1795: OPSTAND IN SWELLENDAM

KULTUURDAGBOEK 18 JUNIE

Lees volledig by Kultuurdagboek

Die beginsel van 'n eie Afrikaanse republikeinse strewe en vryheidsgevoel kan teruggevoer word tot die Kaapse Patriotte en die opstande te Graaff-Reinet en Swellendam.

Die Kompanjie was teen 1790 op die rantjie van bankrotskap en die ekonomiese posisie van die burgers was haglik. 'n Gees van verset het by die Swellendamse grensboere posgevat.

Op 17 en 18 Junie 1795 het 'n sestigtal gewapende burgers onder hul selfverkose "Nasionale Kommandant", PJ Delport, die drosdy van Swellendam beset en landdros AA Faure met sy assistente gedwing om hul ampte neer te lê.

Nuwe ampsdraers is in hulle plekke aangestel met Hermanus Steyn as Nasionale Landdros. As hoogste bestuursliggaam is 'n Nasionale Konvensie (Vergadering) ingestel met Hermanus Steyn as President (in die sin van voorsitter).  Die beginsel van volksverteenwoordiging en volksoewereiniteit het eindelik geseëvier.

Hoewel die gesag van die Kompanjie afgeskud is, is daar geen onafhanklike republiek uitgeroep nie maar het hulle direk onder die vrye Nederlandse Republiek geressorteer.

Brittanje kom egter in Septeber1795 en beset die Kaap, en die Swellendammers onderwerp hulle sowaar sonder meer weer aan die nuwe bewind.