op mars vanaf Lydenburg. Sy opdrag is om aan te sluit by die Britse magte in Pretoria.
Die opdrag uit Heidelberg aan die Transvaalse Boere is om die Britse magte te verhoed om aan te sluit by magte in Pretoria. Hulle wag die aankomende Britte in naby Bronkhorstspruit onder bevel van Kommandant Frans Joubert.
Anstruther kry waarskuwings dat hy versigtig moet wees maar neem dit nie ernstig op nie en onderskat die Boere heeltemal. Naby ‘n spruitjie, Bronkhorstspruit, word die opmars tot stilstand gebring toe ‘n groep Boere op die kruin verskyn. Die Britte vorm dadelik ‘n oorlogsformasie, gereed om te veg. Burgher de Beer (‘n boer wat Engels goed magtig is) nader die Britte te perd onder ‘n vlag van wapenstilstand met ‘n brief aan Anstruther met ‘n versoek van samespreking en waarskuwing om om te draai. Anstruther het 2 minute om te antwoord en hy maak dit duidelik dat hy geen begeerte het om te praat nie. Sy opdrag is om Pretoria toe te gaan en sy bevele te gaan hy uitvoer.
‘n Kort, hewige geveg breek uit. Die Boere opgestel in ‘n lang enkelry wat teen die skuinste afbeweeg in tipiese velddrag wat saamsmelt met veld. Die Britte in oorlogsformasie, duidelike teikens in hulle helder uniforms. Die Britte se wapens heeltemal verkeerd ingestel vir so ‘n kort afstand en koeëls vlieg skadeloos oor Boere se koppe wat hulle vining omsingel.
Die geveg duur ongeveer 10 tot 15 minute. Aan Britse kant ongeveer 268 man, aan Boerekant 250 man sterk. Aan Britse kant is 56 dood, 91 gewond waarvan 21 later sterf, die res word gevange geneem. Anstruther het 5 skietwonde in sy bene, een been word geamputeer, maar 26 Desember sterf hy ook. Aan Boerekant is 2 dood en 5 gewond.
Kommandant Frans Joubert neem die waens van die Britte oor en gebruik hulle tente en komberse en voorraad om dadelik ‘n kamp op te rig vir die gewondes. Hy laat selfs 20 man agter om die dooies te begrawe en die gewondes te help verpleeg. Hy laat toe dat van die gewondes Pretoria toe geneem word. Die gevangenes het hy vrygelaat en teruggestuur Oranje Vrystaat toe.
Dit is duidelik dat die Britte die Boere heeltemal onderskat het. Gewone boere met geen militêre opleiding weliswaar, maar net plaasboere. Min wetend dat hulle tuis was in die veld, geleer perdry het voor hulle 6 jaar oud was en ervare skuts was van jongs af. Wapens en ammunisie was skaars en hulle het geleer dat elke skoot moet tel en ook geleer om hulleself te verdedig teen vyandige ander bevolkingsgroepe.
*
Wanneer Jan vanaf Goliat se groot rug afbuk om vir Franci ‘n laaste soen op die mond te gee en vir klein Emmatjie op haar voorkoppie, kon hy net sowel die ruiter wees wat baie jare later die model was vir die afskeidsbeeld by die museum in Bloemfontein. Hy het die lang Martini-Henri op sy rug, die gekruise banoliere is gevul met die fris .450/577 rondtes met sagte loodneuse en aan twee pasgemaakte skedes aan sy sye, is die twee Howdah pistole in .577 kaliber. Sy saalsakke is gevul met ekstra ammunisie, biltong, sout, mieliemeel en beskuit, en sy groot velthoed is op die kop, aan die regterkant opgevou. Elke soldaat weet dat, wanneer hy homself as een beskikbaar stel, hierdie oomblik sou aanbreek, wanneer hy besef hy gaan nie as dieselfde man terugkom nie, indien hy wel oorleef. Daar is ‘n kans vir ernstige verwonding, die verlies van ‘n ledemaat, of met erge emosionele skade.
