SA GEWAARSKU VIR APRIL-MEI

https://youtu.be/Mo_hIPkZPGM

By die skakel hierbo kan u die video van Roger Teale sien en luister.  Hy, 'n Christen-Amerikaner, was in 1988 asook in 1994 in Suid-Afrika. Hierdie video is opgeneem tydens sy 1994 besoek toe God wou hê dat hy die Christene in Suid-Afrika moes kom waarsku teen wat in hulle toekoms hier sal gebeur.  Aan hom is geopenbaar dat ons hele land sal brand terwyl die ergste anargie ooit uitbreek.  Hy het sy gehoor in Durban gesmeek om die eerste brand te stig deur dit wat in ons huise verkeerd is voor God, uit te gooi en aan die brand te steek want dit is al wanneer God ons sal spaar. As ons dan in ons huise bly terwyl die satan buite woed en alles wat voor kom verskeur, sal God met ons in ons gereinigde wonings wees en die vyand verby laat gaan.  Maar indien ons nie gehoor gee aan die reiniging van ons eie huis en haard nie, sal ons saam met die wêreldlinge in die brande en aan die hand van woedende vyande omkom.

As u na die video luister, sal u hoor hoe Teale meer as een maal beklemtoon dat daardie verwoesting in April-Mei sal plaasvind.  Dit was April 1994 toe hy hier was, dus het hy nie van daardie jaar gepraat nie maar van êrens in die toekoms.  Is daardie jaar 2023 terwyl die duiwel reeds los rondloop en Malema se opsweping nou hoogtepunt begin bereik?

Teale sou sy boodskap ook in Johannesburg en ander plekke lewer maar dieselfde aand nog het die vyande van God op hom toegesak en onmiddellik teruggestuur na Amerika.  Dit alleen vertel vir ons dat die satan 'n stokkie daarvoor gesteek het omdat hy nie wou hê dat meer mense hiervan moes kennis neem nie.  En DIT vertel vir ons dat ons hierdie gebeure ernstig moet opneem, alles wat in ons lewensgang nog nie met God se gebooie strook nie, moet uitwerp uit ons lewens en baie opreg moet smeek vir genade. Johanna Brandt het oa gesê dat indien ons (die Christene) genoeg en opreg hieroor bid sal die wolke minder donker wees.  Siener het gesê dat vir diegene (Christene) wat weet waaroor dit gaan (dus laat staan en bely het) dit nie so angswekkend sal wees as vir die ander nie. 

Teale het beklemtoon dat hierdie gebeure 'n strafgerig van God is; dit het Johanna en Siener ook gesê.  En hierdie mense het ook gesê dat dit so skielik sal plaasvind dat niemand dit verwag nie - die Malema-episode het soveel aandag so lank voor die tyd geniet dat dit kwalik onder die gesig se voorwaardes kwalifiseer.

As Teale reg is oor die maand(e) waarin dit sal plaasvind (April-Mei) is die moontlikheid baie groot dat dit hierdie jaar is want alle tekens dui daarop. Matt 24 leer ons dat ons na die tekens moet kyk al kan ons nie die tyd weet nie.  En ons was al 'n paar keer verkeerd met die tyd, maar nooit met die tekens nie!