KULTUURDAGBOEK 8 JUNIE
Lees volledig by Kultuurdagboek
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Lewens-Assuransie-Maatskappy is op hierdie dag in Kaapstad onder voorsitterskap van WA Hofmeyr gestig. Die aanvangskapitaal was R50 000.
In 1975 was Sanlam se bates R828 miljoen en het hy ongeveer 650 000 mense verseker. Daar is geraam dat die groep wat uit en rondom Sanlam bestaan het, in 1980 meer as R3 000 miljoen se bates beheer het.
Sanlam se leuse: "Uit die volk gebore om die volk te dien", was die leuse wat die kultuurmanne Willie Hofmeyr, Charlie Louw, PA Malan en ander met die stigting van Sanlam vir die Maatskappy gekies het. Hulle het 'n kapitaalkragtige saak beoog wat vir die verarmde Afrikanervolk geleenthede sou skep.
Die klem by Sanlam het weliswaar geleidelik tot groter sakebenadering en die uitbouing van ons landsekonomie verskuif maar sy identiteit as Afrikaanse maatskappy is in daardie jare deurgaans behou. Sy voorsitter, dr AD Wassenaar, het by geleentheid gesê: "Sanlam simboliseer die Afrikaner se vermoë om hom in die sakewêreld deur intelligente, eerlike, harde werk te handhaaf."
Danksy die geesdrif van sy briljante jong aktuaris en besielende kultuurstryder, dr MS (Tinie) Louw, en die destydse daadkragtige FAK, Reddingsdaadbond en Ekonomiese Volkskongres (1939), is Federale Volksbeleggings in 1940 gestig met onder meer 'n groot bydrae uit Sanlam-fondse, ten einde bedryfskapitaal vir nuwe Afrikaanse ondernemings te verskaf. Hier het die Afrikaner se ekonomiese vooruitgang begin wat later alle rassegroepe en ons landsekonomie sou bevoordeel.
Omdat Sanlam hom vir baie jare gehou het by sy stigtingsleuse, het hy deur die jare op 'n wye verskeidenheid kultuurterreine 'n aansienlike ontwikkelingsrol gespeel, enersyds deur geldelike bydraes en andersyds deur bewaringsprojekte. Namens sy polishouers het Sanlam sy roeping daardie jare aanvaar om ons landsbelange te dien en 'n gesonder, beter ontwikkelde volk te verseker.