1874: DR DF MALAN

KULTUURDAGBOEK 22 MEI

Lees volledig by Kultuurdagboek

Daniël Francois Malan is op Riebeeck-Wes gebore op 22 Mei 1874. Nadat hy sy studie aan die Stellenbosch Kweekskool voltooi het, gaan hy na die Universiteit van Utrecht waar hy in 1905 promoveer met 'n proefskrif 'Het Idealisme van Berkeley'. Hy word predikant op Heidelberg in Transvaal, later Montagu en ook Graaff-Reinet, waar hy aandag trek as kultuur- en kerkleier en bevorderaar van onderwyssake.

In 1908 en 1911 lewer dr Malan sy beroemde redes, 'Het is ons Ernst', en 'Taal en Nationaliteit'. In 1909 is hy mede-stigter van De Zuid-Afrikaanse Akademie.

Van 1910 beywer hy hom vir die erkenning van die Victoria-Kollege as volwaardige universiteit. Hy was kanselier van hierdie Universiteit vanaf 1941 tot en met sy dood.

In 1915 word hy op sterk aandrang van invloedryke Afrikanerleiers die eerste redakteur van die pasgestigte dagblad De Burger, ook leier van die Nasionale Party in Kaapland, en in 1919 Volksraadslid vir die kiesafdeling Calvinia. Dieselfde jaar gaan hy as lid van die Vryheidsdeputasie na Versailles om 'n groter mate van selfregering vir Suid-Afrika te probeer bewerkstellig.

 By sy terugkeer werp hy hom met hart en siel in die stryd om die hereniging van die Afrikaners wat as gevolg van die Eerste Wêreldoorlog, die Rebellie en die gevolglike politieke skeuring, diep verdeeld was. Met die bewindsaanvaarding van die Pakt-regering (gebaseer op die samewerking van die Nasionale en die Arbeidersparty) in 1924, word hy Minister van Binnelandse Sake, Volksgesondheid en Onderwys onder genl JBM Hertzog, die Eerste Minister. Hy betoon hom 'n deeglike en billike administrateur van staatsake. In hierdie regering was dr Malan verantwoordelik vir die deurvoering van veral twee belangrike maatreëls: die erkenning van Afrikaans as amptelike taal naas Engels (1925) en die ingebruikneming van 'n eie Suid-Afrikaanse nasionale vlag (1928).

Toe genl Hertzog in 1933 as gevolg van die finansiële en ekonomiese krisis in die land oorgaan om met die Opposisieparty van genl JC Smuts – die Suid-Afrikaanse Party – saam te werk, het Malan, wat gestreef het na samewerking onder enersvoelendes, verkies om buite die koalisie te bly. Die NP het in twee geskeur, en in 1934 gaan hy met 'n handjievol ondersteuners in die Volksraad in opposisie. As politieke strateeg, en met die ondersteuning van adv JG Strydom van Transvaal, beklemtoon hy die republikeinse strewe van die NP en ontwikkel hy die beleid van afsonderlike ontwikkeling, waarna indertyd as apartheid verwys is.

Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939, het die Hertzog-Smuts koalisie in twee geskeur oor die kwessie van deelname aan die oorlog. Malan bewerkstellig nou die hereniging van die nasionaalvoelende faksies, en na die uittrede van genl Hertzog word Malan leier van die Herenigde Nasionale Party. Die veeleisende stryd in die lewe van Malan vind plaas op die drempel van die veertigerjare toe hy te staan kom voor die uitdaging uit veral drie oorde in Afrikanergeledere: die Afrikanerparty, die Nuwe Orde en die magtige en deeglik georganiseerde Ossewa-Brandwag. Vir die Nasionale Afrikaner en dus ook vir dr Malan was hierdie verdeeldheid en bitterheid 'n diepe vernedering.

By die verkiesing van 1943 wen die Herenigde Nasionale Party slegs 43 uit die 150 setels in die Volksraad, maar hy slaag daarin om al die afwykende elemente in die Nasionale politiek uit te skakel. Met 'n verenigde parlementêre gevolg wat in 1947 versterk word deur ooreenkoms tussen Malan en Havenga, knoop Malan die stryd teen die kleurbeleid van Smuts en Hofmeyr van die Verenigde Party aan. Dit kulmineer in die verrassendste verkiesingsuitslag in die geskiedenis van die Unie: dié van 26 Mei 1948, wat die HNP met 5 setels wen. Malan word op 74-jarige leeftyd Eerste Minister.

In 1951 het die HNP en die Afrikanerparty saamgesmelt onder die ou tradisionele naam, Nasionale Party. Dr Malan se regering het sy beleid met krag deurgevoer.

Op konstitusionele gebied is tydens die premierskap van dr Malan die dubbele burgerskap vervang; is op die Statebondskonferensie van 1949 in Londen die reg van Suid-Afrika erken om 'n republiek te word en is die beroep op die Geheime Raad afgeskaf.

Op die gebied van die kleurpolitiek het Malan 'n reeks maatreëls deur die Parlement geloods om die beleid van afsonderlike ontwikkeling in die praktyk toe te pas en om die georganiseerde Kommunisme aan bande te lê. Die staatsmansbeleid met Malan het die stormagtige eerste vyf jaar met groot welslae trotseer. By die verkiesing van 1953 is Malan se teenstanders verpletter en sy status as staatsman bevestig.

In 1953 het dr Malan sy leierskap van die NP in Kaapland neergelê en op 11 Oktober die volgende jaar sy uittrede uit die politiek aangekondig. As persoon is dr Malan gekenmerk deur sy forse gestalte, uiterlike en innerlike onverstoorbaarheid en kragtige redenaarsvermoë.

Ná sy uittrede vestig hy hom op Stellenbosch waar hy sy laaste jare wy aan die teboekstelling van sy ervaringe op die pad na die verwesenliking van Afrikanervolkseenheid. Hy is op 7 Februarie 1959 op Stellenbosch oorlede.