KULTUURDAGBOEK 13 JUNIE
Lees volledig by Kultuurdagboek
Jan Roeland Georg Luttig is op Prins Albert gebore en het in die distrik geboer totdat hy op 89 jarige leeftyd oorlede is. Prins Albert het toe onder die landdrosdistrik van Beaufort-Wes geresorteer. Hy het Beaufort-Wes en distrik van 1882 tot 1883, 1889 tot 1893 en 1897 tot 1898 in die Kaapse Parlementverteenwoordig.
Op 13 Junie 1883 het hy die eerste Hollandse toespraak in die Kaapse Parlement gelewer. Reeds in 1877 is petisies onder leiding van JH Hofmeyr gesirkuleer vir die vorming van 'n vereniging om die gebruik van die Hollandse taal te bevorder.
In Junie 1882 het die Parlement 'n wet wat die gebruik van Hollands in die Parlement gemagtig het, aanvaar. Luttig het egter nadat hy sy Hollandse toespraak gelewer het, verklaar dat hy voornemens was om in die toekoms nie weer 'n Hollandse toespraak te lewer nie aangesien hy hom net so goed in Engels kan uitdruk. Trouens, nadat die gebruik van Hollands in die Kaapse Parlement gemagtig is, het Engels steeds die meeste aftrek gekry.