KULTUURDAGBOEK 14 JUNIE
Lees volledig by Kultuurdagboek
Op 14 Junie is Wet Nr 13 van 1912 "Om voorziening te maken voor de Verdediging van de Unie en voor zaken daarmede in verband staande", afgekondig. Daar is onmiddellik 'n begin gemaak met die opbou van 'n sentrale verdedigingsorganisasie, met die hoofkwartier in Pretoria. Vir die eerste keer is 'n gesamentlike weermag, naamlik die Unie-Verdedigingsmag, daargestel.
Sy hooftaak was landverdediging. Destyds het dit hoofsaaklik om binnelandse onrus en beskerming van die Kaapse seeroete gegaan.
Op 1 Julie 1912 het die Departement van Verdediging kragtens Wet Nr 13 van 1912 'n afsonderlike staatsdepartement geword. Tussen die tydperk 1912 tot 1960 veg Suid-Afrika in twee Wêreldoorloë en die Koreaanse oorlog aan die kant van Groot-Brittanje en die Verenigde Volke.
Ná ondertekening van die wapenstilstand in Korea op 27 Julie 1953, het die wêreld ingrypende veranderinge ondergaan. Onrus het 'n kenmerk van die na-oorlogse wêreld geword. In hierdie omstandighede is die Unie-verdedigingsmag se naam verander na Suid-Afrikaanse Weermag.
Kort nadat Suid-Afrika in 1961 die status van 'n vrye en onafhanklike republiek verkry het, is die Suid-Afrikaanse Weermag ook totaal ontvoog van Groot-Brittanje.
Wat verdedigingsaangeleenthede betref, het hierdie nuwe status ongetwyfeld nuwe eise aan die Weermag gestel. Een van die grootste verpligtinge was, behalwe om ons land te beveilig, ook om ons tradisionele vryheid en staatkundige onafhanklikheid te behou.
Die Suid-Afrikaanse Weermag is op 'n moderner grondslag geplaas, waarin die beginsel van persoonlike diensplig die hoeksteen sou vorm om staande te kan bly teen aanvalle van buite.