KULTUURDAGBOEK 7 MEI
Lees volledig by Kultuurdagboek
Terwyl die Britse magte onder lord Roberts besig was om deur die Vrystaat noordwaarts na Transvaal op te ruk, het die Eerste Volksraad van die ZAR vir die laaste keer op 7 Mei 1900 in Pretoria vergader. Op die sitplekke van die lede wat sedert die aanvang van die Tweede Vryheidsoorlog sowat sewe maande van tevore oorlede is, is kranse geplaas. Genl Piet Cronjé, LUR, wat in daardie stadium in krygsgevangeneskap was, se sitplek was met die vlae van die twee Boererepublieke gedrapeer. 'n Aantal lede, onder wie enkele gewondes, het van die slagveld af teruggekeer om die sitting by te woon.
Ander was om oorlogsredes afwesig. Genls Louis Botha en Koos de la Rey was bv besig om Roberts se oormag in hulle aantog na Transvaal te beveg. Anders as met die vorige Volksraadsittings wou dit voorkom asof die swart drag van die Volksraadslede by hierdie sitting uitdrukking gegee het aan die gevoel van 'n volk in rou.
Pres Kruger se "Aanspraak" is deur staatsekretaris FW Reitz voorgelees. Daarna het Kruger self aan die woord gekom om vanweë die toestand waarin die land hom bevind het, sy Presidentsaanspraak verder toe te lig. In sy toespraak het Kruger gewys op die toegewings wat die ZAR met betrekking tot die Uitlanderstemreg gemaak het om 'n oorlog te voorkom. Die vyand het egter nie in regte belang gestel nie omdat hulle ware oogmerk die impalming van Transvaal was en hulle gevolglik nie die Boere wou toelaat om 'n selfstandige volk te wees nie.
Kruger het nietemin steeds sy vertroue in die toekoms behou en met 'n onwrikbare geloof in die voortbestaan van die Boerevolk die Transvalers in die stryd aangemoedig met hierdie woorde:
"Salisbury zegt: Dit Volk moet niet bestaan; en God zegt: Dit volk sal bestaan."
Op die 9e Mei het die Volksraad sy werksaamhede beëindig en is die afsluiting deur ds HS Bosman waargeneem. In sy gebed het hy gevra dat God wat die harte van konings en volkere in sy Hand het, aan die twee Republieke 'n glorieryke vrede mag gee en dat Hy mag verhoed dat dit, soos wat daar gesê word, die laaste sitting van die Volksraad sou wees. So het die laaste, maar onvergeetlikste Volksraadsitting in die geskiedenis van die ZAR geëindig.