KULTUURDAGBOEK 1 JUNIE
Lees volledig by Kultuurdagboek
Nasionale feesdae is geleenthede wanneer die Suid-Afrikaanse volk by herhaling besondere gebeurtenisse in sy verlede herdenk. Die waarde van sulke geleenthede lê daarin opgesluit dat dit hernieude volkstrots en –bewustheid laat ontbrand.
As volksorganisasie was dit dus vanselfsprekend dat die FAK 'n indringende rol in hierdie verband gespeel het in die dae voordat dit ook deur infiltrasie van ons volksvyande lamgelê is. Die geesdrif wat die Eerste Taal- en Kultuurkongres op 18 en 19 Desember 1929 in Bloemfontein gekenmerk het, het die eerste ampsdraers van die FAK daarvan oortuig om die besieling wat daarvan uitgegaan het, aan die volk oor te dra.
Die behoefte was dat elke Afrikaner op praktiese wyse die geleentheid gegun moet word om aktief aan die kultuurstryd deel te neem en sy geringe bydrae te lewer tot die vestiging van Afrikanertrots. Die Uitvoerende Komitee van die FAK het onderneem om praktiese uitvoering aan hierdie ideaal te gee.
By monde van die FAK-voorsitter, dr NJ van der Merwe, is in 'n landwye radiorede die volk opgeroep om deel te neem aan die viering van Kultuurdag op 1 Junie 1931. Daar is geesdriftig aan hierdie versoek gehoor gegee en in groot getalle het die Afrikanervolk op hierdie dag deelgeneem aan die feesvieringe en opnuut besieling daaruit geput.
Vandat die volksvyande daarin geslaag het om die Afrikanervolk te verdeel en daar nie meer kultuurvieringe plaasvind nie, het die volksbewustheid en –trots heeltemal op die agtergrond geskuif en was dit daarom maklik om die Afrikanervolk aan 'n godlose kommunistiese bestel uit te lewer wat net een doel voor oë het, naamlik om hierdie volk geheel en al te vernietig.