1906: N.P. VAN WYK LOUW

KULTUURDAGBOEK 11 JUNIE

Lees volledig by Kultuurdagboek

Nicolaas Petrus van Wyk Louw, herkomstig uit die Karoo (Sutherland), is op hierdie dag gebore en was een van die grootste Afrikaanse skrywers en digters van ons volk. Hy het soos geen ander skrywer voor hom nie, die bakens van Afrikaanse menswees versit.

Die Afrikaanse taal het gedurende die periode dat hy geskryf het, en in 'n belangrike mate danksy hom, gegroei  van 'n skugtere literatuurtaal tot 'n medium waarin alle fasette van menswees uitsêbaar geword het.

Die Afrikaanse literatuur het onder sy hand en invloed onherkenbaar verander – vanaf iets lokaals tot iets universeels. Maar ook die Afrikaanse denke was ná Van Wyk Louw nie meer dieselfde as voorheen nie. Hy het die grondslae van die Afrikaanse nasionalisme soos geen ander voor hom nie (ook politici) deurdink en gefundeer. Deur sy dwingende argumentvoering en helder styl (bv in 'Lojale verset', 'Berigte te velde' en 'Liberale nasionalisme') kon hy die taak van Afrikanerskap in en vir 'n nuwe tyd vertolk, sodat sy invloed na sy dood nog net so sterk gebly het soos enige tyd daarvoor, veral by die intellektuele.

In die eerste plek rus sy roem egter op sy werk as skeppende kunstenaar. Die vernaamste kenmerk van sy skeppende werk is die omvang, variasie, en nuanses. In sy persoonlike liriek bv in bundels soos 'Alleenspraak', 'Die halwe kring','Gestaltes en diere', ' Nuwe verse' en 'Tristia' spreek die spektrum vanaf die intieme belydenisvers soos in 'Alleenspraak' tot die vers wat die vrug is van 'n gedurfde denkworsteling met die werklikheid soos in 'Tristia'.

In die epiek het hy Afrikaans se belangrikste enkele gedig geskryf 'Raka', die beelding van 'n gemeenskap se ondergang omdat dit ontrou geword het aan sy tradisies. In dié drama het hy 'n reeks werke geskep wat strek vanaf die onpretensieuse radiospel (bv 'Blomme vir die winter') tot die grootste dramatiese spel in Afrikaans, 'Germanicus', die tragedie van 'n Romeinse heerser in die tyd van Christus wat 'n ideaal van suiwer-menslikheid wou nastrewe in 'n wêreld van boosheid en dekadensie.

Hy is die Afrikaanse skrywer wat die Hertzogprys die meeste kere verower het – vyf maal. Hieruit alleen kan mens hom reeds as die grootste persoonlikheid in die Afrikaanse letterkunde beskou. Hy het inderdaad die letterkundige toneel tot sy dood - op 18 Junie 19780 in Johannesburg - oorheers.