1652: BLANKES VIND EERSTE KAAPSE HOUTBOS

KULTUURDAGBOEK 5 MEI

Vanaf die begin van die Kaapse verversingspos was daar 'n groot behoefte aan allerlei alledaagse noodsaaklikhede waarvan timmer- en brandhout die belangrikste was. In 'n poging om geskikte timmerhout te vind, het vier amptenare op hierdie dag oor Kloofnek gestap en aan die berghange bokant Houtbaai vir die eerste keer 'n inheemse houtbos teengekom.

Dit was die begin van die ontginning van Suid-Afrika se inheemse houtbronne. Geen moeite is ontsien om voldoende voorrade van dié kosbare hout te bekom nie. Vervoer- en arbeidsprobleme was egter deurgaans 'n groot struikelblok.

Mettertyd is die gebied vanaf die huidige Constantianek tot by Nuweland verken en ontgin. Die haas onbegaanbare pad oor die Hottentots-Hollandberge, het tot diep in die agtiende eeu verhinder dat die welige bosse van die suidkusstreek doeltreffend benut kon word. Reeds gedurende 1710 is in die Politieke Raad verslae oor hierdie Overbergse bosse ter tafel gelê.

Tog is daar eers in die tweede helfte van die agtiende eeu begin om houtkappersposte in die omgewing van die huidige Riviersonderend, Swellendam en Heidelberg op te rig. Dit is deur Kompanjiesarbeiders self bewerk. Daarvandaan is maandeliks enkele wavragte timmerhout na die Kaap gestuur.

Gedurende 1777 is 'n derglike onderneming in Outeniekwaland langs die Swartrivier begin. Dit was veral die hoë vervoerkoste wat die Kaapse owerheid gedwing het om uiteindelik in Desember 1786 die eerste werkike ekonomiese groeipunt aan die suidkus te begin met die aanlê van die houtkapperspos in Plettenbergbaai. Johan Fredrik Meding is as opsigter aangestel, terwyl Jan Jacob Jerling 'n skuur vir die opbering van die hout naby die strand gebou het. Reeds in Augustus 1788 is die eerste vrag hout met die skip Meermin na die Kaap vervoer.