KULTUUR- DAGBOEK 18 MEI

Lees volledig by Kultuurdagboek

 1774: Van Plettenberg word as Goewerneur van die Kaap beëdig - Joachim Ammema van Plettenberg is op 8 Maart 1739 gebore. In 1767 word hy aan die Kaap as fiskaal aangestel, en na die dood van Tulbach word hy goewerneur aan die Kaap. Op 18 Mei 1774 is hy as goewerneur beëdig. Na 'n versoek van die Oosgrensboere dat 'n magistraatkantoor en 'n kerk aan die oosgrens opgerig word, vertrek hy op 'n uitgebreide reis noord- en ooswaarts om die versoek te oorweeg.

Op 6 November 1778 bereik hy 'n baai digby die plaas Melkhoutkraal. Hierdie baai het voorheen verskeie name gehad. 'n Klippilaar wat in Kaapstad gemaak is met die wapens van die Verenigde Provinsies, die monogram van die VOC, die wapen van die goewerneur en 'n bypassende inskripsie, is deur goew Van Plettenberg opgerig op die plek waar dit vandag nog staan. Die baai is amptelik Plettenbergbaai gedoop, soos dit vandag nog heet. Hy is op 18 Augustus 1793 op Windesheim by Zwolle oorlede.

 VERKIESING 18 MEI 1938

Die algemene verkiesing van 18 Mei 1938 het uitdruklik om beginsels gegaan. In 1933 nog was ekonomiese omstandighede deurslaggewend maar daarna in 1934 het Hertzog en Smuts, as leiers van die Nasionale Party en die Suid-Afrikaanse Party onderskeidelik, polities saamgesmelt. Dr Malan het as getroue Afrikaner eenkant gestaan. Vir hom was dit belangriker om volksideale te handhaaf as om 'n verkiesing te wen – 'n voorbeeld wat ons moes gevolg het.

Dr Malan het baie goeie redes gehad waarom hy nie in 'n verkiesing belanggestel het nie: hy wou naamlik propaganda vir 'n republiek maak, die land van Brittanje en die Britse Ryk afskei soos die Afrikanervolk dit begeer het, en hy wou, in geval van 'n Europese oorlog, neutraal staan – alles baie belangriker sake wat aandag moes kry ter wille van volksoorlewing in 'n baie moeilike tyd waar verkiesings nie die volk sou red nie - soos vandag wat die verkiesing van nul en gener waarde vir die Afrikanervolk was, hom net verder verarm het deur sy belastinggeld op 'n onvergeeflike wyse te vermors.

Die Arbeidersparty het drie setels op stemdag 18 Mei 1938 verower, die Britsgesinde Dominion Party agt, die Nasionale Party van dr Malan 27, die Sosialiste een en die Verenigde Party 111. Hertzog het dus premier gebly, Smuts was sy adjunk en dr Malan was Leier van die Opposisie.

Die Eeufeesjaar het egter 'n besielende oplewing van Afrikanernasionalisme na vore laat kom. Die Afrikaner was weliswaar ekonomies swak en polities verslaan maar kultureel opreg trots –iets wat nie vandag blyk te bestaan nie en ons finale ondergang sal meebring as ons nie ernstig poog om weer ons trots te herwin deur ons eie kultuur eenkant te handhaaf nie.