Buite die hek staan dertig manne, ewe gewapen en voorbereid, vir Jan en wag. Ook hulle het hulle families gegroet, vanaf Boetie Behrens, die sestienjarige, wat spesiale toestemming van Oom Piet Joubert moes kry om op kommando te gaan, die jong, ongetroude burgers, wat opgewonde is om die kakies te gaan opfoeter, die meer nugtere getroudes wat vrou, kind en werf moes agterlaat om vir hulleself te sorg, tot bebaarde middeljariges en oom Naas van Zijl, wat al in sy sewentigs is, maar soos hy sê: “Die linkeroog uit ‘n muggie kan skiet op ‘n honderd jaarts, sonder om die regter een te tref.”
Wanneer Jan regop kom, kyk hy af in die pragtige gesig van Francesca, wat na die geboorte van Emma, weer haar jongvrou-figuur herwin het, deels te danke aan die gereelde oefening wat sy kry met ver stap in die laatmiddag saam met Jan en hulle dogtertjie, maar ook die harde werk in en om die huis, asook die ver ritte wat sy vroeg soggens neem met Delila, haar vosperd merrie. Soms sal sy haar korter, saalkarabyn Martini saamneem en skyfskiet na klippe wat sy en Jan op verskeie afstande uitgesit het. Sy skiet nie so goed soos Jan nie, maar is nie ver agter hom nie.
By die hek kyk Jan vir oulaas om. Franci het weer die blou rok aan waarin Jan haar gesien het daar in die veld, uitgeput, koud en naby aan die dood. Emmatjie is mooi, selfs uitermate mooi, met haar ma se sagte gelaatstrekke, rooibruin krulle en blou ogies. Sy het net anderdag nog geleer kruip, maar die afgelope week selfs kort treetjies begin gee op haar pofferbeentjies. Wanneer sy nie meer verder kan nie, val sy terug op haar boudjies en lag uitgelate.
“Sê totsiens vir Pa, Emma.” sê Franci, meer om haar eie hartseer weg te steek as iets anders. Wanneer die groep ruiters aanry, hardloop sy, met baba in haar arms, na die hekkie toe aan die voorkant van die huis, en kyk, met haar hand soos ‘n kappie oor haar oë, totdat die manne by die draai kom, net anderkant Tant Ralie se losieshuis. Alhoewel Jan effens kleiner is as die ander manne, is sy perd groter en hy is ewe hoog van die grond af as hulle. Hy sit regop, met uitgestrekte bene in die lang stiebeuelrieme, soos die Boere doen, anders as die Engelse, wat daarvan hou om met gebuigde knieë perd te ry.
Sodra hulle uiteindelik heeltemal buite sig is, gaan Tant Ralie se tuinhekkie oop en, terwyl sy haar hande aan haar voorskoot afdroog, loop sy na waar Franci staan.
“Ek het my Petrus ook so gesien wegry, Hartjie. Dit was lank gelede, met die oorlog teen die swart stamme hier anderkant. Dis nie verkeerd vir ‘n vrou om te huil met ‘n afskeid nie.”
“Wat het van Oom Petrus geword, Tante?”
“Ai, Hartjie, hy het nie teruggekom nie – in elk geval nie op sy perd nie, maar oor die saal vasgemaak.”
Ralie se gemoed skiet vol as sy daaraan dink. Sy was toe nog ‘n relatief jong vrou en het nooit weer getrou nie, of soos sy altyd sê: “Man gevat.”
“En as Jan nie terugkom nie…?”
“Hy sal, Francesca. Jan is anders. Hy is nie net van goeie stoffasie gemaak nie, maar hy is ‘n man wat nog diep spore gaan trap, glo my.”
“Hoe weet Tante dit?”
“Het ek jou nog nooit gesê ek is met die helmet gebore nie? Dis nou as deel van die nageboorte oor jou kop lê wanneer jy gebore word. Oudominee het gesê ek moet daarmee ophou, dis heeltemal onbybels, maar ek sê dis ‘n gawe van die goeie Here af. Die eerste keer wat ek vir Jan Verwey gesien het, het ek geweet hy is een van ons volk se groot manne – of te wel, hy sal nog wees. Daarom kan hy nie nou sneuwel nie.”
“Dankie, Tante.”
“Loop gou oor daar na my toe. Ek het vanoggend nog soetkoekies gebak en daar is lekker tee in die pot.”
