1917: SAAMWERK-UNIE GESTIG

KULTUURDAGBOEK 24 MEI

Lees volledig by Kultuurdagboek

Onder leiding van adv EG Jansen is die 'Saamwerk-Unie van Natalse vereniginge' in die Gedenksaal van die NG Kerk in Pietermaritzburg gestig. Soos die naam aandui, was dit die doel om die verskillende vereniginge onder Afrikaners in Natal te verenig om sodoende Afrikaners in die provinsie tot hegte en eendragtige optrede aan te spoor. Dit was bo alle twyfel een van die belangrikste gebeurtenisse vir die vestiging van Afrikaans as taal en vir die Afrikaner in Natal.

Op die eerste bestuursvergadering is dit aan mev MM Jansen opgedra om 'n skema vir 'Eksamen in Afrikaans' op te stel. Die skema is deur mev Jansen in September 1917 voorgelê, en so is die eerste eksamen in Afrikaans in Suid-Afrika gebore – wat natuurlik met aanpassings, bestaan het tot Suid-Afrika kommuniste as regeerders gekry het.

Reeds in die eerste jaar van die eksamen het 406 kandidate daaraan deelgeneem, van wie 316 buite Natal, onder wie name soos CR Swart, LW Hiemstra en Avril Malan voorkom.

In 1974 het nie minder nie as 19 729 kandidate aan die taaleksamen van die Saamwerk-Unie deelgeneem, van wie die helfte nie-blankes was. In die bevordering van Afrikaans het hierdie taaleksamens dwarsdeur Suid-Afrika 'n belangrike rol gespeel. Meer nog, die Saamwerk-Unie het deur sy jaarkongresse en verskillende komitees – die historiese kommissie, wedstrydkommissie, uitleenbiblioteekkommissie – die Afrikaners in Natal bymekaar gehou, geïnspireer om te werk en te stry vir sy eie reg en sy eie erfenis.