KULTUUR- DAGBOEK 8 MEI

Lees volledig by Kultuurdagboek

1925: HISTORIESE GESAMENTLIKE SITTING VAN DIE VOLKSRAAD EN SENAAT
- Afrikaans naas Engels as amptelike taal erken.

1. Die aanbeveling van 'n gesamentlike komitee van albei huise dat Afrikaans naas Engels met ingang 1926 as amptelike taal erken word, is deur die Volksraad en Senaat afsonderlik eenparig aanvaar. Aangesien die bepaling van artikel 127 betreffende die amptelike tale kragtens artikel 152 van die Suid-Afrika-Wet verskans is, kon die geldigheid van so 'n stap slegs deur 'n tweederde-meerderheid op 'n gesamentlike sitting van albei rade bokant alle moontlike twyfel verhef word.

Hierdie geskiedkundige gesametlike sitting van die Volksraad en die Senaat vind op 8 Mei 1925 plaas. Die Minister van Binnelandse Sake, dr DF Malan, wat die wetsontwerp ingedien het, sluit sy skitterende rede af met: "Die erkenning van die Afrikaanse taal en die bekroning daarvan deur die hogoste wegewende liggame van die land is die simbool van die erkenning van die Hollandssprekende deel van die Suid-Afrikaanse volk, die erkenning van hul status en hul vryheid." Sen CJ Langenhoven wat die voorstel gesekondeer het, beklemtoon met kenmerkende gevatheid dat waar met "twee stelle gereedskap" gewerk word, ouderwetse inturmente nie bekostig kan word nie. Pragtig vertolk eerw WW Rider die Engelssprekendes se welwillendheid toe hy vir die eerste keer in Afrikaans praat: "Ons arbeid in dieselfde land, ons moet mekaar geen kwaad aandoen nie." Die wetsontwerp word sonder teenstem geodgekeur en die gesamentlike sitting verdaag om 12:10.

2. 1945: Die einde van die Tweede Wêreldoorlog breek aan. Lees hieroor in hoofartikel.