KULTUURDAGBOEK 30 MEI
Lees volledig by Kultuurdagboek
Tussen 15 en 31 Mei 1902 is daar, ná uitgebreide korrespondensie sedert Maart oor vrede tussen die strydende Boere- en Britse magte, en na onderlinge samesprekings by Kroonstad, Klerksdorp, Pretoria, Vereeniging en weer Pretoria en ook weer Vereeniging, tot vrede besluit. Dit was 'n uitgerekte, netelige saak.
Van 29 Mei af is by Vereeniging finale helderheid begin kry. Die sittings is deurgaans met gebed geopen en gesluit. Verslae van die verskillende ondersoekgroepe was byna almal ontvang en verklaar.
Op Vrydag 30 Mei was die einde werklik in sig. Pres. Steyn het die 29e weens swak gesondheid as Vrystaatse president bedank, en CR de Wet is in sy plek as waarnemer aangewys.
Die hele dag is daar gepraat –deur JC Smuts, Louis Botha, JBM Hertzog, JH de la Rey, J Naudé, kmdt Chris van Niekerk, genl Chris Muller van Boksburg en nog andere. Almal het die allerhaglikste beeld van die vernietiging oral in die Republieke geskets. Wie aanhou veg sal die Boerevolk uitroei want Brittanje se oogmerk was in ieder geval om die Afrikaner onherroepelik te breek – dit was min of meer die gang van elkeen se betoog.
Europa sou hom beslis ook nie tot Boerevoordeel inmeng nie. Verdere strydvoering sou dus die land finaal knak. Die Britte het besef dat die Boere in elke opsig voor die groeiende oormag nie sou kan bly staan nie en sou desnoods nie weer 'n geleentheid tot 'n formele vredesluiting skep nie.
Die Afrikaanse volk durf nie vir staatkundige vryheid prysgegee word nie want dan sou die wortel vernietig wees waaruit 'n nuwe Afrikanerdom kon groei.