1891: ADENDORFF- TREK BEGIN

KULTUURDAGBOEK 1 JUNIE

Lees volledig by Kultuurdagboek

Die sogenaamde Adendorff-trek na Banjailand (die ou suidelike Rhodesië, nou Zimbabwe) sou op dié dag begin het. Die trek was 'n uitvloeisel van kontak op godsdienstige terrein en die jagveld tussen Transvaalse Boere en die Sjonas noord van die Limpoporivier.

Reeds in 1880 is Transvalers uitgenooi om die Banjais teen die aggresiewe Matabeles te beskerm. Eers in Augustus 1890 is 'n grondkonsessie onderteken terwyl Rhodes se Brittish South African Company Masjonaland beset het. 'n Trek na Banjailand is vir 1 Junie 1891 gepropageer. Aangesien 'n besetting van Banjailand Masjonaland van die suide sou afsny, het Rhodes diplomatieke kragte teen die ZAR ingespan, alle Limpoporivierdeurgange bewaak en Britse soldate na Botswana verskuif.

Pres Kruger wat Britse steun vir 'n Swaziland-oorname begeer het, het 'n amptelike verbod teen die trek uitgevaardig. Op 24 Junie het 110 trekkers tog by Florisdrif naby Messina opgedaag, waar dr LS Jameson hulle namens die BSAC toegang tot Rhodesië geweier het.

Amptelike besware is deur die trekkers ingedien en, in samewerking met die Kaapse Afrikanerbond, 'n geregtelike ondersoek na die wedersydse grondaansprake van die trekkers en Rhodes aangevra. Britse voorwaardes vir so 'n ondersoek het neergekom op trekkerkapitulasie, al sou hulle aansprake die enigste geldige wees.

Die gebeurtenis was die eerste groot Afrikanernasionale saamtrekking teen Rhodes se imperialisme. Afrikaners sou ook voortaan slegs tot Rhodesië toegelaat word as hulle uitdruklik die Brits gesag sou aanvaar.