*
George Pomeroy Colley was die derde en jongste seun van George Francis Pomeroy. Hy het as kind gestudeer by Cheam, Surrey, waar die skoolhoof van homgesê het: “Swift to take offence, prompt and vigorous in resenting it”.
Later studeer hy Krygskunde by die Koninklike Militêre Kollege, Sandhurst, waar hy eerste plek behaal het in meriete en goeie gedrag met die eksamens van 1852 en was as kandidaadoffisier aangestel op die ouderdom van sestien in die 2de Koningin Infanterie-eenheid. Hy was blykbaar skraal, en goed gebou, met ‘n voorkoms van groot fisieke krag. Uit sy vookoms kon ‘n mens ook agterkom dat hy baie intellektueel begaafd was. Hy het ook, behalwe vir krygskunde, uitgeblink in kuns en veral met litirêre ingesteldheid. Hy was gekenmerk as afsydig en dromerig. Hy was gekasty oor sy skaamheid as kind, alhoewel goedgemanierd.
Na twee jaar as kandidaadoffisier, is hy bevorder na luitenant en na die Oosgrens Kaap van Goeie Hoop gestuur. In Junie 1860 het hy weer by sy eertydse regiment aangesluit en is China toe, waar hy aandeel gehad het aan die verowering van die Takuforte en hy was teenwoordig in die opmars na Peking.
Nadat sy regiment huis toe gestuur is, het hy vir ‘n kort tydjie na die Kaap teruggekeer en is daarna na die Stafleërkollege te Sandhurst. Hy het bo-aan die klaslys gegradueer, na tien maande se opleiding, in plaas van die meer normale twee jaar.
Van hom is gesê: “His literary attainments were considerable. He was in the habit of rising early, and securing always two hours before breakfast time for some special study. He thus acquired the Russian language, and studied chemistry, political economy, and other subjects not directly connected with his profession.”
Hy is vinnig bevorder na Brevet-Majoor en later Luitenant-Kolonel.
In 1875 het hy ‘n ekspedisie meegemaak, saam met Sir Garnet Wolseley, ‘n spesiale operasie na Natal, waar hy tydelik die tessourier was van die administrasie van die kolonie. Hy het ook na Transvaal gereis, deur Swaziland en die Portugese nedersetting by Delagoa Baai.
Op 24 April 1880, was hy aangestel as Generaal-Majoor, bevelvoerder van die Natal-Kommando, waar hy Sir Wolseley opgevolg het as goewerneur en bevelvoerder, sowel as hoëkommissaris van Suid-Oos Afrika.
Aan die einde van hierdie jaar was die toestand van Transvaal vir die Britte absoluut kritiek.
*
Die Slag van Laingsnek het op 28 Januarie 1881 net suid van die dorp Charlestown plaasgevind tydens die Eerste Vryheidsoorlog. Britse magte onder bevel van generaal sir George Pomeroy Colley het probeer om 'n pad oop te veg deur die Boeremagte onder bevel van Kommandant-generaal Piet Joubert. Die Britse magte is verslaan met 'n lewensverlies van 84 manskappe.
Halfpad tussen Pretoria en die myndorp Johannesburg sluit Jan se kompanie burgers by Piet Joubert se groter groep aan. Hulle beweeg vinnig, met die proviandwaens wat agtergelaat word met van die ouer Boere en jong manne wat agterbly om die waens te beskerm. Alhoewel die swartstamme betreklik rustig is, is daar steeds klein bendes wat hulle nie aan die hoofmanne steur nie en aangaan met aanvalle op wydafgeleë plase en natuurlik reisigers en transportryers.
Alhoewel Boetie beveel is om agter te bly by die waens, het hy net gewag totdat die krygers oor die bult verdwyn, of hy saal sy perd op en gaan agterna. Hy gaan nie toelaat dat daar geskiet word en hy is nie daarvan deel nie. Hy was te laat om deel te wees van die Boeremag wat op 20 Desember by Bronkhorstspruit die Engelse so lekker pak gegee het, het gesien hoe die burgers met toejuiging ontvang is met hulle terugkoms en hy gaan definitief nie weer agterbly nie.