1889: PRES KRUGER LÊ HOEKSTEEN VAN STAATSGEBOU OP KERKPLEIN

KULTUURDAGBOEK 6 MEI

Lees volledig by Kultuurdagboek

Die Volksraadsitting in 1889 het die oggend van 6 Mei in die Presidentsteater 'n aanvang geneem. 'n Belangrike gebeurtenis uit die oogpunt van die ontwikkeling van die argitektuur van staats- en sakegeboue aan die Pretoriase Kerkplein, wat om 4 nm op 6 Mei 1889 op die terrein van die voormalige Eerste Ou Goewermentsgebou plaasgevind het, was die hoeksteenlegging van die indrukwekkende "Staatsgebouw" van die ZAR.

Na die Staatspresident se aankondiging dat hy die hoeksteen gelê het, het hy in 'n toespraak beklemtoon dat die pas afgelope hoeksteenlegging 'n gebeurtenis is wat almal met vreugde en dankbaarheid behoort te vervul aangesien dit 'n bewys is van die welvaart van die Republiek. Die eerste helfte van die tagtigerjare wat gevolg het op die Britse Tussenregering, die Transvaalse Vryheidsoorlog en die herstel van die ZAR en die ontdekking en ontginning van goud op die Witwatersrand was kommervol en armoedsjare vir die Republiek. Daarom kon die Staatspresident met reg aan sy gehoor rondom die hoeksteen vra:

"Wie zou vijf jaren geleden gedacht hebben, dat wij thans zulk een gebouw zouden hebben, dat zulk een groot gebouw, van zulke afmeten en zoo kostbaar voor onze werkzaamheden zou benodigd zijn? Wie heeft, zeg ik, dit vijf jaar geleden gedacht? Doch wat men zich toen niet kon verbeelden is thans werklikheid geworden..."
Hy het verder beklemtoon dat die vooruitgang van die Republiek behoeftes laat ontstaan het, en dat die amptenare wat aangestel moet word 'n goeie gebou noodsaaklik gemaak het. Die staat kon trouens nie meer net tevrede wees solank hy voorsiening gemaak het vir 'n dak oor die kjoppe van die amptenare en die volksverteenwoordigers nie:
"Neen, de positie en de waardigheid van den staat eischen ten sterkste, dat de vertegenwoordigers van het volk zoowel als de Regeering een nieuw gebouw krijgen. Gij zult spoedig dit gebouw zien verrijzen..."

Nadat die Staatspresident vervolgens lof toegeswaai het aan die jeugdige "Departement van Publieke Werken" wat onder leiding van sy "chef, den waardigen heer Wierda" en sy assistent (Klaas) Van Rijsse, die nuwe staatsgebou ontwerp het en hy ook melding gemaak het van die werk van die boukontrakteur, John J Kirkness, het hy verwys na die denkbeelde wat in dé Departement bedink is en wat spoedig in klip, baksteen en ander materiale sou verrys op die plek waar sy toehoorders staan.

Toe het die spreker se gedagtes onwillekeurig na die verlede van sy volk gegaan toe hy, piëteitsonthalwe en verankerd aan sy volksverlede, die volgende opmerkings gemaak het:
"Maar vrienden, al nemen deze gebouwen de eerste plaats in onze gedachten in, laten wij toch het oude gebou niet vergeten dat op deze zelfde plek stond en waar wij zoveel lief en leed te zamen hebben doorgebracht. Met vele moeilijkheden hebben wij daar te kampen gehad, en velen daarvan hebben wij overwonnen. Laat ons derhalve, nu wij in een tijd van bloei spoedig dit nieuwe gebouw zullen intreden, niet vergeten wat wij in het verleden hebben geleden. Laat ons onze gevoelens te kennen geven door dank aan de Heer toe te brengen, die zoveel weldaden aan ons bewezen heeft..."

Vervolgens het die Staatspresident verwys na die tydperk voor, tydens, en die ontdekking en ontginning van goud in die ZAR, die gevolge daarvan vir die staat en gewaarsku teen die moontlikheid van ondankbaarheid by die volk "opdat deze schatten niet in een vloek voor ons veranderen".

Nadat hy sy gehoor herinner het aan die feit dat "u, die Gods volk zijt, en u zelven als zoodanig erkent", en verwys het na Psalm 89 en 72, het hy sy rede afgesluit en die aanwesiges uitgenooi om die bouwerk, sover dit reeds gevorder het, versigtig te besigtig.