1887: BOU VAN DELAGOABAAI SE SPOORLYN BEGIN

KULTUURDAGBOEK  2 JUNIE

Lees volledig by Kultuurdagboek

Reeds op 31 Julie 1872 het die Volksraad van die ZAR besluit om 'n spoorlyn na Delagoabaai aan te lĂȘ, en in 1875 het pres TF Burgers na Europa gegaan om 'n lening daarvoor te bekom. Op 11 Desember 1875 is 'n protokol tussen Portugal en die ZAR onderteken wat die wetlike grondslag vir die konstruksie van die spoorlyn sou vorm.

Die swak ekonomiese posisie van die Republiek en die diplomatieke teenkanting van Brittanje het egter die bou van die spoorlyn verhinder.

Nadat SJP Kruger tot president verkies is, is 'n ooreenkoms tussen Portugal en die ZAR op 17 Mei 1884 oor die beoogde spoorlyn onderteken. Die ontdekking van goud het die ekonomiese krag gelewer en op 21 Junie 1887 is die Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Spoorweg-maatschappij gestig. Hoewel daar op 2 Junie 1887 met die konstruksie van die Delagoabaai-spoorlyn begin is, is dit eers op 20 Oktober 1894 voltooi. Hierdie spoorlyn was 'n uiting van die ZAR se begeerte vir 'n eie deurweg na die see en het ekonomiese en politieke betekenis gehad.